"The Kiss of the Muse" - Paul Cézanne |
In
my geval is ’n belowende idee dikwels iets baie laf en uitbundig.
Byvoorbeeld:
Sê nou daar’s hierdie outjie wie se ouma die beroemdste Afrikaanse rocker in
die land is – maar hy is glad nie beïndruk daarmee nie?
Of:
Wat as die hangkas in jou nuwe slaapkamer in werklikheid die geheime ingang na
’n kasteel is waar ’n hele spul monsters bly – van ’n grillerige groen hand tot
’n knorrige weerwolf genaamd Flaffie en ’n Elvis-nabootsende vampier? Maar
eintlik is al hierdie monsters heel vriendelik – en hulle het gereeld jou hulp
nodig ...
Of:
Jy sit een middag in die tuin ná ’n besonder moeilike dag by die skool – en uit
die bloute val daar ’n man in ’n superhero-pak uit die lug en land reg op julle
hondehok. Hy val so hard op sy kop dat hy nie kan onthou wat sy naam is, waar
hy vandaan kom of waarheen hy op pad was nie. Trouens, hy kan nie eens onthou
hoe om te vlieg nie. Hoe leer jy ’n superhero om weer te vlieg?
Of:
Sê nou jou beste pel dare jou om ’n
hele week lank nie jou tande te borsel nie?
Dis
’n paar van my storie-idees wat oplaas in boekvorm beland het. Jy kan gaan lees
wat die idees opgelewer het in My ouma is
’n rock-ster, die Kas vol Monsters-reeks, Superheroes vlieg net saans en Koebaai,
gorilla. Oor elkeen van hierdie idees was ek mateloos opgewonde. Opgewonde
genoeg om ure van my lewe daaraan te bestee om stories van hulle te maak.
Maar
die Muse het ’n aweregse humorsin. (My baie beskaafde manier om te sê soms is
die Muse ’n spiteful helsem.) Partykeer fluister sy die grootste klomp suiwer,
onverdunde snert in jou oor. En dikwels het jy nie dadelik die insig om te
besef die idee wat jy tans so verwoed op ’n flentertjie papier neerpen, is in
werklikheid ’n spul suiwer, onverdunde snert nie.
Hier is vyf van die simpelste storie-idees waarmee ek al gestoei het.
Party het my ’n hele paar weke besig gehou – en soms selfs ver genoeg gevorder
om my arme uitgewer hoofbrekens te besorg – voordat ek besef het dit stink.
1. ’n Laerskoolseun vlug vir boelies, val van sy fiets af en kap sy kop
baie hard. Toe hy wakker word, is hy in ’n vreemde land waar ’n pratende
hoender hom probeer oortuig hy is die legendariese Draakslagter wat gekom het
om die koninkryk van ’n vreesaanjaende RAAI NET WAT te red. Die manuskrip se naam was Die Draakslagter wat chicken was. Lekker titel. Crap storie.
2. ’n Alfabetboek met rympies oor groente en vrugte. (My uitgewer het
gelukkig hierdie uiters opwindende idee heel diplomaties van die tafel gevee nog voor ek by “B
vir broccoli” kom uitkom.)
3. ’n Ystervark-seuntjie vra vir sy ystervark-mamma wat “liefde” beteken.
Hulle gaan op ’n ontdekkingstog deur die veld om maniere te kry om te
verduidelik wat liefde beteken. Ek is doodskaam om te sê die eerste (en
enigste) weergawe van die manuskrip bevat die sin: (E)k dink liefde lyk en ruik en proe soos ’n spierwit gousblom. My enigste
verontskuldiging is die feit dat ek regtig nog baie nat agter die ore was toe
ek dit geskryf het. (En dit het ook nie gehelp dat ek destyds pas gelees het
hoeveel eksemplare van Guess how much I
love you wêreldwyd verkoop is nie. Dit wys jou net, as jy agter geld aan
begin skryf, smaak liefde later vir jou soos ’n gousblom.)
4. Vertaal en herskryf Pinocchio
vir ’n nuwe generasie Afrikaanse lesertjies! Fantasties! Briljant! Kom ons
spring dadelik weg! *Kry oorspronklike teks in die hande en raak aan die slaap
van verveling nog voor jy by die deel kom waar Gepetto die houtpop begin maak.*
#ProjekGestaak
5. ’n Boek met die titel Moenie
hierdie boek eet nie. Fantasties! Briljant! Kom ons spring dadelik weg! *Sien
op Google daar’s reeds ’n boek getiteld Don’t
eat this book.* #ProjekGestaak
Nou ja, soos hulle in Engels sê: Some
you win, some you lose. En solank die Muse aanhou om idees in jou oor te
fluister, moet jy haar maar vergewe vir die kere wat sy jou ’n poets of twee
bak.