Wednesday, April 24, 2013

Vyf wenke om jou kind 'n leser te maak


Suid-Afrikaanse kinders sukkel om te lees. Dit blyk duidelik uit ontstellende koerantopskrifte en statistiek die afgelope paar jaar.
Die vermoë om te lees is een van die heel belangrikste sleutels tot jou kind se prestasie op skool. Ongelukkig is die realiteit dat baie skole deesdae beperkinge op tyd, personeel en hulpbronne het – en die mediasentrum en leesperiodes is dikwels van die eerste dinge wat in die slag bly. Ouers kan wondere verrig om die jongklomp lief te maak vir lees, selfs lank voordat hulle die skoolbanke aandurf.
Probeer hierdie vyf wenke om jou kind ’n boekevraat te maak.

1. Laat jou kind self boeke kies
Nie alle volwassenes verkies dieselfde soort boeke nie – en net so verskil kinders se leessmaak. Let op na watter soort boeke jou kleuter geniet, en moenie kla as jy dieselfde storie oor en oor moet lees of ’n aktiwiteitsboek honderde maal moet deurblaai nie. Jou kind is immers besig om sy/haar leessmaak te ontwikkel. Gee kinders van kleins af die geleentheid om self te kies watter boeke hulle as verjaardag- of Kersgeskenke wil ontvang deur hulle byvoorbeeld saam te neem boekwinkel toe, ’n boekwinkel-geskenkbewys te koop of hulle te vra om hul voorkeure in ’n bestelgids soos hierdie aan te dui.

2. Moenie ’n boeksnob wees nie
Ouers kla soms as kinders in ’n sekere genre “vashaak”. As jou kind op die oomblik grilstories, speurverhale of reeksboeke verslind, wees dankbaar dat hy/sy lees en moet onder geen omstandighede neerhalend daarna verwys nie. Baie kinders “ontgroei” ’n sekere genre en begin iets anders lees. Ander bly hul lewe lank byvoorbeeld aanhangers van rillers. In albei gevalle wen jy, want lees is die beste manier om jou kind se leesbegrip, konsentrasie en taalvermoë te ontwikkel.

3. Word betrokke
Wys jy stel belang in die boeke wat jou kind lees. Lees self die soort boeke waarvan jou kind of tiener hou – dit kan ’n lekker gespreksonderwerp word en jy sal dalk verras wees om te sien hoeveel pret jy in die proses het! Probeer uitvind van watter skrywers of illustreerders se werk jou kind hou, en kry nog van hierdie gunstelinge se boeke in die hande.

4. Stel ’n voorbeeld
’n Kind wat grootword in ’n huis met ’n boekrak en waar Ma of Pa dikwels lees (selfs al is dit koerante of tydskrifte), word van kleins af vertroud met die idee dat boeke ’n aangename, ontspannende aktiwiteit kan wees.

5. Leer én speel
Ouers en onderwysers wys kinders dikwels daarop dat boeke jou slim maak, jou kan help met jou skoolwerk en propvol kennis is. In die proses kan jy egter onbedoeld ’n negatiewe konnotasie kweek. Kinders hou van speel en pret hê, daarom is dit belangrik om hulle van ’n jong ouderdom te wys dat boeke pret kan wees – anders gaan die Xbox, PlayStation en rekenaarspeletjies wen. Boeke moenie net deel wees van die sleur van skool, huiswerk en take nie – dit behoort ook lekker vermaak vir ledige ure te wees. Dit is waarom soveel Afrikaanse kinderboeke deesdae fokus op humor, pret en avontuur. Kyk maar net na die titels en temas van ’n paar van die boeke wat op winkelrakke en op uitgewers se webtuistes beskikbaar is!

2 comments:

  1. Lead by example. Dis een van die dinge wat ek altyd vir ouers sê. Goed geskryf, Jaco.

    ReplyDelete
  2. En lees lees lees vir hulle van babatjietyd af, en hou so lank aan as wat jy kan.

    ReplyDelete