Jaco Jacobs se SkryfBlog
Wednesday, May 9, 2012
En nou vir 'n advertensiebreuk ...
Tuesday, May 8, 2012
Uitgewerskontrakte, VVV’s en huiswerkvretende renosters
Thursday, April 12, 2012
Skryf en tamaties plant

Iemand vra my nou die dag: Wat is die moeilikste deel van ’n storie skryf – die begin of die slot?
Vir my is die antwoord heel eenvoudig: Die middel.
Kom ek verduidelik dit met ’n (vir my) onwaarskynlike analogie: Tamaties. Ek het die afgelope somer besluit om weer eens, ondanks my lank bewese gebrek aan groen vingers, iets te probeer plant. In hierdie geval was my keuse kersietamaties. Ek is mal daaroor, en my pa het laas jaar een stoel gehad wat hulle byna die hele somer lank van tamaties voorsien het.
Nou kom ons begin by die begin. Dis die opwindende deel – van die tamatieplantery en van die storieskrywery. Dis die deel waar jy saad by die kwekery gaan koop, en sommer potgrond en ’n nuwe tuinvurk en ’n pot of twee ook aanskaf. Dis die deel waar jy verwonderd staar na die blinkrooi tamaties op die pakkie. Skryfgewys is dit die deel waar dit maklik is om spitsvondige beskrywings en kraakvars dialoog af te vuur, waar die storie nog knetter van potensiaal en die idees wag om ryp te word.
Die einde is, vir my in elk geval, ook relatief maklik om te raai. Ek weet ek wil tamaties hê. Ek is dalk nie heeltemal seker hoeveel van hulle daar gaan wees en of hulle so mooi soos op die pakkie gaan wees of so oorvloedig baie soos my pa s'n verlede jaar nie, maar dis wat ek hoop om te kry – tamaties. As ek skryf, het ek gewoonlik ook min of meer ’n sekere einde in gedagte.
Maar hier kom die moeilike deel, as jy tamaties plant soos ek of skryf soos ek: die middel.
Die middel is die deel waar jy elke dag moet onthou om die saad nat te gooi, duim vashou dat iets gaan opkom, die brose saailinge moet oorplant, en hoop roes of goggas of wat ook al kom nie die plante by nie. Dis die deel wat harde werk is. Dis die deel waar jy moet besluit watter onkruiddoder om te gebruik, moet raai hoeveel kompos om te gee en heimlik wonder of jy nie te gereeld of te ongereeld natmaak nie. Storiegewys is dit die deel waar jy wonder of jy nie te veel droogmaak nie. Dis die sitvlak-op-stoel-gedeelte van skryf. Met skryf, nes met tamaties, is dit die deel waar die ongeduld jou kan opvreet.
Maar met skryf, nes met tamaties, is dit ongelukkig ook die deel wat bepaal of jy ooit by die einde gaan uitkom wat jy in gedagte gehad het.
My manier om dit makliker te probeer maak, wat skryf betref, is om te beplan. Ek werk vooraf ’n storieraamwerk uit, ’n soort padkaart om my by die einde uit te bring. Meestal rank die storie steeds waarheen hy wil, en dis wat stories doen, so moenie te veel daarteen baklei nie. ’n Rigiede raamwerk kan ’n storie kniehalter. Maar vir my is die raamwerk meestal die stok waarteen ek die rank probeer oplei sodat hy hopelik kan groei en vrugte dra.
En my tamatie-oes? Op die foto hier bo pryk drie bloedrooi kersietamaties. Ja, Farmer Brown, hulle lyk so klein, want hulle was so klein. En ek is jammer om te sê dié drietjies was ook die somtotaal van my oes vir die somer. Groen vingers het ek helaas nie.
Maar ek het hulle nogtans een middag met groot smaak gesit en opeet, so trots soos enige tuinier op sy oes.
En wat die skrywery betref: Ek is op die oomblik reg in die middel van 'n nuwe boek. So, hierdie bloginskrywing was net 'n lekker verskoning om nie my metaforiese tamaties te gaan natgooi nie ...
Sunday, February 5, 2012
Tydskrifstories
Ek het die afgelope tyd weer ’n tydskrifstorie of twee geskryf. Sommer net vir die lekkerte daarvan, en om te kyk of ek dit nog kan doen. En, om eerlik te wees, uit skone nostalgie.
