Thursday, September 15, 2016

VYF VRAE AAN CHRIS VENTER

1. Hoe het jy in die wêreld van kinderboekillustrasies beland? Is dit iets waarin jy al van kleins af belang gestel het?

Ek het destyds grafiese ontwerp by die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie studeer. Tydens hierdie era in my lewe het ek vinnig agtergekom dat ek eerder gemaak is vir die wêreld van illustrasie as dié van grafiese ontwerp. In my tweede jaar het bekroonde illustreerder Piet Grobler die rol van illustrasielektor ingeneem. Ek het baie vinnig besef wie hy is en hoe belangrik sy invloed as ’n mentor sou wees en deur hom het ek meer en meer begin leer oor die kinderboekillustrasie-industrie.
My goeie vriend en mede-illustreerder Dale Blankenaar het saam met my geswot . Ons is albei grootliks beïnvloed deur Piet in hierdie tye voordat ons enige iets geweet het van die industrie. Hoe meer ons geleer het, hoe meer het ons albei besef dat dit vir ons bedoel is. Ná die studies het ek van my portfoliowerke begin uitstuur na opvoedkundige uitgewers sowel as uitgewers soos LAPA en NB Uitgewers. Almal besluit toe om my ’n kans te gee en ’n paar projekte later het ek ’n naam in die industrie begin ontwikkel. Ek sal vir ewig baie dankbaar wees teenoor al die mense wat my ’n kans gegee het.

2. Vertel kortliks hoe jou kreatiewe proses verloop vandat jy ’n teks ontvang totdat die illustrasies voltooi is.

Dis gewoonlik anders met elke projek omdat elke uitgewer hulle teks op ’n ander manier aan my deurgee. Sommige uitgewers, soos opvoedkundige uitgewers, is baie meer spesifiek met wat hulle wil hê. Ander gee my baie meer vryheid om kreatief te wees. Ek verkies natuurlik die laaste opsie as ek moes kies.
Gewoonlik wanneer ek ’n teks kry, sal ek dit deurlees en begin dink aan ’n styl en medium wat die teks die beste sal pas. Ek sal ’n bietjie nadink daaroor. Ek is nogal lief daarvoor om by koffiewinkels te gaan sit en idees uit te teken. Dit help baie om uit die werkspasie te kom as ek nodig het om te dink oor dinge. My werkspasie is vir my ’n plek van aksie.
So, sodra ek ’n plan van aksie het, tree ek in my studio in en sit dit om in aksie. Soms sal ek direk op die rekenaar werk met my Wacom-tablet (digitale tekenbord). Ander kere hou ek van tradisionele mediums ingescan en gemeng met digitale kuns.
Elke teks is anders en die navorsing wat ek doen, verskil dikwels afhangende van die tipe teks. Ná die navorsings fase begin ek deur eers baie rowwe lyne te teken om uitleg aan te dui. Dan speel ek bietjie rond met kleure en tegnieke. Ek hou daarvan om eers die hoofkarakters te ontwikkel en dan die res van die wêreld rondom hulle op te bou. Ek werk dan aan alles totdat ek ’n finale produk het en wanneer dit klaar is, stuur ek klein jpeg samples aan die redakteur per e-pos en wag dan om te hoor of enige korreksies nodig is.
Sodra als goedgekeur is, stuur ek die groter prente deur Wetransfer of Dropbox aan die redakteur. 


3. Jy het pas ’n fantastiese nuwe leesreeks van Wendy Maartens geïllustreer, met hervertellings van die klassieke Jakkals-en-Wolf-stories. Was dit ’n lekker projek?

