Wednesday, October 27, 2010

’n Paar van my gunsteling-grillers


Oukei, die koms van Halloween het my geïnspireer tot 'n byna ongekende twee posts in een week. Hierdie is glad nie veronderstel om een of ander intellektuele of omvattende lysie te wees nie. Dis bloot ’n klompie boeke en flieks wat my oor die jare rillings gegee het. Ek weet daar’s tonne classics wat ek uitgelaat het. So shoot me. Of, in die gees van Halloween, gebruik 'n meer kreatiewe moordwapen.

 

Boeke

Let the right one in (John Ajvide Lindqvist) – As jy moeg is vir Stephenie Meyer en Charlaine Harris se vampiere, hier is ’n regtig ontstellende, skokkende vampierstorie. Beslis nie vir sensitiewe lesers nie. Daar’s ’n fliek ook van die boek gemaak, maar ek kon dit nog nêrens opspoor nie.

Pet Sematary (Stephen King) – Maak nie saak hoe hard jy my probeer oortuig dis vrot geskryf nie, die idee agter hierdie storie hou aan om my te ontstel en my hoendervleis te gee. Ek het dit die eerste keer op laerskool gelees.

Misery (Stephen King) – Ek gaan hard probeer om nie te veel Stephen King-boeke op hierdie lys te sit nie. Annie Wilkes is ’n fantastiese, fantastiese gekke vrou. Vir iemand soos ek wat nie van dokters en hospitale en mediese goete hou nie, is hierdie ’n nagmerrie. En Kathy Bates het Nurse Annie nog meer onvergeetlik gemaak in die fliek. En daai daai vark van haar ...

The masterpieces of Shirley Jackson (Shirley Jackson) – Ek het my kopie van hierdie bundel vir R34 by ’n tweedehandswinkel aangeskaf. Dit sluit The Haunting of Hill House en We Have Always Lived in the Castle in, asook Jackson se kortverhale, waaronder die skokkende The Lottery, wat sover ek kan onthou in die apartheidsjare Suid-Afrika verbied was. Haar stories het almal so ’n donker “iets” wat lank ná die eerste lees so aan die rand van jou bewussyn bly spook.

Lord of the Flies (William Golding) – ’n Griller? Wel, as grillers gaan oor donker dinge en die wese van die Bose (om dit nou so hoogdrawend te laat klink en cliché’s te gebruik), kwalifiseer hierdie boek beslis. Die deel waar Piggy se kop oopbars, is vir ewig in my geheue ingegraveer. Saam met die varkkop vol vlieë, natuurlik. En as jy dink dis heiligskennis om hierdie boek ’n griller te noem, ek het pas gesien dit word ook bespreek in Horror: 100 best books (Stephen Jones & Kim Newman).

The Raven (Edgar Allan Poe) – Net sodat ek darem slim kan lyk en ’n regte classic op my lysie kan hê! Ek het ’n pragtige en peperduur geïllustreerde weergawe van Poe se werke gekoop (sodat ek slim kan lyk en ’n regte classic op my boekrak kan uitstal – en veral vir die skitterende illustrasies). Om The Raven hardop te lees is fantasties. Probeer ’n bietjie (ek het dit terloops op www.heise.de gecopy):

Once upon a midnight dreary, while I pondered weak and weary,

Over many a quaint and curious volume of forgotten lore,

While I nodded, nearly napping, suddenly there came a tapping,

As of some one gently rapping, rapping at my chamber door.

‘’Tis some visitor,’ I muttered, ‘tapping at my chamber door -

Only this, and nothing more.’

En boonop het Tim Burton se briljante kortfliek Vincent die slotwoorde vir ewig in my kop laat vasskop:

And my soul from out that shadow that lies floating on the floor

shall be lifted – nevermore.

 

Flieks

Child’s Play – Ek het onlangs vir my ’n Chucky-headknocker, kompleet met ’n moorddadige uitdrukking en ’n mes in die hand, gekoop wat reg bo my rekenaar staan – as ’n huldeblyk aan daardie kultus-pop wat kleintyd die inspirasie vir my lekkerste nagmerries was. As jy my mooi vra, kan ek selfs ’n skaflike nabootsing doen van daardie Good Guys-pop se (vir my) onvergeetlike woorde: “Hi, I’m Chucky. I want to be your friend.”

A Nightmare on Elm Street – Saam met Chucky is ou Freddy Krueger met die mesvingers my gunsteling-bangmaker uit my kindertyd. Ek het nog nie die nuwe weergawe gekyk nie – almal sê dis vrot, so ek is bang ek word teleurgestel.

