Sunday, December 5, 2010

Papierwerk

Ek is mal oor hierdie tyd van die jaar. Dit voel asof alles en almal gereed maak om ’n bietjie asem te skep, en werksgewys is dinge ook ’n bietjie rustiger. Daarom is dit gewoonlik ook die tyd van die jaar wanneer ek probeer om my lessenaar ’n bietjie uit te sorteer en al die papiere in my lewe onder beheer te kry.

            Ek wil baie graag een van daardie mense wees wat elke oggend agter ’n netjiese lessenaar inskuif. In my geestesoog kan ek al sien hoe ek soggens douvoordag fluks en kreatief wegspring met die dag se skryfwerk, met slegs ’n beker stomende koffie op die glimmende oppervlak waarop my pragtige iMac staan.

Helaas.

Ondanks my heel beste pogings, en my vrou s’n, bly my lessenaar en my kantoor op die rand van chaos wankel. Pas vanoggend het ek weer begin regpak, en toe besluit om die stryd gewonne te gee en eerder hierdie blog-inskrywing te skryf. Op my lessenaar lê op die oomblik onder meer:

* ’n HAT;

* die laaste dankiesê-kaartjies van ons troue wat ons nog nie uitgedeel het nie;

* ’n CNA-Kersfeesbrosjure (Is jy nie ook mal oor al die inkopie-boekies wat hierdie tyd van die jaar in die tydskrifte en koerante is nie?);

* honderde CD’s (wat ek die naweek almal deurgesoek het op soek na foto’s van ons Desember 2008-vakansie);

* oorfone (sodat Elize en die bure se ore gespaar bly terwyl ek die nuwe My Chemical Romance-album luister);

* ’n stapel komplimentêre kopieë van ’n siekefonds-ledetydskrif waarvoor ek skryf;

* en papiere. Hope en hope papiere. Notaboeke. Vierkantige notapapiertjies (rooies, groenes, pienkes en wittes). A4-folio’s. Afvalpapier.

Dis die papiere wat die groot sondebok in my lewe is. Ek dink ek kan met redelike sekerheid sê ’n papierlose samelewing gaan nooit vir my ’n realiteit wees nie. As ek skryf, gebruik ek net my rekenaar. Maar as ek nota’s maak, is dit op papier. Op flentertjies papier. Op veelkleurige notapapier. Op outydse skryfblokke. Agterop fakture en verlofvorms en ander belangrike dokumente wat ek later weer gaan nodig kry. Ek het skynbaar selfs ’n spesiale, hoogs onleesbare, handskrif waarin ek hierdie kriptiese leidrade neerpen.

As ek op hierdie oomblik, sonder om enigsins te krap of te grawe, op my lessenaar rondkyk, sien ek notas soos:

* die lysie van boeke wat ek die vakansie wil lees;

* ’n nota oor sinonieme vir die woord “skavot”;

* ’n nota oor troufoto’s wat nog vergroot moet word;

* ’n rowwe skets om vir ’n illustreerder te beduie wat ek met die tipografie op die voorblad van my nuwe prenteboek in gedagte het;

* ’n nota met die woorde “whale weigh away” (wat nugter weet wat beteken);

* ’n nota oor moontlike titels vir ’n boek wat ek onlangs vertaal het;

* ’n prentjie van ’n monster (wat ek geteken het terwyl ek aan die volgende Kas vol Monsters-boek gewerk het);

* ’n nota wat sê “Bel Ouma”;

* ’n nota oor die volgende Zackie Mostert-boek wat lui: “Beplan dalk weer spookstorie-aand. Sê van plan wat ’n sukses was. Nita sê hulle skuld haar.”

* ’n groen papiertjie met die woorde “vere”, “vlieg”, “lug”, “nes”, “boom”, “hoog/droog”, “tak” en “blare/vere i.p.v. hare” daarop.

Lyk alle skrywers se lessenaars so? Waarskynlik nie. Ek en Elize het nou die aand weer by ’n skrywersvriend gaan kuier, en sy lessenaar is so skoon en netjies dat jy kos daarop kan maak.

Ek is eintlik ’n heel netjiese en georganiseerde mens, maar as dit by hierdie notatjies en prentjies en oorhaastig geskribbelde gedagtes kom, het ek absoluut geen beheer nie. Vanjaar het ek in ’n stadium so verdwaal tussen my aantekeninge vir ’n boek, dat ek vir my ’n glimmende, peperduur witbord gaan koop het waarop jy aantekeninge kan maak. Baie professioneel, met magnete, ’n bordveër en swart, rooi en groen koki’s.

Binne ’n dag was die hele bord vol papiertjies geplak. Dit is sedertdien so taai van die wondergom en kleeflintgom dat jy buitendien nie daarop kan skryf nie.

Want ek het papiertjies nodig.

Dis miskien wat hulle met kreatiewe chaos bedoel.

En nou moet jy my verskoon – ek gaan probeer uitfigure wat ek met die woorde “whale weigh away” bedoel het. 

Thursday, December 2, 2010

Die literêre avonture van Pippie



Pippie, die wêreld se slimste Jack Russell, is vernoem na een van my gunsteling-kinderboekheldinne. Dis daarom geen wonder nie dat Pippie al van jongs af aspirasies gehad het om haar beskeie merk op die literêre toneel te maak. Op bll. 7 en 18 van my boek Troeteldiere: ’n Gids vir beginners gebruik Pippie haar suiwer, onverdunde sjarme en natuurlik kleinhondjie-cutegeit om skaamteloos met die kamera te flirteer.

(Terwyl ek nou hier sit en skryf, het Pippie gou by my kantoor kom inloer om te kyk of ek nog nie klaar is met hierdie blog-inskrywing sodat ons in die parkie kan gaan stap of bal speel nie. Selfs honde met literêre aspirasies moet soms ’n bietjie oefening kry.)

Meer onlangs pryk haar foto ook in my titelverhaal in die kortverhaalbundel Sweef.

Intussen wag Pippie nog geduldig om haarself as karakter in ’n storie verewig te kry, soos Percy Fitzpatrick se dapper Jock of Elizabeth Wasserman se slim Speurhond Willem.

Maar ons onderhandel tans nog oor hoe om die outeursgeld te verdeel.

Tuesday, November 16, 2010

'n Kas vol Monsters


Ek dink die meeste skrywers sal vir jou sê dis nie grappies om ’n reeks boeke te skryf nie. Veral nie as jy iemand met ’n korterige aandagspan is soos ek nie. Afgesien daarvan dat jy moet kophou soos die spreekwoordelike dronk weeluis om nie deurmekaar te raak met storielyne, karakters se name, ensovoorts, nie, is dit ook ’n uitdaging om steeds geïnteresseerd te bly in ’n konsep wat jy waarskynlik jare gelede reeds geskep het.

