Monday, July 25, 2011

Moet ek liewer ophou skryf?



Ek kry gereeld briewe van gefrustreerde aspirantskrywers wat wil weet: Is dit die moeite werd om aan te hou met skryf? My manuskrip(te) is deur byna elke moontlike uitgewery afgekeur en ek weet regtig nie meer of ek enige skryftalent het nie. Is uitgewers bang om nuwe skrywers se boeke te publiseer? Moet ek ’n professionele proefleser kry om my manuskrip te versorg? Moet ek na ’n skryfskool toe gaan? Wat wil uitgewers nou eintlik hê?

Dis vir my baie moeilik om te sê wat jou te doen staan. Ongelukkig is dit waar dat mens 'n dik vel moet hê in hierdie bedryf. Mense is dikwels verbaas om te hoor dat skrywers wat reeds baie gepubliseer het, steeds afkeurbriewe kry, maar dit is regtig waar. Op my hardeskyf is talle stories wat nie die mas opgekom het nie. Baie van my stories is deur ’n lang en uitputtende herskryfproses voordat hulle vir publikasie aanvaar is.

As 'n manuskrip deur twee of drie uitgewerye afgekeur is, beteken dit nie noodwendig dit het nie meriete nie (almal noem altyd die voorbeeld van die eerste Harry Potter-boek wat glo deur byna elke Britse uitgewery afgekeur is – lees http://labarker.com/HarryPotter/howharry.html vir ’n interessante bespreking daaroor), maar my eerlike opinie: As dit my storie was, sou ek dit eers los en aan iets nuut begin werk. 'n Mens (ekself ingesluit) is geneig om so verlief te raak op 'n storie (dikwels juis daardie stories wat nié werk nie) dat jy later daaraan bly vasklou, in plaas daarvan om aan te hou met skryf.

’n Uitgewery se voortbestaan is afhanklik van nuwe stories, so moenie jouself bluf deur te sê: Ag, hulle soek nie regtig nuwe skrywers se stories nie, dis hoekom hulle my manuskrip afgekeur het. Ek is self ’n uitgewer, en ek kan jou verseker die werwing van nuwe skrywers is ’n prioriteit. Party genres verkoop weliswaar nie so goed soos ander nie (prenteboeke vaar tans swak in Afrikaans), daarom kan ’n mens minder daarvan publiseer en moet jy noodwendig kieskeuriger wees, maar geen uitgewer sal ’n goeie manuskrip deur sy vingers laat glip bloot omdat dit ’n nuwe skrywer se werk is nie.

Om 'n storie wat nie werk nie professioneel te laat proeflees, gaan waarskynlik min help - tensy jy bedoel jy wil dit deur 'n kundige laat lees wat jou kan help om die storiefoute uit te stryk. Maar selfs in laasgenoemde geval kan dit 'n duur oefening wees wat nie noodwendig publikasie gaan verseker nie. (En ligloop, hoor, daar is heelwat “kenners” wat teen ruim betaling manuskripte versorg, maar in werklikheid geen ondervinding in die kinder-en-jeugboekbedryf het nie.) My ervaring is dat skryfskole ’n wonderlike inspuiting is vir ’n mens se kreatiwiteit, en dat jy daar baie kan leer oor hoe die bedryf werk, maar uiteindelik is die hartseerfeit dat geen skryfskool van jou ’n skrywer kan maak nie.

Ek begryp aspirantskrywers se frustrasie met uitgewers, maar dis eintlik nie regtig so moeilik om te bepaal waarna hulle op soek is nie. Die geheim is maar net om die mark te bestudeer. As jy tienerboeke skryf, moet jy regtig alles gaan lees wat tans op die mark is, ten minste alles wat die afgelope vyf jaar (in Afrikaans) verskyn het. Nie alles is ewe goed nie, maar die vermoë om 'n swak jeugboek raak te sien, is ook al nuttig, want dit beteken jy verstaan die genre. Dit mag ook wees dat tienerboeke bloot nie die ideale genre vir jou "skrywerstem" is nie - dalk is jy eerder veronderstel om vir jonger kinders, of vir volwassenes, te skryf. Maar die enigste manier hoe jy dit sal kan vasstel, is om soveel moontlik te skryf (en te lees!). Die boeke wat van kleintyd af my tone laat omkrul het van lekkerkry, is die boeke wat ek die meeste geniet om te skryf. Dit is hoekom skryf so 'n moeilike ding is, want dis 'n dissipline waarmee ander mense jou eintlik baie min kan help. Vergeet van al die trimmings – op die ou end is dit net jy en jou rekenaar of tikmasjien of skryfpapier.

Die skrywer van die Harry Potter-artikel hier bo doen ’n interessante oefening: Lees ’n kinder- of tienerboek en skryf dan die redes neer waarom jy dink die betrokke boek is gepubliseer – met ander woorde, probeer uit die uitgewer se oogpunt daarna kyk. Neem Fanie Viljoen se Nova-reeks byvoorbeeld:

·                    Dis wetenskapfiksie, ’n seldsame genre in Afrikaans, maar ’n gewilde genre in rolprente. So, daar is ’n leemte in die mark.

·                    Die storie bevat volop aksie wat die leser op die punt van sy stoel hou, en dis goed geskryf.

·                    Dis lekker grillerig – iets waarvan jong lesers altyd hou.

·                    Daar is heelwat humor – wat ook altyd ’n treffer is.

·                    Die karakters is oortuigend, en seuns én meisies sal by hulle aanklank kan vind.

Of kyk na Christien Neser se reeks bestaande uit Kondensmelk, Koshuiskoffie  en Blou sjokolade (wat binnekort verskyn):

·                    Dis ’n liefdesverhaal – waarskynlik die gewildste genre onder tienermeisies.

·                    Dis anders. Die hoofkarakter, Elle, is ’n vars bries in die Afrikaanse jeugliteratuur. Sy is ’n bedorwe brokkie wat hard aarde toe kom. Sy moet dinge doen soos gaan kamp in Botswana, om middernag uit die koshuis sluip om haar beste vriendin te help hokkie oefen, sy moet die Otter-wandelpad gaan stap.

·                    Dis snaaks. Humor is gewild vir enige ouderdomsgroep. En Elle en Refi en die res van die karakters is plek-plek skreeusnaaks.

Om terug te keer na die vrae wat ek aan die begin gevra het: Ek dink die bottom line is: Skryf net. Of uitgewers dit in hierdie stadium wil aanvaar of nie. Geen enkele woord wat 'n mens skryf, is ooit 'n vermorsing nie, want in die eerste plek skryf jy vir jouself. Moenie jou te erg blind staar teen die publikasieproses nie. 

No comments:

Post a Comment