Wednesday, December 14, 2011

10 hoogtepunte van 2011

Verlede week het ek uiteindelik my dagboek vir 2012 gekry. So ’n lelike bruinrooie, nes verlede jaar s’n. Gratis met die komplimente van PostNet, nes verlede jaar s'n.

Diep in my hart is ek ’n vreeslike sentimentele wese, daarom bewaar ek elke jaar se dagboeke, al sedert my studentedae. Nie omdat ek regtig persoonlike inligting daarin skryf nie – ek het nog nooit dagboek gehou in die outobiografiese sin van die woord nie – maar om deur ou dagboeke te blaai gee ’n mens altyd so ’n lekker déjà vu-gevoel. Op hierdie-en-hierdie datum moes ek Kaap toe of Johannesburg of Durban toe vlieg vir ’n praatjie; op die soveelste van dáárdie maand het ek ’n radio-onderhoud gedoen; op ’n sekere datum moes ek ’n belangrike sperdatum haal.

So, hier is my 10 persoonlike hoogtepunte van 2011, nadat ek vir oulaas deur vanjaar se dagboek geblaai het:

* Ek het ’n grasperk geplant. Wel, om die eerlike waarheid te sê: Ek het kitsgras laat insit. Nes ek hier http://www.rapport.co.za/MyTyd/Nuus/Rubriek-Die-jaar-toe-ek-gras-geplant-het-20101229 belowe het. My agterste grasperk lyk pragtig. Die voorste een? Moenie vra nie. Groen vingers is nie een van my talente nie. Maar ek wóú mos. En moenie sê ek het nie by my nuwejaarsvoorneme gehou nie.

* Ek het die eerste vier boeke in ’n nuwe wetenskapfiksiereeks vir kinders voltooi. Die eerste twee is reeds geïllustreer en uitgelê en lyk fantasties. Die Professor Fungus-reeks verskyn vroeg aanstaande jaar.

* Ek het 'n huis in die Karoo gekoop. Op 21 Junie 2011 is die oordrag van my Carnarvon-huis uiteindelik afgehandel. Ek en Elize gaan nie eendag langs die see aftree nie ...

* Op die 24ste Junie het ek Oprah Winfrey in lewende lywe in Bloemfontein gesien. (Die Computicket-kaartjie ter waarde van ’n allemintige R10 pryk in my 2011-dagboek as bewys! En op my BlackBerry is ’n dowwe foto van die kletskoningin op ’n drafstap in haar eredoktorsgraad-toga, reg verby my stoel. Tot in daardie stadium het ek nog vas geglo ek word nie deur celebrities beïndruk nie.)

* Op die 2de Julie is my enigste suster getroud. Ek het haar intussen stelselmatig begin vergewe vir die feit dat ek seremoniemeester op die geleentheid moes wees.

* Op die 14de Julie het ek met Frank Opperman begin gesels oor ’n toneelstuk vir kinders. Kaptein Blitz en die skool vir superheroes is reeds goedgekeur vir volgende jaar se KKNK.

* 25 September: My en Elize se eerste huweliksherdenking. En ons ontdek die Truksvy B&B en Koffiesjop op Soutpan.

* November: Die nuwe Stephen King-boek verskyn. Soos gewoonlik neem ek my voor om dit te hou vir vakansieleesstof. Soos gewoonlik het ek dit lank voor die aanbreek van my Desembervakansie reeds klaar gelees. ’n Nuwe Stephen King-boek is altyd een van die hoogtepunte van my jaar. Get over it.

* Iewers tussen Oktober en November ontdek ek die Spur se R20-ontbyt. Ongelukkig is kos, nes nuwe Stephen King-boeke, hoog op my lys van dinge wat as hoogtepunte tel.

* En les bes, die allesoorheersende inskrywing in vanjaar se dagboek: Op die 19de Junie, op Vadersdag, het ek uitgevind ons gesin gaan binnekort nie meer net uit my en Elize en die twee honde bestaan nie. Ek en my pa verjaar albei op die 22ste Februarie, en as alles volgens plan verloop, gaan ons dogtertjie haar opwagting iewers tussen die 17de en die 25ste Februarie maak. Die beste rede ooit om uit te sien na 2012!

So, vir eers is dit oor en uit van my kant. Mag jy ’n rustige Feestyd hê, en ’n nuwe jaar propvol opwindende hoogtepunte in jou dagboek!

Wednesday, October 19, 2011

Die bloginskrywing wat my vrou asseblief nie moet lees nie


Ek weet ek gaan hierdie woorde berou, maar hier kom dit in elk geval: Ek dink skrywers behoort gereeld skottelgoed te was.

            Terwyl ek gisteroggend vroeg met hierdie nederige ou takie besig was, het ek ongeveer vier hoofstukke van ’n boek geplot. Dit verklaar ook waarom daar Sunlight Liquid-skuim op my Mac se toetsbord was, want voor ek die vuil borde getakel het, moes ek eers gou ’n paar van my meer briljante idees kom neerskryf.

Douglas Adams het gesê: “Writing is easy. You only need to stare at a piece of blank paper until your forehead bleeds.”

En dis wat skryf meeste van die tyd is: ’n eindelose gestaar wat (as jy gelukkig is) soms onderbreek word deur die geklik van die toetsbord as jy ’n sin of twee neerskryf. Ek het al menige oggend die feit berou dat ek vroeg opgestaan het om te skryf, en dan myself betrap dat ek net vir die rekenaarskerm sit en staar. Trouens, dis wat ek meeste van die tyd doen as ek “skryf”. En tog, tussendeur al die gestaar het ek op een of ander manier reeds meer as 70 boeke geskryf. Ek het al talle skrywers hoor kla dat Facebook die letterkunde se grootste vyand is, juis omdat dit inmeng met ’n mens se kreatiewe staartyd.

