Friday, April 25, 2014

Dankie, maar nee dankie


“Net mooi alles wat jy skryf, word seker deesdae gepubliseer?” vra ’n aspirantskrywer nou die dag vir my, met ’n goeie skeut moedeloosheid en so ’n sweempie jaloesie in sy stem.
            Ek kon nie help om te glimlag nie.
            Ja, dis wel so dat ek deesdae aansienlik minder nee-dankie-briefies kry as toe ek destyds begin skryf het. Maar helaas, op my rekenaar se hardeskyf is ook ’n goeie handjie vol stories wat die afgelope paar jaar nie die mas opgekom het nie.
            Destyds toe ek nog op hoërskool was, onthou ek hoe ek met my sakgeld twee A4-grootte FastMail-koeverte by die poskantoor gaan koop het, elke keer as ek ’n tydskrifstorie voltooi het. Dan skryf ek die tydskrif se naam en adres op die een koevert, en my eie naam en adres op die tweede een, vou die tweede een dubbeld en plaas dit saam met die storie in die koevert. Met ’n skietgebed gaan gooi jy dit deur die posbus se gleuf. Dan wag jy so ’n maand of twee lank angstig, gaan haal elke middag pos uit nadat jy jou huiswerk gedoen het ... en op ’n dag is daai blou-en-wit FastMail-koevert terug, soos ’n getroue posduif. As hy stewig voel wanneer jy hom uit die poshokkie haal, is dit slegte nuus – dan beteken dit jou storie is teruggestuur. As daar net een folio binne-in is, is dit goeie nuus – dan is dit waarskynlik ’n dankiesêbriefie en, as jy regtig gelukkig is, ook ’n tjek.
            Oor die jare het ek ’n heel indrukwekkende versameling afkeurbriewe bymekaargemaak. Ek kon dit nog nooit oor my hart kry om hulle weg te gooi nie. Jy kry basies twee soorte nee-dankie-briewe. Die eerste is ’n “stock letter” waarop jou adres en die titel van jou storie bloot ingevul is, met iets soos die volgende in die briefie geskryf:
            Baie dankie vir u belangstelling in (naam van tydskrif/uitgewery). Ongelukkig voldoen dit nie aan ons vereistes nie en gaan dit hiermee aan u terug.
            As jy gelukkig is, beland jou storie by ’n redakteur wat bereid is om minstens te verduidelik waarom jou storie nie aanvaar word nie. François Bloemhof, destyds verhaleredakteur van Sarie toe ek begin skryf het, was een van laasgenoemde soort redakteurs. Hy het telkens moeite gedoen om in ’n paar sinne te verduidelik wat fout is met die storie. Dit het my oneindig baie gehelp. Aan die ander kant was daar ook ’n voormalige verhaleredakteur  van die destydse Keur, wat ’n poëtiese benadering aan die dag gelê en ’n keer of wat sommer met blou kokipen dwars bo-oor die titelblad van my storie geskryf het: “Verhaal haal nie die paal.”
            Oor die jare moes ek self ook ’n paar duisend afkeurbriewe skryf. Dis ’n ondankbare taak. Geen skrywer is ingenome met ’n nee dankie nie, dit weet ek uit eie ervaring. Maar ek probeer altyd ten minste ’n rede of twee verstrek om te verduidelik wat die belangrikste probleme met die storie is. 
            Die eerste storie wat ek ooit aan ’n tydskrif probeer smous het, is op ’n antieke tikmasjientjie getik wat my pa vir my gekoop het. ’n Mens kan net wonder wat die arme Huisgenoot-verhaleredakteur van die titel gedink het ...


            
  Hier het Keur se verhaleredakteur darem ’n effense variasie op die verhaal-haal-nie-die-paal-briefie gehad ...           


           
  In 1998, my matriekjaar, het ek die eerste keer vir Sarie ’n verhaal gestuur. Die paar sinne onderaan die briefie was genoeg om my te inspireer om daardie selfde middag nog ’n storie te gaan skryf, een wat uiteindelik wél vir publikasie aanvaar is ... 



  ’n Skrywer is ’n ding wat ’n dik vel en ’n goeie bos hare op sy tande nodig het. My stapeltjie afkeurbriewe herinner my gereeld daaraan dat dit nie altyd ’n maklike pad was nie. Maar pret? Al die pad!