Wednesday, December 14, 2011

10 hoogtepunte van 2011

Verlede week het ek uiteindelik my dagboek vir 2012 gekry. So ’n lelike bruinrooie, nes verlede jaar s’n. Gratis met die komplimente van PostNet, nes verlede jaar s'n.

Diep in my hart is ek ’n vreeslike sentimentele wese, daarom bewaar ek elke jaar se dagboeke, al sedert my studentedae. Nie omdat ek regtig persoonlike inligting daarin skryf nie – ek het nog nooit dagboek gehou in die outobiografiese sin van die woord nie – maar om deur ou dagboeke te blaai gee ’n mens altyd so ’n lekker déjà vu-gevoel. Op hierdie-en-hierdie datum moes ek Kaap toe of Johannesburg of Durban toe vlieg vir ’n praatjie; op die soveelste van dáárdie maand het ek ’n radio-onderhoud gedoen; op ’n sekere datum moes ek ’n belangrike sperdatum haal.

So, hier is my 10 persoonlike hoogtepunte van 2011, nadat ek vir oulaas deur vanjaar se dagboek geblaai het:

* Ek het ’n grasperk geplant. Wel, om die eerlike waarheid te sê: Ek het kitsgras laat insit. Nes ek hier http://www.rapport.co.za/MyTyd/Nuus/Rubriek-Die-jaar-toe-ek-gras-geplant-het-20101229 belowe het. My agterste grasperk lyk pragtig. Die voorste een? Moenie vra nie. Groen vingers is nie een van my talente nie. Maar ek wóú mos. En moenie sê ek het nie by my nuwejaarsvoorneme gehou nie.

* Ek het die eerste vier boeke in ’n nuwe wetenskapfiksiereeks vir kinders voltooi. Die eerste twee is reeds geïllustreer en uitgelê en lyk fantasties. Die Professor Fungus-reeks verskyn vroeg aanstaande jaar.

* Ek het 'n huis in die Karoo gekoop. Op 21 Junie 2011 is die oordrag van my Carnarvon-huis uiteindelik afgehandel. Ek en Elize gaan nie eendag langs die see aftree nie ...

* Op die 24ste Junie het ek Oprah Winfrey in lewende lywe in Bloemfontein gesien. (Die Computicket-kaartjie ter waarde van ’n allemintige R10 pryk in my 2011-dagboek as bewys! En op my BlackBerry is ’n dowwe foto van die kletskoningin op ’n drafstap in haar eredoktorsgraad-toga, reg verby my stoel. Tot in daardie stadium het ek nog vas geglo ek word nie deur celebrities beïndruk nie.)

* Op die 2de Julie is my enigste suster getroud. Ek het haar intussen stelselmatig begin vergewe vir die feit dat ek seremoniemeester op die geleentheid moes wees.

* Op die 14de Julie het ek met Frank Opperman begin gesels oor ’n toneelstuk vir kinders. Kaptein Blitz en die skool vir superheroes is reeds goedgekeur vir volgende jaar se KKNK.

* 25 September: My en Elize se eerste huweliksherdenking. En ons ontdek die Truksvy B&B en Koffiesjop op Soutpan.

* November: Die nuwe Stephen King-boek verskyn. Soos gewoonlik neem ek my voor om dit te hou vir vakansieleesstof. Soos gewoonlik het ek dit lank voor die aanbreek van my Desembervakansie reeds klaar gelees. ’n Nuwe Stephen King-boek is altyd een van die hoogtepunte van my jaar. Get over it.

* Iewers tussen Oktober en November ontdek ek die Spur se R20-ontbyt. Ongelukkig is kos, nes nuwe Stephen King-boeke, hoog op my lys van dinge wat as hoogtepunte tel.

* En les bes, die allesoorheersende inskrywing in vanjaar se dagboek: Op die 19de Junie, op Vadersdag, het ek uitgevind ons gesin gaan binnekort nie meer net uit my en Elize en die twee honde bestaan nie. Ek en my pa verjaar albei op die 22ste Februarie, en as alles volgens plan verloop, gaan ons dogtertjie haar opwagting iewers tussen die 17de en die 25ste Februarie maak. Die beste rede ooit om uit te sien na 2012!

So, vir eers is dit oor en uit van my kant. Mag jy ’n rustige Feestyd hê, en ’n nuwe jaar propvol opwindende hoogtepunte in jou dagboek!