Showing posts with label professor fungus. Show all posts
Showing posts with label professor fungus. Show all posts

Tuesday, February 9, 2016

5 redes waarom kinders versot is op reeksboeke


Byna twee jaar gelede het ek e-pos gekry van ’n ma wat vertel het hoe haar tienjarige seun, wat altyd ’n trae leser was, begin het om die Professor Fungus-boeke te verslind. Twee weke gelede kry ek weer e-pos van dieselfde ma, wat vertel haar seun is intussen met ’n vorm van disleksie gediagnoseer, maar hy is steeds ’n groot Professor Fungus-aanhanger en het onlangs spesiale vermelding in die klas gekry omdat hy so goed lees.
            In die verlede is daar dikwels neergesien op reeksboeke. Dit is beskou as nie “literêr” genoeg nie en daar is selfs beweer dit maak van kinders lui lesers. Deesdae besef baie ouers, onderwysers en bibliotekaresses gelukkig dat ’n lekker boekereeks dikwels die perfekte manier is om ’n huiwerige leser se leeslus te prikkel.
            Maar waarom hou kinders so baie daarvan om ’n reeks boeke te lees waarin dieselfde karakters verskyn?

1. Die karakters voel soos ou vriende. Eintlik is dit geen verrassing nie. Waarom kyk jy graag na jou gunsteling-TV-reeks? Heel moontlik omdat jy daarvan hou om te sien wat die karakters, met wie jy nou al goed vertroud is, in elke episode aanvang. Wanneer ’n leser byvoorbeeld ’n nuwe Zackie Mostert-boek optel, weet hy reeds wie hy tussen die blaaie gaan teëkom – die ondeunde Zackie en sy beste pel, Vincent, die klaerige mevrou Langenhoven van langsaan met haar nare kat, en Anton die skoolboelie wat sy bes probeer om Zackie se lewe te versuur.

2. Jy kan voorspel of jy van die storie gaan hou. Om ’n boek te kies waarvan jy hou, is nie altyd so maklik nie. Is jy al ooit deur ’n mooi voorblad of ’n oulike titel verlei om ’n boek te koop of uit te neem wat later blyk glad nie in jou smaak te val nie? Jong lesers het dieselfde probleem. Reeksboeke maak die keuse vir hulle makliker. As jy ’n Stalmaats-boek of ’n Nova-boek (Fanie Viljoen) of ’n Thomas@-boek (Carina Diedericks) gelees en daarvan gehou het, hoef jy waarskynlik nie te wonder of die res van die reeks in jou smaak gaan val nie.

3. Herhaling is pret. Onthou jy Saartjie se weerbarstige krul? Of Galpil van Trompie-faam wat almal “Ou Perd” genoem het? Of Liewe Heksie se groottoon wat so in die grond geboor het as sy verleë was? Deel van die lekkerte van ’n reeks boeke is om bekende sêgoed of frases of gewoontetjies telkens raak te loop. By Einstein se snor! (Soos professor Fungus sal sê.)

4. Reeksboeke het versamelwaarde. Ek was van kleins af ’n ywerige versamelaar – ek het in verskillende stadiums enige iets van seëls tot Pokémon-skyfies versamel. My reeksboeke het ’n ereplek op my boekrak. Al die Twilights en Harry Potters en Thomas@-boeke op my rak staan mooi langs mekaar, in volgorde – soos dit enige goeie versamelaarsitem betaam. As ek ’n reeks begin aankoop, háát ek dit as die omslagontwerp mettertyd verander of as ek ’n uitgawe kry wat anders lyk as die res – want tipies versamelaar wil ek hê al my boeke moet bymekaar pas.

5. Dit laat jou naels kou. Die navraag wat ek die meeste via my webtuiste en Facebook kry, is: Wanneer verskyn die volgende Stalmaats-boeke? Daar het nou reeds sestien boeke in die reeks verskyn. Elke boek kan afsonderlik gelees word, maar die stories volg ook logies op mekaar, met storielyne waarop algaande voortgebou word. Die aankondiging van die nuwe boeke se titels en die bekendmaking van die omslae op Stalmaats se Facebook-groep word deesdae met groot entoesiasme afgewag. Ek kry selfs boodskappe waarin lesers my probeer oorreed om solank te verklap wat volgende gaan gebeur! (Hou nog net ’n bietjie uit – nommer 17 en 18 verskyn later vanjaar!)


