Thursday, September 20, 2012

’n Belangrike titel




Ek dink nie daar is baie lesers wat twyfel oor die belangrikheid van ’n boek se titel nie. Party titels smeek jou byna om die boek oop te maak en te begin lees. (Oukei, of dan om dit deesdae op jou Kindle of iPad af te laai.)
Selfs voordat ek dit gelees het, was ek al versot op The Curious Incident of the Dog in the Night-time en Miss Peregrine’s School for Peculiar Children. Een van my gunstelingtitels (en -boeke) is Jonathan Safran Foer se Extremely Loud and Incredibly Close – dis een van daardie boeke wat geen ander titel kon hê nie. Gister loer ek op Amazon rond en kom weer op twee paar fantastiese aandagtrektitels af: This Little Piggy Went to the Liquor Store (A.K. Turner) en A is for Ketchup (’n alfabetboek vir kinders deur Xavier Finkley). Min mense kan by Louise Rennison (of haar bemarkingspan) kers vashou wanneer dit kom by die uitdink van titels. Haar Confessions of Georgia Nicholson-reeks bevat juwele soos It’s Okay, I’m Wearing Really Big Knickers, Knocked Out by My Nunga-Nungas en ... And That’s When It Fell Off in My Hand.
Nes mooi voorblaaie ’n mens deesdae kan verlei om ’n boek te koop wat jy later teleurstellend vind, is daar deesdae sekerlik die gevaar dat ’n funky titel jou kan oortuig om ’n flouerige boek aan te skaf. Vroeër jare het skrywers (en hul uitgewers) skynbaar minder moeite gedoen om die soort titels uit te dink wat kop en skouers bo die res uitstaan. Waarskynlik omdat daar nie elke jaar miljoene boeke verskyn het waarbo jy kop en skouers moes probeer uitstaan om ’n paar eksemplare verkoop te kry nie. Ek wonder wat sou A Christmas Carol, The Adventures of Tom Sawyer en Anne of Green Gables geheet het as hulle vandag se dae moes verskyn.
Om die regte titel vir ’n boek te kry is nie altyd kinderspeletjies nie. Liefde laat jou Rice Krispies anders proe was destyds al gereed om drukker toe te gaan, toe het ons steeds nie ’n titel daarvoor nie. (Wel, nie ’n titel waarmee my uitgewer tevrede was nie.) Oplaas het sy deur die proewe geblaai en afgekom op die sin wat die titel geword het. Sedertdien het prettige titels in ’n mate Tania Brink se kenteken geword. (’n Reeks ouer Afrikaanse liefdesverhale vir tieners is selfs onlangs herdruk met titels wat besonder baie aan Tania s’n herinner ... Maar wat, die Engelse spreekwoord lui mos: Imitation is the most sincere form of flattery! En daar bestaan buitendien nie kopiereg op ’n titel nie.)
Met Suurlemoen! was dit dieselfde storie. Ek wou die boek Suurlemoen! noem. My uitgewer het vasgeskop. Die titel sê niks oor die feit dat dit oor twee ouens gaan wat hul eie band begin nie, was haar beswaar. Dit het niks met musiek te doen nie. Dis vervelig. (Die skok! Hoe kan ’n titel met ’n uitroepteken aan die einde vervelig wees? wou ek verontwaardig weet.) Eindelik het ’n tienerleser voorgestel dat ons die boek ’n subtitel gee – ’n Storie oor liefde, rock en ’n tuinkabouter. Probleem opgelos!
’n Ruk gelede het ek op hierdie blog vertel hoe ek begin werk het aan ’n storie uit die “storiebegraafplaas” op my rekenaar. Wel, die manuskrip is voltooi en my uitgewer is mal daaroor. Die enigste probleem is ... die titel. Die titel wat in my oë so vars en funky en oorspronklik en skreeusnaaks was, moet verander.
Sug. Soms is dit makliker om ’n paar hoofstukke oor te skryf as om ’n nuwe naam vir jou boekbaba uit te dink. Om die waarheid te sê, ek en Elize het aansienlik minder kopgekrap toe ons ons ongebore baba se naam moes uitdink as wat ek gewoonlik swoeg en sweet om die regte titel vir ’n boek te kry. Gelukkig is daar nog ’n rukkie tyd voor die “doop’. Ek sal julle laat weet sodra ek met iets vorendag kon kom.