            Maar daar is ook groot lekkertes daaraan verbonde om ’n reeks te skryf; dit het ek die afgelope paar dae weer besef terwyl ek aan ’n nuwe boek in my ’n Kas vol monsters-reeks geskryf het. Ek hou regtig van die karakters in die stories (veral die vyf monsters wat uit Denver se kas te voorskyn kom) en die reeks is van so ’n aard dat die monsters se kenmerke en persoonlikhede telkens die stories help vorm.

            Soos met baie van my stories, het die reeks met ’n “wat as”-speletjie begin. Eerstens: Wat as ... die ou hangkas in jul nuwe huis die geheime ingang na ’n kasteel vol monsters is?

Daar is:

              Kriewels, ’n oulike groen hand sonder ’n lyf;

            Elvis, ’n flambojante vampier;

Toets, ’n sexy, blonde mummie;

            Frank, ’n lang, gawe monster wat stadig praat; en

            Flaffie, ’n knorrige weerwolf.           

            En dan vir die stories, wat ek so prettig en snaaks as moontlik wou probeer maak: Wat as ... jou hand voete kry? Wat as ... ’n vampier vir sy ouma foto’s wil stuur, maar hy bly onsigbaar op elke kiekie? Wat as ...

Oukei, ek gaan nog nie die volgende storielyne verklap nie, maar jy kry die idee.

            Minstens vier van my boekreekse sal volgende jaar uitbrei, as als volgens plan verloop. Kyk uit vir:

·      Wat weeg ’n walvis, die nuutste boek in my dierefeitereeks;

·      twee nuwe Zackie Mostert-boeke (nog ’n reeks waarmee ek vreeslik baie pret het – arme Zackie is SOOOO goed daarmee om in die moeilikheid te beland!);

·      twee nuwe Stalmaats-perdestories (daar is reeds tien in die reeks);

·      en die volgende twee boeke in die ’n Kas vol monsters-reeks.

En terwyl ek nou hier sit en skryf, herkou ek aan ’n idee vir die monsters se volgende avontuur ... Tyd om in die kas te gaan loer!

Wednesday, November 3, 2010

Selfoonstories


Ek het al dikwels in die koerante en op die internet gelees van selfoonromans – in Japan is dit glo groot (pun intended). Ek het egter nie ’n idee gehad dat daar in Suid-Afrika ook al ’n hele tyd lank met dié tegno-nuwigheid geëksperimenteer word nie.

’n Ruk gelede het ek en Fanie Viljoen egter danksy LAPA Uitgewers en die Shuttleworth-stigting se Yoza-projek kans gekry om die eerste Afrikaanse selfoonstories vir tieners te skryf. Nogal ’n uitdaging, want jy moet die storie in kort hoofstukke vertel, met soveel aksie as moontlik, en met korterige sinne. Dit word immers hoofsaaklik op selfone gelees.

Tot my skaamte is ek MXit-ongeletterd – ek het die program een verveelde Saterdag jare gelede op my foon afgelaai en met groot moeite daarin geslaag om met presies één vreemde mens en my suster te gesels. (My suster moes vir my verduidelik hoe om Moola te koop. Die vreemde mens het nie veel te sê gehad nie behalwe dat sy maar voor die TV sit en niksdoen. Dis wat sy die vorige dag ook gedoen het. En wat sy beplan het om die volgende dag te doen.) Ek het daarom moed opgegee en nog nooit weer geMXit nie. Maar as jy meer selfoongeletterd as ek is (en op soek is na iets anders om te doen as om verveeld voor die TV te sit), gaan loer na MXit en Yoza se selfoonstories. Dit het reeds duisende aanhangers. Hier’s die mediaverklaring:

  

EERSTE AFRIKAANSE SELFOONROMANS VIR TIENERS GEPUBLISEER

Danksy ’n samewerkingsooreenkoms tussen LAPA Uitgewers en die Shuttleworth-stigting word die eerste Afrikaanse selfoonromans vir tieners op 1 November gepubliseer op MXit, die gewilde sosiale netwerk vir selfone.

LAPA Uitgewers het die Shuttleworth-stigting genader om Afrikaanse inhoud vir sy innoverende m4Lit (Mobiles for Literacy)-projek te help genereer. As die uitgewery wat tans die grootste verskeidenheid kinder- en jeugboeke in Afrikaans publiseer, is dit vir LAPA belangrik om aan die voorpunt van ontwikkeling te bly. Daarom dat Fanie Viljoen en Jaco Jacobs, twee bekroonde en gewilde jeugboekskrywers, se verhale vanaf 1 November gratis as selfoonromans (of m-novels) gelees sal kan word. Lesers kan ook op dié interaktiewe stories kommentaar lewer.

Die twee skrywers se stories sal deel vorm van ’n selfoonbiblioteek wat Yoza genoem word. Steve Vosloo, stigter van Yoza, sê: “In die afsienbare toekoms sal die selfoon, nie die Kindle of iPad nie, die e-leser van Afrika wees. Yoza wil dit gebruik om tieners in Afrika aan die lees en skryf te kry.”

’n Toetsfase van die Yoza-projek het in September 2009 afgeskop. Sedertdien is die eerste twee selfoonstories meer as 34 000 keer op MXit gelees.

Viljoen se treffende storie, Uit, handel oor ’n tienerseun wat worstel met sy seksualiteit. Jacobs se Vakansieromanse is ’n liefdesverhaal oor ’n boekverslaafde meisie wat die ou van haar drome by die see ontmoet.

Selfoongebruikers met WAP-toegang kan Yoza kry op MXit (gaan na Tradepost > MXit Cares > mobiBooks) en by www.yoza.mobi, asook op Facebook (soek na Yoza Cellphone Stories).

 

Wednesday, October 27, 2010

’n Paar van my gunsteling-grillers


Oukei, die koms van Halloween het my geïnspireer tot 'n byna ongekende twee posts in een week. Hierdie is glad nie veronderstel om een of ander intellektuele of omvattende lysie te wees nie. Dis bloot ’n klompie boeke en flieks wat my oor die jare rillings gegee het. Ek weet daar’s tonne classics wat ek uitgelaat het. So shoot me. Of, in die gees van Halloween, gebruik 'n meer kreatiewe moordwapen.

 

Boeke

Let the right one in (John Ajvide Lindqvist) – As jy moeg is vir Stephenie Meyer en Charlaine Harris se vampiere, hier is ’n regtig ontstellende, skokkende vampierstorie. Beslis nie vir sensitiewe lesers nie. Daar’s ’n fliek ook van die boek gemaak, maar ek kon dit nog nêrens opspoor nie.

