Thursday, February 6, 2014

Waarom ek so stil was ...


Hierdie is sowaar my eerste bloginskrywing vir 2014. Nou ja, voorspoedige ... Februarie!
         Daar is darem ’n goeie rede waarom ek die afgelope tyd hierdie blog so afgeskeep het.
Vanoggend het ek ’n groot sug van verligting geslaak, pas nadat ek die stuurknoppie op my e-posprogram gedruk het. Die manuskrip vir die sestiende boek in die Stalmaats-reeks is vanoggend weg na die uitgewer toe. Daardie groot sug was wel ietwat voortydig, want natuurlik wag ek nou om te hoor wat my uitgewer se reaksie op die storie gaan wees. Die vyftiende manuskrip in die reeks, Stormnag, is darem ’n paar weke gelede voltooi en vir publikasie aanvaar. (My uitgewer – wat altyd ’n sucker vir ’n romantiese twist is – meen dit is die beste storie tot dusver in die reeks. Ek en Lize Roux hoop lesers gaan saamstem!)
         Spertye is nogal ’n skrikwekkende ding. Wanneer jy ’n reeks boeke skryf, is spertye onvermydelik. Teen die einde van verlede jaar het “Stalmaats 15” en “Stalmaats 16” reeds op die uitgewery se publikasieprogram gepryk, sonder dat ek die vaagste benul gehad het wat die titels gaan wees of waar ek betyds stories vandaan gaan kry nie. Maar die voordeel van ’n sperdatum, is dat dit ’n mens se kreatiewe sappe behoorlik kan laat vloei. Nodeloos om te sê, die afgelope paar weke het ek geskryf dat die rook uit my iMac trek, maar dit bly lekker om die bekende karakters in ’n reeks weer te ontmoet.
         In ander nuus het my uitgewer my vandag gebel om te vra of ek oor ’n maand of wat ’n dag lank Joburg toe wil vlieg om die stel van Suurlemoen! tydens verfilming te besoek. Ek het my voorgeneem om vanjaar amptelik te verklaar tot Die Jaar Waarin Jaco Jacobs Geen Reisverpligtinge Gaan Aanvaar Of Boeketoere Gaan Onderneem Nie (die rede daarvoor hou verband met ’n verwagte besoek van die voël wat in wetenskaplike kringe bekend staan as Ciconia ciconia), maar dis beswaarlik ’n geleentheid waarvoor ek nee kan sê! Alles dui daarop dat dinge besig is om mooi bymekaar te kom met die fliek. Ek het vandeesweek ’n lekker demo van een van die liedjies gekry, en die vervaardigers stuur so dan en wan vir my brokkies nuus aan. Dit hele fliekmaakproses lyk vir my na oneindig baie werk en admin, so ek is baie, baie dankbaar dat daar kreatiewe, passievolle mense is wat bereid is om dit aan te pak. Kudos, Niel van Deventer en Vickus Strijdom!
         Intussen word die nuwe Zackie Mostert-boek, Zackie Mostert en die wriemelende wurmkoekies, tans op RSG voorgelees (saans om 19:10), ek het vandeesweek die proewe gekry van my nuwe kinderboek getiteld SuperBoetie! wat later vanjaar verskyn, en die twee splinternuwe Professor Fungus-boeke, Professor Fungus en die dino-avontuur en Professor Fungus en die dinokrisis, is op pad van die oorsese drukker af. SuperBoetie! is geïllustreer deur Chris Venter en Professor Fungus word deur Johann Strauss geïllustreer – albei se name verdien om in hoofletters geskryf te word en met baie uitroeptekens agterna. O ja, en as jy op die oomblik kopkrap oor wat jou kinders vanjaar by die eisteddfod gaan opvoer, gaan loer gerus hier:http://www.lapa.co.za/product-view/944/in_die_kollig_speeltekste_vir_dramaleerders/manufacturer_id/413  En as jy wil sien hoe ek oor die Zackie Mostert-reeks gesels, maak ’n draai hier: http://www.youtube.com/watch?v=jSMrY4IsJy8&feature=youtu.be
         Nou ja, tot sover my nuus vir die eerste maand van 2014! Ek gaan binnekort weer ’n skrywersonderhoud of twee hier oplaai. Beste wense vir die laaste elf maande van die jaar!