It – Ek is ’n fanatiese Stephen King-aanhanger. Die boek was myns insiens stukke beter as die fliek (duh), maar Tim Rice se Pennywise is en bly ’n skrikwekkende kykervaring. En die woorde “look into my deadlights” en “down here we all float” sal ek in my lewe nooit vergeet nie.

Drag me to hell – Een van my meer onlangse gunstelinge. Die toneel waar die bok die man byt, is die soort stuff wat kultusstatus verdien.

Awake – Die idee van narkose is vir my eindeloos skrikwekkend. Om oorgelewer te wees aan die genade van ander. Dis nie dat ek dokters en mediese personeel wantrou nie – hulle is immers goeie mense. Of so het ek gedink tot ek hierdie fliek gekyk het. Van al die grillers wat ek hier noem, is hierdie die enigste een wat ek nié weer wil kyk nie. Brrr.

The Silence of the Lambs: Ek het die fliek destyds as kind gesien voordat ek die boek gelees het, daarom kies ek die fliekweergawe. As ou Hannibal verklaar hy gaan “an old friend for dinner” hê, ril ’n mens van lekkerkry. Maar dis die kompleksiteit en intelligensie en hipergekultiveerdheid van die karakter wat jou veral vang.

The Skeleton Key: Ek is mal oor die einde.

The Others: Nicole Kidman het my uitgefreak in hierdie fliek. Die eerste keer het jy nie ’n idee wat presies aangaan nie, tot die skokkende ontknoping jou tref. Met die tweede en derde kyk, is dit byna grilleriger omdat jy reeds die knoop van die storie ken.

The Sixth Sense: Ek het ’n yskasmagneet gekoop wat verklaar: I see stupid people. Dis so jammer dat M. Night Shyamalan nooit sy meesterstuk kon ewenaar nie – sy flieks word nou regtig onkykbaar. Slegs The Village (wat erg onder kritici deurgeloop het) was vir my ’n lekker kykervaring.

Dawn of the Dead: Zombies, zombies, zombies! Ek’s mal oor zombies! En hierdie is myns insiens die beste zombie-griller uit zombiemeester George A. Romero se pen.

Fido: Oukei, hierdie fliek is ’n slim satire op die Amerikaanse samelewing (soos baie ander gruwelprente). (En dit het die onvergeetlike stukkie dialoog van ’n statusbewuste ma aan haar seuntjie: “Honey, don’t play baseball by yourself. It makes you look lonely.”) Maar daar is ook oorgenoeg bloed en derms om ’n horror afficionado tevrede te stel.

Tuesday, October 26, 2010

Grilstories (spesiaal vir Halloween)


Ek is jaloers op Amerikaanse kinders. Om geen ander rede nie as dat hulle Halloween vier. Ek weet sommer ek sou kleintyd nagte lank wakker gelê het om die perfekte Halloween-kostuum te beplan.

Hier by ons probeer ’n paar winkels elke jaar munt slaan uit die oorsese Halloween-tradisie deur allerlei grillerige lekkergoed en kostuums en speelgoed te verkoop. Maar ek dink nie die tradisie gaan ooit regtig wortel skiet hier op Afrika-bodem nie. Die Afrikaanse vertaling, Allerheiligeaand, laat dit buitendien klink soos iets wat jy stigtelik by die huis moet deurbring. Net sowel, want daar is waarskynlik min Suid-Afrikaanse ouers wat hul kinders op 31 Oktober gaan toelaat om aan vreemdelinge se deure te gaan klop om lekkergoed te vra.

            Maar dit bring my by grilstories.

“Hoekom lees kinders grilstories?” vra ’n bekende letterkundige my op ’n dag.

            “Want kinders hou daarvan om bang gemaak te word,” antwoord ek sonder om ’n oomblik na te dink.

            Om een of ander rede het hy my antwoord baie amusant gevind. Waarskynlik omdat hy gedink het ek spot.

            Maar die waarheid is, dis soms fantasties om te skrik. Veral as dit ’n lekker boekskrik is – die soort wat jou lank ná slaaptyd nog met ’n boek laat wakkerlê, en wat ná die lig afgesit is nog so bietjies-bietjies by jou spook en jou laat wonder of daar dalk iets onder jou bed wegkruip.

            Ek vrek nou nog oor ’n goeie grilstorie. Maar geen grillerige storie, hetsy boek of fliek, is ooit weer so goed soos dié wat jy gelees of gekyk het toe jy so nege of tien jaar oud was nie.

