Wednesday, August 16, 2017

VYF VRAE AAN JOHANN STRAUSS


1. Dis nogal ’n uitdaging om biografiese inligting oor jou op die internet op te spoor – waarskynlik omdat Google duisende bladsye oor jou naamgenote, die bekende komponiste, het! Vertel my ’n bietjie meer oor jouself.

Jy's reg, my naamgenote het nogal aansienlik meer as ek bereik ... dankie vir die herinnering, Jaco. Dankie.
My oorsprongstorie sluit ongelukkig nie iets interessants soos Krypton of ’n spinnekopbyt in nie, maar bloot ’n klein dorpie in die Vrystaat genaamd Virginia. Dis een van daardie dorpies waar die tannies in die straat nog bymekaargekom het om te skinder oor die tannies aan die ander kant van die straat en al wat hulle saambring, is om te kla oor die straatlig wat al vir meer as ’n week uit is. Dinge lyk vandag natuurlik baie anders as die dae toe ek daar grootgeword het, maar ek sal altyd lief bly vir die klein dorpie. As dit nie vir die groot hoeveelheid “niks” was wat gereeld daar gebeur het nie, sou ek nie vandag so tuis gevoel het in ’n beroep waar die grootste avonture in ons verbeelding plaasvind nie. (En in daardie verbeeldingswêreld is ek net so suksesvol as my naamgenote ... Weer eens: Dankie, Jaco. *Klap tong*)
Toe ek klaar was met hoërskool het my pa ’n Chomp by ons voordeur gelos, en toe ek uitgaan om dit op te tel, hoor ek die voordeur toeslaan en sluit agter my, en daar vind ek myself grafiese ontwerp swot by die techikon hier in Pretoria. ’n Dorpie waar ek tot vandag toe woon, want ek is lui en ry nie graag nie.


2. Het jy altyd ’n passie vir kinderboekillustrasies gehad, of hoe het jy in die bedryf beland?

Ek het eintlik ’n passie gehad om ’n space cowboy te word, maar ongelukkig beweeg die tyd nie met my verwagtinge nie. My passie vir illustrasie lê wel by baie dissiplines. Van konsepkuns tot ou tradisionele skilderye. Hoe ek in die kinderboekillustrasiebedryf beland het (’n woord wat ek nie graag tik nie, want my vingers kramp nou), was bloot per toeval. Terwyl ek grafiese ontwerp geswot het (*sien asseblief die traumatiese Chomp-voorval van vraag 1), is ek in my derde jaar deur ’n uitgewery, Fantasi, genader, en oom Frans wat daar werk, het my baie mooi gevra om vir hom te gaan prentjies teken nadat ek klaar geswot het. Ek hou mos van prentjies en kon nie wag nie en het toe sommer in die tweede helfte van my derde jaar al vir hulle begin illustreer. Toe my swottings klaar was, het ek voltyds by Fantasi begin werk as hoofillustreerder en deeltyds vir advertensie-agentskappe. Ja, sommer vir al twee in die begin. Ek slaap dus min en worry baie.
Vandag werk ek voltyds vir myself. Dis die boosaardigste baas wat ek nog teëgekom het. Sy asem stink soos sterk koffie en peanut butter-broodjies.

3. Vertel my ’n bietjie hoe jou kreatiewe proses werk wanneer jy ’n teks van ’n uitgewer ontvang om te illustreer.

Gewoonlik probeer ek die manuskrip lees soos wat (ek dink) die skrywer dit wou gehad het. In een sitting. Aan die einde van elke hoofstuk (sou die manuskrip so opgebreek word) sal ek vinnig die toneel teken wat meeste by my gebly het en dan onmiddellik verder lees. Dit lei gewoonlik daartoe dat ek óf klein detail uitlos, óf detail bysit soos wat ek die storie vir myself visueel vertel – en dit lei tot baie uitgewers wat ou partytjiewoorde uitgrou en na my kant toe gooi, want hulle dink ek gee nie aandag nie.
Nadat ek die manuskrip klaar gelees het, gaan ek terug en probeer sin maak van al die skrabbels, en herleef weer die storie soos wat ek weer alles in detail oorteken. Dit lei meestal tot meer detail wat uitgelos of bygesit word – en dan sal iemand soos Miemie van LAPA vir my vra hoekom die drie varkies nou op meganiese dinosourusse ry en AK’s in albei hande het.

4. Mense vra dikwels vir skrywers: “Wat inspireer jou?” Ek wou dieselfde vraag nog altyd vir ’n kinderboekillustreerder vra. So …?

Goeie stories van goeie skrywers, (#JacoJacobs) en mense wat baie meer suksesvol as ek is, soos die ander Johann Strauss ... van wie ek aanhoudend hoor. (#klaptong)
Dis eintlik verskillende dinge op verskillende tye. Ek sien dalk ’n vreemde klipformasie op vakansie en dit kan my verbeelding na ’n cool draak-konsepskets stuur wat ek net móét teken (al gooi ek dit weg sodra dit klaar is) of na meer obvious goed soos ’n nuwe styl wat ek raakgegoogle het. Klein goedjies kan lei tot ’n boek vol idees, hang net af in watter headspace ek is ... en daar is baie space in my head. Wag ... dit het nie reg uitgekom nie.

5. Wys vir my een illustrasie uit jou kinderboek-oeuvre waarop jy besonder trots is of wat vir jou uitstaan, en vertel my waarom jy daardie spesifieke een gekies het.


Die stuk wat dadelik by my opkom, is ’n dubbelblad van die eerste kinderboek waarin ek totale kreatiewe vryheid gehad het. Dit is ’n dubbelbladuitleg uit een van die eerste vier boeke in die Droombos-reeks (uitgegee deur Fantasi). Ek noem die eerste vier, want toe was daar nog redelik tyd om genoeg aandag aan alles te gee. Nog ’n rede hoekom ek van die stuk hou, is omdat dit alles met tradisionele mediums gemaak is. Vandag werk ek 90% digitaal – soos Arnold Schwarzenegger in Terminator. Net met ’n Afrikaanse aksent.