Ek het in my skooldae reeds die eerste keer probeer om vir tydskrifte te skryf. Van my heel eerste pogings lê nog hier tussen my opgegaarde papiere – sommige van hulle nog op so ’n antieke tikmasjientjie getik wat my pa vir ’n appel en ’n ei op ’n veiling gekoop het. Daardie eerste pogings van my (ek onthou titels soos “Die Paddastoelplakkerskamp”, “Bertie se wraak” en “Muis” – waaroor ek nou natuurlik innerlik cringe) het ek aan elke denkbare tydskrif probeer afsmeer – van Rapport Tydskrif tot Huisgenoot en Keur en Sarie en rooi rose. Ek het sommer gou ’n heel indrukwekkende stapeltjie afkeurbriewe bymekaargemaak. Party tipiese “stock letters” (“Baie dankie vir die voorlegging ... ongelukkig nie reg vir ons mark nie ... baie sterkte met u verdere skryfwerk ...”), ander darem ’n bietjie meer persoonlik. En party genoeg om ’n sestienjarige aspirantskrywer se moed byna-byna te breek, soos die destydse Keur se verhaleredakteur wat nie ’n briefie saamgestuur het nie, maar bloot met pers koki bo-oor my kosbare manuskrip geskryf het: Verhaal haal nie die paal.
My eerste twee stories is, met baie hulp en geduld van François Bloemhof, destyds verhaleredakteur by Sarie, in my matriekjaar vir publikasie aanvaar. Ek onthou nog dat Patricia Lewis voorop die uitgawe was waarin my eerste storie verskyn het. En dat ek ’n tjek ter waarde van R750 ontvang het, wat ek by die videowinkel op die dorp gaan afrol het voordat ek dit inbetaal het.
In my studentejare was tydskrifverhale ’n nuttige manier om sakgeld te verdien. Maar meer as dit – ek dink dit het my ook kosbare skryflesse geleer.
Soos om gedissiplineerd te skryf, byvoorbeeld, en jou by die redakteur se vereistes te hou. Daardie eerste storie van my wat uiteindelik gepubliseer is, was 1 500 woorde lank toe François aangedui het dat Sarie daarin belang stel. Dit moes uiteindelik 750 woorde wees. Ek onthou hoe ek later met die uitdruk in die bad gelê en telkens triomfantlik in die kantlyn aantekeninge gemaak het as ek daarin kon slaag om nog ’n woord of twee te vermorsel.
Tydskrifstories het my voorberei op die meedoënlose redigeerwerk wat soms nodig is om ’n stuk skryfwerk gereed te kry vir publikasie. Daarom het ek my gelukkig nie doodgeskrik toe ek die eerste keer ’n manuskrip vir ’n uitgewery stuur en daar van my verwag is om ’n leërskare van my “darlings” dood te maak nie.
Ek weet daar is party skrywers wat dit haat as jy aspirantskrywers aanraai om met ’n teikenmark in gedagte te skryf. Vir my, egter, was dit nog altyd belangrik om te weet vir watter teikenmark ek skryf – dalk omdat ek soms vir kleuters skryf, soms vir beginnerlesers, soms vir tieners, en soms vir volwasse koerantlesers. En in daardie opsig het tydskrifverhale my baie gehelp. Voordat jy ’n storie vir ’n tydskrif stuur, beter jy sorg dat jy ’n goeie idee het van sy mark. (Terloops, my eerste Sarie-storie, “Nagskof”, het oor ’n vampier gegaan. François het baie jare later teenoor my erken dat lesers hom baie opdraande gegee het daaroor – bowenal omdat dit in die Kersuitgawe verskyn het!)
Oorsee plaas hoofstroomtydskrifte byna glad nie meer verhale nie, en die afgelope paar jaar het die mark vir Afrikaanse tydskrifverhale ongelukkig ook gekrimp. Dis jammer. Ek sal nooit die opwinding vergeet as ek hoopvol ’n blou-en-rooi FastMail-koevert in die pos gooi nie, kompleet met ’n selfgeadresseerde koevert binne-in ingeval die verhaleredakteur nie van my storie hou nie. En die vreugde as daar ’n koevert met die tydskrif se logo voorop terugkom ...
Wednesday, January 18, 2012
2012 teen ’n (blog)slakkepas
Hier is dit sowaar al die 19de Januarie, en ek plaas nou eers my eerste bloginskrywing vir die jaar. Skandelik.