Pet Sematary (Stephen King) – Maak nie saak hoe hard jy my probeer oortuig dis vrot geskryf nie, die idee agter hierdie storie hou aan om my te ontstel en my hoendervleis te gee. Ek het dit die eerste keer op laerskool gelees.

Misery (Stephen King) – Ek gaan hard probeer om nie te veel Stephen King-boeke op hierdie lys te sit nie. Annie Wilkes is ’n fantastiese, fantastiese gekke vrou. Vir iemand soos ek wat nie van dokters en hospitale en mediese goete hou nie, is hierdie ’n nagmerrie. En Kathy Bates het Nurse Annie nog meer onvergeetlik gemaak in die fliek. En daai daai vark van haar ...

The masterpieces of Shirley Jackson (Shirley Jackson) – Ek het my kopie van hierdie bundel vir R34 by ’n tweedehandswinkel aangeskaf. Dit sluit The Haunting of Hill House en We Have Always Lived in the Castle in, asook Jackson se kortverhale, waaronder die skokkende The Lottery, wat sover ek kan onthou in die apartheidsjare Suid-Afrika verbied was. Haar stories het almal so ’n donker “iets” wat lank ná die eerste lees so aan die rand van jou bewussyn bly spook.

Lord of the Flies (William Golding) – ’n Griller? Wel, as grillers gaan oor donker dinge en die wese van die Bose (om dit nou so hoogdrawend te laat klink en cliché’s te gebruik), kwalifiseer hierdie boek beslis. Die deel waar Piggy se kop oopbars, is vir ewig in my geheue ingegraveer. Saam met die varkkop vol vlieë, natuurlik. En as jy dink dis heiligskennis om hierdie boek ’n griller te noem, ek het pas gesien dit word ook bespreek in Horror: 100 best books (Stephen Jones & Kim Newman).

The Raven (Edgar Allan Poe) – Net sodat ek darem slim kan lyk en ’n regte classic op my lysie kan hê! Ek het ’n pragtige en peperduur geïllustreerde weergawe van Poe se werke gekoop (sodat ek slim kan lyk en ’n regte classic op my boekrak kan uitstal – en veral vir die skitterende illustrasies). Om The Raven hardop te lees is fantasties. Probeer ’n bietjie (ek het dit terloops op www.heise.de gecopy):

Once upon a midnight dreary, while I pondered weak and weary,

Over many a quaint and curious volume of forgotten lore,

While I nodded, nearly napping, suddenly there came a tapping,

As of some one gently rapping, rapping at my chamber door.

‘’Tis some visitor,’ I muttered, ‘tapping at my chamber door -

Only this, and nothing more.’

En boonop het Tim Burton se briljante kortfliek Vincent die slotwoorde vir ewig in my kop laat vasskop:

And my soul from out that shadow that lies floating on the floor

shall be lifted – nevermore.

 

Flieks

Child’s Play – Ek het onlangs vir my ’n Chucky-headknocker, kompleet met ’n moorddadige uitdrukking en ’n mes in die hand, gekoop wat reg bo my rekenaar staan – as ’n huldeblyk aan daardie kultus-pop wat kleintyd die inspirasie vir my lekkerste nagmerries was. As jy my mooi vra, kan ek selfs ’n skaflike nabootsing doen van daardie Good Guys-pop se (vir my) onvergeetlike woorde: “Hi, I’m Chucky. I want to be your friend.”

A Nightmare on Elm Street – Saam met Chucky is ou Freddy Krueger met die mesvingers my gunsteling-bangmaker uit my kindertyd. Ek het nog nie die nuwe weergawe gekyk nie – almal sê dis vrot, so ek is bang ek word teleurgestel.

It – Ek is ’n fanatiese Stephen King-aanhanger. Die boek was myns insiens stukke beter as die fliek (duh), maar Tim Rice se Pennywise is en bly ’n skrikwekkende kykervaring. En die woorde “look into my deadlights” en “down here we all float” sal ek in my lewe nooit vergeet nie.

Drag me to hell – Een van my meer onlangse gunstelinge. Die toneel waar die bok die man byt, is die soort stuff wat kultusstatus verdien.

Awake – Die idee van narkose is vir my eindeloos skrikwekkend. Om oorgelewer te wees aan die genade van ander. Dis nie dat ek dokters en mediese personeel wantrou nie – hulle is immers goeie mense. Of so het ek gedink tot ek hierdie fliek gekyk het. Van al die grillers wat ek hier noem, is hierdie die enigste een wat ek nié weer wil kyk nie. Brrr.

The Silence of the Lambs: Ek het die fliek destyds as kind gesien voordat ek die boek gelees het, daarom kies ek die fliekweergawe. As ou Hannibal verklaar hy gaan “an old friend for dinner” hê, ril ’n mens van lekkerkry. Maar dis die kompleksiteit en intelligensie en hipergekultiveerdheid van die karakter wat jou veral vang.

The Skeleton Key: Ek is mal oor die einde.

The Others: Nicole Kidman het my uitgefreak in hierdie fliek. Die eerste keer het jy nie ’n idee wat presies aangaan nie, tot die skokkende ontknoping jou tref. Met die tweede en derde kyk, is dit byna grilleriger omdat jy reeds die knoop van die storie ken.

The Sixth Sense: Ek het ’n yskasmagneet gekoop wat verklaar: I see stupid people. Dis so jammer dat M. Night Shyamalan nooit sy meesterstuk kon ewenaar nie – sy flieks word nou regtig onkykbaar. Slegs The Village (wat erg onder kritici deurgeloop het) was vir my ’n lekker kykervaring.

Dawn of the Dead: Zombies, zombies, zombies! Ek’s mal oor zombies! En hierdie is myns insiens die beste zombie-griller uit zombiemeester George A. Romero se pen.

Fido: Oukei, hierdie fliek is ’n slim satire op die Amerikaanse samelewing (soos baie ander gruwelprente). (En dit het die onvergeetlike stukkie dialoog van ’n statusbewuste ma aan haar seuntjie: “Honey, don’t play baseball by yourself. It makes you look lonely.”) Maar daar is ook oorgenoeg bloed en derms om ’n horror afficionado tevrede te stel.

Tuesday, October 26, 2010

Grilstories (spesiaal vir Halloween)


Ek is jaloers op Amerikaanse kinders. Om geen ander rede nie as dat hulle Halloween vier. Ek weet sommer ek sou kleintyd nagte lank wakker gelê het om die perfekte Halloween-kostuum te beplan.

Hier by ons probeer ’n paar winkels elke jaar munt slaan uit die oorsese Halloween-tradisie deur allerlei grillerige lekkergoed en kostuums en speelgoed te verkoop. Maar ek dink nie die tradisie gaan ooit regtig wortel skiet hier op Afrika-bodem nie. Die Afrikaanse vertaling, Allerheiligeaand, laat dit buitendien klink soos iets wat jy stigtelik by die huis moet deurbring. Net sowel, want daar is waarskynlik min Suid-Afrikaanse ouers wat hul kinders op 31 Oktober gaan toelaat om aan vreemdelinge se deure te gaan klop om lekkergoed te vra.

