Showing posts with label skryfwerk. Show all posts
Showing posts with label skryfwerk. Show all posts

Tuesday, February 17, 2015

My 5 vrotste storie-idees ooit


"The Kiss of the Muse" - Paul Cézanne
Soms kry jy ’n storie-idee wat jou hoendervel-opgewonde maak. ’n Idee wat jou storie-antennes verbete laat vibreer. Wat jou dadelik ore in die nek die naaste stuk papier laat gryp sodat jy doodseker kan maak hierdie briljante storievonkie word nie iewers in die grys groewe van jou brein geblus nie.
            In my geval is ’n belowende idee dikwels iets baie laf en uitbundig.
            Byvoorbeeld: Sê nou daar’s hierdie outjie wie se ouma die beroemdste Afrikaanse rocker in die land is – maar hy is glad nie beïndruk daarmee nie?
            Of: Wat as die hangkas in jou nuwe slaapkamer in werklikheid die geheime ingang na ’n kasteel is waar ’n hele spul monsters bly – van ’n grillerige groen hand tot ’n knorrige weerwolf genaamd Flaffie en ’n Elvis-nabootsende vampier? Maar eintlik is al hierdie monsters heel vriendelik – en hulle het gereeld jou hulp nodig ...
            Of: Jy sit een middag in die tuin ná ’n besonder moeilike dag by die skool – en uit die bloute val daar ’n man in ’n superhero-pak uit die lug en land reg op julle hondehok. Hy val so hard op sy kop dat hy nie kan onthou wat sy naam is, waar hy vandaan kom of waarheen hy op pad was nie. Trouens, hy kan nie eens onthou hoe om te vlieg nie. Hoe leer jy ’n superhero om weer te vlieg?
            Of: Sê nou jou beste pel dare jou om ’n hele week lank nie jou tande te borsel nie?
            Dis ’n paar van my storie-idees wat oplaas in boekvorm beland het. Jy kan gaan lees wat die idees opgelewer het in My ouma is ’n rock-ster, die Kas vol Monsters-reeks, Superheroes vlieg net saans en Koebaai, gorilla. Oor elkeen van hierdie idees was ek mateloos opgewonde. Opgewonde genoeg om ure van my lewe daaraan te bestee om stories van hulle te maak.
            Maar die Muse het ’n aweregse humorsin. (My baie beskaafde manier om te sê soms is die Muse ’n spiteful helsem.) Partykeer fluister sy die grootste klomp suiwer, onverdunde snert in jou oor. En dikwels het jy nie dadelik die insig om te besef die idee wat jy tans so verwoed op ’n flentertjie papier neerpen, is in werklikheid ’n spul suiwer, onverdunde snert nie.
Hier is vyf van die simpelste storie-idees waarmee ek al gestoei het. Party het my ’n hele paar weke besig gehou – en soms selfs ver genoeg gevorder om my arme uitgewer hoofbrekens te besorg – voordat ek besef het dit stink.

1. ’n Laerskoolseun vlug vir boelies, val van sy fiets af en kap sy kop baie hard. Toe hy wakker word, is hy in ’n vreemde land waar ’n pratende hoender hom probeer oortuig hy is die legendariese Draakslagter wat gekom het om die koninkryk van ’n vreesaanjaende RAAI NET WAT te red. Die manuskrip se naam was Die Draakslagter wat chicken was. Lekker titel. Crap storie.

2. ’n Alfabetboek met rympies oor groente en vrugte. (My uitgewer het gelukkig hierdie uiters opwindende idee heel diplomaties van die tafel gevee nog voor ek by “B vir broccoli” kom uitkom.)

3. ’n Ystervark-seuntjie vra vir sy ystervark-mamma wat “liefde” beteken. Hulle gaan op ’n ontdekkingstog deur die veld om maniere te kry om te verduidelik wat liefde beteken. Ek is doodskaam om te sê die eerste (en enigste) weergawe van die manuskrip bevat die sin: (E)k dink liefde lyk en ruik en proe soos ’n spierwit gousblom. My enigste verontskuldiging is die feit dat ek regtig nog baie nat agter die ore was toe ek dit geskryf het. (En dit het ook nie gehelp dat ek destyds pas gelees het hoeveel eksemplare van Guess how much I love you wêreldwyd verkoop is nie. Dit wys jou net, as jy agter geld aan begin skryf, smaak liefde later vir jou soos ’n gousblom.)