Ek het darem nie die eerste byna drie weke van 2012 in alle opsigte teen dieselfde slakkepas begin nie. Ek is byna twee weke lank terug in die soutmyn, en ek het so tussendeur ’n manuskrip klaargemaak en voorgelê, aan ’n nuwe storie begin werk (waaroor ek baie opgewonde is, soos ’n mens veronderstel is om te wees oor ’n storie waarvan jy nog net vier hoofstukke geskryf het), en ek is besig om by te skryf aan ’n niefiksieboek wat later vanjaar verskyn.
Aan die begin van die jaar dink ek altyd: Vanjaar gaan ek sweerlik niks geskryf kry nie – ek het nie één enkele idee nie. Maar op een of ander manier gebeur dinge darem (touch wood!) altyd, selfs al doen ek nie noodwendig goeie voorafbeplanning nie. Iemand sê nou die dag vir my: Skryf nou soveel soos jy kan, want as die baba eers daar is, gaan jy minder tyd kry. Maar ek troos myself daaraan dat ek in die verlede gewoonlik op my produktiefste was wanneer ek baie gehad het om te doen en tussendeur alles in afknyptydjies moes skryf. (En nou hoop ek natuurlik hierdie is nie my beroemde laaste woorde nie ...)
O ja, die afgelope week het ek ook my laaste rubriek vir Rapport klaargemaak. Die koerant se tydskrif gaan ’n opwindende revamp kry, en die rubrieke waai. Dit was nogal hartseer om ná jare afskeid te neem van my rubriekruimte, maar ek gaan darem voort met my kwartaallikse rubrieke vir Baba & Kleuter en élan.
Hierdie week het ek proefillustrasies gekry vir ’n nuwe kinderboekreeks van my wat later vanjaar verskyn. Ek en my uitgewer is mateloos opgewonde oor die pics. Dis ’n nuwe illustreerder, wat klaarblyklik ook boekontwerp verstaan. Ek kan nie wag om die finale produk te sien nie.
Nou ja, vanoggend was ek lui vir skryf, want die ergste hitte in Bloem is effens gebreek deur ’n lekker reënbui wat gisteraand uitgesak het, en ek het met Pippie gaan stap eerder as om tyd voor my Mac deur te bring – so, daarom het ek maar gou voor werk hierdie paar woorde vir my blog kom skryf. En nou is dit volstoom aan die werk. (Of dalk moet ek eers gaan koffie maak ...)
Voorspoed vir 2012!
Wednesday, December 14, 2011
10 hoogtepunte van 2011
Verlede week het ek uiteindelik my dagboek vir 2012 gekry. So ’n lelike bruinrooie, nes verlede jaar s’n. Gratis met die komplimente van PostNet, nes verlede jaar s'n.
Diep in my hart is ek ’n vreeslike sentimentele wese, daarom bewaar ek elke jaar se dagboeke, al sedert my studentedae. Nie omdat ek regtig persoonlike inligting daarin skryf nie – ek het nog nooit dagboek gehou in die outobiografiese sin van die woord nie – maar om deur ou dagboeke te blaai gee ’n mens altyd so ’n lekker déjà vu-gevoel. Op hierdie-en-hierdie datum moes ek Kaap toe of Johannesburg of Durban toe vlieg vir ’n praatjie; op die soveelste van dáárdie maand het ek ’n radio-onderhoud gedoen; op ’n sekere datum moes ek ’n belangrike sperdatum haal.
So, hier is my 10 persoonlike hoogtepunte van 2011, nadat ek vir oulaas deur vanjaar se dagboek geblaai het:
* Ek het ’n grasperk geplant. Wel, om die eerlike waarheid te sê: Ek het kitsgras laat insit. Nes ek hier http://www.rapport.co.za/MyTyd/Nuus/Rubriek-Die-jaar-toe-ek-gras-geplant-het-20101229 belowe het. My agterste grasperk lyk pragtig. Die voorste een? Moenie vra nie. Groen vingers is nie een van my talente nie. Maar ek wóú mos. En moenie sê ek het nie by my nuwejaarsvoorneme gehou nie.
* Ek het die eerste vier boeke in ’n nuwe wetenskapfiksiereeks vir kinders voltooi. Die eerste twee is reeds geïllustreer en uitgelê en lyk fantasties. Die Professor Fungus-reeks verskyn vroeg aanstaande jaar.
