Mense vra my dikwels hoekom op aarde ek graag grilstories skryf. Dis nie maklik om te verduidelik nie, want baie lesers neem heimlik aan daar is ’n skroef of twee los met skrywers wat van makabere verhale hou. Of minstens dat jy liefs klein kindertjies en katte van hulle moet weghou.
’n Mens se geheue is ’n vreemde ding, veral as dit by kleintydherinneringe kom. As jy op die internet kan peil trek, meen kenners dat die meeste volwassenes se herinneringe so vanaf die ouderdom van drie jaar strek. Ek kan my kinderdae baie goed onthou, maar soms wonder ek tog hoeveel van die “herinneringe” kom eintlik uit my pa-hulle se vertellings van dinge wat kleintyd met my en my sussie gebeur het.
Hoe dit ook al sy, een herinnering, vals of nie, uit my kleintyd is van ’n nare pop wat ek en my sussie gehad het. Ek weet nie meer by wie ons dit geërf het nie, want ons plaashuis was vroeër jare my ouma-hulle se blyplek. Die pop het ’n gehawende laplyf gehad en ’n (effe taaierige) rubberkop. By nabetragting weet ek nou dat dit ’n meisiepop was, maar ek het altyd aan die pop gedink as ’n seuntjie. En hy het van daardie oë gehad wat vanself oop en toe gaan, maar hulle was lankal stukkend.
Ek het eendag na ’n speelding gesoek wat weg was, en in die donker onder die bed in die spaarkamer, waar ons speelgoedkas was, gesoek. En daar lê die pop toe. Op daardie oomblik toe ek onder die bed inkyk, het die pop se oë rooi gegloei.
Ek belowe.
Ek onthou dit nog so helder soos daglig.
Of dit ’n kindertydnagmerrie was wat in my brein vasgesteek het, of dalk bloot die produk van my verbeelding (soos baie kinders was ek soms vrekbang vir die monsters onder die bed), dit weet ek nie. Oor die jare het ek die pop-storie al vir baie mense vertel – en eenkeer het ek vir die grap selfs vir ’n pel ’n vreeslike aandikstorie vertel oor hoe die pop een van ons plaaswerkers vermoor het.
Maar ’n paar jaar terug het ek daardie einste pop weer in ons ou plaashuis ontdek. En wragtig, die ding is steeds scary. Hier’s ’n foto, so kyk self as jy my nie glo nie.
Oor die jare het ek daardie pop al in ’n paar stories laat herleef – veral in Harlekyn (Tafelberg-Uitgewers), wat ook op ’n manier my huldeblyk is aan die heerlik grillerige Child’s Play-reeks wat ek in my kinderdae so geniet het. (Daar staan deesdae ’n Chucky-figuurtjie bo die lessenaar waar ek skryf.)
En dis wat grilstories vir my is – ’n manier om weer vir die pop onder die bed te loer. Bangerig, met ’n hart wat woes klop. Maar tog in die hoop dat jy die vorige keer regtig gesien het wat jy gesien het: oë wat rooi gloei. En om dan vir hom te knipoog ...
Jaco, jy is briljant! Dankie dat jy hierdie storie met ons deel. Marlie
ReplyDelete