Thursday, January 17, 2013

10 skreeusnaakse (dog effe "af") boeke wat jy op Amazon kan kry


So dan en wan maak ek ’n draai op Amazon, en die boekaanbevelings onderaan die bladsy kan jou soms na vreemde leesstof lei. Hier is ’n paar skreeusnaakse boeke waarop ek onlangs afgekom het. Wees gewaarsku, dis daardie soort kinderboeke wat jy waarskynlik NIE vir jou kleinding wil aanskaf nie (dink Go the f**k to sleep), maar 'n paar van hulle sal ek baie graag by my eie boekversameling wil voeg ...


* All my friends are dead: http://www.amazon.com/All-My-Friends-Are-Dead/dp/0811874559/ref=pd_sim_b_4 (Daar is ook ’n opvolgboek, All my friends are still dead.)

* I hate everything: http://www.amazon.com/I-Hate-Everything-Matthew-DiBenedetti/dp/1440506388/ref=pd_sim_b_6 (As jy van hierdie een gehou – of dit gehaat het – kan jy nog ’n boek deur dieselfde skrywer aanskaf, getiteld I hate everyone.)





* Maybe your leg will grow back: Looking on the bright side with baby animals: http://www.amazon.com/Maybe-Your-Will-Grow-Back/dp/0062065076/ref=pd_bxgy_b_text_z (Deur die skrywers van Grandma’s dead en Why is Daddy in a dress?)



Thursday, September 20, 2012

’n Belangrike titel




Ek dink nie daar is baie lesers wat twyfel oor die belangrikheid van ’n boek se titel nie. Party titels smeek jou byna om die boek oop te maak en te begin lees. (Oukei, of dan om dit deesdae op jou Kindle of iPad af te laai.)
Selfs voordat ek dit gelees het, was ek al versot op The Curious Incident of the Dog in the Night-time en Miss Peregrine’s School for Peculiar Children. Een van my gunstelingtitels (en -boeke) is Jonathan Safran Foer se Extremely Loud and Incredibly Close – dis een van daardie boeke wat geen ander titel kon hê nie. Gister loer ek op Amazon rond en kom weer op twee paar fantastiese aandagtrektitels af: This Little Piggy Went to the Liquor Store (A.K. Turner) en A is for Ketchup (’n alfabetboek vir kinders deur Xavier Finkley). Min mense kan by Louise Rennison (of haar bemarkingspan) kers vashou wanneer dit kom by die uitdink van titels. Haar Confessions of Georgia Nicholson-reeks bevat juwele soos It’s Okay, I’m Wearing Really Big Knickers, Knocked Out by My Nunga-Nungas en ... And That’s When It Fell Off in My Hand.
Nes mooi voorblaaie ’n mens deesdae kan verlei om ’n boek te koop wat jy later teleurstellend vind, is daar deesdae sekerlik die gevaar dat ’n funky titel jou kan oortuig om ’n flouerige boek aan te skaf. Vroeër jare het skrywers (en hul uitgewers) skynbaar minder moeite gedoen om die soort titels uit te dink wat kop en skouers bo die res uitstaan. Waarskynlik omdat daar nie elke jaar miljoene boeke verskyn het waarbo jy kop en skouers moes probeer uitstaan om ’n paar eksemplare verkoop te kry nie. Ek wonder wat sou A Christmas Carol, The Adventures of Tom Sawyer en Anne of Green Gables geheet het as hulle vandag se dae moes verskyn.
Om die regte titel vir ’n boek te kry is nie altyd kinderspeletjies nie. Liefde laat jou Rice Krispies anders proe was destyds al gereed om drukker toe te gaan, toe het ons steeds nie ’n titel daarvoor nie. (Wel, nie ’n titel waarmee my uitgewer tevrede was nie.) Oplaas het sy deur die proewe geblaai en afgekom op die sin wat die titel geword het. Sedertdien het prettige titels in ’n mate Tania Brink se kenteken geword. (’n Reeks ouer Afrikaanse liefdesverhale vir tieners is selfs onlangs herdruk met titels wat besonder baie aan Tania s’n herinner ... Maar wat, die Engelse spreekwoord lui mos: Imitation is the most sincere form of flattery! En daar bestaan buitendien nie kopiereg op ’n titel nie.)
Met Suurlemoen! was dit dieselfde storie. Ek wou die boek Suurlemoen! noem. My uitgewer het vasgeskop. Die titel sê niks oor die feit dat dit oor twee ouens gaan wat hul eie band begin nie, was haar beswaar. Dit het niks met musiek te doen nie. Dis vervelig. (Die skok! Hoe kan ’n titel met ’n uitroepteken aan die einde vervelig wees? wou ek verontwaardig weet.) Eindelik het ’n tienerleser voorgestel dat ons die boek ’n subtitel gee – ’n Storie oor liefde, rock en ’n tuinkabouter. Probleem opgelos!
’n Ruk gelede het ek op hierdie blog vertel hoe ek begin werk het aan ’n storie uit die “storiebegraafplaas” op my rekenaar. Wel, die manuskrip is voltooi en my uitgewer is mal daaroor. Die enigste probleem is ... die titel. Die titel wat in my oë so vars en funky en oorspronklik en skreeusnaaks was, moet verander.
Sug. Soms is dit makliker om ’n paar hoofstukke oor te skryf as om ’n nuwe naam vir jou boekbaba uit te dink. Om die waarheid te sê, ek en Elize het aansienlik minder kopgekrap toe ons ons ongebore baba se naam moes uitdink as wat ek gewoonlik swoeg en sweet om die regte titel vir ’n boek te kry. Gelukkig is daar nog ’n rukkie tyd voor die “doop’. Ek sal julle laat weet sodra ek met iets vorendag kon kom.