            Maar dit bring my by grilstories.

“Hoekom lees kinders grilstories?” vra ’n bekende letterkundige my op ’n dag.

            “Want kinders hou daarvan om bang gemaak te word,” antwoord ek sonder om ’n oomblik na te dink.

            Om een of ander rede het hy my antwoord baie amusant gevind. Waarskynlik omdat hy gedink het ek spot.

            Maar die waarheid is, dis soms fantasties om te skrik. Veral as dit ’n lekker boekskrik is – die soort wat jou lank ná slaaptyd nog met ’n boek laat wakkerlê, en wat ná die lig afgesit is nog so bietjies-bietjies by jou spook en jou laat wonder of daar dalk iets onder jou bed wegkruip.

            Ek vrek nou nog oor ’n goeie grilstorie. Maar geen grillerige storie, hetsy boek of fliek, is ooit weer so goed soos dié wat jy gelees of gekyk het toe jy so nege of tien jaar oud was nie.

            Ek wéét party ouers hou nie daarvan dat hul kinders grillerige stories lees of kyk nie. (Net soos party mense jou dadelik sal waarsku dat die skynbaar onskuldige Halloween-viering uit allerlei onheilige tradisies spruit.) As jy weet jou kind het probleme met bangmaakgoed, is dit waarskynlik goed om hom of haar daarteen te beskerm. Maar andersins, as jou kind mal is oor grilboeke, asseblief, moenie hom of haar die lekkerte van ’n scary boek ontsê nie. Ek weet van menige ouer wat kan getuig dat grilboeke haar leestrae kind se leeslus laat vlamvat het.

            So, op die vooraand van Halloween, terwyl die Amerikaanse kinders in hul hordes die donker strate invaar met fantastiese kostuums (of dalk nie, want ek lees ook daar het "stranger danger" lankal sy tol geëis), gun jou kind ’n bietjie van die Halloween-pret en koop vir hom ’n lekker grillerige storieboek. Een wat julle dalk sommer so saam-saam kan geniet. Wie weet, dalk is jy die een wat vanaand wakker lê en wonder of daar iets onder die bed wegkruip ... 

Tuesday, October 19, 2010

Watter rympies uit jou kinderdae onthou jy nog?


“Watter rympies uit jou kinderdae kan jy die beste onthou?” vra iemand my anderdag.

            En dadelik kom ’n paar versies en grepe uit kinderrympies by my op.

            Toe ek klein was, was my ouma Catherina ’n bykans onuitputlike bron van versies wat sy indrukwekkend uit haar kop kon opsê. Ek is van kleins af lief vir vroeg opstaan, en ek onthou hoe lekker dit was om vroegoggend terwyl die res van die huis nog slaap, by Ouma Beaufort in die kombuis te sit terwyl sy gediggies resiteer.

My oupa Salomon, aan my pa se kant, was dalk nie soseer ’n rympie-mens nie (Jakkals-en-Wolf-stories was sy forté!), maar hy het ’n baie ondeunde sin vir humor gehad, en ek was nog baie klein toe hy my hierdie juweeltjie geleer het:

            Jan Tiet

            Jan Tat

            Jan Hawersak

            Jan Vinger-in-die ...

            Oukei, die res van die rympie is dalk nie heeltemal geskik vir publikasie op hierdie blog nie. Maar die kleintydlekkerte van daardie eenvoudige, ritmiese rympie, met vloekwoorde wat jy durf sê het omdat Oupa dit immers vir jou geleer het, dit kan ek baie goed onthou. In my eie versebundel ’n Brulpadda in my tas (LAPA Uitgewers, 2008) verskyn ’n gewysigde weergawe van Oupa se kleintydrympie, ’n grilrympie wat begin met die woorde:

            Jan Skeeloog

            Jan Kouebloed

            Jan Geeloog

            Jan Horrelvoet

            Ek het eers onlangs besef hoe ’n onuitwisbare indruk party van hierdie kleintydversies op my gemaak het. Uit die versebundels wat ons in Sub A in die klas gehad het, onthou ek:

            Jakkals nooi vir gansie

            kom eet vanaand by my

            Daar’s heerlike ou kossies

en uintjies uit die vlei.

En uit een van daardie andersins vervelige Afrikaanshandboeke wat ons op laerskool gehad het, die heerlike:

Wiele is ’n lekker ding

as hul oor die grootpad sing.

As jou ryding gladweg loop

wil jy sommer nog een koop.

Die afgelope paar jaar versamel ek bundels met Afrikaanse kinderverse. Een van my gunstelinge is W. Versfeld se Springbok Rympies en Stories Voor die Kinders, wat ek by my uitgewer en vriendin, Miemie, present gekry het. Die boek is weliswaar vol eerste pogings om bekende Engelse nursery rhymes in Afrikaans te vertaal, maar dit verteenwoordig die begin van ’n prettige tradisie van Afrikaanse kinderverse.

            ’n Mens kan baie skryf oor die opvoedkundige waarde van versies en rympies vir kinders, en die rol wat rym en ritme speel in taalontwikkeling, geheue-ontwikkeling, en dies meer. Maar ek laat dit maar voorlopig aan slimmer mense oor.

            Dis in die eerste plek die pret en avontuur en ondeundheid van my kleintydse gunstelingversies wat my geïnspireer het om self kinderrympies te skryf soos dié in Wurms met tamatiesous, ’n Brulpadda in my tas, Die Teddiebeerbus en My boetie dink hy’s Batman. En as ek die slag ’n versie skryf wat my plesier verskaf, is ek vir ’n oomblik terug op Oupa se stoep in Carnarvon se hoofstraat, in Ouma Beaufort se kombuis, of op die mat in juffrou Esmé Swanepoel se klas in Sub A.

Thursday, September 2, 2010

Oor illustrasies

Ek sê dikwels vir mense seker die grootste lekkerte van kinderboeke skryf, is om die eerste keer die illustrasies en die voorbladontwerp te sien. Ek het pas vandeesweek great nuwe illustrasies van Chris Venter gekry vir ’n nuwe boek van my wat vanjaar nog die lig sien, en ek het sedertdien reeds ure lank (met ’n tevrede glimlag) daarna gesit en staar.

