Wednesday, August 31, 2016

VYF VRAE AAN THERESA VAN BAALEN

1. Kortliks, wie is Sanri Steyn, oor wie jy nou reeds ses boeke geskryf het?
Sanri Steyn is ’n twaalfjarige meisie wat daarvan droom om eendag ’n joernalis te wees. Maar sy wil nie sommer enige joernalis wees nie. Sy wil die beste, beroemdste joernalis óóit wees ... Superjoernalis Sanri Steyn.

2. Is daar enige ooreenkomste tussen jou en Sanri?
Toe ek twaalf was, was ek baie soos Sanri. Ek was nuuskierig, ek het altyd ’n slim antwoord gehad vir alles (wat my gereeld in die moeilikheid laat beland het, want onderwysers en ander grootmense hou nie daarvan as kinders terugpraat nie). Ek wou egter nooit ’n joernalis word nie, maar ’n skrywer, en nes Sanri het ek daarvan gedroom dat my naam op almal se lippe sal wees ... Superskrywer Theresa van Baalen. Vandag is ek steeds nuuskierig, maar ek het geleer om (partykeer) stil te bly en nie altyd terug te praat nie.

3. Wat is van die lekkerste terugvoering wat jy tot dusver oor die reeks gekry het?
Ná die eerste twee Sanri-stories verskyn het, het Sanri ’n e-pos van ’n dogtertjie ontvang wat gevra het Sanri moet nog van haar opwindende speurverhale vir LAPA stuur. Dit was vir my heerlik om te kry, want dis juis wat ek met Sanri probeer bereik het: om die “outydse” tipe speurverhaal (wat my gunsteling-leesstof was as kind) op ’n vars manier te benader en dit só te skryf dat vandag se kinders plesier daaruit sal put. Ek het ook vroeër vanjaar, tydens besoek aan ’n paar skole, besef dat die seuns Sanri net soveel geniet soos die meisies. Ek het lank gewonder of seuns aanklank sou vind by ’n vroulike hoofkarakter, en dalk is dit die feit dat Sanri en Markus ’n span is, of dalk, in die lig van die opwinding en aksie, maak die geslag van die karakters nie vir die lesers saak nie, maar iets omtrent Sanri werk vir almal.

4. Wat is die uitdagings wanneer jy 'n hele reeks boeke oor karakters soos Sanri en Markus skryf?
Dit vat nogal kophou om te verseker Sanri en Markus se persoonlikhede skemer deur in elke boek en dat ek nie hulle karaktereienskappe met mekaar verwar nie. Ek moet ook rekord hou van klein details sodat ek myself nie in verdere stories verspreek nie, byvoorbeeld straatname, die dinge waarvoor Markus allergies is (magrietjies laat hom nies, maar laventel nie), hulle juffrou en sommige klasmaats se name, die feit dat Raaiselfontein se Kerkstraat geen kerk het nie, ensovoorts. As kind het ek dit verpes as ’n reeksskrywer nie sy feite (wat hy self geskep het) kon regkry nie! Daarby is dit beslis ’n uitdaging om elke keer met ’n vars nuwe idee vir ’n storie vorendag te kom en dit só te skryf dat dit inpas by die reeks. Maar gelukkig is die moontlikhede eindeloos.

5. Wat is vir jou die lekkerste deel van die skryfproses? En die slegste?

Vir my is die lekkerste deel van die skryfproses om te sien hoe ’n storie ontvou. Ek is die heel eerste leser van die stories wat ek skryf, en dit gebeur min dat ek werklik aan die begin van ’n storie weet wat in die middel gaan gebeur. Ek weet gewoonlik waar ek die storie wil begin en hoe ek dit wil eindig, maar die gedeelte tussen die begin en die einde is dikwels vir my net so ’n groot verrassing soos vir die lesers. Die slegste deel van die skryfproses is om die storie te laat gaan as dit uiteindelik kant en klaar is, en die uitgewer is tevrede. Ek treur gewoonlik ’n hele paar dae en sukkel om my gedagtes by ’n nuwe storie te bepaal, en verrig allerhande fisiese take om my aandag af te lei. Dan, ná ek al die magrietjiebosse gesnoei het, die huis van bo tot onder blinkskoon gemaak het en die motor gestofsuig het, is ek gewoonlik gereed om ’n nuwe storie aan te pak. Dis wanneer die lekkerte van voor af begin.



* Die twee nuutste Sanri Steyn-boeke, Die monsters van Middernagstraat en Die nag van die weerwolwe, is nou in boekwinkels beskikbaar - of bestel dit direk by LAPA Uitgewers: (012) 401 0700 of lapa@lapa.co.za

Thursday, August 25, 2016

VYF VRAE AAN MARITA VAN DER VYVER

Fotograaf: Francois Pistorius
 1. Jy het al soveel boeke die lig laat sien, jou boeke word gereeld vertaal en oorsee uitgegee. Maak die verskyning van 'n nuwe boek jou steeds opgewonde?
Daar is nie soveel boeke vertaal en oorsee uitgegee soos ek graag sou wou hê nie, hoor. In elk geval nie genoeg om my hier oorsee aan die lewe te hou nie. Maar elke keer as ek dit in die openbaar sê, dink mense ek is maar net vals beskeie, so ek het opgehou om dit te sê. Ja, die oomblik wanneer ek ’n nuwe boek die eerste keer in my hande hou en die bladsye ruik en die papier onder my vingers voel, is die één oomblik wanneer al die sukkel en swaarskry van skryf steeds vir my die moeite werd voel.

