Ek was kleintyd gefassineer deur die idee van die
olifantbegraafplaas – daardie legendariese plek waarheen olifante gaan om te
vrek, en waaroor ivoorjagters jare gelede natuurlik gedroom het. Groot was my
teleurstelling natuurlik toe ek later jare uitvind dis net ’n mite.
Op
my rekenaar se hardeskyf is egter die storie-ekwivalent van die
olifantbegraafplaas. Elke nou en dan probeer ek die magdom lêers tot een of
ander vorm van orde rangskik, en dan kom ek altyd af op storie-idees wat om een
of ander rede gesneuwel het. Dis meestal nogal opwindend om so ’n ou storiekonsep
op te grawe.
Myne val gewoonlik in een van
drie kategorieë:
1. Volslae flops
As hierdie ’n olifantbegraafplaas is, is dié die karkasse
wat so lank reeds dood is dat nie eens die ivoor gered kan word nie. Onlangs
kom ek af op twee paragrawe van ’n storie wat ek jare gelede aangepak het. Die
titel daarvan is Maandou, en dit gaan
oor ’n meisie wat ’n oulike troeteldrakie het. Sidder. Ek kan al voor my
geestesoog die afkeurbrief sien wat ek vir myself sou skryf as ek so ’n
gruwelike pleegsel moes lees.
2. Flops met beperkte
potensiaal
Oukei, kom ek bly by my simpel olifantbegraafplaas-metafoor.
Hierdie outjies is dood, geen twyfel daaroor nie, maar plek-plek is daar iets
wat jy kan red – noem dit maar die ivoor. Die titelgedig uit my bundel Wurms met tamatiesous en ander lawwe rympies
kom uit ’n storie wat ek vroeër jare vir ’n opvoedkundige uitgewery geskryf
het, en wat nooit die lewenslig aanskou het nie. Selfs my jeugroman Suurlemoen! is gebou uit die geraamte
van ’n vroeëre tienerboekpoging getiteld Breindood,
wat ook gesneuwel het.
3. Stories wat
voortydig in die begraafplaas beland het.
Dis die olifante wat nog met ’n bietjie hulp gered kan word.
Dis altyd opwindend om so ’n storie-idee tussen die geraamtes te ontdek – en dit
is ook die rede waarom ’n mens nooit ou lêers voor die voet moet uitwis nie.
Op ’n dag wonder jy skielik wat
in daardie vreemde lêer met die titel “Seerowers.doc” is. Jy maak dit oop en al
wat jy kry, is die titel van ’n storie wat nooit geskryf is nie: Seerowers was nie agter hulle ore nie. En
skielik onthou jy wat jy in gedagte gehad het: ’n storie oor seerowers wat nie
van bad hou nie, en ’n kind wat hulle moet oortuig om te bad. Jare nadat jy die
aanvanklike idee neergeskryf en in ’n doodloopstraat beland het, het jou kop
uiteindelik die storie uitgepluis. Dit is hoe ek Waarvoor is seerowers bang? geskryf het.
Nog ’n boek wat op dié manier
ontstaan het, is Al die meisies hou van
Divan Louw. My alter ego Tania Brink het ’n paar jaar gelede die eerste
hoofstuk van die storie geskryf en dit toe laat vaar. En toe kom ek verlede
jaar daarop af, en ek is mal oor die titel en die hoofkarakter, en skielik weet
ek presies wat in die storie moet gebeur. Gelukkig het ek met die eerste
skryfpoging ’n paar notas gelos om die pad te beduie – al is dit nogal soms ’n
stryd om daardie einste notas te ontsyfer.
Net vanoggend het ek weer ’n lêer
met die eerste hoofstuk van ’n tienerverhaal ontdek. En skielik wonder ek ...
waarom het ek nooit daardie storie aangepak nie? Was ek te besig? Kon ek nie
uitpluis wat verder moet gebeur nie? Was ek bloot nie opgewonde oor die idee
nie? Kan hierdie olifant dalk met mond-tot-slurp gered word ...?
Wel, kom ons kyk maar wat gebeur. Ek het hom mooi
van kop tot stert ondersoek, en glo dit of nie, daar is ’n hartklop ...