            Vir diegene wat dalk nie weet nie, die meeste kinderboekskrywers doen nie self hul illustrasies nie. As jy by ’n uitgewery publiseer wat enigs

ins sy sout werd is, stel hulle ’n illustreerder aan en betaal hom/haar. Ongelukkig (of gelukkig!) beteken laasgenoemde feit egter ook dat jy as skrywer gewoonlik beperkte insette kan lewer met betrekking tot die keuse van illustreerder – en in baie gevalle sal jy géén inspraak daarin hê nie. Laasgenoemde feit is vir die meeste aspirantskrywers nogal ’n skok. Maar ek was gelukkig nog baie selde teleurgesteld met die eindproduk van ’n geïllustreerde boek. (Ek kan aan so vier gevalle dink waar ek nie van die illustrasies of voorbladontwerp gehou het nie, maar dis darem uit meer as 50 boeke.) Toegegee, ek kry gewoonlik redelike inspraak in my illustrasies – maar ook net tot op ’n punt.

Meestal het jou uitgewer veel meer kennis van die mark, asook beter idees oor hoe om jou boek verkoopbaar te verpak sodat dit tot die teikenmark sal spreek. En ek weet van gevalle waar die skrywer daarop aangedring het om sy/haar sin te kry ten opsigte van ’n illustreerder of ontwerper, tot nadeel van die eindproduk.

Maar genoeg van die besigheidskant van die saak. Uiteindelik gaan dit oor die pret wat ’n goeie illustreerder met jou teks kan hê en die ekstra dimensie wat hy/sy daaraan kan gee.

Maja Sereda, byvoorbeeld, was myns insiens die perfekte keuse vir my boeke Liewe land, ’n olifant! en Danie Dreyer se dinosouruseier en ander alfabetpret. In albei gevalle het ek gevoel die eindproduk is méér as die aanvanklike woorde wat ek geskryf het. (En kinders het saamgestem, want in albei gevalle is Maja se illustrasies deur kinders aangewys as die gewildstes in hul ouderdomskategorie vir die ATKV-kinderboektoekenning.) Tanja Joubert (13 Spookstories) is nog ’n illustreerder wat slim met ’n teks werk om dit uiteindelik veel meer te laat sê as wat die woorde alleen doen – gaan kyk maar ’n bietjie wat gebeur alles in daardie spokerige illustrasies van haar!

Ek was baie gelukkig dat ’n hele klomp talentvolle nuweling-illustreerders aan my boeke kon werk. Maja was destyds met Danie Dreyer een van hulle – deesdae is sy reeds ’n gerekende en gevestigde illustreerder. Daar was ook Magriet Brink (o.a. Wiskunde gee my maagpyn), Gerhard Cruywagen (o.a. Pasop vir die feetjies), Gerhard van Wyk (’n Brulpadda in my tas) en onlangs Sebastien Quevauvilliers met sy fantastiese illustrasies in Madelief, moenie!. En dan is daar natuurlik Chris Venter, wat ek reeds hier bo genoem het en wie se illustrasies myns insiens uitstekend werk in Middernagfees en my nuwe ’n Kas vol monsters-reeks wat binnekort verskyn.

Baiekeer, dink ek, kry illustreerders te min erkenning vir hul rol in die sukses van ’n kinderboek. Dis vrek harde werk – vra my, ek het net een keer my eie boek gehelp illustreer, met die klei-illustrasies in Wurms met tamatiesous en ander lawwe rympies.

So, as jy weer deur ’n kinderboek blaai, doen dit met ’n bietjie meer waardering vir die ure en ure se kreatiewe energie en bloedsweet wat dit geverg het om die illustrasies te doen!

Tuesday, August 31, 2010

'n Grillerige pop

Image (c) Jaco Jacobs 2010

Mense vra my dikwels hoekom op aarde ek graag grilstories skryf. Dis nie maklik om te verduidelik nie, want baie lesers neem heimlik aan daar is ’n skroef of twee los met skrywers wat van makabere verhale hou. Of minstens dat jy liefs klein kindertjies en katte van hulle moet weghou.

’n Mens se geheue is ’n vreemde ding, veral as dit by kleintydherinneringe kom. As jy op die internet kan peil trek, meen kenners dat die meeste volwassenes se herinneringe so vanaf die ouderdom van drie jaar strek. Ek kan my kinderdae baie goed onthou, maar soms wonder ek tog hoeveel van die “herinneringe” kom eintlik uit my pa-hulle se vertellings van dinge wat kleintyd met my en my sussie gebeur het.

            Hoe dit ook al sy, een herinnering, vals of nie, uit my kleintyd is van ’n nare pop wat ek en my sussie gehad het. Ek weet nie meer by wie ons dit geërf het nie, want ons plaashuis was vroeër jare my ouma-hulle se blyplek. Die pop het ’n gehawende laplyf gehad en ’n (effe taaierige) rubberkop. By nabetragting weet ek nou dat dit ’n meisiepop was, maar ek het altyd aan die pop gedink as ’n seuntjie. En hy het van daardie oë gehad wat vanself oop en toe gaan, maar hulle was lankal stukkend.

Ek het eendag na ’n speelding gesoek wat weg was, en in die donker onder die bed in die spaarkamer, waar ons speelgoedkas was, gesoek. En daar lê die pop toe. Op daardie oomblik toe ek onder die bed inkyk, het die pop se oë rooi gegloei.

Ek belowe.

Ek onthou dit nog so helder soos daglig.

Of dit ’n kindertydnagmerrie was wat in my brein vasgesteek het, of dalk bloot die produk van my verbeelding (soos baie kinders was ek soms vrekbang vir die monsters onder die bed), dit weet ek nie. Oor die jare het ek die pop-storie al vir baie mense vertel – en eenkeer het ek vir die grap selfs vir ’n pel ’n vreeslike aandikstorie vertel oor hoe die pop een van ons plaaswerkers vermoor het.

Maar ’n paar jaar terug het ek daardie einste pop weer in ons ou plaashuis ontdek. En wragtig, die ding is steeds scary. Hier’s ’n foto, so kyk self as jy my nie glo nie.

Oor die jare het ek daardie pop al in ’n paar stories laat herleef – veral in Harlekyn (Tafelberg-Uitgewers), wat ook op ’n manier my huldeblyk is aan die heerlik grillerige Child’s Play-reeks wat ek in my kinderdae so geniet het. (Daar staan deesdae ’n Chucky-figuurtjie bo die lessenaar waar ek skryf.)

En dis wat grilstories vir my is – ’n manier om weer vir die pop onder die bed te loer. Bangerig, met ’n hart wat woes klop. Maar tog in die hoop dat jy die vorige keer regtig gesien het wat jy gesien het: oë wat rooi gloei. En om dan vir hom te knipoog ...

 

Wednesday, August 11, 2010

Die slymsindroom?

