Showing posts with label illustreerders. Show all posts
Showing posts with label illustreerders. Show all posts

Wednesday, August 16, 2017

VYF VRAE AAN JOHANN STRAUSS


1. Dis nogal ’n uitdaging om biografiese inligting oor jou op die internet op te spoor – waarskynlik omdat Google duisende bladsye oor jou naamgenote, die bekende komponiste, het! Vertel my ’n bietjie meer oor jouself.

Jy's reg, my naamgenote het nogal aansienlik meer as ek bereik ... dankie vir die herinnering, Jaco. Dankie.
My oorsprongstorie sluit ongelukkig nie iets interessants soos Krypton of ’n spinnekopbyt in nie, maar bloot ’n klein dorpie in die Vrystaat genaamd Virginia. Dis een van daardie dorpies waar die tannies in die straat nog bymekaargekom het om te skinder oor die tannies aan die ander kant van die straat en al wat hulle saambring, is om te kla oor die straatlig wat al vir meer as ’n week uit is. Dinge lyk vandag natuurlik baie anders as die dae toe ek daar grootgeword het, maar ek sal altyd lief bly vir die klein dorpie. As dit nie vir die groot hoeveelheid “niks” was wat gereeld daar gebeur het nie, sou ek nie vandag so tuis gevoel het in ’n beroep waar die grootste avonture in ons verbeelding plaasvind nie. (En in daardie verbeeldingswêreld is ek net so suksesvol as my naamgenote ... Weer eens: Dankie, Jaco. *Klap tong*)
Toe ek klaar was met hoërskool het my pa ’n Chomp by ons voordeur gelos, en toe ek uitgaan om dit op te tel, hoor ek die voordeur toeslaan en sluit agter my, en daar vind ek myself grafiese ontwerp swot by die techikon hier in Pretoria. ’n Dorpie waar ek tot vandag toe woon, want ek is lui en ry nie graag nie.


2. Het jy altyd ’n passie vir kinderboekillustrasies gehad, of hoe het jy in die bedryf beland?

Ek het eintlik ’n passie gehad om ’n space cowboy te word, maar ongelukkig beweeg die tyd nie met my verwagtinge nie. My passie vir illustrasie lê wel by baie dissiplines. Van konsepkuns tot ou tradisionele skilderye. Hoe ek in die kinderboekillustrasiebedryf beland het (’n woord wat ek nie graag tik nie, want my vingers kramp nou), was bloot per toeval. Terwyl ek grafiese ontwerp geswot het (*sien asseblief die traumatiese Chomp-voorval van vraag 1), is ek in my derde jaar deur ’n uitgewery, Fantasi, genader, en oom Frans wat daar werk, het my baie mooi gevra om vir hom te gaan prentjies teken nadat ek klaar geswot het. Ek hou mos van prentjies en kon nie wag nie en het toe sommer in die tweede helfte van my derde jaar al vir hulle begin illustreer. Toe my swottings klaar was, het ek voltyds by Fantasi begin werk as hoofillustreerder en deeltyds vir advertensie-agentskappe. Ja, sommer vir al twee in die begin. Ek slaap dus min en worry baie.
Vandag werk ek voltyds vir myself. Dis die boosaardigste baas wat ek nog teëgekom het. Sy asem stink soos sterk koffie en peanut butter-broodjies.

3. Vertel my ’n bietjie hoe jou kreatiewe proses werk wanneer jy ’n teks van ’n uitgewer ontvang om te illustreer.

Gewoonlik probeer ek die manuskrip lees soos wat (ek dink) die skrywer dit wou gehad het. In een sitting. Aan die einde van elke hoofstuk (sou die manuskrip so opgebreek word) sal ek vinnig die toneel teken wat meeste by my gebly het en dan onmiddellik verder lees. Dit lei gewoonlik daartoe dat ek óf klein detail uitlos, óf detail bysit soos wat ek die storie vir myself visueel vertel – en dit lei tot baie uitgewers wat ou partytjiewoorde uitgrou en na my kant toe gooi, want hulle dink ek gee nie aandag nie.
Nadat ek die manuskrip klaar gelees het, gaan ek terug en probeer sin maak van al die skrabbels, en herleef weer die storie soos wat ek weer alles in detail oorteken. Dit lei meestal tot meer detail wat uitgelos of bygesit word – en dan sal iemand soos Miemie van LAPA vir my vra hoekom die drie varkies nou op meganiese dinosourusse ry en AK’s in albei hande het.

4. Mense vra dikwels vir skrywers: “Wat inspireer jou?” Ek wou dieselfde vraag nog altyd vir ’n kinderboekillustreerder vra. So …?

