Wednesday, May 9, 2012

En nou vir 'n advertensiebreuk ...


Ons onderbreek hierdie uitsending vir ’n kort advertensieflits: Twee van my (langer) kortverhale is nou as e-boeke beskikbaar. Ek het die stories spesiaal vir LAPA Uitgewers geskryf sodat dit in e-formaat kan verskyn. Die liefdesverhaal Ek is mal oor jou (en Wimpy-milkshake) en die griller Elsie Eenoog is eksklusief as e-boeke beskikbaar. As jy hulle op Kalahari.com koop, betaal jy net R17,95 elk! Klik op die skakels:


Tuesday, May 8, 2012

Uitgewerskontrakte, VVV’s en huiswerkvretende renosters

Ek voel deesdae oor sommige opvoedkundige uitgewerye soos ek oor die bestaan van VVV’s voel. Immer hoopvol dat ek eendag aangenaam verras sal word, maar in my diepste binneste erg skepties.
As jy “UFO” op Google intik, kry jy tans ongeveer 231 miljoen trefslae. As jy egter (tydens die skryf hiervan) die woorde “a rhino ate my homework” google, lewer dit presies een resultaat op – nie die titel van ’n boek nie. En tog verdien ek tans (skrapse) outeursgeld op ’n boek met daardie titel wat ek ’n paar jaar gelede vir ’n relatief onbekende opvoedkundige uitgewery geskryf het. Ek het die boek nog nooit met my eie oë gesien nie. Herhaalde e-posse aan die betrokke uitgewery waarin ek smeek en soebat om ’n kopie daarvan in die hande te kry, val telkens op dowe ore. As daar dus iewers ’n blogleser is wat ’n eksemplaar van A rhino ate my homework iewers te siene kry, stuur asseblief dadelik stawende foto’s en ’n gedetailleerde ooggetuieverslag – dis immers meer seldsaam as ’n UFO sighting, as jy Google kan glo.
By ’n ander, heel bekende, opvoedkundige uitgewery sukkel ek en ’n paar medeskrywers al sedert 2009 om terugvoering te kry oor ’n bundel waarin ons kortverhale gepubliseer is. Ons het nooit kopieë teruggekry van die kontrak wat ons onderteken het nie, ons het nog nie ’n sent outeursgeld ontvang nie, en die uitgewery sê (uiteindelik!) bloot hulle kan nie outeursgeld begin betaal alvorens al die skrywers wat tot die bundel bygedra het, se voltooide kontrakte ontvang is nie. Dus: Nie hulle probleem nie. Joune. O ja, en let wel: Voordat outeursgeld uitbetaal kan word, is daar nog meer as R20 000 koste wat die uitgewery aangegaan het en wat van die outeursgeld verhaal moet word. Wat beteken as die bundel lank genoeg in druk bly, sal my agterkleinkinders dalk eendag die eerstes wees wat ’n paar sent daaruit maak. Met liefde van hul oorle’ oupagrootjie.
By nog ’n opvoedkundige uitgewery moes ek sowat drie jaar smeek en dreig voordat ek outeursgeld begin ontvang het. Noudat ek wel op hulle betaalstelsel is, gebeur dinge soos reën in die Karoo – selde en met onbetroubare reëlmaat. Soms kry ek uit die bloute ’n paar rand; ander kere gaan ’n jaar of wat verby sonder dat ek of my bankrekening enige iets van hulle hoor. Ek het, sover ek kan onthou, nog nooit ’n tantièmestaat van hulle gekry nie.
So, watter les is hieruit te leer? Ek is nie seker nie. Miskien dat jy jou huiswerk moet doen voordat jy jou storie sommer goedsmoeds aan ’n uitgewery toevertrou. Uiteraard is nie alle kleiner uitgewerye onbetroubaar nie; net soos nie alle groot uitgewerye altyd jou beste belange op die hart dra nie. Van die boeke en verhale wat ek by opvoedkundige uitgewerye gepubliseer het, is baie keurig versorg en uitgegee, en daar is geen probleme met kontrakte en outeursgeld nie.
Maar ongelukkig is nie almal so betroubaar nie. Daar’s deesdae skynbaar volop uitgewerye wat hoop om ’n vinnige paar rand uit die skolemark te verdien, en nie noodwendig skrywers se belange op die hart dra nie. Maak seker jou storie of boek gaan die beste moontlike behandeling kry in terme van redigeerwerk, die uitgeeproses en bemarking, en dat jy deur ’n behoorlike kontrak beskerm word. Dankie tog vir Facebook en ander sosiale media, waar jy deesdae by ander skrywers kan aanklop om te hoor wat hulle ondervinding van ’n sekere uitgewery is.
Die meeste skrywers het waarskynlik (soos ek) min regsagtergrond, maar probeer sover moontlik die kontrak uitpluis voordat jy dit onderteken, en maak seker jy weet presies waarvoor jy jou (en jou storie) inlaat. Moenie skroom om vrae te vra nie, en maak seker jy ontvang ’n getekende afskrif van die kontrak.
Of maak vriende met ’n slim prokureur ...

Nagedagte: Danksy hierdie bloginskrywing, sal die woorde “a rhino ate my homework” ten minste ná dese meer as een trefslag oplewer.