Wednesday, August 1, 2012

Hoekom skryf ek?


Ek het die afgelope tyd twee skrywers by verskillende geleenthede min of meer die volgende hoor sê (of gesien skryf): “’n Mens skryf om onsterflik te word.” Of: “’n Mens behoort elke dag te probeer om die soort boeke te skryf wat eendag klassiek sal word.”
            Sjoe, en hier sit ek nou al jare lank voor my rekenaar en skryf met ’n veel ligsinniger doel voor oë. Trouens, meeste van die tyd het ek absoluut geen idee met watter doel voor oë ek nou eintlik skryf nie. Maar oor een ding is ek redelik seker ... dis beslis nie met die doel om onsterflikheid te bereik nie.
            As jy nog hieroor twyfel, gaan soek gerus op Wikipedia ’n lys van al die Oscars wat oor die jare vir die beste akteur/aktrise toegeken is en kyk hoeveel van daardie mense se name jy al in jou lewe gehoor het. En selfs al het jy ’n klassieke boek neergepen en ken pretensieuse letterkunde-eerstejaars eeue van nou af nog jou naam, gaan dit jou in my beskeie, pragmatiese mening steeds nie onsterflik maak nie. Die storie van Alice in Wonderland mag voortleef, selfs in ’n onlangse Tim Burton-fliek, maar Lewis Carroll is ongetwyfeld dood en het waarskynlik nie daardie Burton-poging te siene gekry nie. (Tensy Ster Kinekor vertonings in die hiernamaals reël ...)
            Nou, voor jy dink ek is besig om een of ander uitsiglose lewensfilosofie hier uit te stal, wees verseker dat ek glad nie ontnugter is deur of depressief is oor die feit van my eie onsterflikheid of die oënskynlike gebrek aan klassieke status wat my skryfsels tot dusver openbaar nie. As ek regtig ’n oomblik rustig word en nadink oor waarom ek skryf, is dit eintlik maklik om die redes op te noem:
* Ek skryf omdat ek dit geniet. Te veel mense wat ek ken, haat hul werk. Ek geniet meestal myne. Dis terloops ook die antwoord op die stofgetrapte vraag: “Hoekom skryf jy kinderboeke? Waarom skryf jy nie ’n slag ’n roman vir volwassenes nie?” Hoekom is daar nog steeds die idee dat skrywers gefolterde siele is wat moet swaarkry ter wille van hul kuns? Dis trouens ’n idee waarmee ek grootgeword het en waarby ek as gefolterde jong tienersiel sterk aanklank gevind het. Boeke is fantastiese goed, maar boeke is nie belangriker as mense nie. As skryf jou sielsongelukkig maak, hou op daarmee.
* Ek skryf omdat ek stories wil vertel. Van kleins af was ek versot op stories. Die krag van “Wat as ...?” en “Wat het toe gebeur ...?”.
* Ek skryf omdat ek nie ’n rockster kon word nie. In ’n parallelle heelal is ek die hoofsanger van ’n band soos My Chemical Romance. Maar in hierdie heelal, glo my, wil jy my beslis nie hoor sing nie. En ek het al in standerd een moed opgegee met die idee om eendag ’n musiekinstrument te bemeester. So, ek sing soos ek gebek is en hou my by my lees – en al kan ek nie sing nie, kan ek hopelik mense laat lees. (En daarmee verdien ek die toekenning vir vreemdste sin van die dag.) 
* Ek skryf om geld te verdien. WAT?! HET HY DIT REGTIG GESÊ?! Jip. Daar is skynbaar ’n soort ongeskrewe reël dat skrywers – die goeies in elk geval – nie veronderstel is om regtig geld te maak nie. Dat jy moet ly ter wille van jou kuns. (Was dit Opperman wat daarvan beskuldig is dat die “sak” eerder as die “saak” soms vir hom belangrik is?) Wel, laas toe ek gekyk het, was die prysgeld vir die Nobelprys vir Letterkunde sowat $1,4 miljoen. My ondervinding is dat sommige “ernstige” skrywers neersien op die idee dat jy geld behoort te verdien met jou skryfwerk. Ek daag hulle uit om hul volgende roman of digbundel gratis op hul blog beskikbaar te stel. Of blog ernstige skrywers nie?
Ek skryf nie om my eie ego te streel nie. Ek skryf omdat ek van stories hou. Ek skryf vir ander mense wat van stories hou. Of mense oor 50 jaar nog van my stories gaan hou of dink dis relevant, skeel my eintlik nogal min.
Tot sover my preek vir vandag. Ek het ’n manuskrip om te gaan redigeer. En ek weet nie of my agterkleinkinders dit nog eendag sal wil lees nie, maar ek hou duim vas dat die tieners wat tans my boeke koop en lees, daarvan gaan hou ...

