As jy “UFO” op Google intik, kry
jy tans ongeveer 231 miljoen trefslae. As jy egter (tydens die skryf hiervan) die
woorde “a rhino ate my homework” google, lewer dit presies een resultaat op –
nie die titel van ’n boek nie. En tog verdien ek tans (skrapse) outeursgeld op
’n boek met daardie titel wat ek ’n paar jaar gelede vir ’n relatief onbekende
opvoedkundige uitgewery geskryf het. Ek het die boek nog nooit met my eie oë
gesien nie. Herhaalde e-posse aan die betrokke uitgewery waarin ek smeek en
soebat om ’n kopie daarvan in die hande te kry, val telkens op dowe ore. As
daar dus iewers ’n blogleser is wat ’n eksemplaar van A rhino ate my homework iewers te siene kry, stuur asseblief
dadelik stawende foto’s en ’n gedetailleerde ooggetuieverslag – dis immers meer
seldsaam as ’n UFO sighting, as jy Google kan glo.
By ’n ander, heel bekende,
opvoedkundige uitgewery sukkel ek en ’n paar medeskrywers al sedert 2009 om
terugvoering te kry oor ’n bundel waarin ons kortverhale gepubliseer is. Ons
het nooit kopieë teruggekry van die kontrak wat ons onderteken het nie, ons het
nog nie ’n sent outeursgeld ontvang nie, en die uitgewery sê (uiteindelik!) bloot hulle kan
nie outeursgeld begin betaal alvorens al die skrywers wat tot die bundel
bygedra het, se voltooide kontrakte ontvang is nie. Dus: Nie hulle probleem
nie. Joune. O ja, en let wel: Voordat outeursgeld uitbetaal kan word, is daar nog meer
as R20 000 koste wat die uitgewery aangegaan het en wat van die outeursgeld
verhaal moet word. Wat beteken as die bundel lank genoeg in druk bly, sal my agterkleinkinders
dalk eendag die eerstes wees wat ’n paar sent daaruit maak. Met liefde van hul oorle’ oupagrootjie.
By nog ’n opvoedkundige uitgewery
moes ek sowat drie jaar smeek en dreig voordat ek outeursgeld begin ontvang het. Noudat
ek wel op hulle betaalstelsel is, gebeur dinge soos reën in die Karoo – selde en
met onbetroubare reëlmaat. Soms kry ek uit die bloute ’n paar rand; ander kere
gaan ’n jaar of wat verby sonder dat ek of my bankrekening enige iets van hulle
hoor. Ek het, sover ek kan onthou, nog nooit ’n tantièmestaat van hulle gekry
nie.
So, watter les is hieruit te
leer? Ek is nie seker nie. Miskien dat jy jou huiswerk moet doen voordat jy jou
storie sommer goedsmoeds aan ’n uitgewery toevertrou. Uiteraard is nie alle
kleiner uitgewerye onbetroubaar nie; net soos nie alle groot uitgewerye altyd
jou beste belange op die hart dra nie. Van die boeke en verhale wat ek by
opvoedkundige uitgewerye gepubliseer het, is baie keurig versorg en uitgegee,
en daar is geen probleme met kontrakte en outeursgeld nie.
Maar ongelukkig is nie almal so
betroubaar nie. Daar’s deesdae skynbaar volop uitgewerye wat hoop om ’n vinnige
paar rand uit die skolemark te verdien, en nie noodwendig skrywers se belange
op die hart dra nie. Maak seker jou storie of boek gaan die beste moontlike
behandeling kry in terme van redigeerwerk, die uitgeeproses en bemarking, en
dat jy deur ’n behoorlike kontrak beskerm word. Dankie tog vir Facebook en ander sosiale
media, waar jy deesdae by ander skrywers kan aanklop om te hoor wat
hulle ondervinding van ’n sekere uitgewery is.
Die meeste skrywers het
waarskynlik (soos ek) min regsagtergrond, maar probeer sover moontlik die
kontrak uitpluis voordat jy dit onderteken, en maak seker jy weet presies
waarvoor jy jou (en jou storie) inlaat. Moenie skroom om vrae te vra nie, en
maak seker jy ontvang ’n getekende afskrif van die kontrak.
Of maak vriende met ’n slim
prokureur ...
Nagedagte: Danksy hierdie bloginskrywing, sal die woorde “a
rhino ate my homework” ten minste ná dese meer as een trefslag oplewer.
No comments:
Post a Comment