Tuesday, February 9, 2016

5 redes waarom kinders versot is op reeksboeke


Byna twee jaar gelede het ek e-pos gekry van ’n ma wat vertel het hoe haar tienjarige seun, wat altyd ’n trae leser was, begin het om die Professor Fungus-boeke te verslind. Twee weke gelede kry ek weer e-pos van dieselfde ma, wat vertel haar seun is intussen met ’n vorm van disleksie gediagnoseer, maar hy is steeds ’n groot Professor Fungus-aanhanger en het onlangs spesiale vermelding in die klas gekry omdat hy so goed lees.
            In die verlede is daar dikwels neergesien op reeksboeke. Dit is beskou as nie “literêr” genoeg nie en daar is selfs beweer dit maak van kinders lui lesers. Deesdae besef baie ouers, onderwysers en bibliotekaresses gelukkig dat ’n lekker boekereeks dikwels die perfekte manier is om ’n huiwerige leser se leeslus te prikkel.
            Maar waarom hou kinders so baie daarvan om ’n reeks boeke te lees waarin dieselfde karakters verskyn?

1. Die karakters voel soos ou vriende. Eintlik is dit geen verrassing nie. Waarom kyk jy graag na jou gunsteling-TV-reeks? Heel moontlik omdat jy daarvan hou om te sien wat die karakters, met wie jy nou al goed vertroud is, in elke episode aanvang. Wanneer ’n leser byvoorbeeld ’n nuwe Zackie Mostert-boek optel, weet hy reeds wie hy tussen die blaaie gaan teëkom – die ondeunde Zackie en sy beste pel, Vincent, die klaerige mevrou Langenhoven van langsaan met haar nare kat, en Anton die skoolboelie wat sy bes probeer om Zackie se lewe te versuur.

2. Jy kan voorspel of jy van die storie gaan hou. Om ’n boek te kies waarvan jy hou, is nie altyd so maklik nie. Is jy al ooit deur ’n mooi voorblad of ’n oulike titel verlei om ’n boek te koop of uit te neem wat later blyk glad nie in jou smaak te val nie? Jong lesers het dieselfde probleem. Reeksboeke maak die keuse vir hulle makliker. As jy ’n Stalmaats-boek of ’n Nova-boek (Fanie Viljoen) of ’n Thomas@-boek (Carina Diedericks) gelees en daarvan gehou het, hoef jy waarskynlik nie te wonder of die res van die reeks in jou smaak gaan val nie.

3. Herhaling is pret. Onthou jy Saartjie se weerbarstige krul? Of Galpil van Trompie-faam wat almal “Ou Perd” genoem het? Of Liewe Heksie se groottoon wat so in die grond geboor het as sy verleë was? Deel van die lekkerte van ’n reeks boeke is om bekende sêgoed of frases of gewoontetjies telkens raak te loop. By Einstein se snor! (Soos professor Fungus sal sê.)

4. Reeksboeke het versamelwaarde. Ek was van kleins af ’n ywerige versamelaar – ek het in verskillende stadiums enige iets van seëls tot Pokémon-skyfies versamel. My reeksboeke het ’n ereplek op my boekrak. Al die Twilights en Harry Potters en Thomas@-boeke op my rak staan mooi langs mekaar, in volgorde – soos dit enige goeie versamelaarsitem betaam. As ek ’n reeks begin aankoop, háát ek dit as die omslagontwerp mettertyd verander of as ek ’n uitgawe kry wat anders lyk as die res – want tipies versamelaar wil ek hê al my boeke moet bymekaar pas.

5. Dit laat jou naels kou. Die navraag wat ek die meeste via my webtuiste en Facebook kry, is: Wanneer verskyn die volgende Stalmaats-boeke? Daar het nou reeds sestien boeke in die reeks verskyn. Elke boek kan afsonderlik gelees word, maar die stories volg ook logies op mekaar, met storielyne waarop algaande voortgebou word. Die aankondiging van die nuwe boeke se titels en die bekendmaking van die omslae op Stalmaats se Facebook-groep word deesdae met groot entoesiasme afgewag. Ek kry selfs boodskappe waarin lesers my probeer oorreed om solank te verklap wat volgende gaan gebeur! (Hou nog net ’n bietjie uit – nommer 17 en 18 verskyn later vanjaar!)


So, daar het jy dit – vyf goeie redes om jou kind aan reeksboeke bekend te stel. En moenie kla as jy binnekort boekwinkel toe moet ry om die res van die reeks aan te skaf nie ...