1. Dis
nogal ’n uitdaging om biografiese inligting oor jou op die internet op te spoor
– waarskynlik omdat Google duisende bladsye oor jou naamgenote, die bekende
komponiste, het! Vertel my ’n bietjie meer oor jouself.
Jy's reg, my naamgenote het nogal aansienlik meer as ek
bereik ... dankie vir die herinnering, Jaco. Dankie.
My oorsprongstorie sluit
ongelukkig nie iets interessants soos Krypton of ’n spinnekopbyt in nie, maar
bloot ’n klein dorpie in die Vrystaat genaamd Virginia. Dis een van daardie
dorpies waar die tannies in die straat nog bymekaargekom het om te skinder oor
die tannies aan die ander kant van die straat en al wat hulle saambring, is om
te kla oor die straatlig wat al vir meer as ’n week uit is. Dinge lyk vandag
natuurlik baie anders as die dae toe ek daar grootgeword het, maar ek sal altyd
lief bly vir die klein dorpie. As dit nie vir die groot hoeveelheid “niks” was
wat gereeld daar gebeur het nie, sou ek nie vandag so tuis gevoel het in ’n
beroep waar die grootste avonture in ons verbeelding plaasvind nie. (En in
daardie verbeeldingswêreld is ek net so suksesvol as my naamgenote ... Weer
eens: Dankie, Jaco. *Klap tong*)
Toe ek klaar was met hoërskool het
my pa ’n Chomp by ons voordeur gelos, en toe ek uitgaan om dit op te tel, hoor
ek die voordeur toeslaan en sluit agter my, en daar vind ek myself grafiese
ontwerp swot by die techikon hier in Pretoria. ’n Dorpie waar ek tot vandag toe
woon, want ek is lui en ry nie graag nie.
2. Het jy
altyd ’n passie vir kinderboekillustrasies gehad, of hoe het jy in die bedryf
beland?
Ek het eintlik ’n passie gehad om ’n space cowboy te word,
maar ongelukkig beweeg die tyd nie met my verwagtinge nie. My passie vir illustrasie
lê wel by baie dissiplines. Van konsepkuns tot ou tradisionele skilderye. Hoe
ek in die kinderboekillustrasiebedryf beland het (’n woord wat ek nie graag tik
nie, want my vingers kramp nou), was bloot per toeval. Terwyl ek grafiese
ontwerp geswot het (*sien asseblief die traumatiese Chomp-voorval van vraag 1),
is ek in my derde jaar deur ’n uitgewery, Fantasi, genader, en oom Frans wat
daar werk, het my baie mooi gevra om vir hom te gaan prentjies teken nadat ek
klaar geswot het. Ek hou mos van prentjies en kon nie wag nie en het toe sommer
in die tweede helfte van my derde jaar al vir hulle begin illustreer. Toe my
swottings klaar was, het ek voltyds by Fantasi begin werk as hoofillustreerder
en deeltyds vir advertensie-agentskappe. Ja, sommer vir al twee in die begin.
Ek slaap dus min en worry baie.
Vandag werk ek voltyds vir myself. Dis die boosaardigste
baas wat ek nog teëgekom het. Sy asem stink soos sterk koffie en peanut butter-broodjies.
3. Vertel
my ’n bietjie hoe jou kreatiewe proses werk wanneer jy ’n teks van ’n uitgewer
ontvang om te illustreer.
Gewoonlik probeer ek die manuskrip lees soos wat (ek dink)
die skrywer dit wou gehad het. In een sitting. Aan die einde van elke hoofstuk
(sou die manuskrip so opgebreek word) sal ek vinnig die toneel teken wat meeste
by my gebly het en dan onmiddellik verder lees. Dit lei gewoonlik daartoe dat
ek óf klein detail uitlos, óf detail bysit soos wat ek die storie vir myself
visueel vertel – en dit lei tot baie uitgewers wat ou partytjiewoorde uitgrou
en na my kant toe gooi, want hulle dink ek gee nie aandag nie.
Nadat ek die manuskrip klaar
gelees het, gaan ek terug en probeer sin maak van al die skrabbels, en herleef
weer die storie soos wat ek weer alles in detail oorteken. Dit lei meestal tot
meer detail wat uitgelos of bygesit word – en dan sal iemand soos Miemie van
LAPA vir my vra hoekom die drie varkies nou op meganiese dinosourusse ry en
AK’s in albei hande het.
4. Mense
vra dikwels vir skrywers: “Wat inspireer jou?” Ek wou dieselfde vraag nog altyd
vir ’n kinderboekillustreerder vra. So …?
Goeie stories van goeie skrywers, (#JacoJacobs) en mense wat
baie meer suksesvol as ek is, soos die ander Johann Strauss ... van wie ek
aanhoudend hoor. (#klaptong)
Dis eintlik verskillende dinge op
verskillende tye. Ek sien dalk ’n vreemde klipformasie op vakansie en dit kan
my verbeelding na ’n cool draak-konsepskets stuur wat ek net móét teken (al
gooi ek dit weg sodra dit klaar is) of na meer obvious goed soos ’n nuwe styl
wat ek raakgegoogle het. Klein goedjies kan lei tot ’n boek vol idees, hang net
af in watter headspace ek is ... en daar is baie space in my head. Wag ... dit
het nie reg uitgekom nie.
5. Wys vir
my een illustrasie uit jou kinderboek-oeuvre waarop jy besonder trots is of wat
vir jou uitstaan, en vertel my waarom jy daardie spesifieke een gekies het.
Die stuk wat dadelik by my opkom, is ’n dubbelblad van die
eerste kinderboek waarin ek totale kreatiewe vryheid gehad het. Dit is ’n
dubbelbladuitleg uit een van die eerste vier boeke in die Droombos-reeks (uitgegee
deur Fantasi). Ek noem die eerste vier, want toe was daar nog redelik tyd om
genoeg aandag aan alles te gee. Nog ’n rede hoekom ek van die stuk hou, is
omdat dit alles met tradisionele mediums gemaak is. Vandag werk ek 90% digitaal
– soos Arnold Schwarzenegger in Terminator.
Net met ’n Afrikaanse aksent.