Showing posts with label stalmaats. Show all posts
Showing posts with label stalmaats. Show all posts

Tuesday, February 9, 2016

5 redes waarom kinders versot is op reeksboeke


Byna twee jaar gelede het ek e-pos gekry van ’n ma wat vertel het hoe haar tienjarige seun, wat altyd ’n trae leser was, begin het om die Professor Fungus-boeke te verslind. Twee weke gelede kry ek weer e-pos van dieselfde ma, wat vertel haar seun is intussen met ’n vorm van disleksie gediagnoseer, maar hy is steeds ’n groot Professor Fungus-aanhanger en het onlangs spesiale vermelding in die klas gekry omdat hy so goed lees.
            In die verlede is daar dikwels neergesien op reeksboeke. Dit is beskou as nie “literêr” genoeg nie en daar is selfs beweer dit maak van kinders lui lesers. Deesdae besef baie ouers, onderwysers en bibliotekaresses gelukkig dat ’n lekker boekereeks dikwels die perfekte manier is om ’n huiwerige leser se leeslus te prikkel.
            Maar waarom hou kinders so baie daarvan om ’n reeks boeke te lees waarin dieselfde karakters verskyn?

1. Die karakters voel soos ou vriende. Eintlik is dit geen verrassing nie. Waarom kyk jy graag na jou gunsteling-TV-reeks? Heel moontlik omdat jy daarvan hou om te sien wat die karakters, met wie jy nou al goed vertroud is, in elke episode aanvang. Wanneer ’n leser byvoorbeeld ’n nuwe Zackie Mostert-boek optel, weet hy reeds wie hy tussen die blaaie gaan teëkom – die ondeunde Zackie en sy beste pel, Vincent, die klaerige mevrou Langenhoven van langsaan met haar nare kat, en Anton die skoolboelie wat sy bes probeer om Zackie se lewe te versuur.

2. Jy kan voorspel of jy van die storie gaan hou. Om ’n boek te kies waarvan jy hou, is nie altyd so maklik nie. Is jy al ooit deur ’n mooi voorblad of ’n oulike titel verlei om ’n boek te koop of uit te neem wat later blyk glad nie in jou smaak te val nie? Jong lesers het dieselfde probleem. Reeksboeke maak die keuse vir hulle makliker. As jy ’n Stalmaats-boek of ’n Nova-boek (Fanie Viljoen) of ’n Thomas@-boek (Carina Diedericks) gelees en daarvan gehou het, hoef jy waarskynlik nie te wonder of die res van die reeks in jou smaak gaan val nie.

3. Herhaling is pret. Onthou jy Saartjie se weerbarstige krul? Of Galpil van Trompie-faam wat almal “Ou Perd” genoem het? Of Liewe Heksie se groottoon wat so in die grond geboor het as sy verleë was? Deel van die lekkerte van ’n reeks boeke is om bekende sêgoed of frases of gewoontetjies telkens raak te loop. By Einstein se snor! (Soos professor Fungus sal sê.)

4. Reeksboeke het versamelwaarde. Ek was van kleins af ’n ywerige versamelaar – ek het in verskillende stadiums enige iets van seëls tot Pokémon-skyfies versamel. My reeksboeke het ’n ereplek op my boekrak. Al die Twilights en Harry Potters en Thomas@-boeke op my rak staan mooi langs mekaar, in volgorde – soos dit enige goeie versamelaarsitem betaam. As ek ’n reeks begin aankoop, háát ek dit as die omslagontwerp mettertyd verander of as ek ’n uitgawe kry wat anders lyk as die res – want tipies versamelaar wil ek hê al my boeke moet bymekaar pas.

5. Dit laat jou naels kou. Die navraag wat ek die meeste via my webtuiste en Facebook kry, is: Wanneer verskyn die volgende Stalmaats-boeke? Daar het nou reeds sestien boeke in die reeks verskyn. Elke boek kan afsonderlik gelees word, maar die stories volg ook logies op mekaar, met storielyne waarop algaande voortgebou word. Die aankondiging van die nuwe boeke se titels en die bekendmaking van die omslae op Stalmaats se Facebook-groep word deesdae met groot entoesiasme afgewag. Ek kry selfs boodskappe waarin lesers my probeer oorreed om solank te verklap wat volgende gaan gebeur! (Hou nog net ’n bietjie uit – nommer 17 en 18 verskyn later vanjaar!)


