Showing posts with label françois bloemhof. Show all posts
Showing posts with label françois bloemhof. Show all posts

Sunday, February 5, 2012

Tydskrifstories

Ek het die afgelope tyd weer ’n tydskrifstorie of twee geskryf. Sommer net vir die lekkerte daarvan, en om te kyk of ek dit nog kan doen. En, om eerlik te wees, uit skone nostalgie.

Ek het in my skooldae reeds die eerste keer probeer om vir tydskrifte te skryf. Van my heel eerste pogings lê nog hier tussen my opgegaarde papiere – sommige van hulle nog op so ’n antieke tikmasjientjie getik wat my pa vir ’n appel en ’n ei op ’n veiling gekoop het. Daardie eerste pogings van my (ek onthou titels soos “Die Paddastoelplakkerskamp”, “Bertie se wraak” en “Muis” – waaroor ek nou natuurlik innerlik cringe) het ek aan elke denkbare tydskrif probeer afsmeer – van Rapport Tydskrif tot Huisgenoot en Keur en Sarie en rooi rose. Ek het sommer gou ’n heel indrukwekkende stapeltjie afkeurbriewe bymekaargemaak. Party tipiese “stock letters” (“Baie dankie vir die voorlegging ... ongelukkig nie reg vir ons mark nie ... baie sterkte met u verdere skryfwerk ...”), ander darem ’n bietjie meer persoonlik. En party genoeg om ’n sestienjarige aspirantskrywer se moed byna-byna te breek, soos die destydse Keur se verhaleredakteur wat nie ’n briefie saamgestuur het nie, maar bloot met pers koki bo-oor my kosbare manuskrip geskryf het: Verhaal haal nie die paal.

My eerste twee stories is, met baie hulp en geduld van François Bloemhof, destyds verhaleredakteur by Sarie, in my matriekjaar vir publikasie aanvaar. Ek onthou nog dat Patricia Lewis voorop die uitgawe was waarin my eerste storie verskyn het. En dat ek ’n tjek ter waarde van R750 ontvang het, wat ek by die videowinkel op die dorp gaan afrol het voordat ek dit inbetaal het.

In my studentejare was tydskrifverhale ’n nuttige manier om sakgeld te verdien. Maar meer as dit – ek dink dit het my ook kosbare skryflesse geleer.

Soos om gedissiplineerd te skryf, byvoorbeeld, en jou by die redakteur se vereistes te hou. Daardie eerste storie van my wat uiteindelik gepubliseer is, was 1 500 woorde lank toe François aangedui het dat Sarie daarin belang stel. Dit moes uiteindelik 750 woorde wees. Ek onthou hoe ek later met die uitdruk in die bad gelê en telkens triomfantlik in die kantlyn aantekeninge gemaak het as ek daarin kon slaag om nog ’n woord of twee te vermorsel.

Tydskrifstories het my voorberei op die meedoënlose redigeerwerk wat soms nodig is om ’n stuk skryfwerk gereed te kry vir publikasie. Daarom het ek my gelukkig nie doodgeskrik toe ek die eerste keer ’n manuskrip vir ’n uitgewery stuur en daar van my verwag is om ’n leërskare van my “darlings” dood te maak nie.

Ek weet daar is party skrywers wat dit haat as jy aspirantskrywers aanraai om met ’n teikenmark in gedagte te skryf. Vir my, egter, was dit nog altyd belangrik om te weet vir watter teikenmark ek skryf – dalk omdat ek soms vir kleuters skryf, soms vir beginnerlesers, soms vir tieners, en soms vir volwasse koerantlesers. En in daardie opsig het tydskrifverhale my baie gehelp. Voordat jy ’n storie vir ’n tydskrif stuur, beter jy sorg dat jy ’n goeie idee het van sy mark. (Terloops, my eerste Sarie-storie, “Nagskof”, het oor ’n vampier gegaan. François het baie jare later teenoor my erken dat lesers hom baie opdraande gegee het daaroor – bowenal omdat dit in die Kersuitgawe verskyn het!)

Oorsee plaas hoofstroomtydskrifte byna glad nie meer verhale nie, en die afgelope paar jaar het die mark vir Afrikaanse tydskrifverhale ongelukkig ook gekrimp. Dis jammer. Ek sal nooit die opwinding vergeet as ek hoopvol ’n blou-en-rooi FastMail-koevert in die pos gooi nie, kompleet met ’n selfgeadresseerde koevert binne-in ingeval die verhaleredakteur nie van my storie hou nie. En die vreugde as daar ’n koevert met die tydskrif se logo voorop terugkom ...

Monday, July 12, 2010

Spookstories

Iemand (’n joernalis) vra die anderdag vir my of ek met spookstories grootgeword het. Die vraag het gekom na aanleiding van die feit dat ek dikwels stories met ’n griltema skryf. En na aanleiding van die feit dat ek in die Karoo grootgeword het, waar stories - en ook spookstories of goëlstories - volop is. Die antwoord op hierdie vraag is ongetwyfeld ja. 
Ek onthou dat ek van kleins af stories gehoor het oor hoe daar byvoorbeeld in my oupa se tyd ‘n driffie op ons plaas was waar enige perd of donkie snags onverklaarbaar onrustig en steeks geword het. Ek onthou hoe my pa-hulle in ‘n stadium snags vreemde ligte in die veld op ons plaas gesien het. Ek onthou die grillige storie van die Heks van Hexrivier op my Storieman-kassette. Ek onthou stories oor hoe mense partymaal snags vir oulaas jou deurklokkie kom lui nadat hulle die tydelike met die ewige verwissel het. Ek onthou hoe Tania Hoorn, ’n meisie wat saam met my op skool was, laat een nag vir ons klas vertel het van onaardse dinge wat in haar ouma se huis gebeur het (ek sal nooit die prentjie van daardie baba- en katspoortjies in die suiker vergeet nie - ek het daardie nag huis toe gehardloop, so vrek bang was ek!). Ek onthou selfs ’n baie grillerige voorval waar ’n lappop wat my sussie iewers geërf het, eendag iets baie, baie vreemd gedoen het (maar dis ’n storie vir ’n ander dag - en boonop was dit waarskynlik te wyte aan my kinderverbeelding ...).
Maar die feit bly staan, spookstories is vir my eindeloos boeiend. Miskien veral omdat diegene wat dit vir jou vertel, gewoonlik so heilig oortuig is van die waarheid daarvan (of jy nou self skepties is of nie). Daarom was dit vir my groot pret om saam met Fanie Viljoen (wat oorspronklik met die idee vorendag gekom het) en François Bloemhof ’n hele bundel spookstories te skryf. 13 Spookstories het pas by LAPA Uitgewers verskyn. Die vier stories wat ek daarin geskryf het, is op ’n manier ’n huldeblyk aan almal wat in my jongdae vir my stories vertel het wat my snags uit die slaap gehou het. En nou kry ek die kans om dieselfde te doen!