Dit was een van die lekkerste projekte wat ek nog ooit gedoen het. Ek het as kind begin as ’n realistiese kunstenaar, maar deur Piet Grobler se invloed het ek al hoe meer begin wegbreek van daardie soort werkswyse omdat ek my eie unieke manier van merkmaak wou ontdek. Vandat ek sewe jaar terug begin illustreer het, was elke projek vir my eintlik oefening of eksperimentering met style, tegnieke en medium.
Met Jakkals en Wolf voel dit of ek uiteindelik ’n vorm van totale gemak met my eie persoonlike merkmaak gevind het. Dis iets wat ek graag vorentoe wil neem in nuwe projekte as ek kan. Nie elke projek is reg vir hierdie tipe merkmaaktegniek nie. Ek wag eintlik vir die regte projekte om as platforms te dien vir hierdie tegniek van my.
Die stories was lekker laf en ek wou graag ’n nuwe kleurvolle en moderne stempel daarop plaas. Een van my gunstelingdinge was om vir Jakkals ’n bewegende “jellie”-lyf te gee met rubberarms. Sy arms en bene in my prente werk nie anatomies korrek nie. Ek wou hom graag buigsaam en geanimeerd maak op ’n komieklike manier. Ek het gevind dat dit baie goed werk met sy agterbakse persoonlikheid. Hy kan homself in enige situasie in- en uitwurm met sy woorde, so sy liggaam raak soos ’n visuele uitbeelding van sy karakter. Ek dink sy bewegende arms en stoute uitdrukkings herinner my ’n bietjie aan ’n skelm slang.
Die papperige Jakkals kontrasteer weer met die sterk Wolf wat ’n bietjie meer stewig lyk. Jakkals is beslis my gunsteling van die twee, maar al my simpatie lê by die arme Wolf wat die heeltyd vir Jakkals se streke val. Die stories het my baie laat lag en dit was heerlik om daaraan te werk. Ek het my bes probeer om my eie genot oor te dra aan die kinders deur my illustrasies.
Ek is baie dankbaar aan Wendy Maartens, dat sy haar teks so lekker geskryf het. Ek is ook baie dankbaar dat Miemie du Plessis, kinderboekuitgewer van LAPA UItgewers, die teks aan my gestuur het en my vertrou het daarmee. Daar is ses boekies in die reeks en ek het vir elkeen ’n ander soort gevoel probeer gee. Daar is byvoorbeeld een storie waar Jakkals en Wolf die heeltyd langs ’n rivier is, terwyl die volgende boeke op ’n berg of op ’n plaas of in die nag of in ’n woudarea afspeel. So dit het my baie gehelp om vir elkeen sy eie gevoel te gee. Ek glo ook die kinders gaan al ses van hierdie stories baie geniet omdat hulle so anders is.

4. Wat is die grootste uitdagings vir ’n kinderboekillustreerder wat in ons mark wil werk?

Daar is baie uitdagings. Daar is ’n soort innerlike trots wat gehandhaaf moet word om daardie vlammetjie van passie aan die brand te hou. Elke illustreerder het daardie vlammetjie in hulle. Soveel dinge in die wêreld voel of dit die vlammetjie wil doodblaas. Ons moet byvoorbeeld dikwels luister na ander mense se idees eerder as wat ons ons eie mag gebruik op ons eie maniere. Sulke dinge laat ons soms uitbrand omdat ons eintlik wesens is van innerlike uitdrukking, nes die skrywers met wie ons werk.
Baie mense wil ons met kleingeld of met blootstelling vir maande se werk betaal. Blootstelling is baie gaaf, maar ek kan uit ondervinding sê dat dit nie kos op die tafel sit nie. Vir my om illustrasiewerk te doen is dieselfde as vir enige ander mens wat ’n beroep het en wat betaal word vir ’n diens.
Ons is visuele skrywers wat nie altyd erkenning kry nie. Die media in ons land wil ons nie altyd raaksien nie. In ons eie land kry ons nie genoeg die kans om genoem te word in tydskrifte, op televisie of in koerante nie. Baie van ons voel maar gefrustreerd en op ons eie, en ek weet van talle ongelooflik talentvolle illustreerders wat eerder oorsee wil ontvlug om groener weivelde te soek. Dis eintlik baie hartseer.
Ons is dikwels wesens wat deur emosie bestuur word. Ons leer hoe om daardie emosies te heg aan die emosies van die skrywers deur ons prente te bou op die skrywers se woorde. Aan die begin van enige jong illustreerder se werkslewe kan daardie emosies en trots teen hulle tel, maar met genoeg oefening kan dit gebalanseer word en onder beheer gesit word. Ek voel enigiets kan mooi uitwerk as dit die kans gegee word om volwassenheid te bereik. So, hierdeur wil ek eintlik vir die werkgewers vriendelik vra om die jong talent in ons land te help in hul onervarendheid om daardie volwassenheid te bereik. Daar is nie veel leerskole in ons land vir hierdie spesifieke bedryf nie. Almal moet dit leer op hul eie reis.
Vir die jong illustreerder wat nou eers begin, wil ek graag die volgende sê: Staan sterk, sluk jou trots en leer eers hoe om met respek te praat en hoe om sperdatums te haal. Bou ’n goeie reputasie en lewer gehaltewerk. Wees goedgesind teenoor die mense wat vir jou werk gee. As jy kan hou by hierdie dinge, sal jy raakgesien word. Werk ook in jou eie tyd aan jou eie produkte en projekte. Dit gaan daardie vlammetjie wakker hou. Ek belowe dit.

5. Watter drie illustreerders se werk bewonder jy (en waarom)?

Dis amper onmoontlik om net drie mense te kies, so ek sluit sommer ’n vierde kandidaat in net om myself beter te laat voel oor hierdie vraag!
Jon Klassen:
Jon Klassen is soms ’n illustreerder en soms ’n skrywer daarby. Sy werk het 'n tipe eenvoud wat so goed en slim speel met die teks dat die prente en die teks een onskeibare produk word. Ek hou van hoe sy boeke my kan laat lag. Dit is nie net vir kinders nie, maar vir volwassenes ook.





