Wednesday, October 19, 2011

Die bloginskrywing wat my vrou asseblief nie moet lees nie


Ek weet ek gaan hierdie woorde berou, maar hier kom dit in elk geval: Ek dink skrywers behoort gereeld skottelgoed te was.

            Terwyl ek gisteroggend vroeg met hierdie nederige ou takie besig was, het ek ongeveer vier hoofstukke van ’n boek geplot. Dit verklaar ook waarom daar Sunlight Liquid-skuim op my Mac se toetsbord was, want voor ek die vuil borde getakel het, moes ek eers gou ’n paar van my meer briljante idees kom neerskryf.

Douglas Adams het gesê: “Writing is easy. You only need to stare at a piece of blank paper until your forehead bleeds.”

En dis wat skryf meeste van die tyd is: ’n eindelose gestaar wat (as jy gelukkig is) soms onderbreek word deur die geklik van die toetsbord as jy ’n sin of twee neerskryf. Ek het al menige oggend die feit berou dat ek vroeg opgestaan het om te skryf, en dan myself betrap dat ek net vir die rekenaarskerm sit en staar. Trouens, dis wat ek meeste van die tyd doen as ek “skryf”. En tog, tussendeur al die gestaar het ek op een of ander manier reeds meer as 70 boeke geskryf. Ek het al talle skrywers hoor kla dat Facebook die letterkunde se grootste vyand is, juis omdat dit inmeng met ’n mens se kreatiewe staartyd.

(Ek het nou hierdie vorige paragraaf oorgelees, en toe in presies so ’n staarsessie verval. Helaas, nie ’n baie kreatiewe een nie, gevolglik gaan hierdie bloginskrywing maar kort wees.)

Ek reken ’n mens kan daardie “staartyd” net sowel inruim terwyl jy besig is met ’n breinlose aktiwiteit soos draf of stap.

Of skottelgoed was.

Maar moenie my vrou vertel nie.

* Die foto is Béla Lugosi se beroemde staar uit die fliek White Zombie.

Thursday, October 13, 2011

Klei-animasie vir Hoezit!

Ek het hierdie kort klei-animasievideo gemaak vir 'n Hoezit!-artikel. Dis net rof gedoen, maar hopelik illustreer dit die idee.

Sunday, October 2, 2011

Vreemde en fantastiese boektitels

Dis vanselfsprekend dat die titel van ’n boek een van die eerste dinge is wat jou oog in ’n boekwinkel of op ’n biblioteekrak vang. Dis daarom seker ook nie verbasend nie dat ek en my uitgewer al male sonder tal gesukkel het om die regte titel vir ’n boek te kry. Met Liefde laat jou Rice Krispies anders proe was die boek al op pad drukker toe teen die tyd dat ons met ’n titel vorendag gekom het. Vir Superheroes vlieg net saans se titel moes ek kliphard baklei, want my uitgewer wou iets anders gebruik – wat op die ou end dalk nie so ’n slegte voorstel was nie, want onderwysdepartemente het die boek al afgekeur op grond van die Engelse woord in die titel.

            Ek is mal oor ongewone, whacky titels. Hier is ’n paar van my gunstelinge:

* It’s disgusting and we ate it (James Solheim en Eric Brace): ’n Boek met allerlei grillerige kosfeite. Dis die soort titel wat my ’n boek blindelings sal laat koop.

* The curious incident of the dog in the night-time (Mark Haddon): ’n Ongewone boek met ’n ongewone titel (wat perfek by die gevoel van die storie pas). Een van my gunstelingboeke.

* Captain Underpants and the Perilous Plot of Professor Poopypants (Dav Pilkey): Hoef ek enige iets meer te sê?

* Mijn tante is een grindewal (Anne Provoost): Dié ongewone titel beteken My tante is ’n walvis.

* There’s a boy in the girls’ bathroom (Louis Sachar): Toe ek hier in graad een of twee rond was, het ons ’n speletjie gespeel waarvan die doel was om ’n seun te vang en in die meisiesbadkamer in te stamp, of andersom. Dit was een van die vernederendste dinge wat jou kon oorkom, en meisies het meestal begin huil as jy hulle in die seunsbadkamer gooi. Om meisies te laat huil was een van die grootste prestasies wat jy as agtjarige kon behaal. Dalk is dit waarom hierdie titel dadelik my oog gevang het. Sachar is goed met titels. Hy is ook die skrywer van Dogs don’t tell jokes en The boy who lost his face.

* My darling, my hamburger (Paul Zindel): Zindel is nog ’n skrywer wat met fantastiese titels vorendag kon kom. Hy spog met boeke soos Pardon me, you’re stepping on my eyeball en Confessions of a teenage baboon.

* The day I fell down the toilet (Steve Turner), Juggling with gerbils (Brian Patten) en Thawing frozen frogs (Brian Patten): Drie van my gunsteling-rympiebundels.

 

Op die webtuiste www.oddeee.com is nog ’n lys met veel vreemder boektitels, waaronder The big book of lesbian horse stories (ja, dit bestaan regtig – bestel gerus vandag nog jou eksemplaar op Amazon), The history of lesbian hair, How to bombproof your horse en I was tortured by the pygmy love queen. Besoek die site op eie risiko!

Voeg gerus jou eie lysie gunstelinge hier onder by.