1. Jy was lank stil nadat jou veelbekroonde jeugroman Geraamtes dra nie klere nie in 2000 verskyn het – en toe kom jy laas jaar asof uit die bloute en wen LAPA se jeugromankompetisie met Asem. Waarom die lang skryfstilte?
In die tyd het ek nie ophou skryf nie. Ek het gereeld
probeerslae vir jeugromanwedstryde en selfs vir die Groot Romanwedstryd
ingestuur. Maar telkens die “jammer ons het nie goeie nuus vir jou nie”-briefie
van die uitgewers gekry. In dieselfde tyd het ’n klomp omwentelinge in my lewe
bygedra tot ’n skrywersbyl wat stomp geraak het. Maar die liefde het weer
alles nuut geslyp. Kom ons glo die volgende boek sal nie ook vyftien jaar vat
om op die rakke te staan nie.
2. Asem takel moeilike kwessies soos mishandeling en dwelmmisbruik kaalvuis. Was dit vir jou moeilik om hieroor te skryf?
In Asem skryf ek nie oor persoonlike
aan-die-eie-lyf-ervaringe nie. In daardie sin was dit nie moeilik om daaroor te
skryf nie. Ek het nooit soos my ouer broers met ’n beddegoed-belt pak gekry
nie. Ek het dit net dikwels aanskou. My pa was my genadig, want ek was die baba
in die huis en seker te klein vir die belt. Buitendien was die oorkoepelende
atmosfeer in ons huis sorgsaam en liefdevol, selfs toe my kwaai pa nog geleef
het. Maar nie alle “babas” in ons families en samelewing is so gelukkig nie. En
om daaroor te skryf is nie altyd maklik nie.
3. Het jy die boek spesifiek vir die jeugromanwedstryd geskryf, of het jy reeds aan die idee gewerk toe jy van die kompetisie te hore kom?
Asem was basies klaar geskryf (met ’n ander naam). Maar toe
my dogter my van LAPA se wedstryd vertel, begin die groot geskaaf. Nuwe
navorsing. Karakters wat meer groei. Nuwe kinkels. Nuwe intriges. Nuwe motiewe.
Lanklaas het ek so hard in ’n kort tyd gewerk om ’n boek genoeg woema te gee om
dit vir ’n jeugromanwedstryd te kan inskryf.
4. Wat was vir jou die moeilikste deel van die skryfproses met Asem?
Soos met Asem, is die skryfproses self vir my altyd ’n groot
lekkerte, navorsing en herskryf ingesluit. Dit is die spanningsvolle wag vanaf
die oomblik wanneer ek die manuskrip oor die Poskantoor se toonbank stoot tot
die klaar-boek in my hand rus (indien wel) wat erg is.
5. Wat is die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?
Gee nooit jou onvoltooide werk of ’n manuskrip wat afgekeur
is sommer vir enige een om te lees nie. Enige negatiewe kritiek of selfs
goedbedoelde opmerkings kan op daardie stadium verwar of vals hoop gee. Loop
maar die alleenpad van skryf en herskryf (soms met die raad van keurders en
kenners). Mens haal tog nie ’n ongebore baba uit die baarmoeder, wys hom vir
vriende en familie en sit hom weer terug dat hy verder kan groei nie. Ná die
suksesvolle geboorte kan almal die nuweling na hartelus geniet of uitmekaar
beoordeel. Dit het Johann Jordaan my veertig jaar gelede geleer toe ek vroeg in
die hoërskool sy korrespondensieskryfkursus, Kortpad na Knap Kortverhale,
gedoen het.
No comments:
Post a Comment