So, daar het jy dit – vyf goeie redes om jou kind aan reeksboeke bekend te stel. En moenie kla as jy binnekort boekwinkel toe moet ry om die res van die reeks aan te skaf nie ...

Tuesday, June 7, 2011

Stalmaats


Nou ja, dis amptelik: Die elfde en twaalfde (en voorlopig laaste) van die Stalmaats-boeke is vanoggend na die uitgewer toe. Die titels is (voorlopig) Sirkusperde en Afskeidsrit.

Die druk kan nogal erg word as mens ’n reeks boeke skryf – ’n keer of wat was daar al omslae gereed vir boeke waarvan ek die storie nog nie eens klaar geskryf gehad het nie en waarvan die sperdatums gevaarlik naby was. Maar dit is ook elke keer lekker as jy weer met die bekende karakters en ruimtes begin werk. Teen hierdie tyd is daar al prentjies in my kop van Anri-hulle se huis, van hoe die Dagbreek-ryskool se uitleg lyk, en natuurlik van hoe Anri, Megan, Karen, Jacques, Vinette en al die ander karakters lyk. 

Regdeur die reeks was dit pret om vir Hendri nuwe obsessies uit te dink (as hy nie ’n brandweerman wil word nie, wil hy in die sirkus gaan werk – nes ekself toe ek ’n kleuter was) en met nuwe dinge vorendag te kom waarmee Karen die immer katterige, verwaande Vinette kan toesnou (“Het jy dan nie iets om te doen vandag nie, Vinette? Jy weet, soos ’n beauty treatment ... ek hoor daar’s vandag spesiale afslag by die kattesalon.”).

Maar dit is ook ’n uitdaging om elke storie uniek te hou, sodat die reeks nie eentonig word nie. Boek 12 is nogal hartseer, moontlik omdat ek nogal treurig was om afskeid te neem van die reeks.

Ek dink ek het dit al voorheen op hierdie blog gesê, maar hier's dit weer: Navorsers sê lesers geniet reeksboeke omdat hulle met vertroude karakters en situasies en ruimtes te doen kry, en dit is waarskynlik die lekkerste deel daarvan om ’n reeks te skryf ook.

Gaan daar nog Stalmaats-boeke wees? As dit van my uitgewer afhang, beslis. Maar vir nou wil ek eers ’n blaaskans neem. “Lize Roux” is besig om oor ’n nuwe reeks te broei ...

* Sirkusperde en Afskeidsrit verskyn, as alles volgens plan verloop, Oktober by LAPA Uitgewers.
* Hier is al die titels in die reeks:

1. Perdedrome (LAPA, 2006)

2. Totsiens, Sugarplum (LAPA, 2006) – Wenner: ATKV-kinderboektoekenning 2007

3. Anri se plan (LAPA, 2007)

4. Die spookperd (LAPA, 2007) – Wenner: ATKV-kinderboektoekenning 2008

5. Die beroemde ruiter (LAPA, 2008)

6. Komaan, Karen! (LAPA, 2008)

7. Seeponies (LAPA, 2009)

8. Roset (LAPA, 2009)

9. Vrye Teuels (LAPA, 2010)

10. Gevaar op Dagbreek (LAPA, 2010)

11. Sirkusperde (LAPA, Julie 2011)

12. Afskeidsrit (LAPA, Julie 2011)

Friday, May 6, 2011

Musiek vir jou muse



Die Twilight-skrywer Stephenie Meyer se muse is ... Muse. Dié Engelse rockgroep word voorin byna al haar topverkoperboeke bedank vir hul “hulp” tydens die lang, eensame ure wat dit geverg het om haar vampierreeks te skryf.

            Ek is self mal daaroor om musiek te luister terwyl ek skryf – trouens, net vanoggend het ek donker-vroeg reeds met my oorfone op my ore gesit en kliphard na 30 Seconds to Mars se This is war geluister terwyl ek aan die nuwe Stalmaats-boek gewerk het.

En ek is self ’n Muse-aanhanger, hoewel ek nie kan getuig dat ek al ’n hele boek op die maat van hul musiek voltooi het nie. Ek verkies My Chemical Romance of Rammstein of 30 Seconds to Mars of Placebo wanneer ek skryf.