(Ek het nou hierdie vorige paragraaf oorgelees, en toe in presies so ’n staarsessie verval. Helaas, nie ’n baie kreatiewe een nie, gevolglik gaan hierdie bloginskrywing maar kort wees.)

Ek reken ’n mens kan daardie “staartyd” net sowel inruim terwyl jy besig is met ’n breinlose aktiwiteit soos draf of stap.

Of skottelgoed was.

Maar moenie my vrou vertel nie.

* Die foto is Béla Lugosi se beroemde staar uit die fliek White Zombie.

Thursday, October 13, 2011

Klei-animasie vir Hoezit!

Ek het hierdie kort klei-animasievideo gemaak vir 'n Hoezit!-artikel. Dis net rof gedoen, maar hopelik illustreer dit die idee.

Sunday, October 2, 2011

Vreemde en fantastiese boektitels

Dis vanselfsprekend dat die titel van ’n boek een van die eerste dinge is wat jou oog in ’n boekwinkel of op ’n biblioteekrak vang. Dis daarom seker ook nie verbasend nie dat ek en my uitgewer al male sonder tal gesukkel het om die regte titel vir ’n boek te kry. Met Liefde laat jou Rice Krispies anders proe was die boek al op pad drukker toe teen die tyd dat ons met ’n titel vorendag gekom het. Vir Superheroes vlieg net saans se titel moes ek kliphard baklei, want my uitgewer wou iets anders gebruik – wat op die ou end dalk nie so ’n slegte voorstel was nie, want onderwysdepartemente het die boek al afgekeur op grond van die Engelse woord in die titel.

            Ek is mal oor ongewone, whacky titels. Hier is ’n paar van my gunstelinge:

* It’s disgusting and we ate it (James Solheim en Eric Brace): ’n Boek met allerlei grillerige kosfeite. Dis die soort titel wat my ’n boek blindelings sal laat koop.

* The curious incident of the dog in the night-time (Mark Haddon): ’n Ongewone boek met ’n ongewone titel (wat perfek by die gevoel van die storie pas). Een van my gunstelingboeke.

* Captain Underpants and the Perilous Plot of Professor Poopypants (Dav Pilkey): Hoef ek enige iets meer te sê?

* Mijn tante is een grindewal (Anne Provoost): Dié ongewone titel beteken My tante is ’n walvis.

* There’s a boy in the girls’ bathroom (Louis Sachar): Toe ek hier in graad een of twee rond was, het ons ’n speletjie gespeel waarvan die doel was om ’n seun te vang en in die meisiesbadkamer in te stamp, of andersom. Dit was een van die vernederendste dinge wat jou kon oorkom, en meisies het meestal begin huil as jy hulle in die seunsbadkamer gooi. Om meisies te laat huil was een van die grootste prestasies wat jy as agtjarige kon behaal. Dalk is dit waarom hierdie titel dadelik my oog gevang het. Sachar is goed met titels. Hy is ook die skrywer van Dogs don’t tell jokes en The boy who lost his face.

* My darling, my hamburger (Paul Zindel): Zindel is nog ’n skrywer wat met fantastiese titels vorendag kon kom. Hy spog met boeke soos Pardon me, you’re stepping on my eyeball en Confessions of a teenage baboon.

* The day I fell down the toilet (Steve Turner), Juggling with gerbils (Brian Patten) en Thawing frozen frogs (Brian Patten): Drie van my gunsteling-rympiebundels.

 

Op die webtuiste www.oddeee.com is nog ’n lys met veel vreemder boektitels, waaronder The big book of lesbian horse stories (ja, dit bestaan regtig – bestel gerus vandag nog jou eksemplaar op Amazon), The history of lesbian hair, How to bombproof your horse en I was tortured by the pygmy love queen. Besoek die site op eie risiko!

Voeg gerus jou eie lysie gunstelinge hier onder by.

Friday, September 16, 2011

Vyf spokerige rympies ...

Nie alles wat 'n mens skryf, is vir publikasie bedoel nie. Op my hardeskyf is byvoorbeeld 'n hele lêer vol kinderrympies wat nie staanplek kon kry in een van my bundels nie of wat ek sommer net vir die pret geskryf het. Hier is 'n paar spokeriges. (Een of twee het nooit die lig gesien nie omdat hulle te grillerig of makaber is ... so wees gewaarsku!)

Grafstene

Hier lê die arme Sarel du Toit.

Mensvreters het hom vir ete genooi.

 

Hier rus die liefdevolle Lientjie du Preez.

’n Luislang het haar ’n drukkie gegee.

 

Hier lê die stomme Maria Mazwai.

Verdrink terwyl almal gedink het sy waai.

 

Hier lê die jong Hendrina Daneel.

Huiswerk het haar morsdood verveel.

 

Hier lê ’n seuntjie, sy naam was Frik.

Hy’t sy vinger in die muurprop gedruk.

 

Hier rus Martina Johanna Marais.

’n Olifant het bo-op haar kom lê.

 

In tere herinnering aan Sara Bermedie

(Daar was rottegif in die hoenderbredie.)

