Tuesday, October 22, 2013

10 vrae aan Daniëlle Bakhuis


Daniëlle Bakhuis is die skrywer van Wraak (LAPA Uitgewers), ’n tienerboek wat ek onlangs in Afrikaans vertaal het. Dit is ’n heerlike storie oor wat gebeur wanneer ’n ou en ’n meisie uitmaak ... en besluit om wraak op mekaar te neem. Ek het per e-pos met die skrywer in Nederland gesels.
 
Daniëlle Bakhuis (foto verskaf)
1. Vertel my ’n bietjie meer oor jouself.
My naam is Daniëlle Bakhuis, ek is 31 jaar oud en woon saam met my kêrel in Amsterdam. Ek skryf al sedert ek 17 was vir tydskrifte. Ek het begin as rubriekskrywer vir die meisietydskrif Fancy. Deesdae skryf ek, afgesien van boeke, ook vir die tydskrif CosmoGIRL!.

2. Wraak takel ’n ernstige en relevante tema – internetboelies – maar op ’n lekker vermaaklike wyse. Hoeveel navorsing het jy gedoen tydens die skryf van die boek?
Ek doen eintlik nooit navorsing vir my boeke nie. Ek bly wel graag op die hoogte van aktuele sake, maar daarna vul ek dit in met my eie verbeelding. Dit is vir my ook die lekker ding van fiksie: dat daar geen reëls is waarby jy moet hou nie.

3. Hoe het die idee vir Wraak ontstaan?
Ek het op ’n tyd baie vloggers gevolg: videobloggers. Ek het my afgevra wat sou gebeur as jy so ’n gewilde videoblogger se meisie is, en wat dan sou gebeur as jy met hom sou uitmaak. ’n Videoblogger vlog oor alles in sy lewe, sal hy dan dáároor ook vlog? En wat as dit dan handuit ruk? Bam! Die idee vir Wraak is gebore.

4. Wat is die interessantste terugvoering wat jy tot dusver van lesers oor hierdie spesifieke boek gekry het?
Vir my is die lekkerste wanneer meisies verbaas is omdat lees glad nie vervelig is nie. Lees ís nie vervelig nie! As jy so dink, het jy nog nooit ’n goeie boek gelees nie. :-)

5. In watter tale, afgesien van Afrikaans, is jou boeke tot dusver vertaal?
In Duits. Ek hoop dat my boeke ook nog in Engels vertaal sal word, want dan sal ek dit self ook kan lees, haha. Maar ek het nogal verbasend goed met die Afrikaans gevaar.

6. Hoe voel jy oor die feit dat jou boek nou ook in Afrikaans beskikbaar is – en ken/lees jy enige Afrikaanse skrywers se werk?
Dis baie gaaf dat Wraak nou ook in Afrikaans gelees kan word. Dis vir my ’n enorme eer. Ek ken geen Afrikaanse skrywers nie, so as iemand dalk vir my ’n paar tips het ...?



7. Die omslag van die Afrikaanse uitgawe verskil van die Nederlandse uitgawe van jou boek. Wat dink jy van die Afrikaanse baadjie wat jou storie gekry het?
Ja, dis baie mooi! Waarvan ek ook hou, is dat dit ’n slapbanduitgawe is. Dit buig lekkerder. Ek breek altyd my boeke se rugkante.

8. In die Afrikaanse mark is die eerste drukoplaag van ’n jeugboek gewoonlik 2 000-3 000 kopieë. Hoe vergelyk dit met die Nederlandse mark?
Die oplae is miskien ’n bietjie hoër. Ek dink so 3 000-4 000.

9. Waarom skryf jy hoofsaaklik vir tieners?
My tienerjare was vir my een van die lekkerste tye in my lewe. Alles is nuut, alles is opwindend, alles is superlekker of ontsettend simpel. Tieners is baie oorspronkliker as volwassenes, en hulle het ook ’n groter verbeelding.