Wednesday, June 20, 2012

Die storiebegraafplaas


Ek was kleintyd gefassineer deur die idee van die olifantbegraafplaas – daardie legendariese plek waarheen olifante gaan om te vrek, en waaroor ivoorjagters jare gelede natuurlik gedroom het. Groot was my teleurstelling natuurlik toe ek later jare uitvind dis net ’n mite.
            Op my rekenaar se hardeskyf is egter die storie-ekwivalent van die olifantbegraafplaas. Elke nou en dan probeer ek die magdom lêers tot een of ander vorm van orde rangskik, en dan kom ek altyd af op storie-idees wat om een of ander rede gesneuwel het. Dis meestal nogal opwindend om so ’n ou storiekonsep op te grawe.
Myne val gewoonlik in een van drie kategorieë:
1. Volslae flops
As hierdie ’n olifantbegraafplaas is, is dié die karkasse wat so lank reeds dood is dat nie eens die ivoor gered kan word nie. Onlangs kom ek af op twee paragrawe van ’n storie wat ek jare gelede aangepak het. Die titel daarvan is Maandou, en dit gaan oor ’n meisie wat ’n oulike troeteldrakie het. Sidder. Ek kan al voor my geestesoog die afkeurbrief sien wat ek vir myself sou skryf as ek so ’n gruwelike pleegsel moes lees.
2. Flops met beperkte potensiaal
Oukei, kom ek bly by my simpel olifantbegraafplaas-metafoor. Hierdie outjies is dood, geen twyfel daaroor nie, maar plek-plek is daar iets wat jy kan red – noem dit maar die ivoor. Die titelgedig uit my bundel Wurms met tamatiesous en ander lawwe rympies kom uit ’n storie wat ek vroeër jare vir ’n opvoedkundige uitgewery geskryf het, en wat nooit die lewenslig aanskou het nie. Selfs my jeugroman Suurlemoen! is gebou uit die geraamte van ’n vroeëre tienerboekpoging getiteld Breindood, wat ook gesneuwel het.
3. Stories wat voortydig in die begraafplaas beland het.
Dis die olifante wat nog met ’n bietjie hulp gered kan word. Dis altyd opwindend om so ’n storie-idee tussen die geraamtes te ontdek – en dit is ook die rede waarom ’n mens nooit ou lêers voor die voet moet uitwis nie.
Op ’n dag wonder jy skielik wat in daardie vreemde lêer met die titel “Seerowers.doc” is. Jy maak dit oop en al wat jy kry, is die titel van ’n storie wat nooit geskryf is nie: Seerowers was nie agter hulle ore nie. En skielik onthou jy wat jy in gedagte gehad het: ’n storie oor seerowers wat nie van bad hou nie, en ’n kind wat hulle moet oortuig om te bad. Jare nadat jy die aanvanklike idee neergeskryf en in ’n doodloopstraat beland het, het jou kop uiteindelik die storie uitgepluis. Dit is hoe ek Waarvoor is seerowers bang? geskryf het.