(c) Jaco Jacobs 2011 

Nagwals

O, Bettie,

my Bettie,

kom wals weer met my.

’n Stadige,

statige

wals, ek en jy.

Vergeet

van die donker.

Vergeet

van die maan.

Vergeet

van die grafte

wat daar

eenkant

staan.

Die ritme perfek,

geen noot klink ooit vals nie.

Selfs die dood bring geen einde

aan ons twee se wals nie.

(c) Jaco Jacobs 2011 

Bangmaakgoed

Tokkelossie,

waterslang.

Dié soort goeters maak my bang.

Ek’s bang vir Toorman

en vir spook.

(En vir krokodille ook.)

Antjie Somers,

watervrou.

Kyk hoe rys my hare nou!

Al daai bangmaakgoeters

wat my pla;

al daai bangmaakgoed

moet hulle gedra ...

Anders roep ek nóú my pa!

(c) Jaco Jacobs 2011


Speeltyd

Dis speeltyd, speeltyd!

Klim uit jou bed!

Dis tyd vir die speelgoed

se middernagpret!

 

Ek is die pop

wat in die parkie vergeet is.

Ek is die teddie

wat deur die hond opgevreet is.

 

Ek is jou robotman,

wen my weer op.

My naam is Dolla.

Waar is my kop?

 

Dis speeltyd, speeltyd!

Klim uit jou bed!

Dis tyd vir die speelgoed

se middernagpret!

 

Ek was jou laphond,

onthou jy my?

Ek is die karretjie

wat soos blits kon ry.

 

Ons is die soldaatjies,

jy’t ons weggegooi.

Ons het onsself

weer teruggenooi!

 

Want dis speeltyd, speeltyd!

Klim uit jou bed!

Dis tyd vir die speelgoed

se middernagpret!

 

Al jou stukkende speelgoed

is weer heel.

Hulle is terug en hulle wil

speel, speel, speel!

(c) Jaco Jacobs 2011


Die towerflits

My boetie, Fritz,

het ’n towerflits

wat bangmaakgoed laat verdwyn.

Monsters vlug

as die flits se lig

deur die donker kamer skyn.

(c) Jaco Jacobs 2011

Friday, August 19, 2011

'n Zombiestorie

Lesers vra my dikwels of daar ’n opvolg vir Virus gaan wees. In hierdie stadium weet ek regtig nie. Ek weet presies wat verder met Jake en Liza gebeur, maar tot dusver het ek nog nie gaan sit en dit neergeskryf nie. Hier is egter ’n meevaller vir aanhangers van Virus, of vir enige iemand wat van zombiestories hou. Hierdie kortverhaal se titel is _ _ . . – dis Morse-kode vir die letter “Z”. Dit speel af ná die gebeure in Virus, maar geeneen van die karakters speel ’n rol daarin nie. Dis basies ’n liefdesverhaal met zombies. En dit verduidelik wat gebeur nadat die zombies verdwyn het. 


_ _ . .

Jaco Jacobs

 

Dag 37

17:37

Ek sou nooit kon dink die einde van die wêreld sal so vervelig wees nie. Oukei, daar’s die zombies. Maar ná ’n ruk word dit soos ’n fliek met te veel special effects. As jy een Z gesien het, het jy hulle almal gesien. Dit voel of ons net wag en wag en wag.

            Van flieks gepraat. Ek wonder of daar iewers in Hollywood nog van die regisseurs leef wat al daai zombieflieks gemaak het. Jy weet, Night of the living dead, Resident evil, 28 days later. Hulle was seker teleurgesteld toe die virus destyds uitgebreek het. Sure, aan die begin was alles net soos in die flieks – breinlose monsters wat in die strate rondloop, duisende mense wat probeer vlug, geboue wat brand, bla-bla-bla. Maar toe dinge ná ’n paar maande skielik begin terugkeer na normaal, was dit seker vir daai fliek-ouens ’n antiklimaks (soos Smittie in die Afrikaansklas sou sê). In die flieks is daar gewoonlik ’n held wat die wêreld red. Of ’n wetenskaplike wat ’n slim teenmiddel kry. Die zombies is nie veronderstel om vanself dood te gaan nie.

            Oukei, die zombies WAS klaar dood. Maar hulle het ná so drie weke sommer net vanself begin ... ophou. Melt sê hulle fuel het opgeraak.

            Melt is net 22, skaars ses jaar ouer as ek, maar hy het homself sommer as ons leier aangestel. Ek dink Zinzi sou ’n baie beter leier wees, of selfs Anton. Maar Anton is ’n rekenaar-geek en hy weet omtrent niks van gewere af nie. En Zinzi is ’n vrou. In Melt se oë is dit die ouens se werk om besluite te neem en belangrik te lyk as die einde van die wêreld aanbreek; ons girls maak kos en hou die plek aan die kant. Tanja is swanger, en ek is mal oor Peter en Emily, maar hulle is te oud om regtig te kan help. Ek dink nie baie tagtig-plussers het oorleef nie.

So, wie bly oor? Melt. En Melt was natuurlik in die weermag. (Dis funny, hy kry altyd so ’n frons tussen sy wenkbroue as hy die woord “weermag” sê, en sy skouers trek effens agtertoe, asof hy verwag een of ander bevelvoerder of whatever gaan enige oomblik bevele begin skree.) As ek hom die slag goed die hel in wil maak, praat ek oor hoe useless die weermag was.

 

Nog geen teken van Adam nie.

 

19:22

Nog steeds niks van Adam gehoor nie.