Goeie stories van goeie skrywers, (#JacoJacobs) en mense wat baie meer suksesvol as ek is, soos die ander Johann Strauss ... van wie ek aanhoudend hoor. (#klaptong)
Dis eintlik verskillende dinge op verskillende tye. Ek sien dalk ’n vreemde klipformasie op vakansie en dit kan my verbeelding na ’n cool draak-konsepskets stuur wat ek net móét teken (al gooi ek dit weg sodra dit klaar is) of na meer obvious goed soos ’n nuwe styl wat ek raakgegoogle het. Klein goedjies kan lei tot ’n boek vol idees, hang net af in watter headspace ek is ... en daar is baie space in my head. Wag ... dit het nie reg uitgekom nie.

5. Wys vir my een illustrasie uit jou kinderboek-oeuvre waarop jy besonder trots is of wat vir jou uitstaan, en vertel my waarom jy daardie spesifieke een gekies het.


Die stuk wat dadelik by my opkom, is ’n dubbelblad van die eerste kinderboek waarin ek totale kreatiewe vryheid gehad het. Dit is ’n dubbelbladuitleg uit een van die eerste vier boeke in die Droombos-reeks (uitgegee deur Fantasi). Ek noem die eerste vier, want toe was daar nog redelik tyd om genoeg aandag aan alles te gee. Nog ’n rede hoekom ek van die stuk hou, is omdat dit alles met tradisionele mediums gemaak is. Vandag werk ek 90% digitaal – soos Arnold Schwarzenegger in Terminator. Net met ’n Afrikaanse aksent.

Monday, June 27, 2011

Waarom word prenteboeke nie behoorlik geresenseer nie?





Ek weet nie hoeveel mense dit besef nie, maar in ons huidige finansiële klimaat is die publikasie van ’n oorspronklike Afrikaanse prenteboek so amper-amper ’n wonderwerk.

’n Wonderwerk dat skrywers nog bereid is om prenteboeke te skryf, want die outeursgeld wat jy op so ’n boek verdien, is maar skraps.

’n Wonderwerk dat daar nog illustreerders (en góéie illustreerders, boonop) is wat bereid is om prenteboeke te illustreer, want dit verg dikwels maande en maande se werk, ’n stel volkleurskilderye waarvoor jy nou nie juis ’n king’s ransom verdien nie.

’n Wonderwerk dat uitgewerye nog bereid is om oorspronklike Afrikaanse prenteboeke te publiseer, ondanks die feit dat dit heelwat goedkoper en makliker is om oorsese boeke te vertaal en in koproduksie met groot internasionale uitgewershuise te produseer.

Tog is ek oneindig dankbaar daaroor, want van die prettigste en kreatiefste skryfwerk wat ek tot dusver gedoen het, was prenteboektekste. Liewe land, ’n olifant! en Madelief, moenie! was enorme pret om te skryf. So ook Waarvoor is seerowers bang?, wat oor ’n paar maande verskyn.

Martie Preller se Babalela het verskyn in ’n tyd toe uitgewers dit eintlik nie wou waag om prenteboeke te publiseer nie. ’n Hele geslag Afrikaanse kinders het met Babalela grootgeword; het geleer dat dit oukei is om, as mense aanhou karring aan jou, soms te sê: “Los my uit!”

Dit sou ’n reuseverlies wees as boeke soos die Babalela-reeks, Wat doen jy, Daniël? van Leon de Villiers, Niki Daly se Jamela-boeke, die hartroerend mooi Lena se bottelboom van Wendy Maartens, en Alana Bailey se Die prinses van die Afrikavlaktes nooit in Afrikaans verskyn het nie.

So, nou is my vraag: Waarom word Afrikaanse prenteboeke selde of nooit behoorlik in die media bespreek?

As daar na ’n nuwe prenteboek op ’n koerant of tydskrif se boekeblad verwys word, is dit gewoonlik bloot ’n kort aankondiging. Of een van die subs kry die geleentheid om in 'n paar woorde te skryf wat sy/haar kinders van die boek gedink het. 

Prenteboeke is baie kleuters se eerste kennismaking met stories in Afrikaans – maak dit dan nie sin dat hul liefde vir lees reeds met hierdie kennismaking gevestig kan word nie? As jy so daarna kyk, hoe op aarde kan die waarde van prenteboeke (en ander kinderboeke, wat net so gruwelik afgeskeep word) dan nog in ons literêre sisteem gering geskat word? Daar is tog sekerlik resensente wat genoegsame agtergrondkennis het om ’n behoorlike ontleding van ’n prenteboek te kan doen?

Waarom skryf niemand ooit oor hoe subtiel en humoristies die ernstige “boodskap” van die teks gehanteer word in Niki Daly se Moenie vir Bernard soen nie en Wat is jy, Kartoffel? van Marga Jonker?

Waarom gaan die debuutwerk van talentvolle nuwe illustreerders soos Chris Venter, Maja Sereda, Katrin Coetzer, Sebastien Quevauvilliers en Zunica Joao so ongesiens verby? Hoekom kan ’n resensent met ’n deeglike agtergrond in illustrasie nie ’n slag ’n onderhoudende resensie oor hierdie illustreerders se werk skryf nie?