Nog ’n boek wat op dié manier ontstaan het, is Al die meisies hou van Divan Louw. My alter ego Tania Brink het ’n paar jaar gelede die eerste hoofstuk van die storie geskryf en dit toe laat vaar. En toe kom ek verlede jaar daarop af, en ek is mal oor die titel en die hoofkarakter, en skielik weet ek presies wat in die storie moet gebeur. Gelukkig het ek met die eerste skryfpoging ’n paar notas gelos om die pad te beduie – al is dit nogal soms ’n stryd om daardie einste notas te ontsyfer.
Net vanoggend het ek weer ’n lêer met die eerste hoofstuk van ’n tienerverhaal ontdek. En skielik wonder ek ... waarom het ek nooit daardie storie aangepak nie? Was ek te besig? Kon ek nie uitpluis wat verder moet gebeur nie? Was ek bloot nie opgewonde oor die idee nie? Kan hierdie olifant dalk met mond-tot-slurp gered word ...?
Wel, kom ons kyk maar wat gebeur. Ek het hom mooi van kop tot stert ondersoek, en glo dit of nie, daar is ’n hartklop ...

Monday, June 4, 2012

Al die meisies hou van ...

Ta-daaa! 'n Splinternuwe boek uit die pen van my goeie vriendin Tania Brink ...



Om Divan Louw aantreklik te noem, is soos om te sê Mount Everest is hoog of Antarktika is koud – dis wáár, maar dit vertel nie naastenby die hele storie nie.
Dit sê byvoorbeeld niks van sy vierkantige ken wat hom soos ’n model in ’n parfuumadvertensie laat lyk nie.
Dit sê ook niks oor die kleur van sy oë nie – geheimgroen, seepsteengroen, stoutgroen.
En dit sê geheel en al niks van sy blonde hare wat parmantig orent staan en sy bruingebrande maagspiere nie ...
Ek ken sy tipe: Sulke ouens dink gewoonlik hulle is die beste ding sedert die iPhone uitgevind is – en meeste van die tyd het hulle die IK en persoonlikheid van ’n brood.
Beslis nie my koppie rooibos nie.
Maar dalk kan ek hom gebruik om ’n paar probleme op te los ...

Wednesday, May 9, 2012

En nou vir 'n advertensiebreuk ...


Ons onderbreek hierdie uitsending vir ’n kort advertensieflits: Twee van my (langer) kortverhale is nou as e-boeke beskikbaar. Ek het die stories spesiaal vir LAPA Uitgewers geskryf sodat dit in e-formaat kan verskyn. Die liefdesverhaal Ek is mal oor jou (en Wimpy-milkshake) en die griller Elsie Eenoog is eksklusief as e-boeke beskikbaar. As jy hulle op Kalahari.com koop, betaal jy net R17,95 elk! Klik op die skakels:


