Wednesday, January 18, 2012

2012 teen ’n (blog)slakkepas

Hier is dit sowaar al die 19de Januarie, en ek plaas nou eers my eerste bloginskrywing vir die jaar. Skandelik.

Ek het darem nie die eerste byna drie weke van 2012 in alle opsigte teen dieselfde slakkepas begin nie. Ek is byna twee weke lank terug in die soutmyn, en ek het so tussendeur ’n manuskrip klaargemaak en voorgelê, aan ’n nuwe storie begin werk (waaroor ek baie opgewonde is, soos ’n mens veronderstel is om te wees oor ’n storie waarvan jy nog net vier hoofstukke geskryf het), en ek is besig om by te skryf aan ’n niefiksieboek wat later vanjaar verskyn.

Aan die begin van die jaar dink ek altyd: Vanjaar gaan ek sweerlik niks geskryf kry nie – ek het nie één enkele idee nie. Maar op een of ander manier gebeur dinge darem (touch wood!) altyd, selfs al doen ek nie noodwendig goeie voorafbeplanning nie. Iemand sê nou die dag vir my: Skryf nou soveel soos jy kan, want as die baba eers daar is, gaan jy minder tyd kry. Maar ek troos myself daaraan dat ek in die verlede gewoonlik op my produktiefste was wanneer ek baie gehad het om te doen en tussendeur alles in afknyptydjies moes skryf. (En nou hoop ek natuurlik hierdie is nie my beroemde laaste woorde nie ...)

O ja, die afgelope week het ek ook my laaste rubriek vir Rapport klaargemaak. Die koerant se tydskrif gaan ’n opwindende revamp kry, en die rubrieke waai. Dit was nogal hartseer om ná jare afskeid te neem van my rubriekruimte, maar ek gaan darem voort met my kwartaallikse rubrieke vir Baba & Kleuter en élan.

Hierdie week het ek proefillustrasies gekry vir ’n nuwe kinderboekreeks van my wat later vanjaar verskyn. Ek en my uitgewer is mateloos opgewonde oor die pics. Dis ’n nuwe illustreerder, wat klaarblyklik ook boekontwerp verstaan. Ek kan nie wag om die finale produk te sien nie.

Nou ja, vanoggend was ek lui vir skryf, want die ergste hitte in Bloem is effens gebreek deur ’n lekker reënbui wat gisteraand uitgesak het, en ek het met Pippie gaan stap eerder as om tyd voor my Mac deur te bring – so, daarom het ek maar gou voor werk hierdie paar woorde vir my blog kom skryf. En nou is dit volstoom aan die werk. (Of dalk moet ek eers gaan koffie maak ...)

Voorspoed vir 2012!