In ’n onlangse bespreking van die sogenaamde “slymsindroom” in Afrikaans (“Kinders geniet onaptytlikhede, maar is dit nodig?”, Volksblad, 10 Augustus 2010, http://www.volksblad.com/Vermaak/Nuus/Kinderlesers-geniet-onaptytlikhede-maar-is-dit-nodig-20100809) word ’n interessante kinderboekverskynsel bekyk, naamlik verwysings na snotterige en slymerige en slykerige dinge waarvoor ordentlike en welopgevoede (groot)mense hul neus optrek. Die artikelskrywer maak ten slotte die punt dat verwysings na “snot” en “poep” selfs die indruk kan versterk dat Afrikaans ’n “kommin, vulgêre taal” is.

            Nou, hierdie stelling verteer ek moeilik. (No pun intended.)

            Eerstens moet ’n mens darem regtig in ag neem dat hierdie sogenaamde “slymsindroom” allermins beperk is tot of uniek is aan Afrikaans. Oorsee het skrywers en uitgewers lankal besef kinders het dikwels ’n fassinasie met dinge wat “beskaafde” grootmense laat neus optrek. Kyk maar na die sukses van die Grossology-reeks, die uiters gewilde doekdraende superheld Captain Underpants se avonture waarin hy onder meer veg teen pratende toilette, Professor Poopypants en die Bionic Booger Boy, of ’n boek soos Who flung dung?. Trouens, van die beste voorbeelde wat die betrokke artikelskrywer aanhaal van sulke boeke in Afrikaans, is dan juis vertalings van buitelandse kinderliteratuur. So, hoe kan dit dan die indruk wek dat spesifiek Afrikaans ’n vulgêre taal is?

            Tweedens (en dis eintlik maar die hele punt – soos die genoemde artikel ook gedeeltelik uitwys), kinders van ’n sekere ouderdom verslind boeke waarin die gesag van volwasenes ’n bietjie uitgedaag word. Dit is daardie ouderdom waarop hulle nog bereid is om hardop te lag vir die keiser omdat hy kaal is (al word Ma of Pa bloedrooi van verleentheid). Die ouderdom waarop hulle nog bereid is om te wonder waarom dit nou juis so taboe is om in jou neus te krap of ’n wind te los – as hulle voor hul siel weet Ma en Pa en Oupa en Ouma doen dit óók soms skelmpies en per ongeluk.

            As jy my vra, was Roal Dahl waarskynlik die belangrikste grondlegger van die idee dat ’n mens kinderboeke (mag?) skryf waarin jy kinders se kant kies en saam met hulle grinnik oor allerlei onhebbelike goed. Selfs al maak jy grootmense die joos in en ontstel jy hul oorbeskaafde sin vir ordentlikheid. Enige iemand wat al ooit na ’n paar laerskoolseuns geluister het, sal weet hoeveel die idee van winde laat hulle byvoorbeeld amuseer. (En glo my, hulle noem dit beslis nie “winde laat” nie.) En noem ’n groep slobberige ruimtewesens die “Snotmonsters van Saturnus” en kyk hoe jy ’n klomp tienjariges laat skater. En die feit dat hulle daarvoor lag, beteken allermins hulle is onbeskaafde, onopgevoede barbare – dit beteken hulle is kinders.

            Die kruks van die saak is iets waarvan ons myns insiens steeds nie heeltemal weggekom het in Afrikaans nie, naamlik dat ons wil hê kinderboeke moet kinders leer om soet en stigtelik te wees.

En jammer, hiermee het ek ’n probleem.

Kinders is veronderstél om soms ondeund of soms pleinweg stout te wees, hul grense te toets, en boeke kan daardie behoefte aan pret en kattekwaad partykeer in ’n groot mate op plaasvervangende wyse bevredig. Buitendien, volwassenes kan soms regtig skokkend naïef wees oor die wêreld waarin vandag se kinders grootword – kom nou, net ’n vinnige blaai deur die koerant of tien minute se speel met die TV-afstandbeheer kan jou kinders aan veel, veel erger dinge blootstel as die (slop)woord “snot” in ’n koddige storieboek.

Ons het waaragtig prettige, opwindende, kindervriendelike, gewilde kinderboeke in Afrikaans nodig – des te meer as jy lees van onlangse navorsing wat beweer Suid-Afrika is die land met die swakste geletterdheidsyfers in Afrika. Jip, jy’t reg gelees – op die hele vasteland. Daarom het ons boeke nodig waarvoor kinders lief raak, wat hulle rasend van opgewondenheid maak om aan te hou met lees – maak nie saak of Ma of Pa of Oupa of Ouma of Juffrou of Meneer so ’n effense sooibranderigheid in die keel voel opstoot nie. Verstaan goed, ek bepleit hoegenaamd nie onnodige en onverantwoordelike naarhede of krasheid, of oorvloedige toilethumor in kinderboeke nie. Allermins. Maar oordrewe preutsheid? Asseblief, spaar ons dit. Gee ons kinders Helen Brain se superondeunde Kry ’n vlieëkoekie en ander krakerige stories, gee hulle nog parmantige speurhelde soos die molletjie wat wou weet wie op sy kop gedinges het, gee hulle meer slymerige wurm-avonture uit Fanie Viljoen se pen.

Thursday, July 22, 2010

Wenke vir aspirantskrywers

Aspirantskrywers wil dikwels by my weet hoe ’n mens te werk moet gaan om jou boek gepubliseer te kry. Gaan dit my geld kos? Hoe werk ’n uitgewery? Hoe moet ’n manuskrip lyk? Hopelik help hierdie inligting jou as jy ’n aspirantskrywer is wat wonder hoe om jou storie gepubliseer te kry. Dit is 'n samevatting van (heel basiese) wenke wat ek oor die jare vir artikels en skryfskole uiteengesit het.

 

Wat doen ’n uitgewery?

’n Uitgewery is ’n onderneming wat wins maak deur boeke te publiseer. Skrywers lê ’n manuskrip aan ’n uitgewery voor met die oog op publikasie. Manuskripte word gekeur, en indien dit vir publikasie aanvaar word, is ’n uitgewer daarvoor verantwoordelik om die manuskrip saam met die skrywer te ontwikkel, dit te laat proeflees en taalversorg, die boek te laat uitlê en ’n kunstenaar aan te stel om die omslag te ontwerp en illustrasies te maak, indien van toepassing, en die boek te laat druk. (’n Uitgewery is nie ’n drukkery nie – gewoonlik het hulle kontrakte met drukkerye, waar boeke gedruk en gebind word.) Die uitgewery is ook verantwoordelik vir die bemarking en verspreiding van die boek. By ’n hoofstroomuitgewery hoef skrywers glad nie te betaal vir die publikasie en bemarking van hul boeke nie. Outeursgeld, ’n persentasie van die prys van elke boek wat verkoop word, word gewoonlik per kontrak jaarliks of halfjaarliks aan skrywers betaal.