2. Kan jy onthou wat die eerste vonk was wat tot die skryf van Al wat ek weet gelei het?
’n Insident in my motor toe ’n onbeskofte Franse fietsryer my heeltemal onnodig uitgeskel het, en my liewe, saggeaarde man my nie “verdedig” het nie. Toe begin ek wonder oor stilbly en wegkyk, en wanneer mens moet praat en wanneer mens moet stilbly, en wat sou gebeur het as ek so ontsteld was dat ek ’n ongeluk gemaak het ... Daardie insident het gelei tot die ongelukstoneel in Al wat ek weet, waarin Gabriel se ma dood is. Vreemd hoe verbeelding werk, nè.

3. Gabriel is regtig ’n onvergeetlike karakter. As jy saam met drie karakters uit enige van jou boeke middagete kon gaan eet, wie sou dit wees? 
Gabriel, beslis, omdat ek hom beter wil leer ken. En Hanna Hoekom se babasussie, Ariel, wat teen dié tyd 'n tiener met rooi hare sal wees (Swemlesse vir 'n meermin) omdat ek dink sy en Gabriel sal van mekaar hou. En dan moet ek seker ook ’n “grootmens” nooi om vir my geselskap te hou as die tieners verveeld raak met my. Ek dink ek sal vir Mart Vermaak uit Die dinge van 'n kind kies – omdat sy, soos ek, nooit vergeet het hoe dit voel om ’n tiener te wees nie.  

4. Hoe het jy dit reggekry om jou so oortuigend in die wêreld van performance poetry in te grawe? Was dit 'n uitdaging om die gedigte/lirieke te skryf? 
Ek het baie navorsing op internet gedoen en met performance poets gepraat en letterlik ure lank YouTube-videos gekyk – wat heeltemal te lekker was om soos “navorsing” te voel – maar ek het ook deur die jare drie tienerseuns in die huis gehad. Veral die jongste, Hugo, het onophoudelik rap en hiphop geluister, wat my moontlik meer verdraagsaam teenoor hierdie soort geraas gemaak het as baie ander “grootmense”. Die rympies het gevoel soos ’n terugkeer na my tienerjare toe ek ’n universiteitsbeurs met my gedigte gewen het. In D.J. Opperman se poësie-laboratorium op Stellenbosch het ek soveel ontsag vir digters ontwikkel dat ek heeltemal ophou dig het. Dis omtrent die enigste genre wat ek nog nie aangedurf het in my gepubliseerde werk nie. Daarom was dit vir my héérlik om op so ’n beskeie manier weer met woorde en rym te speel in hierdie boek. 

5. Watter deel van die skryfproses geniet jy die meeste? En wat is vir jou die slegste deel daarvan?  

Die begin, wanneer ek die karakters en die storielyn uitdink en die moontlikhede nog eindeloos is, is vir my altyd opwindend. Daarna voel dit met elke paragraaf wat ek skryf asof ek hekke agter my toemaak; die paadjie word al hoe nouer en steiler, omdraai word al hoe moeiliker. Die aakligste deel is as al die hekke toe is, die paadjie is gekies, die storie is geskryf en nou moet dit geredigeer word. Dit voel altyd vir my soos om my antwoorde in ’n skooleksamen weer ’n keer deur te lees terwyl ek eintlik buite wil gaan speel.

Thursday, August 18, 2016

VYF VRAE AAN FANIE VILJOEN



1. Kaptein Verdwyn is die nuutste in ’n hele rits boeke wat reeds uit jou pen verskyn het. Maak die verskyning van ’n nuwe boek jou steeds opgewonde?
Ja, dis altyd lekker om ’n nuwe boekbaba in die hande te hou. Wat lesers nie weet nie, is dat alles wat ’n mens skryf nie altyd boeke word nie, daarom is elke boek ’n groot genade.

2. Kan jy onthou wat die vonk/inspirasie was waaruit die storie ontstaan het?
Om onsigbaar te wees het my nog altyd gefassineer. Ek het selfs iewers nog ’n koerantuitknipsel wat verduidelik hoe die weermag daarmee eksperimenteer. Ek het die idee gebruik en dit saamgevoeg met selfoon-apps wat kinders vandag ken. 

3. Noem drie dinge wat jy sou doen as jy ’n dag lank onsigbaar kon word.
Ek sal in mense se huise gaan “spook” speel, inglip by die fliek en skoolboelies se ore frommel.

4. Hoe verloop jou dag? Het jy ’n vaste skryfroetine?
Ek lees soggens die koerant aanlyn, drink koffie en begin dan skryf. Facebook bied afleiding. Namiddag sal ek dalk aan ander skryfwerk aandag gee, soos die skryf van artikels vir die Hoezit!-webblad, e-pos antwoord of admin doen. Ek probeer ook om meer gereeld te skilder. Teen laatmiddag gaan ek gym toe. Ek is teen tienuur al in die bed met ’n boek.

5. Wat is die heel beste skryfraad wat jy ooit gekry het?
Gaan sit net op jou boude en begin skryf.

Besoek gerus Fanie se webtuiste: www.fanieviljoen.co.za