Monday, June 27, 2011

Waarom word prenteboeke nie behoorlik geresenseer nie?





Ek weet nie hoeveel mense dit besef nie, maar in ons huidige finansiële klimaat is die publikasie van ’n oorspronklike Afrikaanse prenteboek so amper-amper ’n wonderwerk.

’n Wonderwerk dat skrywers nog bereid is om prenteboeke te skryf, want die outeursgeld wat jy op so ’n boek verdien, is maar skraps.

’n Wonderwerk dat daar nog illustreerders (en góéie illustreerders, boonop) is wat bereid is om prenteboeke te illustreer, want dit verg dikwels maande en maande se werk, ’n stel volkleurskilderye waarvoor jy nou nie juis ’n king’s ransom verdien nie.

’n Wonderwerk dat uitgewerye nog bereid is om oorspronklike Afrikaanse prenteboeke te publiseer, ondanks die feit dat dit heelwat goedkoper en makliker is om oorsese boeke te vertaal en in koproduksie met groot internasionale uitgewershuise te produseer.

Tog is ek oneindig dankbaar daaroor, want van die prettigste en kreatiefste skryfwerk wat ek tot dusver gedoen het, was prenteboektekste. Liewe land, ’n olifant! en Madelief, moenie! was enorme pret om te skryf. So ook Waarvoor is seerowers bang?, wat oor ’n paar maande verskyn.

Martie Preller se Babalela het verskyn in ’n tyd toe uitgewers dit eintlik nie wou waag om prenteboeke te publiseer nie. ’n Hele geslag Afrikaanse kinders het met Babalela grootgeword; het geleer dat dit oukei is om, as mense aanhou karring aan jou, soms te sê: “Los my uit!”

Dit sou ’n reuseverlies wees as boeke soos die Babalela-reeks, Wat doen jy, Daniël? van Leon de Villiers, Niki Daly se Jamela-boeke, die hartroerend mooi Lena se bottelboom van Wendy Maartens, en Alana Bailey se Die prinses van die Afrikavlaktes nooit in Afrikaans verskyn het nie.

So, nou is my vraag: Waarom word Afrikaanse prenteboeke selde of nooit behoorlik in die media bespreek?

As daar na ’n nuwe prenteboek op ’n koerant of tydskrif se boekeblad verwys word, is dit gewoonlik bloot ’n kort aankondiging. Of een van die subs kry die geleentheid om in 'n paar woorde te skryf wat sy/haar kinders van die boek gedink het. 

Prenteboeke is baie kleuters se eerste kennismaking met stories in Afrikaans – maak dit dan nie sin dat hul liefde vir lees reeds met hierdie kennismaking gevestig kan word nie? As jy so daarna kyk, hoe op aarde kan die waarde van prenteboeke (en ander kinderboeke, wat net so gruwelik afgeskeep word) dan nog in ons literêre sisteem gering geskat word? Daar is tog sekerlik resensente wat genoegsame agtergrondkennis het om ’n behoorlike ontleding van ’n prenteboek te kan doen?

Waarom skryf niemand ooit oor hoe subtiel en humoristies die ernstige “boodskap” van die teks gehanteer word in Niki Daly se Moenie vir Bernard soen nie en Wat is jy, Kartoffel? van Marga Jonker?

Waarom gaan die debuutwerk van talentvolle nuwe illustreerders soos Chris Venter, Maja Sereda, Katrin Coetzer, Sebastien Quevauvilliers en Zunica Joao so ongesiens verby? Hoekom kan ’n resensent met ’n deeglike agtergrond in illustrasie nie ’n slag ’n onderhoudende resensie oor hierdie illustreerders se werk skryf nie?

Waarom tref niemand ooit 'n vergelyking tussen die gehalte van plaaslike prenteboeke en dié wat oorsee verskyn nie?

Waarom kry prenteboeke so dikwels slegs media-aandag as daar ’n celebrity angle daaraan gegee word? (En gewoonlik is die gehalte van sulke boeke juis onder verdenking.)

Die Afrikaanse media behoort nie kinderboeke te ignoreer nie. Dit is nie ’n Mickey Mouse-genre nie; kinderboeke is ’n genre met sy eie publikasiewetenskap, sy eie tradisies en norme en klassieke tekste.

En dit is die genre wat hopelik in die toekoms lesers vir Afrikaans sal help verseker. Dis nou te sê as daar oor tien jaar nog oorspronklike Afrikaanse prenteboeke verskyn.

Tuesday, June 7, 2011

Stalmaats


Nou ja, dis amptelik: Die elfde en twaalfde (en voorlopig laaste) van die Stalmaats-boeke is vanoggend na die uitgewer toe. Die titels is (voorlopig) Sirkusperde en Afskeidsrit.

Die druk kan nogal erg word as mens ’n reeks boeke skryf – ’n keer of wat was daar al omslae gereed vir boeke waarvan ek die storie nog nie eens klaar geskryf gehad het nie en waarvan die sperdatums gevaarlik naby was. Maar dit is ook elke keer lekker as jy weer met die bekende karakters en ruimtes begin werk. Teen hierdie tyd is daar al prentjies in my kop van Anri-hulle se huis, van hoe die Dagbreek-ryskool se uitleg lyk, en natuurlik van hoe Anri, Megan, Karen, Jacques, Vinette en al die ander karakters lyk. 

Regdeur die reeks was dit pret om vir Hendri nuwe obsessies uit te dink (as hy nie ’n brandweerman wil word nie, wil hy in die sirkus gaan werk – nes ekself toe ek ’n kleuter was) en met nuwe dinge vorendag te kom waarmee Karen die immer katterige, verwaande Vinette kan toesnou (“Het jy dan nie iets om te doen vandag nie, Vinette? Jy weet, soos ’n beauty treatment ... ek hoor daar’s vandag spesiale afslag by die kattesalon.”).

Maar dit is ook ’n uitdaging om elke storie uniek te hou, sodat die reeks nie eentonig word nie. Boek 12 is nogal hartseer, moontlik omdat ek nogal treurig was om afskeid te neem van die reeks.

Ek dink ek het dit al voorheen op hierdie blog gesê, maar hier's dit weer: Navorsers sê lesers geniet reeksboeke omdat hulle met vertroude karakters en situasies en ruimtes te doen kry, en dit is waarskynlik die lekkerste deel daarvan om ’n reeks te skryf ook.

Gaan daar nog Stalmaats-boeke wees? As dit van my uitgewer afhang, beslis. Maar vir nou wil ek eers ’n blaaskans neem. “Lize Roux” is besig om oor ’n nuwe reeks te broei ...

* Sirkusperde en Afskeidsrit verskyn, as alles volgens plan verloop, Oktober by LAPA Uitgewers.
* Hier is al die titels in die reeks:

1. Perdedrome (LAPA, 2006)

2. Totsiens, Sugarplum (LAPA, 2006) – Wenner: ATKV-kinderboektoekenning 2007

3. Anri se plan (LAPA, 2007)

4. Die spookperd (LAPA, 2007) – Wenner: ATKV-kinderboektoekenning 2008

5. Die beroemde ruiter (LAPA, 2008)

6. Komaan, Karen! (LAPA, 2008)

7. Seeponies (LAPA, 2009)

8. Roset (LAPA, 2009)

9. Vrye Teuels (LAPA, 2010)

10. Gevaar op Dagbreek (LAPA, 2010)

11. Sirkusperde (LAPA, Julie 2011)

12. Afskeidsrit (LAPA, Julie 2011)