            Ek wéét party ouers hou nie daarvan dat hul kinders grillerige stories lees of kyk nie. (Net soos party mense jou dadelik sal waarsku dat die skynbaar onskuldige Halloween-viering uit allerlei onheilige tradisies spruit.) As jy weet jou kind het probleme met bangmaakgoed, is dit waarskynlik goed om hom of haar daarteen te beskerm. Maar andersins, as jou kind mal is oor grilboeke, asseblief, moenie hom of haar die lekkerte van ’n scary boek ontsê nie. Ek weet van menige ouer wat kan getuig dat grilboeke haar leestrae kind se leeslus laat vlamvat het.

            So, op die vooraand van Halloween, terwyl die Amerikaanse kinders in hul hordes die donker strate invaar met fantastiese kostuums (of dalk nie, want ek lees ook daar het "stranger danger" lankal sy tol geëis), gun jou kind ’n bietjie van die Halloween-pret en koop vir hom ’n lekker grillerige storieboek. Een wat julle dalk sommer so saam-saam kan geniet. Wie weet, dalk is jy die een wat vanaand wakker lê en wonder of daar iets onder die bed wegkruip ... 

Tuesday, October 19, 2010

Watter rympies uit jou kinderdae onthou jy nog?


“Watter rympies uit jou kinderdae kan jy die beste onthou?” vra iemand my anderdag.

            En dadelik kom ’n paar versies en grepe uit kinderrympies by my op.

            Toe ek klein was, was my ouma Catherina ’n bykans onuitputlike bron van versies wat sy indrukwekkend uit haar kop kon opsê. Ek is van kleins af lief vir vroeg opstaan, en ek onthou hoe lekker dit was om vroegoggend terwyl die res van die huis nog slaap, by Ouma Beaufort in die kombuis te sit terwyl sy gediggies resiteer.

My oupa Salomon, aan my pa se kant, was dalk nie soseer ’n rympie-mens nie (Jakkals-en-Wolf-stories was sy forté!), maar hy het ’n baie ondeunde sin vir humor gehad, en ek was nog baie klein toe hy my hierdie juweeltjie geleer het:

            Jan Tiet

            Jan Tat

            Jan Hawersak

            Jan Vinger-in-die ...

            Oukei, die res van die rympie is dalk nie heeltemal geskik vir publikasie op hierdie blog nie. Maar die kleintydlekkerte van daardie eenvoudige, ritmiese rympie, met vloekwoorde wat jy durf sê het omdat Oupa dit immers vir jou geleer het, dit kan ek baie goed onthou. In my eie versebundel ’n Brulpadda in my tas (LAPA Uitgewers, 2008) verskyn ’n gewysigde weergawe van Oupa se kleintydrympie, ’n grilrympie wat begin met die woorde:

            Jan Skeeloog

            Jan Kouebloed

            Jan Geeloog

            Jan Horrelvoet

            Ek het eers onlangs besef hoe ’n onuitwisbare indruk party van hierdie kleintydversies op my gemaak het. Uit die versebundels wat ons in Sub A in die klas gehad het, onthou ek:

            Jakkals nooi vir gansie

            kom eet vanaand by my

            Daar’s heerlike ou kossies

en uintjies uit die vlei.

En uit een van daardie andersins vervelige Afrikaanshandboeke wat ons op laerskool gehad het, die heerlike:

Wiele is ’n lekker ding

as hul oor die grootpad sing.

As jou ryding gladweg loop

wil jy sommer nog een koop.

Die afgelope paar jaar versamel ek bundels met Afrikaanse kinderverse. Een van my gunstelinge is W. Versfeld se Springbok Rympies en Stories Voor die Kinders, wat ek by my uitgewer en vriendin, Miemie, present gekry het. Die boek is weliswaar vol eerste pogings om bekende Engelse nursery rhymes in Afrikaans te vertaal, maar dit verteenwoordig die begin van ’n prettige tradisie van Afrikaanse kinderverse.

            ’n Mens kan baie skryf oor die opvoedkundige waarde van versies en rympies vir kinders, en die rol wat rym en ritme speel in taalontwikkeling, geheue-ontwikkeling, en dies meer. Maar ek laat dit maar voorlopig aan slimmer mense oor.

            Dis in die eerste plek die pret en avontuur en ondeundheid van my kleintydse gunstelingversies wat my geïnspireer het om self kinderrympies te skryf soos dié in Wurms met tamatiesous, ’n Brulpadda in my tas, Die Teddiebeerbus en My boetie dink hy’s Batman. En as ek die slag ’n versie skryf wat my plesier verskaf, is ek vir ’n oomblik terug op Oupa se stoep in Carnarvon se hoofstraat, in Ouma Beaufort se kombuis, of op die mat in juffrou Esmé Swanepoel se klas in Sub A.