 

20:02

Zilch.

 

21:54

Uiteindelik ’n boodskap. Hy het heeldag probeer om ’n roete deur die aircon se pype te kry. Sy kos is besig om min te word. Hy moet op ’n manier in van die woonstelle op die onderste vlakke van die gebou uitkom.

            Ek gaan Melt môre probeer oorreed om ’n plan te maak. Ons het die lorrie, ons het genoeg skietgoed. Ons kan hom nie net daar los nie. Bedags kan ek die zombies in die res van die gebou sien rondbeweeg – dis net die boonste vlak wat afgesper is deur die ontploffing.

            ._.. / . / _._ / _._ / . / ._. / ... / ._.. /._ / ._ / ._ _.

            Ek word al hoe beter met die Morse-kode. Dit het my minder as drie minute gevat om “lekker slaap” vir hom te sein.

            Ná ’n ruk het hy teruggesein met sy flits. Net een letter.

            _.._

            ’n X.

 

Dag 38

05:13

Vroeg wakker geskrik. Gedroom van my ma-hulle. Kan nie meer slaap nie.

 

10:00

“Lara, daar’s nie ’n manier nie. Ons gaan nie uit die winkel uit nie. Een of ander tyd sal hier hulp opdaag.”

            Melt se antwoord toe ek netnou met hom gepraat het oor Adam.

            Melt en Anton is besig om ’n nuwe soort wapen of bom of iets te probeer bou – iets wat hulle kan gebruik as daar weer ’n groot groep op die winkel toesak, soos laas week. Regte seuntjies wat nie genoeg kan kry van hulle speelgoed nie.

            ’n Winkelsentrum. Ek weet: hoe corny. In elke tweede flippen zombiestorie het die mense in malls gaan wegkruip. Dit was nie my keuse nie, oukei? Dit was een van die min plekke wat nog nie geraid is nie. Die sekuriteit was te goed; niemand kon inkom nie. Tot Anton ’n manier gekry het om die alarmstelsel te ontkoppel. Moenie vra hoe hy dit reggekry het nie. Nee, seriously – moenie vra nie. Hy sal jou ure lank besig hou en jy gaan nie kop of stert verstaan van wat hy sê nie.

 

12:45

Zombie-watching. Dis wat Zinzi dit noem. Die kere as ’n mens net vir hulle deur die venster sit en staar. Meestal ignoreer hulle jou. Maar soms kom hamer hulle teen die ruite, met oopgesperde monde en starende oë. Gelukkig is die glas versterk, en daar’s diefwering.

            Destyds met die virus was dit makliker om soms vir die zombies jammer te voel. Hulle het dit nie gekies nie. Maar hierdie keer ...

            Binne ses maande was honderde duisende mense verslaaf aan Z. Regerings het probeer keer, maar ná die eerste uitbreking was daar te min polisie oor om die handelaars te keer. Mense het dit geruil vir kos, wapens, vars water. Hulle sê dit laat jou beter voel as enige dwelmmiddel wat ooit op die mark was. En daar was nog selde in die geskiedenis ’n tyd toe mense só nodig gehad het om beter te voel soos ná die virus.

Wat ek dikwels wonder is: Wie de hel het eerste daaraan gedink om van die zombies se oorblyfsels fyn te maal; dit te snuif? Die effek was stadiger as die virus, maar dit was dieselfde. Mense wat aan Z verslaaf was, het binne weke begin verander. Die plaag het van voor af uitgebreek; hierdie keer erger as ooit tevore.

            Z. Die laaste letter van die alfabet.

 

14:09

Dis anders as ’n mens nie baie woorde het om iemand te leer ken nie. Bedags skryf ek en Adam vir mekaar boodskappe. Ek het ’n swartbord in een van die restaurante gekry waarop hulle specials geskryf was, en bordkryt. Gelukkig het Adam ’n verkyker. Ek gebruik een van die teleskope wat Melt in die wapenwinkel gekry het om te sien wat Adam skryf. Hy gebruik spuitverf om teen ’n muur bo-op die gebou te skryf.

Dis ’n simpel manier om te gesels. Glo my, SMS’e en chatrooms was beter, in die dae toe selfoonnetwerke en internet nog bestaan het. Maar dis op die oomblik al wat keer dat ek van my kop af raak van verveling.

Adam is sewentien. Hy is skraal, met donker hare. Hy hou van Green Day, aartappelslaai, fietsry en lees. Sy gunstelingboek is To kill a mockingbird. Ek is spyt ek het dit nooit gelees nie. Ons sou dit vanjaar in Engels gedoen het. Sy gunstelingfliek: Life is beautiful. (Ek het dit darem gesien.) Hy sê dit het hom geleer dat leuens partykeer mooier as die waarheid kan wees. Voor die wêreld uitmekaargeval het, wou hy ná matriek oorsee gaan, Spanje toe, om ’n jaar lank te backpack. Daarna wou hy ’n veearts word. Sy hond se naam was Jascha.

 

17:04

Melt en Zinzi het pas ’n helse fight gehad. Zinzi sê Tanja kan nie meer help kosmaak en skoonmaak nie. Haar baba moet oor minder as drie weke kom. Melt sê almal moet hulle kant bring.

 

23:00

Ek en Adam het heelaand met die flitse gesels. ’n Mens leer later om mekaar se kort sinne makliker te verstaan.

Melt het gesê ek mors batterye, toe wys ek hom die skudflits wat ek in die buitelewewinkel gekry het. Jy skud dit net ’n paar keer en dan wek jy genoeg krag op om dit te laat werk. Hy haat dit as iemand op sy batterye piepie (so to speak, haha!).

