Dis eisteddfod-seisoen.
Ek weet elke jaar wanneer dit kunswedstryd-tyd is, want skielik begin die
e-posse instroom.
’n Paar desperate ma’s, pa’s, onderwysers of drama-onnies wil dikwels
weet of ek nie asseblief voorstelle vir gepaste prosastukke of gedigte het nie.
Ek weet hoe ’n tameletjie dit is om geskikte materiaal in die hande te kry –
iets wat hopelik die beoordelaars gaan beïndruk, maar wat darem ook vir ’n kind
pret gaan wees om voor te dra – daarom probeer ek altyd my bes om ’n paar
voorstelle te maak, hoewel ek nie regtig ’n kenner is en weet presies wat van
die deelnemers vereis word nie.
Skynbaar word van my rympies gereeld by eidsteddfods voorgedra, want daar
is ook altyd ’n paar ma’s of pa’s wat vra of ek nie asseblief bereid is om
spesiaal vir hul spruite ’n rympie te skryf wat nog nie elders verskyn het nie.
Hoewel ek besef so ’n uitnodiging is ’n groot kompliment en dit regtig waardeer, wys ek hierdie
soort versoeke egter ook altyd van die hand. My program is deesdae so vol dat
ek ongelukkig nie tyd het om tussendeur die sperdatums sulke rympies-op-versoek
te skryf nie.
Die derde soort e-pos wat ek kry, is van ouers wat wil weet of ek
asseblief gou “daardie rympie oor die monstermeisie” of “die ene oor
die boetie wat ’n alien is” vir hulle per e-pos sal aanstuur. Die bladsy wat
die juffrou vir Boetie of Sussie afgerol het, het die afgelope vakansie voete
gekry, die hond het dit opgeëet of dit het per abuis onder ’n
weghol-stootskraper beland.
Nou hier begin ek lelik op my tande kners.
Verstaan my mooi, dis vir my ’n wonderlike gedagte om te dink kinders dra
my skryfwerk by eisteddfods voor, doen hope moeite daarmee, en geniet dit
hopelik. Maar as jy vir my ’n e-pos stuur om te vra ek moet vir jou ’n rympie
uit een van my boeke aanstuur, is dit, bewustelik of onbewustelik, ’n hengse
klap in my gesig, en in my uitgewer s’n.
Kom ek verduidelik waarom.
As ’n kind (of sy/haar drama-afrigter) een van my rympies kies om voor te
dra, beteken dit hopelik die rympie verskaf hom/haar plesier en dat dit ’n
prettige ervaring is. Dis vir my net soveel pret om dit te skryf.
Daardie paar versreëls kom egter ’n lang pad.
Om rympies te skryf verg tyd. Baie tyd. Teen die tyd dat ’n bundel
rympies hopelik publiseerbaar is, beteken dit ek het dae, weke, maande daaraan
bestee om met al die idees vorendag te kom, en elke woord sorgvuldig te kies;
dit beteken ek het elke versreël oor en oor hardop gelees om seker te maak dit
gaan maklik op die tong en op die oor val wanneer jou kind dit moet voordra. Ek
het verskriklik, verskriklik baie respek vir kinders, en wanneer ek vir hulle
skryf, probeer ek dit so goed doen as wat ek kan.
En dis maar net die eerste stap in die proses.
Daarna gaan die manuskrip na my uitgewer.
Om ’n dokument met rympies in ’n mooi boek soos Wurms met tamatiesous, My
boetie dink hy’s Batman of Op die
punt van my tong te omskep, verg baie geld en tyd van ’n uitgewery.
Kortliks: ’n Keurder moet aangestel word om die rympies te lees, te
besluit of dit die moeite werd is om te publiseer, en om voorstelle oor die
nodige skaafwerk te maak. ’n Illustreerder moet betaal word om die rympies te
illustreer. Dit kos duisende rand en nóg baie, baie ure se werk. Wanneer die
illustrasies afgehandel is, doen ’n uitlegkunstenaar die bladuitleg en
omslagontwerp. Daarna takel ’n redigeerder die teks, om te sorg dat taalgoggas
en tikfoute uitgeskakel word. Wanneer die bladproewe behoorlik nagegaan is, kan
die boek drukker toe gaan. ’n Drukoplaag kos die uitgewery nog ’n hele paar
duisend rand. Daarna moet bemarking en verspreiding gedoen word. Nog duisende
rande. En dan eers kan die boek verkoop word.
Skrywers hou nie juis daarvan om oor geldsake te praat nie, maar kom ons
doen gou so rofweg die somme: As jy R76 vir my rympiebundel Kougom in my hare op Takealot.com
betaal, beteken dit die uitgewery het reeds tussen 30% en 40% afslag op die
verkoopprys toegestaan. Op die geld wat die uitgewery ontvang, verdien die
skrywer sowat 12% outeursgeld. Wiskunde was nog nooit my sterk punt nie, maar dit
beteken ek ontvang so tussen R5 en R6 vir daardie boek wat jy gekoop het. Die
spesifieke boek bevat 49 rympies, wat beteken ek verdien ongeveer 10c tot 12c
per rympie wanneer jy my boek koop.
En dan vra mense steeds waarom daar so min Afrikaanse kinderrympieboeke
gepubliseer word.
Ek gaan jou die jeremiade spaar van
ek-het-ook-’n-gesin-wat-versorg-moet-word-en-rekeninge-wat-betaal-moet-word. Maar
daardie R76 wat die boek jou uit die sak gaan jaag, is die enigste manier hoe
ek kan aanhou om rympies te skryf. Dit is ook die enigste manier hoe my uitgewer
kan aanhou om rympieboeke te publiseer.
Nou vra ek jou mooi: As jou kind ’n rympie kies om by die eisteddfod voor
te dra, oorweeg dit GROOT asseblief om eerder die boek te koop as om dit bloot te
laat afrol. En begryp asseblief waarom ek regtig, regtig nie vir jou ’n kopie
van die rympie per e-pos kan aanstuur nie. Dit beteken ek oortree self die kopieregwaarskuwing voorin my eie boek. As jy dringend die rympie nodig het,
koop die boek in e-formaat – jy kan dit binne sekondes aflaai nadat jy daarvoor
betaal het.
En wanneer jy trots glimlag oor daardie A++-simbool of goue sertifikaat,
hou ’n oomblik van stilte en dink aan die versiemaker wat tussen 10c en 12c met
daardie rympie verdien het. Dis nou te sê as die juffrou dit nie sommer afgerol
het nie ...
Jaco Jacobs se nuutste rympieboek is 'n bundel tongknopers, "Op die punt van my tong". Hier is 'n voorsmakie. |
Jaco, luv jou blog. Danki dat jy almal herhinner om liewer d boek te KOOP!
ReplyDeleteBaie dankie, Marne. Ek dink een van die redes waarom kinders deesdae dikwels trae lesers is, is omdat daar in die eerste plek nie boeke in die huis is nie. Ek weet boeke is baie duur, en ek verstaan ouers kan dit nie altyd bekostig nie, maar as jy nou en dan 'n boek in plaas van 'n speelding of wegneemete koop, kan dit 'n reuse-verskil in jou kind se lewe maak.
Delete