VYF VRAE AAN MARITA VAN DER VYVER
Fotograaf: Francois Pistorius |
Daar is nie soveel boeke vertaal en oorsee
uitgegee soos ek graag sou wou hê nie, hoor. In elk geval nie genoeg om my hier
oorsee aan die lewe te hou nie. Maar elke keer as ek dit in die openbaar
sê, dink mense ek is maar net vals beskeie, so ek het opgehou om dit te sê. Ja,
die oomblik wanneer ek ’n nuwe boek die eerste keer in my hande hou en die
bladsye ruik en die papier onder my vingers voel, is die één oomblik
wanneer al die sukkel en swaarskry van skryf steeds vir my die moeite werd
voel.
2.
Kan jy onthou wat die eerste vonk was wat tot die skryf van Al wat ek weet gelei
het?
’n Insident in my motor toe ’n onbeskofte Franse
fietsryer my heeltemal onnodig uitgeskel het, en my liewe, saggeaarde man my
nie “verdedig” het nie. Toe begin ek wonder oor stilbly en wegkyk, en wanneer
mens moet praat en wanneer mens moet stilbly, en wat sou gebeur het as ek so
ontsteld was dat ek ’n ongeluk gemaak het ... Daardie insident het gelei tot
die ongelukstoneel in Al wat ek weet, waarin Gabriel se ma dood
is. Vreemd hoe verbeelding werk, nè.
3.
Gabriel is regtig ’n onvergeetlike karakter. As jy saam met drie karakters uit
enige van jou boeke middagete kon gaan eet, wie sou dit wees?
Gabriel, beslis, omdat ek hom beter wil leer ken.
En Hanna Hoekom se babasussie, Ariel, wat teen dié tyd 'n tiener met rooi hare
sal wees (Swemlesse vir 'n meermin) omdat ek dink sy en Gabriel sal van
mekaar hou. En dan moet ek seker ook ’n “grootmens” nooi om vir my geselskap te
hou as die tieners verveeld raak met my. Ek dink ek sal vir Mart Vermaak uit Die
dinge van 'n kind kies – omdat sy, soos ek, nooit vergeet het hoe dit voel
om ’n tiener te wees nie.
4.
Hoe het jy dit reggekry om jou so oortuigend in die wêreld van performance
poetry in te grawe? Was dit 'n uitdaging om die gedigte/lirieke te
skryf?
Ek het baie navorsing op internet gedoen en met
performance poets gepraat en letterlik ure lank YouTube-videos gekyk – wat
heeltemal te lekker was om soos “navorsing” te voel – maar ek het ook deur die
jare drie tienerseuns in die huis gehad. Veral die jongste, Hugo, het
onophoudelik rap en hiphop geluister, wat my moontlik meer verdraagsaam teenoor
hierdie soort geraas gemaak het as baie ander “grootmense”. Die rympies
het gevoel soos ’n terugkeer na my tienerjare toe ek ’n universiteitsbeurs
met my gedigte gewen het. In D.J. Opperman se poësie-laboratorium op
Stellenbosch het ek soveel ontsag vir digters ontwikkel dat ek heeltemal
ophou dig het. Dis omtrent die enigste genre wat ek nog nie aangedurf het in my
gepubliseerde werk nie. Daarom was dit vir my héérlik om op so ’n beskeie manier
weer met woorde en rym te speel in hierdie boek.
5.
Watter deel van die skryfproses geniet jy die meeste? En wat is vir jou die
slegste deel daarvan?
Die begin, wanneer ek die karakters en die
storielyn uitdink en die moontlikhede nog eindeloos is, is vir my altyd
opwindend. Daarna voel dit met elke paragraaf wat ek skryf asof ek hekke agter
my toemaak; die paadjie word al hoe nouer en steiler, omdraai word al hoe
moeiliker. Die aakligste deel is as al die hekke toe is, die paadjie is gekies,
die storie is geskryf en nou moet dit geredigeer word. Dit voel altyd vir my
soos om my antwoorde in ’n skooleksamen weer ’n keer deur te lees terwyl ek
eintlik buite wil gaan speel.
No comments:
Post a Comment