 

Dag 39

20:32

Goor dag. Emily is siek; Peter is baie bekommerd oor haar. Anton vermoed die diesel vir die kragopwekker sal nog net ’n week hou. Groot groep zombies teen middagete se kant. Melt en Anton het hulle nuwe bom getoets. ’n Molotov cocktail: petrol in glasbottels. Ek was naar. Ek het nie eens lus vir skryf nie.

Partykeer wonder ek hoe dit sal voel om een van die deure oop te sluit en blindelings die straat in te hardloop. Soos Cedric. Net ’n week, toe het hy te vasgekeer gevoel hier in die winkelsentrum. Cabin fever, het Anton dit genoem. Hy het dit nie eens na die oorkant van die straat gemaak voor hulle hom gekry het nie. As ek my oë toemaak, kan ek dit voor my sien.

 

Dag 40

23:36

Ek dink Adam het nie meer kos nie. Toe ek hom vroeër vandag vra, het hy net geantwoord: Ek’s OK.

            Regtig? wou ek weet.

            Ek stick jo v ’n date. 8 vnand.

            Ek het niemand daarvan gesê nie, maar halfagt het ek al by een van die Wimpy se tafeltjies gaan sit en die dak van die gebou dopgehou. Presies agtuur was daar skielik ’n helder lig. Gevolg deur ’n dowwe plofgeluid. Die een ná die ander kleurvolle vuurboog het die lug ingeskiet en op die donker stad neergereën. In die lig van die vuurwerke kon ek sien hoe selfs die zombies buite gaan stilstaan, ’n oomblik lank ophou met hul voortdurende aastog deur die dooie strate, en verbaas met hul melkwit oë opkyk. Ek het nie ’n clue waar hy die vuurwerke gekry het nie, maar dit was so mooi dat ek gehuil het. Ek het nie eens opgehou toe Zinzi haar arms om my skouers sit nie.

            Moenie vra hoe ek dit weet nie, maar ek wéét: Hy sal nie môre meer op die dak wees nie. Hy gaan probeer wegkom. Die vuurwerke was sy manier om te sê: Sjuut, vergeet daarvan. Kom ons praat nie daaroor nie. Moenie daaraan dink nie. Kom ons maak of dit nie bestaan nie. Kyk liewer die vuurwerke. Kom ons speel dis soos in die ou dae. Nuwejaar. Of Guy Fawkes.

Ek en Zinzi het saam in die donker gesit en kyk totdat die vuurwerke opgehou het.

            Toe dit verby was en Zinzi gaan slaap het, het ek vir hom gesein:

            _.. / ._ / _. / _._ / .. / .

            Dankie.

            ._.. / . / _._ / _._ / . / ._. / _ _.. / _ _ .. / _ _ ..

            Lekker zzz.

 

© Jaco Jacobs 2011. Kopiereg streng voorbehou. 

Gedigte vir eisteddfods




Dis duidelik weer eisteddfod-tyd! Ek word die afgelope paar dae oorval deur ouers wat wil weet of ek asseblief vir hulle spesifieke gedigte per e-pos kan aanstuur sodat hul kinders dit kan voordra.

Ongelukkig kan ek dit nie doen nie. Daardie deel voorin ’n boek waarin daar staan geen gedeelte van die publikasie mag gekopieer of op enige manier gereproduseer word sonde die skriftelike verlof van die uitgewers nie, is ook op die skrywer van toepassing. As ek e-poskopieë aanstuur, sny ek nie net my eie keel af nie, maar ook dié van die uitgewer wat duisende en duisende rand daarin belê om my gedigte in die eerste plek gepubliseer te kry sodat kinders dit kan lees en dit beskikbaar is vir gebruik by plekke soos kunswedstryde. Die enigste manier hoe ek (en ander skrywers) kan voortgaan om Afrikaanse kinderverse en kinderboeke te skryf, is as mense die boeke koop.

Om dit makliker te maak, hiermee die lys van gedige wat in my drie bekendste bundels verskyn. Al drie boeke is beskikbaar by boekwinkels of direk van LAPA Uitgewers, tel. (012) 401 0700 of www.lapa.co.za. Indien jy die boek baie dringend benodig, kan jy met LAPA probeer reël dat hulle dit (teen ekstra koste) vir jou spoedpos stuur. Ek maak telkens ’n asterisk (*) by die titels van die rympies wat ek weet gewild is by eisteddfods, of wat na my mening lekker daarvoor kan werk.

 

Wurms met tamatiesous en ander lawwe rympies

My boetie is ’n alien*

Skottelgoed is gevaarlik*

Woordeboek

My rekenaar is olik

Meerkat*

Vraagteken*

Vollemaandag*

Die Goeie Vee*

Hompie Kedompie

Mary het ’n lammetjie

Slaap, kindjie, slaap

Haaie

Hoe smaak die see?*

Die aarde is rond soos ’n piesang

Tekkies

Drake hou van suigstokkies

Spoke gril vreeslik

Was agter jou ore

Trol

Is jy die mooiste monster?*

Wurms met tamatiesous*

Die Kruiper

Rilrestaurant*

Spooktrein*

Nagmerrie

Die Niks*

Moenie jou medisyne drink nie*

Breuke kan nie breek nie*

Mielies het nie maniere nie

Eier vir ontbyt

’n Ongeluk

Mossies voel vere

Frederik de Waardt

Wegloopneus*

Klikbek

Klara Klakous

Kry vir jou ’n dinosourus*

Buffel in die bad*

Selfoon*

Koop vir my ’n motorfiets*

Erdvark

Vlakvark

’n Vark in die toilet

Soen

TV-slaaf

Hoendertande*

’n Fluks slang

Tongknopers

Slange

Brommerpraatjies

Lief

 