Tuesday, May 8, 2012

Uitgewerskontrakte, VVV’s en huiswerkvretende renosters

Ek voel deesdae oor sommige opvoedkundige uitgewerye soos ek oor die bestaan van VVV’s voel. Immer hoopvol dat ek eendag aangenaam verras sal word, maar in my diepste binneste erg skepties.
As jy “UFO” op Google intik, kry jy tans ongeveer 231 miljoen trefslae. As jy egter (tydens die skryf hiervan) die woorde “a rhino ate my homework” google, lewer dit presies een resultaat op – nie die titel van ’n boek nie. En tog verdien ek tans (skrapse) outeursgeld op ’n boek met daardie titel wat ek ’n paar jaar gelede vir ’n relatief onbekende opvoedkundige uitgewery geskryf het. Ek het die boek nog nooit met my eie oë gesien nie. Herhaalde e-posse aan die betrokke uitgewery waarin ek smeek en soebat om ’n kopie daarvan in die hande te kry, val telkens op dowe ore. As daar dus iewers ’n blogleser is wat ’n eksemplaar van A rhino ate my homework iewers te siene kry, stuur asseblief dadelik stawende foto’s en ’n gedetailleerde ooggetuieverslag – dis immers meer seldsaam as ’n UFO sighting, as jy Google kan glo.
By ’n ander, heel bekende, opvoedkundige uitgewery sukkel ek en ’n paar medeskrywers al sedert 2009 om terugvoering te kry oor ’n bundel waarin ons kortverhale gepubliseer is. Ons het nooit kopieë teruggekry van die kontrak wat ons onderteken het nie, ons het nog nie ’n sent outeursgeld ontvang nie, en die uitgewery sê (uiteindelik!) bloot hulle kan nie outeursgeld begin betaal alvorens al die skrywers wat tot die bundel bygedra het, se voltooide kontrakte ontvang is nie. Dus: Nie hulle probleem nie. Joune. O ja, en let wel: Voordat outeursgeld uitbetaal kan word, is daar nog meer as R20 000 koste wat die uitgewery aangegaan het en wat van die outeursgeld verhaal moet word. Wat beteken as die bundel lank genoeg in druk bly, sal my agterkleinkinders dalk eendag die eerstes wees wat ’n paar sent daaruit maak. Met liefde van hul oorle’ oupagrootjie.
By nog ’n opvoedkundige uitgewery moes ek sowat drie jaar smeek en dreig voordat ek outeursgeld begin ontvang het. Noudat ek wel op hulle betaalstelsel is, gebeur dinge soos reën in die Karoo – selde en met onbetroubare reëlmaat. Soms kry ek uit die bloute ’n paar rand; ander kere gaan ’n jaar of wat verby sonder dat ek of my bankrekening enige iets van hulle hoor. Ek het, sover ek kan onthou, nog nooit ’n tantièmestaat van hulle gekry nie.
So, watter les is hieruit te leer? Ek is nie seker nie. Miskien dat jy jou huiswerk moet doen voordat jy jou storie sommer goedsmoeds aan ’n uitgewery toevertrou. Uiteraard is nie alle kleiner uitgewerye onbetroubaar nie; net soos nie alle groot uitgewerye altyd jou beste belange op die hart dra nie. Van die boeke en verhale wat ek by opvoedkundige uitgewerye gepubliseer het, is baie keurig versorg en uitgegee, en daar is geen probleme met kontrakte en outeursgeld nie.
Maar ongelukkig is nie almal so betroubaar nie. Daar’s deesdae skynbaar volop uitgewerye wat hoop om ’n vinnige paar rand uit die skolemark te verdien, en nie noodwendig skrywers se belange op die hart dra nie. Maak seker jou storie of boek gaan die beste moontlike behandeling kry in terme van redigeerwerk, die uitgeeproses en bemarking, en dat jy deur ’n behoorlike kontrak beskerm word. Dankie tog vir Facebook en ander sosiale media, waar jy deesdae by ander skrywers kan aanklop om te hoor wat hulle ondervinding van ’n sekere uitgewery is.
Die meeste skrywers het waarskynlik (soos ek) min regsagtergrond, maar probeer sover moontlik die kontrak uitpluis voordat jy dit onderteken, en maak seker jy weet presies waarvoor jy jou (en jou storie) inlaat. Moenie skroom om vrae te vra nie, en maak seker jy ontvang ’n getekende afskrif van die kontrak.
Of maak vriende met ’n slim prokureur ...

Nagedagte: Danksy hierdie bloginskrywing, sal die woorde “a rhino ate my homework” ten minste ná dese meer as een trefslag oplewer.