Hierdie is sowaar my eerste bloginskrywing vir
2014. Nou ja, voorspoedige ... Februarie!
Daar
is darem ’n goeie rede waarom ek die afgelope tyd hierdie blog so afgeskeep
het.
Vanoggend het ek ’n groot
sug van verligting geslaak, pas nadat ek die stuurknoppie op my e-posprogram
gedruk het. Die manuskrip vir die sestiende boek in die Stalmaats-reeks is
vanoggend weg na die uitgewer toe. Daardie groot sug was wel ietwat voortydig,
want natuurlik wag ek nou om te hoor wat my uitgewer se reaksie op die storie
gaan wees. Die vyftiende manuskrip in die reeks, Stormnag, is darem ’n paar weke gelede voltooi en vir publikasie
aanvaar. (My uitgewer – wat altyd ’n sucker vir ’n romantiese twist is – meen
dit is die beste storie tot dusver in die reeks. Ek en Lize Roux hoop lesers gaan saamstem!)
Spertye
is nogal ’n skrikwekkende ding. Wanneer jy ’n reeks boeke skryf, is spertye
onvermydelik. Teen die einde van verlede jaar het “Stalmaats 15” en “Stalmaats
16” reeds op die uitgewery se publikasieprogram gepryk, sonder dat ek die
vaagste benul gehad het wat die titels gaan wees of waar ek betyds stories
vandaan gaan kry nie. Maar die voordeel van ’n sperdatum, is dat dit ’n mens se
kreatiewe sappe behoorlik kan laat vloei. Nodeloos om te sê, die afgelope paar
weke het ek geskryf dat die rook uit my iMac trek, maar dit bly lekker om die bekende karakters
in ’n reeks weer te ontmoet.
In
ander nuus het my uitgewer my vandag gebel om te vra of ek oor ’n maand of wat
’n dag lank Joburg toe wil vlieg om die stel van Suurlemoen! tydens verfilming te besoek. Ek het my voorgeneem om
vanjaar amptelik te verklaar tot Die Jaar Waarin Jaco Jacobs Geen Reisverpligtinge Gaan
Aanvaar Of Boeketoere Gaan Onderneem Nie (die rede daarvoor hou verband met ’n verwagte
besoek van die voël wat in wetenskaplike kringe bekend staan as Ciconia ciconia), maar dis beswaarlik ’n
geleentheid waarvoor ek nee kan sê! Alles dui daarop dat dinge besig is om mooi
bymekaar te kom met die fliek. Ek het vandeesweek ’n lekker demo van een van
die liedjies gekry, en die vervaardigers stuur so dan en wan vir my brokkies
nuus aan. Dit hele fliekmaakproses lyk vir my na oneindig baie werk en admin,
so ek is baie, baie dankbaar dat daar kreatiewe, passievolle mense is wat bereid is om dit aan te
pak. Kudos, Niel van Deventer en Vickus Strijdom!
Intussen
word die nuwe Zackie Mostert-boek, Zackie
Mostert en die wriemelende wurmkoekies, tans op RSG voorgelees (saans om 19:10), ek het
vandeesweek die proewe gekry van my nuwe kinderboek getiteld SuperBoetie! wat later vanjaar verskyn, en
die twee splinternuwe Professor Fungus-boeke, Professor Fungus en die dino-avontuur en Professor Fungus en die dinokrisis, is op pad van die oorsese drukker af. SuperBoetie! is geïllustreer deur Chris
Venter en Professor Fungus word deur Johann Strauss geïllustreer – albei se
name verdien om in hoofletters geskryf te word en met baie uitroeptekens agterna. O ja, en as jy op die oomblik kopkrap oor wat jou kinders vanjaar by die eisteddfod gaan opvoer, gaan loer gerus hier:http://www.lapa.co.za/product-view/944/in_die_kollig_speeltekste_vir_dramaleerders/manufacturer_id/413 En as jy wil sien hoe ek oor die Zackie Mostert-reeks gesels, maak ’n draai hier: http://www.youtube.com/watch?v=jSMrY4IsJy8&feature=youtu.be
Nou
ja, tot sover my nuus vir die eerste maand van 2014! Ek gaan binnekort weer ’n
skrywersonderhoud of twee hier oplaai. Beste wense vir die laaste elf maande
van die jaar!
No Deposit bonus codes & promo codes
ReplyDeleteNo Deposit bonus 청주 출장마사지 codes are the most popular bonuses you'll find at online 광양 출장마사지 casinos today. 김천 출장안마 Play No Deposit Bonus Codes for Free at 경기도 출장마사지 Top US Casinos. 충주 출장샵 Use codes