’n Brulpadda in my tas

’n Walvis in my sop

Varkies

Narre*

Ek skaam my morsdood*

Vreemde vrae

My ma se varsgebakte brood

Kinderspeletjies*

Stootskraper

Te laat*

As die monsters partytjie hou ...*

Hoe om jou eie monster te maak*

DracuDent*

Volmaan-sjampoe*

Speelgoedtande*

Professor Polter se Skool vir Suksesvolle Spoke*

Portret van die meisie sonder naam

Jan

Pampoenspook*

Die monstertoilet*

Koerantopskrifte oor die Koms van die Blop uit die Buitenste Ruim

Die huis in Katjiepieringstraat*

Donkerlied*

As die see net nie so sout was nie ...

’n Brulpadda in my tas*

Moenie ’n padda soen nie*

SprokieGenoot

         Haar probleem ’n haarprobleem

         Kortsigtig

         Eksklusief! Is appels dalk sleg vir jou gesondheid?

         Spesiale aanbod!

         Sulke varke!

         Gesoek: Geoulokkies

Prinsesse gee my sooibrand*

Vallenteinskaarkie

Superheld*

Beste vriende

Wêreldreis*

’n Slegte idee

10 dinge om te doen as jy baie verveeld is ...*

Ongeskik

Twee rympies

 

My boetie dink hy’s Batman

Luislang, o, luislang*

My hond is mal oor boeke*

As goudvisse kon praat

’n Gevaarlike tuin

Pizza-liefde

Kliek!*

Woedebuie*

Die ergste marteling*

My boetie dink hy’s Batman*

My nuwe babasussie

Bankroof

Moenie die melk vergeet nie*

Lelike woorde

’n Riet word ’n fluit

Dôra, dôra

Party rympies

Die einde van ’n lastige vlieg

Vraag en antwoord*

Sal daar nog ysbere wees?*

Gister was ons klas by die akwarium en dis wat ek gesien het:

Gister was ons klas by die akwarium en dis wat die haai gesien het:

Die seerowerskool se klasrooster*

Windlawaai

My soort sport*

Dei boom derde van links*

Sowaar*

Nuwe skoolreëls*

Die langste halfuur op aarde*

Die kinders van vandag ...*

Die mensvreter-restaurant se spyskaart

Tarzan: Die einde*

Te koop*

ZombieMart*

Modderman*

Oppas vir daai plant*

Monster-asem*

Kulkunsie*

 

Tuesday, August 16, 2011

’n Paar van my gunsteling-webtuistes van skrywers

Dis groot pret om so nou en dan op skrywers se webtuistes rond te snuffel en te kyk met watter boeke hulle volgende vorendag gaan kom of watter pittighede en prettighede daarop verskyn. Hier is ’n paar van my gunstelinge:

 

Dav Pilkey

Ek is ’n groot aanhanger van Pilkey se Dumb Bunnies-reeks, en Captain Underpants is net so prettig. Sy webtuiste het die volgende waarskuwing: WARNING: This website contains scenes and material which may be considered too silly for grown-ups, small animals, and many varieties of houseplants. If you are a grown-up, a small animal, or a houseplant, we strongly urge you to seek the permission of a kid before browsing this site!

Adres: http://www.pilkey.com/

 

Neil Gaiman

Ek is nie so mal oor al Gaiman se werk soos ek heimlik voel ek behoort te wees nie, maar as ek sy blog op sy webtuiste begin lees, kan ek nie ophou nie. Lekker insig in die lewe van ’n supersterskrywer!

Adres: http://journal.neilgaiman.com/

 

Stephen King

King se amptelike webtuiste is ’n verstommende bewys van hoe groot sy empire is. Dit wemel van aankondigings oor nuwe e-boeke, strokiesprente, TV-reekse en selfs nuus oor King se amptelike radiostasie, 100.3 WKIT. (’n Bonuspunt as jy die pun snap ...)

Adres: http://www.stephenking.com/index.html

 

Emily Gravett

Gravett se webtuiste is slim ontwerp – nes ’n mens van hierdie innoverende prenteboekskrywer en -illustreerder verwag!

Adres: http://www.emilygravett.com/

 

Anne Rice

As ’n mens die mediaberigte lees, lyk dit of Rice by die dag eksentrieker word. Sy bly egter in my oë die koningin van die vampiergenre, en Stephenie Meyer en Charlaine Harris is baie dank aan haar verskuldig. Dit is interessant om te sien hoe toeganklik Rice klaarblyklik as skrywer is – aanhangers (groepe van meer as 25) word selfs genooi om via Skype met haar te gesels, ’n voorstel wat jy op min skrywers se webtuistes teëkom. Hoe maklik dit is om regtig so ’n Skype-onderhoud met haar te reël, weet ek egter nie. En of sy regtig self haar e-posse beantwoord, is ook ’n ope vraag.

Adres: http://www.annerice.com/

Monday, July 25, 2011

Moet ek liewer ophou skryf?



