Thursday, August 6, 2015

Waarom ek nie vir jou ’n rympie kan (of gaan) e-pos nie


Dis eisteddfod-seisoen.
Ek weet elke jaar wanneer dit kunswedstryd-tyd is, want skielik begin die e-posse instroom.
’n Paar desperate ma’s, pa’s, onderwysers of drama-onnies wil dikwels weet of ek nie asseblief voorstelle vir gepaste prosastukke of gedigte het nie. Ek weet hoe ’n tameletjie dit is om geskikte materiaal in die hande te kry – iets wat hopelik die beoordelaars gaan beïndruk, maar wat darem ook vir ’n kind pret gaan wees om voor te dra – daarom probeer ek altyd my bes om ’n paar voorstelle te maak, hoewel ek nie regtig ’n kenner is en weet presies wat van die deelnemers vereis word nie.
Skynbaar word van my rympies gereeld by eidsteddfods voorgedra, want daar is ook altyd ’n paar ma’s of pa’s wat vra of ek nie asseblief bereid is om spesiaal vir hul spruite ’n rympie te skryf wat nog nie elders verskyn het nie. Hoewel ek besef so ’n uitnodiging is ’n groot kompliment en dit regtig waardeer, wys ek hierdie soort versoeke egter ook altyd van die hand. My program is deesdae so vol dat ek ongelukkig nie tyd het om tussendeur die sperdatums sulke rympies-op-versoek te skryf nie.
Die derde soort e-pos wat ek kry, is van ouers wat wil weet of ek asseblief gou “daardie rympie oor die monstermeisie” of “die ene oor die boetie wat ’n alien is” vir hulle per e-pos sal aanstuur. Die bladsy wat die juffrou vir Boetie of Sussie afgerol het, het die afgelope vakansie voete gekry, die hond het dit opgeëet of dit het per abuis onder ’n weghol-stootskraper beland.
Nou hier begin ek lelik op my tande kners.
Verstaan my mooi, dis vir my ’n wonderlike gedagte om te dink kinders dra my skryfwerk by eisteddfods voor, doen hope moeite daarmee, en geniet dit hopelik. Maar as jy vir my ’n e-pos stuur om te vra ek moet vir jou ’n rympie uit een van my boeke aanstuur, is dit, bewustelik of onbewustelik, ’n hengse klap in my gesig, en in my uitgewer s’n.
Kom ek verduidelik waarom.
As ’n kind (of sy/haar drama-afrigter) een van my rympies kies om voor te dra, beteken dit hopelik die rympie verskaf hom/haar plesier en dat dit ’n prettige ervaring is. Dis vir my net soveel pret om dit te skryf.
Daardie paar versreëls kom egter ’n lang pad.
Om rympies te skryf verg tyd. Baie tyd. Teen die tyd dat ’n bundel rympies hopelik publiseerbaar is, beteken dit ek het dae, weke, maande daaraan bestee om met al die idees vorendag te kom, en elke woord sorgvuldig te kies; dit beteken ek het elke versreël oor en oor hardop gelees om seker te maak dit gaan maklik op die tong en op die oor val wanneer jou kind dit moet voordra. Ek het verskriklik, verskriklik baie respek vir kinders, en wanneer ek vir hulle skryf, probeer ek dit so goed doen as wat ek kan.
En dis maar net die eerste stap in die proses.
Daarna gaan die manuskrip na my uitgewer.
Om ’n dokument met rympies in ’n mooi boek soos Wurms met tamatiesous, My boetie dink hy’s Batman of Op die punt van my tong te omskep, verg baie geld en tyd van ’n uitgewery.
Kortliks: ’n Keurder moet aangestel word om die rympies te lees, te besluit of dit die moeite werd is om te publiseer, en om voorstelle oor die nodige skaafwerk te maak. ’n Illustreerder moet betaal word om die rympies te illustreer. Dit kos duisende rand en nóg baie, baie ure se werk. Wanneer die illustrasies afgehandel is, doen ’n uitlegkunstenaar die bladuitleg en omslagontwerp. Daarna takel ’n redigeerder die teks, om te sorg dat taalgoggas en tikfoute uitgeskakel word. Wanneer die bladproewe behoorlik nagegaan is, kan die boek drukker toe gaan. ’n Drukoplaag kos die uitgewery nog ’n hele paar duisend rand. Daarna moet bemarking en verspreiding gedoen word. Nog duisende rande. En dan eers kan die boek verkoop word.
Skrywers hou nie juis daarvan om oor geldsake te praat nie, maar kom ons doen gou so rofweg die somme: As jy R76 vir my rympiebundel Kougom in my hare op Takealot.com betaal, beteken dit die uitgewery het reeds tussen 30% en 40% afslag op die verkoopprys toegestaan. Op die geld wat die uitgewery ontvang, verdien die skrywer sowat 12% outeursgeld. Wiskunde was nog nooit my sterk punt nie, maar dit beteken ek ontvang so tussen R5 en R6 vir daardie boek wat jy gekoop het. Die spesifieke boek bevat 49 rympies, wat beteken ek verdien ongeveer 10c tot 12c per rympie wanneer jy my boek koop.
En dan vra mense steeds waarom daar so min Afrikaanse kinderrympieboeke gepubliseer word.
Ek gaan jou die jeremiade spaar van ek-het-ook-’n-gesin-wat-versorg-moet-word-en-rekeninge-wat-betaal-moet-word. Maar daardie R76 wat die boek jou uit die sak gaan jaag, is die enigste manier hoe ek kan aanhou om rympies te skryf. Dit is ook die enigste manier hoe my uitgewer kan aanhou om rympieboeke te publiseer. 
Nou vra ek jou mooi: As jou kind ’n rympie kies om by die eisteddfod voor te dra, oorweeg dit GROOT asseblief om eerder die boek te koop as om dit bloot te laat afrol. En begryp asseblief waarom ek regtig, regtig nie vir jou ’n kopie van die rympie per e-pos kan aanstuur nie. Dit beteken ek oortree self die kopieregwaarskuwing voorin my eie boek. As jy dringend die rympie nodig het, koop die boek in e-formaat – jy kan dit binne sekondes aflaai nadat jy daarvoor betaal het.
En wanneer jy trots glimlag oor daardie A++-simbool of goue sertifikaat, hou ’n oomblik van stilte en dink aan die versiemaker wat tussen 10c en 12c met daardie rympie verdien het. Dis nou te sê as die juffrou dit nie sommer afgerol het nie ...


Jaco Jacobs se nuutste rympieboek is 'n bundel tongknopers, "Op die punt van my tong". Hier is 'n voorsmakie.