Iemand vra my nou die dag: Wat is die moeilikste deel van ’n storie skryf – die begin of die slot?
Vir my is die antwoord heel eenvoudig: Die middel.
Kom ek verduidelik dit met ’n (vir my) onwaarskynlike analogie: Tamaties. Ek het die afgelope somer besluit om weer eens, ondanks my lank bewese gebrek aan groen vingers, iets te probeer plant. In hierdie geval was my keuse kersietamaties. Ek is mal daaroor, en my pa het laas jaar een stoel gehad wat hulle byna die hele somer lank van tamaties voorsien het.
Nou kom ons begin by die begin. Dis die opwindende deel – van die tamatieplantery en van die storieskrywery. Dis die deel waar jy saad by die kwekery gaan koop, en sommer potgrond en ’n nuwe tuinvurk en ’n pot of twee ook aanskaf. Dis die deel waar jy verwonderd staar na die blinkrooi tamaties op die pakkie. Skryfgewys is dit die deel waar dit maklik is om spitsvondige beskrywings en kraakvars dialoog af te vuur, waar die storie nog knetter van potensiaal en die idees wag om ryp te word.
Die einde is, vir my in elk geval, ook relatief maklik om te raai. Ek weet ek wil tamaties hê. Ek is dalk nie heeltemal seker hoeveel van hulle daar gaan wees en of hulle so mooi soos op die pakkie gaan wees of so oorvloedig baie soos my pa s'n verlede jaar nie, maar dis wat ek hoop om te kry – tamaties. As ek skryf, het ek gewoonlik ook min of meer ’n sekere einde in gedagte.
Maar hier kom die moeilike deel, as jy tamaties plant soos ek of skryf soos ek: die middel.
Die middel is die deel waar jy elke dag moet onthou om die saad nat te gooi, duim vashou dat iets gaan opkom, die brose saailinge moet oorplant, en hoop roes of goggas of wat ook al kom nie die plante by nie. Dis die deel wat harde werk is. Dis die deel waar jy moet besluit watter onkruiddoder om te gebruik, moet raai hoeveel kompos om te gee en heimlik wonder of jy nie te gereeld of te ongereeld natmaak nie. Storiegewys is dit die deel waar jy wonder of jy nie te veel droogmaak nie. Dis die sitvlak-op-stoel-gedeelte van skryf. Met skryf, nes met tamaties, is dit die deel waar die ongeduld jou kan opvreet.
Maar met skryf, nes met tamaties, is dit ongelukkig ook die deel wat bepaal of jy ooit by die einde gaan uitkom wat jy in gedagte gehad het.
My manier om dit makliker te probeer maak, wat skryf betref, is om te beplan. Ek werk vooraf ’n storieraamwerk uit, ’n soort padkaart om my by die einde uit te bring. Meestal rank die storie steeds waarheen hy wil, en dis wat stories doen, so moenie te veel daarteen baklei nie. ’n Rigiede raamwerk kan ’n storie kniehalter. Maar vir my is die raamwerk meestal die stok waarteen ek die rank probeer oplei sodat hy hopelik kan groei en vrugte dra.
En my tamatie-oes? Op die foto hier bo pryk drie bloedrooi kersietamaties. Ja, Farmer Brown, hulle lyk so klein, want hulle was so klein. En ek is jammer om te sê dié drietjies was ook die somtotaal van my oes vir die somer. Groen vingers het ek helaas nie.
Maar ek het hulle nogtans een middag met groot smaak gesit en opeet, so trots soos enige tuinier op sy oes.
En wat die skrywery betref: Ek is op die oomblik reg in die middel van 'n nuwe boek. So, hierdie bloginskrywing was net 'n lekker verskoning om nie my metaforiese tamaties te gaan natgooi nie ...
Ai, lekker gelag! En heeltemal verstaan wat jy sê. Ek stem saam oor die middel van 'n storie.
ReplyDeleteO ja, Jaco, ek het meer sukses gehad met radyse ... :)
Ek en my sussie het in ons skooldae ook radyse geplant, Alta - as ek reg onthou, kan jy hulle mos al ná drie weke oes? Vir 'n ongeduldige laerskooltuinier is dit dus perfek - al laat die goed jou bek vir 'n vale brand! :-)
ReplyDeleteEk kan nie die like knoppie hier op blogspot kry nie maar as ek dit kon kry sou ek dit gedruk het :).
ReplyDeleteHehe, baie dankie, Maja.
ReplyDeleteJaco, dit klink vir my so bietjie soos kinders grootmaak ook!
ReplyDelete