In gister se nuwe Weekliks-bylae
in Rapport skryf Keina Swart oor die
verskynsel dat “kenners” (die woord word in die artikel tussen aanhalingstekens
geplaas) van kinder- en jeugboeke deesdae so hard skop teen “lesse” in kinder-
en jeugboeke: http://www.rapport.co.za/Weekliks/Nuus/Moet-daar-n-les-wees-20140228
Nou,
laat ek uit die staanspoor sê dat ek baie respek vir Keina as skrywer,
rubriekskrywer en resensent het. Maar ek kan in hierdie geval nie heeltemal met
haar saamstem nie, miskien omdat ons die probleem verskillend verstaan.
Die voorbeelde van boeke met
“lesse” wat by die artikel genoem word (Droomoog
Diepgrawer, How to train your dragon, ens.), is tog almal vermaaklike
stories sonder ’n lewensles wat voor jou neus rondgeswaai word, nie waar nie?
En hier is my teorie daaroor: ’n Goeie storie, het ek nog altyd geglo en as
evangelie verkondig, doen sy werk haas ongesiens, sonder dat ’n skrywer
doelbewus daarmee hoef in te meng en ’n “boodskap” daarop probeer afdwing. ’n
Goeie storie, glo ek, kán jou nie onaangeraak laat nie – as dit oortuigend
vertel word, met oortuigende karakters wat oortuigende emosies en relevante
probleme teen ’n oortuigende agtergrond beleef, dan verander ’n storie (selfs die eenvoudigste kleuterverhaal) jou met
die lees daarvan. Dan verskaf dit inderdaad soms “tips” of “lesse” oor hoe om
die wêreld te oorleef.
Is dit die definisie van ’n
lewensles?
Miskien.
Maar ek dink nie dit is die issue waaroor die “kenners” van
kinderboeke so kerm, veral by kinderboekskryfskole, nie.
Nie dat ek myself nou as kenner
gaan probeer uitgee nie. Maar waaraan ek wel ’n broertjie dood het, is stories
waarin volwasse skrywers eintlik maar so ’n bietjie neersien op kinders; waarin hulle met ’n agenda skryf. En glo
my, ek kry byna daagliks met voorbeelde
hiervan te doen. Skrywers en aspirantskrywers wat met die houtlepel in die hand skryf om kinders te
leer van dissipline en goeie maniere en “asseblief” en “dankie” en moenie
in jou neus krap nie.
Dit is, vermoed ek, ’n oorblyfsel
uit ’n tydperk toe geglo is kinders moet gesien en nie gehoor word nie. Dit is
’n houding wat sê dat kinders nie die reg het om ’n boek te lees bloot omdat
dit lekker is nie – nee, boeke móét léérsaam en ópvoedkúndig en stígtelik en
góéd vir jou wees. Dis ’n houding wat kan deursuur deur ’n hele literêre
sisteem, van skrywers en uitgewers en die onderwysdepartement en resensente (en
ander “kenners”) tot ouers en onderwysers ... en die arme kind. Dis ’n houding
wat ons in ’n land met ’n leeskrisis nie kan bekostig nie.
Nou, ek weet voor my siel dié
houding is hoegenaamd nie die uitgangspunt wat Keina huldig of in haar artikel
bepleit nie. Maar jare lank was dit juis die houding wat die Afrikaanse
kinderboekwêreld gerig het. Trompie en Saartjie en Asterix is as ongewenste snert afgemaak,
juis omdat dit nie “goeie literatuur”, deurdrenk van lewenslesse was nie. En
ongelukkig het hierdie houding baie lank ’n invloed gehad op die soort
boeke wat vir Afrikaanse kinders geskryf en gepubliseer is. As jy wil sien hoe
die resultaat van so ’n houding lyk, gaan kyk ’n bietjie hoe die Afrikaanse kinder-
en tienerboektoneel in die vroeë 1990’s gelyk het.
Kinders en tieners is nié net
wandelende issues en probleme nie –
hulle is volwaardige mense, en as lesers verdien hulle meer respek as om bloot
die teiken vir preke en lewenslessies te wees. Kinders kan, glo ek, ’n grootmenspreek ’n myl ver raaksien en hulle hou selde daarvan, veral as hulle
dit tot vervelens moet hoor. Ek glo verbete daaraan dat kinders van kleins af
’n ingeboude BS detector het – om die waarheid te sê, die een of ander “kenner”
het my jare terug so vertel.
En dit is waarteen ek waarsku wanneer ek skrywers teen “lewenslessies” in kinderboeke maan.
So, met die slotsom van Keina se
artikel stem ek min of meer saam: ’n Goeie boek is ’n goeie boek, punt. Of nog
beter, kom ons noem dit sommer ’n lekker boek, want dis immers wat dit is –
daai soort boek wat voel of dit net vir jou geskryf is of wat jou tone kleintyd
laat omkrul het van lekkerkry. En stories is fantastiese, kragtig goed waarsonder die wêreld minder sin sou maak. Maar lewenslesse of prekies wat soos slegte
medisyne met ’n dunnerige storiesousie en mooi prentjies in (kinder)boekvorm verdoesel
word?
Aikôna.
Ek het al te veel sulke pogings
gesien wat kinders se intelligensie onderskat – trouens, wat die essensie van
kind wees onderskat.