Ek kry gereeld briewe van gefrustreerde aspirantskrywers wat wil weet: Is dit die moeite werd om aan te hou met skryf? My manuskrip(te) is deur byna elke moontlike uitgewery afgekeur en ek weet regtig nie meer of ek enige skryftalent het nie. Is uitgewers bang om nuwe skrywers se boeke te publiseer? Moet ek ’n professionele proefleser kry om my manuskrip te versorg? Moet ek na ’n skryfskool toe gaan? Wat wil uitgewers nou eintlik hê?

Dis vir my baie moeilik om te sê wat jou te doen staan. Ongelukkig is dit waar dat mens 'n dik vel moet hê in hierdie bedryf. Mense is dikwels verbaas om te hoor dat skrywers wat reeds baie gepubliseer het, steeds afkeurbriewe kry, maar dit is regtig waar. Op my hardeskyf is talle stories wat nie die mas opgekom het nie. Baie van my stories is deur ’n lang en uitputtende herskryfproses voordat hulle vir publikasie aanvaar is.

As 'n manuskrip deur twee of drie uitgewerye afgekeur is, beteken dit nie noodwendig dit het nie meriete nie (almal noem altyd die voorbeeld van die eerste Harry Potter-boek wat glo deur byna elke Britse uitgewery afgekeur is – lees http://labarker.com/HarryPotter/howharry.html vir ’n interessante bespreking daaroor), maar my eerlike opinie: As dit my storie was, sou ek dit eers los en aan iets nuut begin werk. 'n Mens (ekself ingesluit) is geneig om so verlief te raak op 'n storie (dikwels juis daardie stories wat nié werk nie) dat jy later daaraan bly vasklou, in plaas daarvan om aan te hou met skryf.

’n Uitgewery se voortbestaan is afhanklik van nuwe stories, so moenie jouself bluf deur te sê: Ag, hulle soek nie regtig nuwe skrywers se stories nie, dis hoekom hulle my manuskrip afgekeur het. Ek is self ’n uitgewer, en ek kan jou verseker die werwing van nuwe skrywers is ’n prioriteit. Party genres verkoop weliswaar nie so goed soos ander nie (prenteboeke vaar tans swak in Afrikaans), daarom kan ’n mens minder daarvan publiseer en moet jy noodwendig kieskeuriger wees, maar geen uitgewer sal ’n goeie manuskrip deur sy vingers laat glip bloot omdat dit ’n nuwe skrywer se werk is nie.

Om 'n storie wat nie werk nie professioneel te laat proeflees, gaan waarskynlik min help - tensy jy bedoel jy wil dit deur 'n kundige laat lees wat jou kan help om die storiefoute uit te stryk. Maar selfs in laasgenoemde geval kan dit 'n duur oefening wees wat nie noodwendig publikasie gaan verseker nie. (En ligloop, hoor, daar is heelwat “kenners” wat teen ruim betaling manuskripte versorg, maar in werklikheid geen ondervinding in die kinder-en-jeugboekbedryf het nie.) My ervaring is dat skryfskole ’n wonderlike inspuiting is vir ’n mens se kreatiwiteit, en dat jy daar baie kan leer oor hoe die bedryf werk, maar uiteindelik is die hartseerfeit dat geen skryfskool van jou ’n skrywer kan maak nie.

Ek begryp aspirantskrywers se frustrasie met uitgewers, maar dis eintlik nie regtig so moeilik om te bepaal waarna hulle op soek is nie. Die geheim is maar net om die mark te bestudeer. As jy tienerboeke skryf, moet jy regtig alles gaan lees wat tans op die mark is, ten minste alles wat die afgelope vyf jaar (in Afrikaans) verskyn het. Nie alles is ewe goed nie, maar die vermoë om 'n swak jeugboek raak te sien, is ook al nuttig, want dit beteken jy verstaan die genre. Dit mag ook wees dat tienerboeke bloot nie die ideale genre vir jou "skrywerstem" is nie - dalk is jy eerder veronderstel om vir jonger kinders, of vir volwassenes, te skryf. Maar die enigste manier hoe jy dit sal kan vasstel, is om soveel moontlik te skryf (en te lees!). Die boeke wat van kleintyd af my tone laat omkrul het van lekkerkry, is die boeke wat ek die meeste geniet om te skryf. Dit is hoekom skryf so 'n moeilike ding is, want dis 'n dissipline waarmee ander mense jou eintlik baie min kan help. Vergeet van al die trimmings – op die ou end is dit net jy en jou rekenaar of tikmasjien of skryfpapier.

Die skrywer van die Harry Potter-artikel hier bo doen ’n interessante oefening: Lees ’n kinder- of tienerboek en skryf dan die redes neer waarom jy dink die betrokke boek is gepubliseer – met ander woorde, probeer uit die uitgewer se oogpunt daarna kyk. Neem Fanie Viljoen se Nova-reeks byvoorbeeld:

·                    Dis wetenskapfiksie, ’n seldsame genre in Afrikaans, maar ’n gewilde genre in rolprente. So, daar is ’n leemte in die mark.

·                    Die storie bevat volop aksie wat die leser op die punt van sy stoel hou, en dis goed geskryf.

·                    Dis lekker grillerig – iets waarvan jong lesers altyd hou.

·                    Daar is heelwat humor – wat ook altyd ’n treffer is.

·                    Die karakters is oortuigend, en seuns én meisies sal by hulle aanklank kan vind.

Of kyk na Christien Neser se reeks bestaande uit Kondensmelk, Koshuiskoffie  en Blou sjokolade (wat binnekort verskyn):

·                    Dis ’n liefdesverhaal – waarskynlik die gewildste genre onder tienermeisies.