            My raad aan skrywers is om baie, baie versigtig te wees vir enige uitgewery wat jou geld vra om jou boek te publiseer. Tensy jy natuurlik regtig belang stel in selfpublikasie en bereid is om self vir alles te betaal en die bemarking en verspreiding van jou boek self te behartig.  

 

Wenke aan skrywers

* Lees soveel moontlik, veral in die taal en genre waarin jy graag wil skryf. Dit help jou om ’n beeld te vorm van die mark waarin jy werk – en boonop is goeie lesers gewoonlik beter skrywers.

* Moenie oorhaastig wees om te publiseer nie. Maak seker jy stuur slegs jou heel beste skryfpogings vir ’n uitgewery.

* Kweek hare op jou tande. Min skrywers se eerste skryfpogings word gepubliseer. Publikasie is ’n lang en moeilike proses, en sukses kom selde oornag. Moenie ontmoedig word deur kritiek en afkeurbriewe nie.

* Skryf die soort stories waarin jy self belang stel. As jy glad nie van liefdesverhale hou nie, moenie in hierdie genre probeer skryf omdat jy dink dis ’n geldkoei nie! Lesers (en uitgewers) word nie maklik geflous deur ’n onoortuigende poging nie.

 

Oor manuskripvoorleggings:

* Kry vooraf agtergrondinligting oor die uitgewery waarheen jy jou manuskrip wil stuur. Die meeste gevestigde uitgewerye het webtuistes. Jy kan gewoonlik daar vasstel watter soort boeke hulle uitgee en kontakbesonderhede vir voorleggings kry. Jy kan kosbare tyd mors deur byvoorbeeld ’n kinderboekmanuskrip te stuur aan ’n uitgewery wat nie kinderboeke publiseer nie.

* Stuur getikte manuskripte, indien enigsins moontlik. Die meeste uitgewerye sal nie handgeskrewe manuskripte oorweeg nie.

* Die meeste uitgewerye aanvaar nie e-posvoorleggings nie. Stuur jou manuskrip per gewone pos.

* Stuur slegs jou heel beste poging vir ’n uitgewer. Jou eerste of tweede herskryfpoging is gewoonlik nog onafgerond. ’n Manuskrip wat oorhaastig voorgelê word, kan jou kans op publikasie benadeel.

* Moet NOOIT ’n manuskrip gelyktydig aan meer as een uitgewery voorlê nie.

* Maak jou manuskrip so netjies as moontlik, wat tikwerk sowel as taalversorging betref. Slordige manuskripte en swak taalversorging sal nie publikasie verhoed nie (nes netjiese manuskripte en goeie taalversorging nooit publikasie sal verseker nie!), maar dit skep ’n swak indruk en bemoeilik die uitgewer se taak. Hou in gedagte dat jou manuskrip een van honderde is wat elke maand op die meeste uitgewers se lessenaars beland.

* Sluit ’n dekbrief by jou manuskrip in. Dit moet jou kontakbesonderhede, die titel van jou manuskrip, die teikenmark wat jy in gedagte het, en ’n kort publikasie-agtergrond, indien jy reeds gepubliseer het, bevat.

* Moenie jou enigste kopie van die manuskrip of oorspronklike illustrasies stuur nie. Dit kan in die pos wegraak of beskadig word. Uitgewerye aanvaar nie aanspreeklikheid vir verlore of beskadigde materiaal nie.

* Kinderboekskrywers hoef nie self illustrasies te voorsien nie. Die uitgewery sal self ’n professionele illustreerder aanwys en betaal indien jou manuskrip aanvaar word.

* Die meeste uitgewers verkies ’n manuskrip wat op wit A4-papier getik is, in dubbelspasiëring, in ’n maklik leesbare lettertipe (12 pt Times New Roman werk goed), net aan een kant van die bladsy, en met kantruimtes (margins) wat breed genoeg is om aantekeninge te maak (sowat 1,5 tot 2 cm weerskante is voldoende).

* Dit is nie nodig om jou manuskrip te bind nie. Nommer net die bladsye, ingeval dit deurmekaar raak.

* Die meeste uitgewerye sal weldra ’n briefie, e-pos of poskaart stuur om ontvangs van jou manuskrip te erken. Hierin word gewoonlik ook gemeld hoe lank die keuringsproses kan duur. As jy ná ’n redelike tyd nie erkenning van ontvangs kry nie, kan jy skakel om te verneem of jou manuskrip wel ontvang is.

* Skakel gerus en doen navraag indien jy ná die gemelde keuringstydperk nog geen reaksie gekry het nie.

* Nie alle uitgewerye is bereid om manuskripte terug te pos nie. ’n Selfgeadresseerde koevert met die korrekte seëls daarop kan in sommige gevalle die kans verhoog dat jou manuskrip teruggepos word. 

* Nie alle uitgewers is bereid om die redes vir afkeuring van ’n manuskrip te verskaf nie. Moenie toegee aan die versoeking om in ’n woordewisseling met ’n uitgewer betrokke te raak of redes te eis waarom jou manuskrip afgekeur is nie. Beskou dit as ’n guns dat iemand wel jou manuskrip gelees en kosbare tyd daaraan bestee het. ’n Telefoonoproep of e-pos gaan beslis nie ’n uitgewer oortuig om jou afgekeurde manuskrip uit te gee nie!

* Indien ’n uitgewery jou manuskrip afkeur, staan dit jou vry om dit aan ’n ander uitgewery voor te lê of dit vir skryfwedstryde in te skryf.


Wednesday, July 21, 2010

10 Tips for buying children's books

1. Give your child the opportunity to choose which books you buy. Children – just like adults – prefer different kinds of books, even from a very young age. Take your kids along to the book shop and let them browse through the  section with books suited for their age group.

2. Get into the habit of reading books your children liked (you may actually re-discover the joy of children’s books yourself!) and discuss books together. This way you’ll get to know your child’s reading preferences.

3. Don’t be a literary snob. It’s normal for kids to fixate for a while on popular series books such as Mary-Kate and Ashley, Harry Potter or Goosebumps. Indulge them – and be grateful for the fact that they are spending time with a book instead of the Xbox!

4. Know your child’s reading abilities. Some children’s books give an indication as to which age group they are intended for. However, your child’s reading ability might well be better or less developed. Take into consideration the amount and difficulty level of the text and the length of the story. Nowadays, many “high-interest, low-content” books are produced for children who struggle with reading.

5. Don’t fixate on fiction. Many parents are frustrated because they keep buying their kids story books which they never read. Non-fiction might be the answer. A book about animals, machines, horses – whatever your child’s special interest – could be the key to getting him/her hooked on books.

