Sunday, April 17, 2011

Onderhoud met kinderboekskrywer Christie Nortjé


Christie Nortjé se heel eerste kinderboek, Spinnekopspeletjie, is met die ATKV-kinderboektoekenning bekroon, waar lesers self die wenboeke aanwys. 

 

Vertel ons ’n bietjie oor jouself – waar het jy skoolgegaan en grootgeword?

Ek is in Bloemfontein gebore en het hier grootgeword. Ná skool het ek Grafiese Ontwerp by die destydse Technikon Vrystaat gestudeer. Ná die voltooiing van my diploma, het ek as ’n illustreerder by ’n grafieseontwerpfirma gewerk. Ná ’n jaar is ek terug Technikon toe en het ek deeltyds klasgegee en as vryskutontwerper gewerk terwyl ek my graad in Grafiese Ontwerp voltooi het.

Ek kon nie aan ’n lekkerder werk dink as om klas te gee vir studente nie en werk nog steeds by die Technikon Vrystaat, wat nou die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Vrystaat genoem word.

Ek het ook ’n Nasionale Diploma in Verpakkkingstegnologie verwerf deur die Instituut van Verpakking in Johannesburg en elke kursus moontlik gedoen in filmproduksie.

 

Was jy as kind ’n ywerige leser?

Vreeslik! Ek het aan die Daan Retief-boekklub behoort en dit was elke maand my hoogtepunt om te sien watter boeke ek daardie maand kry. Die meeste van die tyd was ek lank voor die maand se einde klaar gelees aan my boeke en dan het ek hulle weer van voor af begin lees. My ma-hulle kon dit nie verstaan nie! Die beste van alles is dat ek nog steeds daardie boeke op my boekrak het!

 

Waar kom jou belangstelling in skryf vandaan? Wanneer het jy begin skryf?

In Sub B (of eerder graad twee) moes ek ’n opstel oor “somer” skryf. Ek het geskryf oor hoe my pa my en my boetie op sy rug in die swembad laat ry asof hy ’n dolfyn is. My opstel is in die jaarblad geplaas en ek het gedink ek is die bruin in tjoklit! Ek kon nie verstaan hoekom ek nie die jaarblad (met my ongelooflike opstel) op die boekrak in die Pick ’n Pay sien nie!

 

Watse werk doen jy wanneer jy nie skryf nie?

Ek is die Programhoof van Grafiese Ontwerp by die Sentrale Universiteit vir Tegnologie, Vrystaat.

 

Van jou stories, soos Spinnekopspeletjie en die kortverhaal “Is my ma ’n ruimtewese?” in Sweef, is lekker grillerig (en snaaks). Hou jy baie van grilstories?

Daar is niks lekkerder as om ’n grilstorie in jou eie taal te lees nie! Gelukkig is “om te lag” ook boaan my lys van lekker dinge. Ek geniet die grilstories wat deesdae beskikbaar is vreeslik baie. Op skool moes ek maar tevrede wees met Engelse grilstories en die stories was meestal oor vampiere. Ek het so baie van vampiere gelees, dat ek seker is dat ek nie ’n vampier ken nie en doodseker is dat ek sal weet as ek een ontmoet.

 

Hoe het die idee vir Spinnekopspeletjie ontstaan?

Ek is versot op speletjies en was in die winkel op soek na een. Twee seuns het op die PlayStation in die winkel ’n gevegspeletjie gespeel en die een het vir die ander een gesê: “Ek hou daarvan om teen jou te baklei, want jou mannetjie lyk soos meneer Odendaal ...”

Tussendeur die lag heen het ek gedink dit sou lekker wees as daar ’n speletjie was waar jy regtig jou onderwyser so ’n paar klappe kon gee en dit is waar die idee van Spinnekopspeletjie ontstaan het.

 

Watter dinge inspireer jou wanneer jy skryf?

Mense! My karakters is gewoonlik iemand wat ek iewers raakgeloop het ...

 

Watse raad het jy vir aspirantskrywers wat graag kinderboeke wil skryf?

Lees alles wat jy kan, maar omdat jy wil en nie omdat jy moet nie. Moet nooit bang wees om iets te skryf nie, want iewers sal daar iemand wees wat jou storie wil lees.