Sunday, July 21, 2013

Vyf dae, vyf verse: Dag 5


Broccoli
© Jaco Jacobs
Pa sê: “Eet al die broccoli op jou bord
as jy groot en sterk wil word!”
Jig! Dié goed moet in die tuin bly.
Ek dink ek sal liewer klein bly!

Vyf dae, vyf verse: Dag 4


Brood: Vier kwatryne
(c) Jaco Jacobs

Die honger en die dors,
o, die honger en die dors.
Daai meisiekind laat rys my hart
soos potbrood in my bors.

Die hart wat ruk en stotter,
die hart wat ruk en stotter.
Party meisies is konfyt en stroop,
maar jy’s my brood en botter.

Die vis het weggekom,
o, die vis het weggekom.
Die een se dood, die ander se brood –
jy kuier nou by hom.

*

Die trane en die spyt,
ja, die trane en die spyt.
Vir jou was ek brood en botter,
maar vir hom is ek stroop en konfyt.

Wednesday, July 17, 2013

Vyf dae, vyf verse: Dag 3


’n Groot kunswerk
© Jaco Jacobs
Ek is jammer oor die prent
teen die sitkamermuur.
Ek wou ’n olifant teken,
maar daar was te min papier.

Vyf dae, vyf verse: Dag 2


Wanneer ek verdwyn
(c) Jaco Jacobs
Soms is ek ’n mal wetenskaplike
wat monsters lewend maak;
soms moet ek soos Frodo
gaan veg teen ’n wrede draak.

Ander kere weer vlieg ek
saam met Peter na Nimmerland;
of as ek weer sien is, ek saam met Crusoe
op ’n mensvretereiland gestrand.

Jy kan my soms Van Helsdinges noem,
want ek staan my man teen vampiere,
en soms maak ek ’n draai in Toad Hall
saam met Mol en die ander diere.

Partykeer kuier ek by Heidi
en eet van Oupa se bokmelkkaas;
of drink tee saam met Alice,
’n hoedemaker, ’n muis en ’n haas.

Soms roep my ma tevergeefs,
en bekommerd moet sy dan na my soek –
want ek verdwyn gereeld
tussen die blaaie van ’n storieboek.

Tuesday, July 16, 2013

Vyf dae, vyf verse: Dag 1


Ek het onlangs die finale afrondingswerk gedoen aan twee nuwe bundels met kinderverse wat volgende jaar die lig sal sien. In die proses is daar altyd ’n paar versies wat nie die paal haal nie – soms omdat hulle nie goed genoeg is nie, en soms omdat hulle nie by die tema of raamwerk van die bundel inpas nie. Op my rekenaar is ’n hele dokument vol van hierdie rympies wat nog nooit hul staanplek iewers gekry het nie. Vir die volgende vyf dae gaan ek elke dag ’n voorheen ongepubliseerde rympie hier op my blog plaas. Lewer asseblief kommentaar en laat weet wat jy van elke rympie dink!

Hier is die eerste een ...

Net voor dit begin reën
© Jaco Jacobs
Toe die son eensklaps
agter die wolke verdwyn ...
bokspring ’n broek
en sy pype skop omhoog.
’n Uitklokromp swaai
met ’n swierige boog.
’n Wit hemp tiekiedraai
met ’n rooi rok van satyn.
Die wasgoed dans van vreugde
aan die wasgoedlyn.