So, daar het jy dit – vyf goeie redes om jou kind aan reeksboeke bekend te stel. En moenie kla as jy binnekort boekwinkel toe moet ry om die res van die reeks aan te skaf nie ...

Wednesday, December 14, 2011

10 hoogtepunte van 2011

Verlede week het ek uiteindelik my dagboek vir 2012 gekry. So ’n lelike bruinrooie, nes verlede jaar s’n. Gratis met die komplimente van PostNet, nes verlede jaar s'n.

Diep in my hart is ek ’n vreeslike sentimentele wese, daarom bewaar ek elke jaar se dagboeke, al sedert my studentedae. Nie omdat ek regtig persoonlike inligting daarin skryf nie – ek het nog nooit dagboek gehou in die outobiografiese sin van die woord nie – maar om deur ou dagboeke te blaai gee ’n mens altyd so ’n lekker déjà vu-gevoel. Op hierdie-en-hierdie datum moes ek Kaap toe of Johannesburg of Durban toe vlieg vir ’n praatjie; op die soveelste van dáárdie maand het ek ’n radio-onderhoud gedoen; op ’n sekere datum moes ek ’n belangrike sperdatum haal.

So, hier is my 10 persoonlike hoogtepunte van 2011, nadat ek vir oulaas deur vanjaar se dagboek geblaai het:

* Ek het ’n grasperk geplant. Wel, om die eerlike waarheid te sê: Ek het kitsgras laat insit. Nes ek hier http://www.rapport.co.za/MyTyd/Nuus/Rubriek-Die-jaar-toe-ek-gras-geplant-het-20101229 belowe het. My agterste grasperk lyk pragtig. Die voorste een? Moenie vra nie. Groen vingers is nie een van my talente nie. Maar ek wóú mos. En moenie sê ek het nie by my nuwejaarsvoorneme gehou nie.

* Ek het die eerste vier boeke in ’n nuwe wetenskapfiksiereeks vir kinders voltooi. Die eerste twee is reeds geïllustreer en uitgelê en lyk fantasties. Die Professor Fungus-reeks verskyn vroeg aanstaande jaar.

* Ek het 'n huis in die Karoo gekoop. Op 21 Junie 2011 is die oordrag van my Carnarvon-huis uiteindelik afgehandel. Ek en Elize gaan nie eendag langs die see aftree nie ...

* Op die 24ste Junie het ek Oprah Winfrey in lewende lywe in Bloemfontein gesien. (Die Computicket-kaartjie ter waarde van ’n allemintige R10 pryk in my 2011-dagboek as bewys! En op my BlackBerry is ’n dowwe foto van die kletskoningin op ’n drafstap in haar eredoktorsgraad-toga, reg verby my stoel. Tot in daardie stadium het ek nog vas geglo ek word nie deur celebrities beïndruk nie.)

* Op die 2de Julie is my enigste suster getroud. Ek het haar intussen stelselmatig begin vergewe vir die feit dat ek seremoniemeester op die geleentheid moes wees.

* Op die 14de Julie het ek met Frank Opperman begin gesels oor ’n toneelstuk vir kinders. Kaptein Blitz en die skool vir superheroes is reeds goedgekeur vir volgende jaar se KKNK.

* 25 September: My en Elize se eerste huweliksherdenking. En ons ontdek die Truksvy B&B en Koffiesjop op Soutpan.

* November: Die nuwe Stephen King-boek verskyn. Soos gewoonlik neem ek my voor om dit te hou vir vakansieleesstof. Soos gewoonlik het ek dit lank voor die aanbreek van my Desembervakansie reeds klaar gelees. ’n Nuwe Stephen King-boek is altyd een van die hoogtepunte van my jaar. Get over it.

* Iewers tussen Oktober en November ontdek ek die Spur se R20-ontbyt. Ongelukkig is kos, nes nuwe Stephen King-boeke, hoog op my lys van dinge wat as hoogtepunte tel.

* En les bes, die allesoorheersende inskrywing in vanjaar se dagboek: Op die 19de Junie, op Vadersdag, het ek uitgevind ons gesin gaan binnekort nie meer net uit my en Elize en die twee honde bestaan nie. Ek en my pa verjaar albei op die 22ste Februarie, en as alles volgens plan verloop, gaan ons dogtertjie haar opwagting iewers tussen die 17de en die 25ste Februarie maak. Die beste rede ooit om uit te sien na 2012!

So, vir eers is dit oor en uit van my kant. Mag jy ’n rustige Feestyd hê, en ’n nuwe jaar propvol opwindende hoogtepunte in jou dagboek!