Showing posts with label aspirantskrywers. Show all posts
Showing posts with label aspirantskrywers. Show all posts

Monday, January 5, 2015

5 dinge wat kinderboeke NIE is nie


Ek gaan die jaar afskop met ’n preek. Soos die meeste preke bevat dit nie noodwendig nuwe inligting nie – trouens, van die dinge wat ek hier sê, het ek waarskynlik reeds in vorige inskrywings kwytgeraak – maar soos talle predikers maak ek staat op die ou beleid van inskerping deur herhaling. So, kom ons laat waai ...

1. Kinderboeke is nie ’n vinnige manier om geld te maak nie. Ek is by meer as een geleentheid al gevra of ek kinderboeke – eerder as boeke vir volwassenes – skryf bloot om geld te maak. Ek kon dit meestal regkry om nie te lag nie. Sommige kinderboekskrywers verkoop honderdduisende boeke en verdien goeie geld. Die meeste kan egter nie ’n lewe daaruit maak nie. (Jy weet, daai ou storie van don’t quit your day job, nè? Dis waarskynlik oorspronklik as raad vir aspirant-kinderboekskrywers bedoel.) Kinderboeke is allermins die geldkoei van die boekbedryf. Mense wat so dink, het buitendien geen respek vir die genre nie – en as daar een ding is wat jy nodig het om hierdie genre suksesvol te benader, is dit respek. Vir stories, vir karakters en bowenal vir jou lesers.

2. Kinderboeke is nie maklik om te skryf nie. Ja-ja, ek weet. Kort, lawwe storietjies oor oumas wat rocksterre word, aliens wat in swembaddens beland, robotte wat chaos in klaskamers saai, kinders wat ’n spesiale sjampoe uitvind om bleskop-oupas se hare te laat groei. Hoe moeilik kan dit nou regtig wees? Die antwoord, kan ek jou uit persoonlike ondervinding vertel, is: Blerrie moeilik. Probeer dit gerus as jy my nie glo nie.

3. Kinderboeke is nie ’n wegspringblok na volwasse literatuur nie. Baie aspirantskrywers (en selfs sommige literatore en ander slim mense) glo kinderboeke is ’n manier om ’n “voet in die deur” te kry sodat jy later “regte” boeke kan begin skryf. Vroeër het hierdie siening my bloed laat koop, maar hei, deesdae kry ek bloot so ’n kalm, alwetende en hopelik vreeslik irriterende glimlaggie as ek hoor hoe iemand so iets kwytraak. Nou maar reg so. Laat waai, Meraai. Gaan skryf ’n paar kinderboekies voor jy die Groot Afrikaanse Roman aanpak. Probeer dit gerus. Hehehe. Maar vir die rekord: Ek is ’n kinderboekskrywer en ek hou van wat ek doen – ek lê nie snags wakker en beplan aan die belangrike volwasse roman wat ek eendag gaan skryf nie.

4. Kinderboeke word nie noodwendig oornag geskryf nie. Toegegee, die meeste kinderboeke is baie dunner as boeke vir volwassenes, en verg daarom minder skryfwerk. Maar ek kan getuig hoe ek byna vyf maande gewerk het aan my eerste prenteboek – ’n teks met skaars duisend woorde. Ek moes daai duisend woorde seker twintig keer met ’n geween en ’n gekners van tande oorskryf, terwyl ek met byna elke oorskryf die konsep ook moes aanpas. Party tienerboeke het my meer as ’n jaar geneem om te skryf – en dan praat ek net van die eerste weergawe van die manuskrip.

5. Kinderboeke is nie minderwaardige literatuur nie. Die terrein van die kinder- en jeugliteratuur is, nes die volwasse literatuur, geskakeerd – dit wissel van boeke wat primêr op vermaak en ontspanning gemik is, tot boeke waar moeilike kwessies getakel word en waar ’n verskeidenheid literêre tegnieke ingespan kan word om die leser uit te daag. En regoor hierdie spektrum van kinderboeke is daar boeke wat uitstekend geskryf is en boeke wat minder goed geskryf is – nes in die volwasse literatuur. 

Nou ja, tot sover my preek. Staan asseblief vir die slotgesang. Kollekte sal by die deur ingeneem word.