Waarom tref niemand ooit 'n vergelyking tussen die gehalte van plaaslike prenteboeke en dié wat oorsee verskyn nie?

Waarom kry prenteboeke so dikwels slegs media-aandag as daar ’n celebrity angle daaraan gegee word? (En gewoonlik is die gehalte van sulke boeke juis onder verdenking.)

Die Afrikaanse media behoort nie kinderboeke te ignoreer nie. Dit is nie ’n Mickey Mouse-genre nie; kinderboeke is ’n genre met sy eie publikasiewetenskap, sy eie tradisies en norme en klassieke tekste.

En dit is die genre wat hopelik in die toekoms lesers vir Afrikaans sal help verseker. Dis nou te sê as daar oor tien jaar nog oorspronklike Afrikaanse prenteboeke verskyn.

Thursday, September 2, 2010

Oor illustrasies

Ek sê dikwels vir mense seker die grootste lekkerte van kinderboeke skryf, is om die eerste keer die illustrasies en die voorbladontwerp te sien. Ek het pas vandeesweek great nuwe illustrasies van Chris Venter gekry vir ’n nuwe boek van my wat vanjaar nog die lig sien, en ek het sedertdien reeds ure lank (met ’n tevrede glimlag) daarna gesit en staar.

            Vir diegene wat dalk nie weet nie, die meeste kinderboekskrywers doen nie self hul illustrasies nie. As jy by ’n uitgewery publiseer wat enigs

ins sy sout werd is, stel hulle ’n illustreerder aan en betaal hom/haar. Ongelukkig (of gelukkig!) beteken laasgenoemde feit egter ook dat jy as skrywer gewoonlik beperkte insette kan lewer met betrekking tot die keuse van illustreerder – en in baie gevalle sal jy géén inspraak daarin hê nie. Laasgenoemde feit is vir die meeste aspirantskrywers nogal ’n skok. Maar ek was gelukkig nog baie selde teleurgesteld met die eindproduk van ’n geïllustreerde boek. (Ek kan aan so vier gevalle dink waar ek nie van die illustrasies of voorbladontwerp gehou het nie, maar dis darem uit meer as 50 boeke.) Toegegee, ek kry gewoonlik redelike inspraak in my illustrasies – maar ook net tot op ’n punt.

Meestal het jou uitgewer veel meer kennis van die mark, asook beter idees oor hoe om jou boek verkoopbaar te verpak sodat dit tot die teikenmark sal spreek. En ek weet van gevalle waar die skrywer daarop aangedring het om sy/haar sin te kry ten opsigte van ’n illustreerder of ontwerper, tot nadeel van die eindproduk.

Maar genoeg van die besigheidskant van die saak. Uiteindelik gaan dit oor die pret wat ’n goeie illustreerder met jou teks kan hê en die ekstra dimensie wat hy/sy daaraan kan gee.

Maja Sereda, byvoorbeeld, was myns insiens die perfekte keuse vir my boeke Liewe land, ’n olifant! en Danie Dreyer se dinosouruseier en ander alfabetpret. In albei gevalle het ek gevoel die eindproduk is méér as die aanvanklike woorde wat ek geskryf het. (En kinders het saamgestem, want in albei gevalle is Maja se illustrasies deur kinders aangewys as die gewildstes in hul ouderdomskategorie vir die ATKV-kinderboektoekenning.) Tanja Joubert (13 Spookstories) is nog ’n illustreerder wat slim met ’n teks werk om dit uiteindelik veel meer te laat sê as wat die woorde alleen doen – gaan kyk maar ’n bietjie wat gebeur alles in daardie spokerige illustrasies van haar!

Ek was baie gelukkig dat ’n hele klomp talentvolle nuweling-illustreerders aan my boeke kon werk. Maja was destyds met Danie Dreyer een van hulle – deesdae is sy reeds ’n gerekende en gevestigde illustreerder. Daar was ook Magriet Brink (o.a. Wiskunde gee my maagpyn), Gerhard Cruywagen (o.a. Pasop vir die feetjies), Gerhard van Wyk (’n Brulpadda in my tas) en onlangs Sebastien Quevauvilliers met sy fantastiese illustrasies in Madelief, moenie!. En dan is daar natuurlik Chris Venter, wat ek reeds hier bo genoem het en wie se illustrasies myns insiens uitstekend werk in Middernagfees en my nuwe ’n Kas vol monsters-reeks wat binnekort verskyn.

Baiekeer, dink ek, kry illustreerders te min erkenning vir hul rol in die sukses van ’n kinderboek. Dis vrek harde werk – vra my, ek het net een keer my eie boek gehelp illustreer, met die klei-illustrasies in Wurms met tamatiesous en ander lawwe rympies.

So, as jy weer deur ’n kinderboek blaai, doen dit met ’n bietjie meer waardering vir die ure en ure se kreatiewe energie en bloedsweet wat dit geverg het om die illustrasies te doen!