Wednesday, June 19, 2013

Vroegoggend-moord op enkele geliefdes


Vanoggend het ek my weer skuldig gemaak aan moord. Die soort moord wat skrywers ongelukkig dikwels gedwing word om te pleeg – die moord op ’n paar van jou hartlammers. Killing your darlings, soos die Engelse skrywersraad lui.
As jy tot hier gelees het en steeds geen idee het waarvan ek praat nie, ontspan. Die uitdrukking is bloot ’n stukkie klassieke skrywersraad wat beteken dat jy soms die rooi pen (of die backspace-knoppie) meedoënloos moet inspan om ’n paar van jou mooiste skryfsels uit te wis – gewoonlik daardie fleurige beskrywing wat jou so ’n opgewonde, selfingenome tinteling gegee het toe jy dit ’n ruk gelede neergepen het en jou ’n wyle lank daarvan oortuig het jy is moontlik die begaafdste woordkunstenaar op hierdie ondermaanse.
Dit is seer om daardie beskrywing uit te haal, want jy’s verlief op hom. ’n Skerpoog-redigeerder wat sy rooi ink werd is, sal dit egter meestal nie miskyk nie. En dan beland jy, soos ek, op ’n dag in die situasie waar jy jou manuskrip moet begin regtrek en ’n paar van daardie geliefdes moet afmaai.
In ’n nuwe rympiemanuskrip waaraan ek tans werk, is daar ’n versie wat ek vir my dogtertjie geskryf het. Dis ’n mooi rympie daai, man. Ek kan al sien hoe sy dit eendag vir haar kleinkinders gaan lees en vertel dat hulle oorle’ oupagrootjie daardie woorde spesiaal vir haar geskryf het. Dit gaan as ’t ware ’n erfstuk word.
En toe kom die keurdersverslag. En daardie spesifieke rympie is so vol elektroniese kommentaar geplak dat jy dit skaars op die Word-dokument kan lees.
Elizabeth Kübler-Ross se stappe oor die hantering van droefheid kan ook op keuringsverslae van toepassing gemaak word.
Jy is eers in ontkenning daaroor. Vir drie dae lank maak ek asof die keurdersverslag nie bestaan nie. Ek maak dit nie weer oop nie en ignoreer die e-pos daar waar dit in my inmandjie lê en verlep.
Teen dag vier gaan lees ek weer teësinnig die ding. En stap twee, voorspel Kübler-Ross, is woede. Hoekom, o, hoekom kan die keurder nie my briljantheid na behore waardeer nie? Hy’s waarskynlik ’n gefrustreerde skrywer of akademikus met ’n rits mislukte manuskripte wat iewers in ’n laai lê en stof vergaar. Gmf.
Stap drie is onderhandeling. Oukei, ek sal hier ’n woord verander soos die keurder voorgestel het. Daar ’n komma insit. Mits ek hierdie voorstel oor rymdwang kan ignoreer en hierdie strofe kan inlos.
En dan kom stap vyf. Waar jy die hele ding weer so bekyk en skielik besef: Flippen hel, die keurder was al die tyd reg. Daardie rympie is so stroperig soos ’n koshuistoebroodjie. Die rymdwang is so duidelik soos daglig. Jou darling se tande is skeef en haar een beentjie mank.
Backspace.
Koebaai, darling.
Jy’t die hart van ’n romantikus nodig om te skryf.
En die hart van ’n moordenaar om te herskryf.
Wie het gesê om pen op papier te sit is vir sissies?
(O ja, en die herskrewe manuskrip is vanoggend terug na die uitgewer. En daardie rympie lyk stukke beter. Hou vas dat die keurder hierdie keer saamstem.)