Friday, April 25, 2014

Dankie, maar nee dankie


“Net mooi alles wat jy skryf, word seker deesdae gepubliseer?” vra ’n aspirantskrywer nou die dag vir my, met ’n goeie skeut moedeloosheid en so ’n sweempie jaloesie in sy stem.
            Ek kon nie help om te glimlag nie.
            Ja, dis wel so dat ek deesdae aansienlik minder nee-dankie-briefies kry as toe ek destyds begin skryf het. Maar helaas, op my rekenaar se hardeskyf is ook ’n goeie handjie vol stories wat die afgelope paar jaar nie die mas opgekom het nie.
            Destyds toe ek nog op hoërskool was, onthou ek hoe ek met my sakgeld twee A4-grootte FastMail-koeverte by die poskantoor gaan koop het, elke keer as ek ’n tydskrifstorie voltooi het. Dan skryf ek die tydskrif se naam en adres op die een koevert, en my eie naam en adres op die tweede een, vou die tweede een dubbeld en plaas dit saam met die storie in die koevert. Met ’n skietgebed gaan gooi jy dit deur die posbus se gleuf. Dan wag jy so ’n maand of twee lank angstig, gaan haal elke middag pos uit nadat jy jou huiswerk gedoen het ... en op ’n dag is daai blou-en-wit FastMail-koevert terug, soos ’n getroue posduif. As hy stewig voel wanneer jy hom uit die poshokkie haal, is dit slegte nuus – dan beteken dit jou storie is teruggestuur. As daar net een folio binne-in is, is dit goeie nuus – dan is dit waarskynlik ’n dankiesêbriefie en, as jy regtig gelukkig is, ook ’n tjek.
            Oor die jare het ek ’n heel indrukwekkende versameling afkeurbriewe bymekaargemaak. Ek kon dit nog nooit oor my hart kry om hulle weg te gooi nie. Jy kry basies twee soorte nee-dankie-briewe. Die eerste is ’n “stock letter” waarop jou adres en die titel van jou storie bloot ingevul is, met iets soos die volgende in die briefie geskryf:
            Baie dankie vir u belangstelling in (naam van tydskrif/uitgewery). Ongelukkig voldoen dit nie aan ons vereistes nie en gaan dit hiermee aan u terug.
            As jy gelukkig is, beland jou storie by ’n redakteur wat bereid is om minstens te verduidelik waarom jou storie nie aanvaar word nie. François Bloemhof, destyds verhaleredakteur van Sarie toe ek begin skryf het, was een van laasgenoemde soort redakteurs. Hy het telkens moeite gedoen om in ’n paar sinne te verduidelik wat fout is met die storie. Dit het my oneindig baie gehelp. Aan die ander kant was daar ook ’n voormalige verhaleredakteur  van die destydse Keur, wat ’n poëtiese benadering aan die dag gelê en ’n keer of wat sommer met blou kokipen dwars bo-oor die titelblad van my storie geskryf het: “Verhaal haal nie die paal.”
            Oor die jare moes ek self ook ’n paar duisend afkeurbriewe skryf. Dis ’n ondankbare taak. Geen skrywer is ingenome met ’n nee dankie nie, dit weet ek uit eie ervaring. Maar ek probeer altyd ten minste ’n rede of twee verstrek om te verduidelik wat die belangrikste probleme met die storie is. 
            Die eerste storie wat ek ooit aan ’n tydskrif probeer smous het, is op ’n antieke tikmasjientjie getik wat my pa vir my gekoop het. ’n Mens kan net wonder wat die arme Huisgenoot-verhaleredakteur van die titel gedink het ...


            
  Hier het Keur se verhaleredakteur darem ’n effense variasie op die verhaal-haal-nie-die-paal-briefie gehad ...           


           
  In 1998, my matriekjaar, het ek die eerste keer vir Sarie ’n verhaal gestuur. Die paar sinne onderaan die briefie was genoeg om my te inspireer om daardie selfde middag nog ’n storie te gaan skryf, een wat uiteindelik wél vir publikasie aanvaar is ... 



  ’n Skrywer is ’n ding wat ’n dik vel en ’n goeie bos hare op sy tande nodig het. My stapeltjie afkeurbriewe herinner my gereeld daaraan dat dit nie altyd ’n maklike pad was nie. Maar pret? Al die pad!