Ek dink nie daar is baie lesers wat twyfel oor die
belangrikheid van ’n boek se titel nie. Party titels smeek jou byna om die boek
oop te maak en te begin lees. (Oukei, of dan om dit deesdae op jou Kindle of
iPad af te laai.)
Selfs voordat ek dit gelees het,
was ek al versot op The Curious Incident
of the Dog in the Night-time en Miss
Peregrine’s School for Peculiar Children. Een van my gunstelingtitels (en -boeke)
is Jonathan Safran Foer se Extremely Loud
and Incredibly Close – dis een van daardie boeke wat geen ander titel kon
hê nie. Gister loer ek op Amazon rond en kom weer op twee paar fantastiese
aandagtrektitels af: This Little Piggy
Went to the Liquor Store (A.K. Turner) en A is for Ketchup (’n alfabetboek vir kinders deur Xavier Finkley).
Min mense kan by Louise Rennison (of haar bemarkingspan) kers vashou wanneer
dit kom by die uitdink van titels. Haar Confessions
of Georgia Nicholson-reeks bevat juwele soos It’s Okay, I’m Wearing Really Big Knickers, Knocked Out by My
Nunga-Nungas en ... And That’s When
It Fell Off in My Hand.
Nes mooi voorblaaie ’n mens
deesdae kan verlei om ’n boek te koop wat jy later teleurstellend vind, is daar
deesdae sekerlik die gevaar dat ’n funky titel jou kan oortuig om ’n flouerige
boek aan te skaf. Vroeër jare het skrywers (en hul uitgewers) skynbaar minder
moeite gedoen om die soort titels uit te dink wat kop en skouers bo die res
uitstaan. Waarskynlik omdat daar nie elke jaar miljoene boeke verskyn het
waarbo jy kop en skouers moes probeer uitstaan om ’n paar eksemplare verkoop te
kry nie. Ek wonder wat sou A Christmas
Carol, The Adventures of Tom Sawyer
en Anne of Green Gables geheet het as
hulle vandag se dae moes verskyn.
Om die regte titel vir ’n boek te
kry is nie altyd kinderspeletjies nie. Liefde
laat jou Rice Krispies anders proe was destyds al gereed om drukker toe te
gaan, toe het ons steeds nie ’n titel daarvoor nie. (Wel, nie ’n titel waarmee
my uitgewer tevrede was nie.) Oplaas het sy deur die proewe geblaai en afgekom
op die sin wat die titel geword het. Sedertdien het prettige titels in ’n mate
Tania Brink se kenteken geword. (’n Reeks ouer Afrikaanse liefdesverhale vir
tieners is selfs onlangs herdruk met titels wat besonder baie aan Tania s’n
herinner ... Maar wat, die Engelse spreekwoord lui mos: Imitation is the most
sincere form of flattery! En daar bestaan buitendien nie kopiereg op ’n titel nie.)
Met Suurlemoen! was dit dieselfde storie. Ek wou die boek Suurlemoen! noem. My uitgewer het
vasgeskop. Die titel sê niks oor die feit dat dit oor twee ouens gaan wat hul
eie band begin nie, was haar beswaar. Dit het niks met musiek te doen nie. Dis
vervelig. (Die skok! Hoe kan ’n titel met ’n uitroepteken aan die einde
vervelig wees? wou ek verontwaardig weet.) Eindelik het ’n tienerleser
voorgestel dat ons die boek ’n subtitel gee – ’n Storie oor liefde, rock en ’n tuinkabouter. Probleem opgelos!
’n Ruk gelede het ek op hierdie
blog vertel hoe ek begin werk het aan ’n storie uit die “storiebegraafplaas” op
my rekenaar. Wel, die manuskrip is voltooi en my uitgewer is mal daaroor. Die
enigste probleem is ... die titel. Die titel wat in my oë so vars en funky en
oorspronklik en skreeusnaaks was, moet verander.
Sug. Soms is dit makliker om ’n
paar hoofstukke oor te skryf as om ’n nuwe naam vir jou boekbaba uit te dink.
Om die waarheid te sê, ek en Elize het aansienlik minder kopgekrap toe ons ons
ongebore baba se naam moes uitdink as wat ek gewoonlik swoeg en sweet om die
regte titel vir ’n boek te kry. Gelukkig is daar nog ’n rukkie tyd voor die “doop’.
Ek sal julle laat weet sodra ek met iets vorendag kon kom.