6. Baby books should be made from sturdy material and should preferably be easy to clean. Look for books with bright, simple illustrations or photographs, and interactive elements such as puzzles, squeakers and touch-and-feel parts.

7. Get clued-up on children’s fiction. Read children’s book reviews in your newspaper or online.

8. Teenagers are fussy readers. Just because a book’s cover declares that it’s “teenage fiction” doesn’t necessarily mean your teenager will devour it. Consider buying a book voucher instead.

9. Ask the children’s book assistant for help. Every good book shop should have an assistant who knows his/her stuff when it comes to children’s books. Ask for advice if you feel clueless.

10. Know your kid’s favourite authors and illustrators. So, you’re hooked on Grisham, Cornwell or Picoult – why shouldn’t your children have their own favourite writers or illustrators? Look out for new publications from well-loved authors.

Wednesday, July 14, 2010

Jong aspirantskrywers

As skrywer en uitgewer kry ek baie navrae van mense wat by my wil weet: Hoe gemaak met ’n kind wat skryftalent het?

            Ek het self op ’n relatief jong ouderdom al begin skryf (en publiseer), en ek moet sê, my eerlike antwoord is: Laat hom/haar met rus.

            Verstaan my goed, ek dink dis fantasties as ouers hul kinders aanmoedig om hul skryftalent te ontgin, maar te veel ma’s en pa’s wakker myns insiens op ’n te jong ouderdom onrealistiese skryfdrome by hul kind aan, veral met betrekking tot publikasie. Die realiteit is dat die uitgewersbedryf ’n uiters mededingende wêreld is. Hoekom jou kind op ’n jong ouderdom (ek praat hier selfs van laerskoolkinders) reeds blootstel aan die teleurstelling van ’n formele afkeurbrief (hoe simptiek die keurder ook al is)?

             Ek verstaan ouers se dilemma. As jou kind van kleins af ’n talent vir musiek of ballet of kuns of ’n bepaalde sportsoort het, kan jy eenvoudig vir lesse betaal om sy/haar talent te slyp. Met skryf is dit nie so maklik nie. Uit die aard van wat skrywers doen, is dit ’n eensame beroep, en veral aanvanklik is sy/haar skryfwerk geneig om vir ’n aspirantskrywer ’n intens private en persoonlike saak te wees. Dit beteken jou kind moet op sy eie, sonder te veel inmenging en op eie inisiatief, met sy/haar skryftalent eksperimenteer. 

As ek dus raad kan waag aan ouers van jong aspirantskrywers:

·      Stel belang, veral as jou kind jou vra om sy/haar skryfpogings te lees, en moedig aan, maar moenie jou hoop of verwagtinge te vroeg op jou kind afdwing nie. Dit kan maklik die hele skryfproses inhibeer.

·      Moenie jou kind probeer dwing om te skryf nie.

·      Skaf die toerusting aan wat jou kind nodig het. Toegang tot ’n rekenaar is nuttig. Belangriker egter: Gee jou kind soveel moontlik toegang tot boeke. Vir jong skrywers is dit myns insiens aanvanklik baie belangriker dat hulle lees as dat hulle skryf.

·      Wees op die uitkyk vir skryfkompetisies of skryfgeleenthede wat op kinders van jou kind se ouderdom gemik is. Sodoende kry ’n jong skrywer die geleentheid om op gelyke voet teen ander skrywers van sy ouderdom mee te ding. Gee jou kind die nodige inligting (en inskryfgeld, indien van toepassing), maar weer eens, moenie druk op hom/haar plaas om daarvoor in te skryf of te presteer nie.

·      Respekteer jou kind se privaatheid. Moenie skelm deur jou kind se skryfwerk lees of daarop aandring om te sien wat hy/sy geskryf het nie.

Ek onthou goed hoe ek as kind aanvanklik huiwerig begin stories skryf het, eers in ’n kladboek, later op ’n antieke tikmasjien wat ek my pa-hulle gesmeek het om vir my op ’n veiling te koop, en uiteindelik op ’n ou tweedehandse 386-rekenaar wat ek in die naam van rekenaarstudies (wat ek gehaat het!) afgebedel het. Namate ek meer selfvertroue gekry het op grond van onder meer my prestasie in skryfkompetisies, het ek intens begin belang stel in die publikasie- en uitgeeproses en self daaroor begin lees en navraag doen, tot op die punt waar ek in graad 11 en 12 uiteindelik gereed was om my stories aan tydskrifte en uitgewers voor te lê. 

Monday, July 12, 2010

Spookstories

Iemand (’n joernalis) vra die anderdag vir my of ek met spookstories grootgeword het. Die vraag het gekom na aanleiding van die feit dat ek dikwels stories met ’n griltema skryf. En na aanleiding van die feit dat ek in die Karoo grootgeword het, waar stories - en ook spookstories of goëlstories - volop is. Die antwoord op hierdie vraag is ongetwyfeld ja. 
Ek onthou dat ek van kleins af stories gehoor het oor hoe daar byvoorbeeld in my oupa se tyd ‘n driffie op ons plaas was waar enige perd of donkie snags onverklaarbaar onrustig en steeks geword het. Ek onthou hoe my pa-hulle in ‘n stadium snags vreemde ligte in die veld op ons plaas gesien het. Ek onthou die grillige storie van die Heks van Hexrivier op my Storieman-kassette. Ek onthou stories oor hoe mense partymaal snags vir oulaas jou deurklokkie kom lui nadat hulle die tydelike met die ewige verwissel het. Ek onthou hoe Tania Hoorn, ’n meisie wat saam met my op skool was, laat een nag vir ons klas vertel het van onaardse dinge wat in haar ouma se huis gebeur het (ek sal nooit die prentjie van daardie baba- en katspoortjies in die suiker vergeet nie - ek het daardie nag huis toe gehardloop, so vrek bang was ek!). Ek onthou selfs ’n baie grillerige voorval waar ’n lappop wat my sussie iewers geërf het, eendag iets baie, baie vreemd gedoen het (maar dis ’n storie vir ’n ander dag - en boonop was dit waarskynlik te wyte aan my kinderverbeelding ...).
Maar die feit bly staan, spookstories is vir my eindeloos boeiend. Miskien veral omdat diegene wat dit vir jou vertel, gewoonlik so heilig oortuig is van die waarheid daarvan (of jy nou self skepties is of nie). Daarom was dit vir my groot pret om saam met Fanie Viljoen (wat oorspronklik met die idee vorendag gekom het) en François Bloemhof ’n hele bundel spookstories te skryf. 13 Spookstories het pas by LAPA Uitgewers verskyn. Die vier stories wat ek daarin geskryf het, is op ’n manier ’n huldeblyk aan almal wat in my jongdae vir my stories vertel het wat my snags uit die slaap gehou het. En nou kry ek die kans om dieselfde te doen!