            Iemand het my op ’n dag gevra hoe ek metal of harde rock kan luister en terselfdertyd liefdesverhale en onskuldige perdestories skryf. Die antwoord is redelik eenvoudig – as ek musiek luister, word dit ’n soort “stilte” wat my help om te konsentreer op my skryfwerk. Dit is waarom ek nooit na ’n nuwe album luister terwyl ek werk nie – dit moet iets bekend wees. En die ironie is, hoe harder en rowwer die musiek, hoe beter werk dit vir my en hoe makliker konsentreer ek gewoonlik.

            Soms is daar wel iets aan die toonaard van ’n spesifieke liedjie (of ’n album) wat maak dat ek daarby vassteek terwyl ek skryf. Terwyl ek my zombieboek, Virus, geskryf het, het ek byvoorbeeld Velcra se liedjie Big Brother om een of ander rede oor en oor geluister. Ek is steeds nie seker hoekom nie, maar dit was asof daardie liedjie, spesifiek die bruggedeelte, perfek gepas het by wat ek besig was om te skryf.

            Skryf is ’n bietjie soos om ’n padwedloop te doen. Dis lank en uitputtend en jy kan maklik moedeloos raak. (Dalk is dit waarom ek nog nooit ’n marathon of ’n volwasse roman aangepak het nie.) Dit is waarom ek ook nie graag sonder my MP3-speler draf nie – ek zone out met die bekende liedjies in my ore en vergeet van die feit dat daar nog kilometers voorlê. Of baie bladsye ...

Tuesday, November 16, 2010

'n Kas vol Monsters


Ek dink die meeste skrywers sal vir jou sê dis nie grappies om ’n reeks boeke te skryf nie. Veral nie as jy iemand met ’n korterige aandagspan is soos ek nie. Afgesien daarvan dat jy moet kophou soos die spreekwoordelike dronk weeluis om nie deurmekaar te raak met storielyne, karakters se name, ensovoorts, nie, is dit ook ’n uitdaging om steeds geïnteresseerd te bly in ’n konsep wat jy waarskynlik jare gelede reeds geskep het.

            Maar daar is ook groot lekkertes daaraan verbonde om ’n reeks te skryf; dit het ek die afgelope paar dae weer besef terwyl ek aan ’n nuwe boek in my ’n Kas vol monsters-reeks geskryf het. Ek hou regtig van die karakters in die stories (veral die vyf monsters wat uit Denver se kas te voorskyn kom) en die reeks is van so ’n aard dat die monsters se kenmerke en persoonlikhede telkens die stories help vorm.

            Soos met baie van my stories, het die reeks met ’n “wat as”-speletjie begin. Eerstens: Wat as ... die ou hangkas in jul nuwe huis die geheime ingang na ’n kasteel vol monsters is?

Daar is:

              Kriewels, ’n oulike groen hand sonder ’n lyf;

            Elvis, ’n flambojante vampier;

Toets, ’n sexy, blonde mummie;

            Frank, ’n lang, gawe monster wat stadig praat; en

            Flaffie, ’n knorrige weerwolf.           

            En dan vir die stories, wat ek so prettig en snaaks as moontlik wou probeer maak: Wat as ... jou hand voete kry? Wat as ... ’n vampier vir sy ouma foto’s wil stuur, maar hy bly onsigbaar op elke kiekie? Wat as ...

Oukei, ek gaan nog nie die volgende storielyne verklap nie, maar jy kry die idee.

            Minstens vier van my boekreekse sal volgende jaar uitbrei, as als volgens plan verloop. Kyk uit vir:

·      Wat weeg ’n walvis, die nuutste boek in my dierefeitereeks;

·      twee nuwe Zackie Mostert-boeke (nog ’n reeks waarmee ek vreeslik baie pret het – arme Zackie is SOOOO goed daarmee om in die moeilikheid te beland!);

·      twee nuwe Stalmaats-perdestories (daar is reeds tien in die reeks);

·      en die volgende twee boeke in die ’n Kas vol monsters-reeks.

En terwyl ek nou hier sit en skryf, herkou ek aan ’n idee vir die monsters se volgende avontuur ... Tyd om in die kas te gaan loer!