* Ek het 'n huis in die Karoo gekoop. Op 21 Junie 2011 is die oordrag van my Carnarvon-huis uiteindelik afgehandel. Ek en Elize gaan nie eendag langs die see aftree nie ...
* Op die 24ste Junie het ek Oprah Winfrey in lewende lywe in Bloemfontein gesien. (Die Computicket-kaartjie ter waarde van ’n allemintige R10 pryk in my 2011-dagboek as bewys! En op my BlackBerry is ’n dowwe foto van die kletskoningin op ’n drafstap in haar eredoktorsgraad-toga, reg verby my stoel. Tot in daardie stadium het ek nog vas geglo ek word nie deur celebrities beïndruk nie.)
* Op die 2de Julie is my enigste suster getroud. Ek het haar intussen stelselmatig begin vergewe vir die feit dat ek seremoniemeester op die geleentheid moes wees.
* Op die 14de Julie het ek met Frank Opperman begin gesels oor ’n toneelstuk vir kinders. Kaptein Blitz en die skool vir superheroes is reeds goedgekeur vir volgende jaar se KKNK.
* 25 September: My en Elize se eerste huweliksherdenking. En ons ontdek die Truksvy B&B en Koffiesjop op Soutpan.
* November: Die nuwe Stephen King-boek verskyn. Soos gewoonlik neem ek my voor om dit te hou vir vakansieleesstof. Soos gewoonlik het ek dit lank voor die aanbreek van my Desembervakansie reeds klaar gelees. ’n Nuwe Stephen King-boek is altyd een van die hoogtepunte van my jaar. Get over it.
* Iewers tussen Oktober en November ontdek ek die Spur se R20-ontbyt. Ongelukkig is kos, nes nuwe Stephen King-boeke, hoog op my lys van dinge wat as hoogtepunte tel.
* En les bes, die allesoorheersende inskrywing in vanjaar se dagboek: Op die 19de Junie, op Vadersdag, het ek uitgevind ons gesin gaan binnekort nie meer net uit my en Elize en die twee honde bestaan nie. Ek en my pa verjaar albei op die 22ste Februarie, en as alles volgens plan verloop, gaan ons dogtertjie haar opwagting iewers tussen die 17de en die 25ste Februarie maak. Die beste rede ooit om uit te sien na 2012!
So, vir eers is dit oor en uit van my kant. Mag jy ’n rustige Feestyd hê, en ’n nuwe jaar propvol opwindende hoogtepunte in jou dagboek!
Wednesday, October 19, 2011
Die bloginskrywing wat my vrou asseblief nie moet lees nie

Ek weet ek gaan hierdie woorde berou, maar hier kom dit in elk geval: Ek dink skrywers behoort gereeld skottelgoed te was.
Terwyl ek gisteroggend vroeg met hierdie nederige ou takie besig was, het ek ongeveer vier hoofstukke van ’n boek geplot. Dit verklaar ook waarom daar Sunlight Liquid-skuim op my Mac se toetsbord was, want voor ek die vuil borde getakel het, moes ek eers gou ’n paar van my meer briljante idees kom neerskryf.
Douglas Adams het gesê: “Writing is easy. You only need to stare at a piece of blank paper until your forehead bleeds.”
En dis wat skryf meeste van die tyd is: ’n eindelose gestaar wat (as jy gelukkig is) soms onderbreek word deur die geklik van die toetsbord as jy ’n sin of twee neerskryf. Ek het al menige oggend die feit berou dat ek vroeg opgestaan het om te skryf, en dan myself betrap dat ek net vir die rekenaarskerm sit en staar. Trouens, dis wat ek meeste van die tyd doen as ek “skryf”. En tog, tussendeur al die gestaar het ek op een of ander manier reeds meer as 70 boeke geskryf. Ek het al talle skrywers hoor kla dat Facebook die letterkunde se grootste vyand is, juis omdat dit inmeng met ’n mens se kreatiewe staartyd.
(Ek het nou hierdie vorige paragraaf oorgelees, en toe in presies so ’n staarsessie verval. Helaas, nie ’n baie kreatiewe een nie, gevolglik gaan hierdie bloginskrywing maar kort wees.)
Ek reken ’n mens kan daardie “staartyd” net sowel inruim terwyl jy besig is met ’n breinlose aktiwiteit soos draf of stap.
Of skottelgoed was.
Maar moenie my vrou vertel nie.
* Die foto is Béla Lugosi se beroemde staar uit die fliek White Zombie.