Shaun Tan:
Ek hou van Shaun Tan oor sy absoluut ongelooflike verbeelding en gebruik van medium. Ek kan ure lank wegraak in die wêrelde wat hy skep. Hy het die vermoë om met beelde te praat sonder om enige woorde te gebruik, en daardeur kan hy enigiemand op ’n reis deur ’n wonderland vat.


Quentin Blake:
Ek is baie lief vir Blake se los, abstrakte lyne en sy meesterlike gebruik van waterverf. Dit is iets wat my eie werkswyse baie help wegbreek het van realisme af.



Liz Climo:

Liz is een van my gunsteling-cartoon-illustreerders. Haar eenvoudige styl en grappies is iets wat my so baie laat lag. Ek hou veral daarvan omdat dit vir my ’n mengsel van kinderboek en strokiesprente is. Dit leen so bietjie uit albei genres uit en raak ’n produk op sy eie. Ek wou nog altyd my eie strokiesprente maak soos dit. Ek hou daarvan om mense te laat lag met prentjies. Liz se oulike en onskuldige humor is my gunsteling-tipe humor. Dit het nie nodig om op enigiemand se tone te trap nie.

Tuesday, September 6, 2016

VYF VRAE AAN JAN VERMEULEN



 1. Jy was lank stil nadat jou veelbekroonde jeugroman Geraamtes dra nie klere nie in 2000 verskyn het – en toe kom jy laas jaar asof uit die bloute en wen LAPA se jeugromankompetisie met Asem. Waarom die lang skryfstilte?

In die tyd het ek nie ophou skryf nie. Ek het gereeld probeerslae vir jeugromanwedstryde en selfs vir die Groot Romanwedstryd ingestuur. Maar telkens die “jammer ons het nie goeie nuus vir jou nie”-briefie van die uitgewers gekry. In dieselfde tyd het ’n klomp omwentelinge in my lewe bygedra tot ’n skrywersbyl wat stomp geraak het. Maar die liefde het weer alles nuut geslyp. Kom ons glo die volgende boek sal nie ook vyftien jaar vat om op die rakke te staan nie.

2. Asem takel moeilike kwessies soos mishandeling en dwelmmisbruik kaalvuis. Was dit vir jou moeilik om hieroor te skryf?

In Asem skryf ek nie oor persoonlike aan-die-eie-lyf-ervaringe nie. In daardie sin was dit nie moeilik om daaroor te skryf nie. Ek het nooit soos my ouer broers met ’n beddegoed-belt pak gekry nie. Ek het dit net dikwels aanskou. My pa was my genadig, want ek was die baba in die huis en seker te klein vir die belt. Buitendien was die oorkoepelende atmosfeer in ons huis sorgsaam en liefdevol, selfs toe my kwaai pa nog geleef het. Maar nie alle “babas” in ons families en samelewing is so gelukkig nie. En om daaroor te skryf is nie altyd maklik nie.

3. Het jy die boek spesifiek vir die jeugromanwedstryd geskryf, of het jy reeds aan die idee gewerk toe jy van die kompetisie te hore kom?

Asem was basies klaar geskryf (met ’n ander naam). Maar toe my dogter my van LAPA se wedstryd vertel, begin die groot geskaaf. Nuwe navorsing. Karakters wat meer groei. Nuwe kinkels. Nuwe intriges. Nuwe motiewe. Lanklaas het ek so hard in ’n kort tyd gewerk om ’n boek genoeg woema te gee om dit vir ’n jeugromanwedstryd te kan inskryf.

4. Wat was vir jou die moeilikste deel van die skryfproses met Asem?

Soos met Asem, is die skryfproses self vir my altyd ’n groot lekkerte, navorsing en herskryf ingesluit. Dit is die spanningsvolle wag vanaf die oomblik wanneer ek die manuskrip oor die Poskantoor se toonbank stoot tot die klaar-boek in my hand rus (indien wel) wat erg is.

5. Wat is die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?

Gee nooit jou onvoltooide werk of ’n manuskrip wat afgekeur is sommer vir enige een om te lees nie. Enige negatiewe kritiek of selfs goedbedoelde opmerkings kan op daardie stadium verwar of vals hoop gee. Loop maar die alleenpad van skryf en herskryf (soms met die raad van keurders en kenners). Mens haal tog nie ’n ongebore baba uit die baarmoeder, wys hom vir vriende en familie en sit hom weer terug dat hy verder kan groei nie. Ná die suksesvolle geboorte kan almal die nuweling na hartelus geniet of uitmekaar beoordeel. Dit het Johann Jordaan my veertig jaar gelede geleer toe ek vroeg in die hoërskool sy korrespondensieskryfkursus, Kortpad na Knap Kortverhale, gedoen het.