Ek het die afgelope tyd twee skrywers by verskillende
geleenthede min of meer die volgende hoor sê (of gesien skryf): “’n Mens skryf
om onsterflik te word.” Of: “’n Mens behoort elke dag te probeer om die soort
boeke te skryf wat eendag klassiek sal word.”
Sjoe,
en hier sit ek nou al jare lank voor my rekenaar en skryf met ’n veel
ligsinniger doel voor oë. Trouens, meeste van die tyd het ek absoluut geen idee
met watter doel voor oë ek nou eintlik skryf nie. Maar oor een ding is ek
redelik seker ... dis beslis nie met die doel om onsterflikheid te bereik nie.
As
jy nog hieroor twyfel, gaan soek gerus op Wikipedia ’n lys van al die Oscars
wat oor die jare vir die beste akteur/aktrise toegeken is en kyk hoeveel van
daardie mense se name jy al in jou lewe gehoor het. En selfs al het jy ’n
klassieke boek neergepen en ken pretensieuse letterkunde-eerstejaars eeue van
nou af nog jou naam, gaan dit jou in my beskeie, pragmatiese mening steeds nie
onsterflik maak nie. Die storie van Alice
in Wonderland mag voortleef, selfs in ’n onlangse Tim Burton-fliek, maar
Lewis Carroll is ongetwyfeld dood en het waarskynlik nie daardie Burton-poging
te siene gekry nie. (Tensy Ster Kinekor vertonings in die hiernamaals reël ...)
Nou,
voor jy dink ek is besig om een of ander uitsiglose lewensfilosofie hier uit te
stal, wees verseker dat ek glad nie ontnugter is deur of depressief is oor die
feit van my eie onsterflikheid of die oënskynlike gebrek aan klassieke status
wat my skryfsels tot dusver openbaar nie. As ek regtig ’n oomblik rustig word
en nadink oor waarom ek skryf, is dit eintlik maklik om die redes op te noem:
* Ek skryf omdat ek
dit geniet. Te veel mense wat ek ken, haat hul werk. Ek geniet meestal
myne. Dis terloops ook die antwoord op die stofgetrapte vraag: “Hoekom skryf jy
kinderboeke? Waarom skryf jy nie ’n slag ’n roman vir volwassenes nie?” Hoekom
is daar nog steeds die idee dat skrywers gefolterde siele is wat moet swaarkry
ter wille van hul kuns? Dis trouens ’n idee waarmee ek grootgeword het en
waarby ek as gefolterde jong tienersiel sterk aanklank gevind het. Boeke is
fantastiese goed, maar boeke is nie belangriker as mense nie. As skryf jou
sielsongelukkig maak, hou op daarmee.
* Ek skryf omdat ek
stories wil vertel. Van kleins af was ek versot op stories. Die krag van
“Wat as ...?” en “Wat het toe gebeur ...?”.
* Ek skryf omdat ek
nie ’n rockster kon word nie. In ’n parallelle heelal is ek die hoofsanger
van ’n band soos My Chemical Romance.
Maar in hierdie heelal, glo my, wil jy my beslis nie hoor sing nie. En ek het
al in standerd een moed opgegee met die idee om eendag ’n musiekinstrument te
bemeester. So, ek sing soos ek gebek is en hou my by my lees – en al kan ek nie
sing nie, kan ek hopelik mense laat lees. (En daarmee verdien ek die toekenning
vir vreemdste sin van die dag.)
* Ek skryf om geld te
verdien. WAT?! HET HY DIT REGTIG GESÊ?! Jip. Daar is skynbaar ’n soort
ongeskrewe reël dat skrywers – die goeies in elk geval – nie veronderstel is om
regtig geld te maak nie. Dat jy moet ly ter wille van jou kuns. (Was dit
Opperman wat daarvan beskuldig is dat die “sak” eerder as die “saak” soms vir
hom belangrik is?) Wel, laas toe ek gekyk het, was die prysgeld vir die
Nobelprys vir Letterkunde sowat $1,4 miljoen. My ondervinding is dat sommige
“ernstige” skrywers neersien op die idee dat jy geld behoort te verdien met jou
skryfwerk. Ek daag hulle uit om hul volgende roman of digbundel gratis op hul
blog beskikbaar te stel. Of blog ernstige skrywers nie?
Ek skryf nie om my eie ego te
streel nie. Ek skryf omdat ek van stories hou. Ek skryf vir ander mense wat van
stories hou. Of mense oor 50 jaar nog van my stories gaan hou of dink dis
relevant, skeel my eintlik nogal min.
Tot sover my preek vir vandag. Ek
het ’n manuskrip om te gaan redigeer. En ek weet nie of my agterkleinkinders
dit nog eendag sal wil lees nie, maar ek hou duim vas dat die tieners wat tans
my boeke koop en lees, daarvan gaan hou ...
No comments:
Post a Comment