4. Vertaal en herskryf Pinocchio vir ’n nuwe generasie Afrikaanse lesertjies! Fantasties! Briljant! Kom ons spring dadelik weg! *Kry oorspronklike teks in die hande en raak aan die slaap van verveling nog voor jy by die deel kom waar Gepetto die houtpop begin maak.* #ProjekGestaak

5. ’n Boek met die titel Moenie hierdie boek eet nie. Fantasties! Briljant! Kom ons spring dadelik weg! *Sien op Google daar’s reeds ’n boek getiteld Don’t eat this book.* #ProjekGestaak

Nou ja, soos hulle in Engels sê: Some you win, some you lose. En solank die Muse aanhou om idees in jou oor te fluister, moet jy haar maar vergewe vir die kere wat sy jou ’n poets of twee bak.

Friday, April 25, 2014

Dankie, maar nee dankie


“Net mooi alles wat jy skryf, word seker deesdae gepubliseer?” vra ’n aspirantskrywer nou die dag vir my, met ’n goeie skeut moedeloosheid en so ’n sweempie jaloesie in sy stem.
            Ek kon nie help om te glimlag nie.
            Ja, dis wel so dat ek deesdae aansienlik minder nee-dankie-briefies kry as toe ek destyds begin skryf het. Maar helaas, op my rekenaar se hardeskyf is ook ’n goeie handjie vol stories wat die afgelope paar jaar nie die mas opgekom het nie.
            Destyds toe ek nog op hoërskool was, onthou ek hoe ek met my sakgeld twee A4-grootte FastMail-koeverte by die poskantoor gaan koop het, elke keer as ek ’n tydskrifstorie voltooi het. Dan skryf ek die tydskrif se naam en adres op die een koevert, en my eie naam en adres op die tweede een, vou die tweede een dubbeld en plaas dit saam met die storie in die koevert. Met ’n skietgebed gaan gooi jy dit deur die posbus se gleuf. Dan wag jy so ’n maand of twee lank angstig, gaan haal elke middag pos uit nadat jy jou huiswerk gedoen het ... en op ’n dag is daai blou-en-wit FastMail-koevert terug, soos ’n getroue posduif. As hy stewig voel wanneer jy hom uit die poshokkie haal, is dit slegte nuus – dan beteken dit jou storie is teruggestuur. As daar net een folio binne-in is, is dit goeie nuus – dan is dit waarskynlik ’n dankiesêbriefie en, as jy regtig gelukkig is, ook ’n tjek.
            Oor die jare het ek ’n heel indrukwekkende versameling afkeurbriewe bymekaargemaak. Ek kon dit nog nooit oor my hart kry om hulle weg te gooi nie. Jy kry basies twee soorte nee-dankie-briewe. Die eerste is ’n “stock letter” waarop jou adres en die titel van jou storie bloot ingevul is, met iets soos die volgende in die briefie geskryf:
            Baie dankie vir u belangstelling in (naam van tydskrif/uitgewery). Ongelukkig voldoen dit nie aan ons vereistes nie en gaan dit hiermee aan u terug.
            As jy gelukkig is, beland jou storie by ’n redakteur wat bereid is om minstens te verduidelik waarom jou storie nie aanvaar word nie. François Bloemhof, destyds verhaleredakteur van Sarie toe ek begin skryf het, was een van laasgenoemde soort redakteurs. Hy het telkens moeite gedoen om in ’n paar sinne te verduidelik wat fout is met die storie. Dit het my oneindig baie gehelp. Aan die ander kant was daar ook ’n voormalige verhaleredakteur  van die destydse Keur, wat ’n poëtiese benadering aan die dag gelê en ’n keer of wat sommer met blou kokipen dwars bo-oor die titelblad van my storie geskryf het: “Verhaal haal nie die paal.”
            Oor die jare moes ek self ook ’n paar duisend afkeurbriewe skryf. Dis ’n ondankbare taak. Geen skrywer is ingenome met ’n nee dankie nie, dit weet ek uit eie ervaring. Maar ek probeer altyd ten minste ’n rede of twee verstrek om te verduidelik wat die belangrikste probleme met die storie is. 
            Die eerste storie wat ek ooit aan ’n tydskrif probeer smous het, is op ’n antieke tikmasjientjie getik wat my pa vir my gekoop het. ’n Mens kan net wonder wat die arme Huisgenoot-verhaleredakteur van die titel gedink het ...


            
  Hier het Keur se verhaleredakteur darem ’n effense variasie op die verhaal-haal-nie-die-paal-briefie gehad ...           


           
  In 1998, my matriekjaar, het ek die eerste keer vir Sarie ’n verhaal gestuur. Die paar sinne onderaan die briefie was genoeg om my te inspireer om daardie selfde middag nog ’n storie te gaan skryf, een wat uiteindelik wél vir publikasie aanvaar is ... 



  ’n Skrywer is ’n ding wat ’n dik vel en ’n goeie bos hare op sy tande nodig het. My stapeltjie afkeurbriewe herinner my gereeld daaraan dat dit nie altyd ’n maklike pad was nie. Maar pret? Al die pad!