·                    Dis anders. Die hoofkarakter, Elle, is ’n vars bries in die Afrikaanse jeugliteratuur. Sy is ’n bedorwe brokkie wat hard aarde toe kom. Sy moet dinge doen soos gaan kamp in Botswana, om middernag uit die koshuis sluip om haar beste vriendin te help hokkie oefen, sy moet die Otter-wandelpad gaan stap.

·                    Dis snaaks. Humor is gewild vir enige ouderdomsgroep. En Elle en Refi en die res van die karakters is plek-plek skreeusnaaks.

Om terug te keer na die vrae wat ek aan die begin gevra het: Ek dink die bottom line is: Skryf net. Of uitgewers dit in hierdie stadium wil aanvaar of nie. Geen enkele woord wat 'n mens skryf, is ooit 'n vermorsing nie, want in die eerste plek skryf jy vir jouself. Moenie jou te erg blind staar teen die publikasieproses nie. 

Monday, June 27, 2011

Waarom word prenteboeke nie behoorlik geresenseer nie?





Ek weet nie hoeveel mense dit besef nie, maar in ons huidige finansiële klimaat is die publikasie van ’n oorspronklike Afrikaanse prenteboek so amper-amper ’n wonderwerk.

’n Wonderwerk dat skrywers nog bereid is om prenteboeke te skryf, want die outeursgeld wat jy op so ’n boek verdien, is maar skraps.

’n Wonderwerk dat daar nog illustreerders (en góéie illustreerders, boonop) is wat bereid is om prenteboeke te illustreer, want dit verg dikwels maande en maande se werk, ’n stel volkleurskilderye waarvoor jy nou nie juis ’n king’s ransom verdien nie.

’n Wonderwerk dat uitgewerye nog bereid is om oorspronklike Afrikaanse prenteboeke te publiseer, ondanks die feit dat dit heelwat goedkoper en makliker is om oorsese boeke te vertaal en in koproduksie met groot internasionale uitgewershuise te produseer.

Tog is ek oneindig dankbaar daaroor, want van die prettigste en kreatiefste skryfwerk wat ek tot dusver gedoen het, was prenteboektekste. Liewe land, ’n olifant! en Madelief, moenie! was enorme pret om te skryf. So ook Waarvoor is seerowers bang?, wat oor ’n paar maande verskyn.

Martie Preller se Babalela het verskyn in ’n tyd toe uitgewers dit eintlik nie wou waag om prenteboeke te publiseer nie. ’n Hele geslag Afrikaanse kinders het met Babalela grootgeword; het geleer dat dit oukei is om, as mense aanhou karring aan jou, soms te sê: “Los my uit!”

Dit sou ’n reuseverlies wees as boeke soos die Babalela-reeks, Wat doen jy, Daniël? van Leon de Villiers, Niki Daly se Jamela-boeke, die hartroerend mooi Lena se bottelboom van Wendy Maartens, en Alana Bailey se Die prinses van die Afrikavlaktes nooit in Afrikaans verskyn het nie.

So, nou is my vraag: Waarom word Afrikaanse prenteboeke selde of nooit behoorlik in die media bespreek?

As daar na ’n nuwe prenteboek op ’n koerant of tydskrif se boekeblad verwys word, is dit gewoonlik bloot ’n kort aankondiging. Of een van die subs kry die geleentheid om in 'n paar woorde te skryf wat sy/haar kinders van die boek gedink het. 

Prenteboeke is baie kleuters se eerste kennismaking met stories in Afrikaans – maak dit dan nie sin dat hul liefde vir lees reeds met hierdie kennismaking gevestig kan word nie? As jy so daarna kyk, hoe op aarde kan die waarde van prenteboeke (en ander kinderboeke, wat net so gruwelik afgeskeep word) dan nog in ons literêre sisteem gering geskat word? Daar is tog sekerlik resensente wat genoegsame agtergrondkennis het om ’n behoorlike ontleding van ’n prenteboek te kan doen?

Waarom skryf niemand ooit oor hoe subtiel en humoristies die ernstige “boodskap” van die teks gehanteer word in Niki Daly se Moenie vir Bernard soen nie en Wat is jy, Kartoffel? van Marga Jonker?

Waarom gaan die debuutwerk van talentvolle nuwe illustreerders soos Chris Venter, Maja Sereda, Katrin Coetzer, Sebastien Quevauvilliers en Zunica Joao so ongesiens verby? Hoekom kan ’n resensent met ’n deeglike agtergrond in illustrasie nie ’n slag ’n onderhoudende resensie oor hierdie illustreerders se werk skryf nie?

Waarom tref niemand ooit 'n vergelyking tussen die gehalte van plaaslike prenteboeke en dié wat oorsee verskyn nie?

Waarom kry prenteboeke so dikwels slegs media-aandag as daar ’n celebrity angle daaraan gegee word? (En gewoonlik is die gehalte van sulke boeke juis onder verdenking.)

Die Afrikaanse media behoort nie kinderboeke te ignoreer nie. Dit is nie ’n Mickey Mouse-genre nie; kinderboeke is ’n genre met sy eie publikasiewetenskap, sy eie tradisies en norme en klassieke tekste.

En dit is die genre wat hopelik in die toekoms lesers vir Afrikaans sal help verseker. Dis nou te sê as daar oor tien jaar nog oorspronklike Afrikaanse prenteboeke verskyn.