Sunday, April 28, 2013

Klappertand vir die Rooitaal




Waarom skryf ek nie in Engels nie? wil ’n meisie ’n tyd gelede tydens ’n vraag-en-antwoordsessie by ’n skool weet.
Want ek het in die Karoo grootgeword, verduidelik ek. En my pa sê daar gebruik jy Engels net vir selfverdediging. 
Dis egter nie die volle waarheid nie. Die taalreëls wat ons destyds in Ma’am Augustyn (tannie Issie as jy haar op straat raakloop) se Engelsklas geleer het, het nie nodig gehad om ’n tree terug te staan vir enige iemand nie, het ek later op universiteit ontdek, toe ek saam met ’n hele klomp moedertaalsprekers in die Engels I-klas beland het. Aan die einde van my eerste jaar is ek as beste Engelsstudent in die klas aangewys, maar ek het die vak gelos omdat een van die ou professore se gedurige geflirt met die meisies (en sy laatkommery!) my eindeloos geïrriteer het.
’n Tyd gelede het ek egter besluit om my verroeste kennis van die Rooitaal af te stof en ’n klompie grillerige kinderstories in Engels te begin skryf. Heel gepas, eintlik, want my eerste behoorlike kennismaking met die taal was in die dik Stephen King-boeke wat ek op laerskool swoegtend deurgeworstel het.
 Aan die begin was dit ontsaglik moeilik, maar algaande het die ritmes en klanke van die taal weer in plek begin val, en kon die stories hul loop neem.
Die resultaat is die bundel “Chattering Teeth and other scary stories” wat nou op Amazon beskikbaar is: http://www.amazon.com/Chattering-Teeth-other-stories-ebook/dp/B00CK7F380/ref=sr_1_1?ie=UTF8&qid=1367212258&sr=8-1&keywords=%22chattering+teeth%22+jacobs Hoe geslaagd my eksperiment gaan wees, sal die tyd moet leer. Ek wou dit om twee redes doen: Eerstens om te kyk of die Rooitaal, in my hande, vir meer as selfverdediging gebruik kan word. En tweedens om meer oor die e-boekmark te leer, waarvan ek veels te min weet en waaroor ek heimlik nog nie naastenby entoesiasties genoeg is nie.
Sedert die boek gisteraand aanlyn beskikbaar geword het, is daar darem al een kopie verkoop. So, iewers in die wêreld het iemand ’n paar dollar opgedok en is ’n kind tans besig om op sy/haar Kindle my grilstories te lees, in my beste Karoo-Engels. 

No comments:

Post a Comment