Friday, February 18, 2011

Die 7 doodsondes van kinderboeke skryf

1. Stories oor lewelose voorwerpe. Vra jouself as volwassene af: Sal jy jou na die naaste boekwinkel haas as jy hoor daar het pas ’n boek verskyn oor die avonture van ’n skoen, ’n vyftigsentstuk, ’n reëndruppel of ’n potlood? Nie? Nou waarom op aarde dink so baie aspirant-kinderboekskrywers dat kinders hierdie soort leesstof verdien? NIEMAND wil ’n storie oor die wedervaringe van ’n wolk lees nie, nie eens iemand wat vyf jaar oud is nie. Jy moet eenvoudig briljant wees (en by Disney werk) om ’n storie soos Cars of Toy Story te laat werk – tensy jy ’n geniale skrywer is, bly weg van sulke stories.

2. Stories oor oorbekende karakters. Die slinkse jakkals. Die wyse ou uil. Die feetjies wat die blommetjies verf. Die stoute kaboutertjie wat voor die koning moet verskyn. Die Tandmuis wat Jannie se tand kom haal om sy Tandkasteel te bou. Klink dit bekend? Ja, honderde en duisende en tienduisende kinderboeke is al oor hierdie karakters geskryf. Kan jy iets nuut en oorspronklik met hulle doen? Waarskynlik nie. So, kry iets anders om oor te skryf. As jy my nie glo nie, hier’s vir jou huiswerk: Gaan maak ’n lys van al die boeke oor muise wat die afgelope tien jaar in Afrikaans verskyn het. Dit het my pas minder as ’n minuut geneem om aan 11 titels te dink. Laat weet gerus met hoeveel jy vorendag kom. Daar heers ’n muisplaag in die Afrikaanse kinderboekbedryf.

3. ’n Storie wat eindig met: “Skielik word ek wakker. Dit was alles net ’n droom.” Ek haat al hierdie tegniek sedert ek agt jaar oud was. Regtig, ek kan dit baie goed onthou, want dit is min of meer wat aan die einde van C.F. Beyers-Boshoff se Jasper en die ruimtemanne gebeur het. Ek was so vies dat ek daardie boek in die asdrom sou smyt as dit nie was dat ek so vrek bang was vir tannie Willemien, ons biblioteektannie nie. Wie op dees aarde wil ’n hele storie lees net om aan die einde te verneem dit was al die tyd ’n droom? En dan ontdek die karakter natuurlik ’n veertjie of ’n briefie of modder aan sy skoen of iets dergliks wat wys dat dit dalkies-dalkies regtig gebeur het. Asdrom toe!

4. Stories met ’n lessie. Het jy al die storie gehoor van die luiperdjie/olifantjie/renostertjie wat gewens het hy het nie kolle/’n slurp/’n neushoring gehad nie? Ja? Jy onthou mos, die een oor die dier wat op die ou einde besef jy moet tevrede wees met wie jy is en hoe jy lyk. Afgesien van die feit dat hierdie storielyn so afgesaag is soos die helfte van die Amasonereënwoud, maak dit ook die aanname dat kinders dommerige, ongemanierde wesentjies is wat om elke hoek en draai ’n les geleer moet word of in wie se keelgate jy ’n boodskap soos slegte medisyne of Brusselse spruitjies moet probeer afwurg. As jy kinders wil vermaak, word ’n kinderboekskrywer. As jy vir kinders wil preek, oorweeg eerder ’n graad in die teologie.

5. Stories wat afpraat na kinders. Maatjies, julle moet nooit sulke soort storietjies skryf nie, hoor? Dit maak my ou hartjie baie seer, en dit wil ons mos nie hê nie, of hoe? Pasop tog maar vir die oulike ou verkleinwoordjies, nè? En bly maar weg van nare ou aanspreekvormpies, maatjies. As jy vir kinders skryf, moet jy vergeet dat jy ’n grootmens is. Vergeet dat goedgemanierde kinders veronderstel is om vir jou Oom of Tannie te sê.

6. Swak rymverhale. ’n Kinderboek hoef nie te rym nie. Dr. Seuss was briljant met rym en het briljante boeke op rym geskryf. As jy nie briljant met rym is nie, gaan jy vrotsige boeke skryf as jy probeer rym.

7. Vervelige prosa. Party grootmense is skynbaar mal daaroor om boeke te lees waarin daar so min as moontlik gebeur. Ek kon dit nog nooit mooi verstaan nie, maar ek lei af dis waar, want ek het al sulke boeke gelees en agterna gesien hulle is op die topverkoperlyste of wen belangrike pryse. Kinders, aan die ander kant, hou gelukkig glad nie van sulke stories nie. Moet dus nie vir bladsye lank verduidelik hoe die heuwels of die rivier of die hoofkarakter se rok lyk nie. Trouens, tensy ’n karakter se klere om een of ander rede belangrik is, is dit nie eens nodig om daarna te verwys nie – jou leser sal aanneem die karakter loop nie normaalweg kaalstert buite rond nie.

Kopiereg (c) Jaco Jacobs

Wednesday, February 16, 2011

Wanneer laas het jy 'n boek oor 'n wolk gelees?


Soos ek hier sit, is ek sommer half grommerig.

En dis als te wyte aan ’n boek.

’n Kinderboek, boonop.

Ek snuffel gereeld op die internet rond in ’n poging om tred te hou met watter nuwe kinder- en jeugboekeboeke plaaslike en oorsee verskyn. Vanoggend toe ek deur die nuutste kinderboeke op Kalahari.net scroll, kom ek af op ’n boek getiteld Cyril the Serious Cirrus Cloud.

En vir die eerste keer in die byna twee jaar wat ek al uitstekende voorskrifmedikasie daarvoor gebruik, voel ek ’n sooibrand in my opwel.

Hoe op dees bloue aarde is dit moontlik dat daar in 2011 nog sulke boeke vir kinders gepubliseer word?

As jy ’n volwassene is, vra jouself ’n oomblik lank af: Wanneer laas het jy ’n uitstekende boek oor die avonture van ’n wolk (pratend of andersins) gelees? Sou jy jou na die naaste boekwinkel haas om ’n splinternuwe boek oor die avonture van ’n wolk (pratend of andersins) te lees? Trouens, dink jy enige regdenkende volwassene sal graag ’n boek oor die avonture van ’n wolk (pratend of andersins) wil lees?

Nee?

Nou hoekom op aarde word sulke stories vir kinders gepubliseer?

Ek maak nie gewoonlik opmerkings oor boeke wat ek nie gelees het nie, maar ek gaan sowaar as vet nie R88,95 plus posgeld uithaal om my vermoede te bevestig dat hierdie ’n vrotsige, prekerige boek is nie.

Sulke boeke onderskat kinders se intelligensie. Sulke boeke is die rede waarom sommige mense neersien op die kinderboekgenre. Sulke boeke is die rede waarom soveel kinders nie van lees hou nie.

En as jy my vra, behoort Cyril the Serious Cirrus Cloud uit kinderbiblioteke verban te word, saam met cutesy boeke oor die tandemuis, pratende sokkies en treintjies/vliegtuigies/bootjies-wat-klein-maar-dapper-en-sterk-is (my vriend Fanie Viljoen se beskrywing van nog 'n irriterende kinderboekverskynsel).

Goed. Genoeg tekere gegaan.

En nou gaan ek Citro-Soda drink.