“Wanneer gaan jy nou eendag ’n boek aan my opdra?”
Ek
het al ’n paar keer hierdie versoek gehoor.
Van
die meer as 90 boeke wat ek reeds gepubliseer het, is veel minder as die helfte
aan iemand opgedra. Toe my uitgewer destyds daarop aandring dat ek my
prenteboek Haasmoles aan iemand móét
opdra (want die illustreerder het ’n opdrag gehad), het ek die volgende opdrag
voorin laat aanbring:
Vir Pippie, wat in haar drome hase jaag.
My
uitgewer was nie beïndruk nie. “Dis tyd dat jy kinders kry – ’n mens kan nie ’n
boek aan jou hond opdra nie.”
Ek
weet nie hoekom ’n mens nie jou boek aan jou hond mag opdra nie. Maar ek het
intussen ’n pragtige dogtertjie ryker geword én reeds ’n boek aan haar opgedra.
’n
Boekopdrag is vir my ’n baie persoonlike en spesiale ding. My nuwe tienerboek, Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang
getalle wat deur elf gedeel kan word, wat ek vandeesweek vir die eerste
keer vasgehou het, is opgedra aan my pa. Eerstens omdat my pa die enigste mens
is wat ek ken wat langdeelsomme uit sy kop kan doen. Terwyl hy op ’n plaaspad
bestuur, kan jy vir hom slaglammers se gewigte hardop voorlees en hy sal dit
bymekaartel en selfs die gemiddeld uitwerk en die verwagte slagpersentasie
bereken. Daardie talent het ek helaas nie geërf nie, maar die hoofkarakter in
my nuwe boek is ’n wiskundeboffin. Die hoofkarakter in my boek het ook ’n baie
spesiale pa gehad – ’n pa wat van wiskunde en hoenders gehou het. Op bl. 85-86
is daar ’n lys met tien dinge wat hy van sy pa mis. Dis dalk die hartseerste
ding wat ek nog ooit geskryf het.
My
pa is op die oomblik, terwyl ek hier tik, op pad Bloem toe om vir die naweek by
ons te kom kuier. Hy weet nog nie die boek is aan hom opgedra nie. As jy
hierdie bloginskrywing lees, moenie vir hom vertel voor ek kans kry om hom te
wys nie ...
Hier is ’n skakel na die lokvideo vir die boek: http://www.youtube.com/watch?v=3NIudu0TphA
No comments:
Post a Comment