10. Op jou webtuiste merk ek dat jy gereeld skole besoek om oor jou boeke te gesels. Watter rol speel sulke skolebesoeke in jou skryfloopbaan? Kry jy byvoorbeeld waardevolle terugvoering?
Dis fantasties om skolebesoeke te doen, want dit gee my die geleentheid om my teikenmark van aangesig tot aangesig te ontmoet. Dit lewer waardevolle inligting op. In Wraak is die hoofkarakter byvoorbeeld baie ontsteld omdat haar eks-kêrel haar selfoonnommer op die internet publiseer. Agterna het ek egter besef dis meer van ’n volwasse probleem. Die helfte van die skoliere met wie ek gesels het, sou glad nie omgekrap wees as hul selfoonnommer op die internet openbaar gemaak word nie. Die reaksie was: “Dan het ek maar net meer mense met wie ek kan WhatsApp.”

Friday, October 11, 2013

Oor boekopdragte



“Wanneer gaan jy nou eendag ’n boek aan my opdra?”
         Ek het al ’n paar keer hierdie versoek gehoor.
         Van die meer as 90 boeke wat ek reeds gepubliseer het, is veel minder as die helfte aan iemand opgedra. Toe my uitgewer destyds daarop aandring dat ek my prenteboek Haasmoles aan iemand móét opdra (want die illustreerder het ’n opdrag gehad), het ek die volgende opdrag voorin laat aanbring:
         Vir Pippie, wat in haar drome hase jaag.
         My uitgewer was nie beïndruk nie. “Dis tyd dat jy kinders kry – ’n mens kan nie ’n boek aan jou hond opdra nie.”
         Ek weet nie hoekom ’n mens nie jou boek aan jou hond mag opdra nie. Maar ek het intussen ’n pragtige dogtertjie ryker geword én reeds ’n boek aan haar opgedra.
         ’n Boekopdrag is vir my ’n baie persoonlike en spesiale ding. My nuwe tienerboek, Oor ’n motorfiets, ’n zombiefliek en lang getalle wat deur elf gedeel kan word, wat ek vandeesweek vir die eerste keer vasgehou het, is opgedra aan my pa. Eerstens omdat my pa die enigste mens is wat ek ken wat langdeelsomme uit sy kop kan doen. Terwyl hy op ’n plaaspad bestuur, kan jy vir hom slaglammers se gewigte hardop voorlees en hy sal dit bymekaartel en selfs die gemiddeld uitwerk en die verwagte slagpersentasie bereken. Daardie talent het ek helaas nie geërf nie, maar die hoofkarakter in my nuwe boek is ’n wiskundeboffin. Die hoofkarakter in my boek het ook ’n baie spesiale pa gehad – ’n pa wat van wiskunde en hoenders gehou het. Op bl. 85-86 is daar ’n lys met tien dinge wat hy van sy pa mis. Dis dalk die hartseerste ding wat ek nog ooit geskryf het.
         My pa is op die oomblik, terwyl ek hier tik, op pad Bloem toe om vir die naweek by ons te kom kuier. Hy weet nog nie die boek is aan hom opgedra nie. As jy hierdie bloginskrywing lees, moenie vir hom vertel voor ek kans kry om hom te wys nie ...

Hier is ’n skakel na die lokvideo vir die boek: http://www.youtube.com/watch?v=3NIudu0TphA

Sunday, October 6, 2013

10 vrae aan Wendy Maartens



’n Perd wat kan lees en tel; wêreldbekende hondehelde soos Just Nuisance en Jock van die Bosveld; Huberta die wandelende seekoei wat die land deurkruis het – die 31 stories in Wendy Maartens se Wonderlike ware dierestories sal jou met nuwe oë na ons geveerde en vierpotige vriende laat kyk. Wat is haar gunsteling-storie in die bundel, hoekom maak storie-soek haar bewerig, en wie is Kersiepit en Petunia aan wie die boek opgedra is?

1. Waar het die idee vir so ’n bundel met ware diereverhale ontstaan?
Ek het van kleins af ’n hart vir diere gehad. Ek het my verstand in my oupa Jan se reuse-voëlhokke gekry en het saam met hom na elke voël-, hoender- en landbouskou gegaan. Ander kinders het pop gespeel. Ek het tarentale en kwartels en konyne gehad wat ek in die kruiwa rondgestoot het en vir wie ek stories vertel het. Hulle het altyd na my gekyk met oë wat verstaan, anders as die grootmense se manier van kyk. Die bundel is op ’n sekere manier ’n brief aan elkeen van daardie diere.

2. Dit het sekerlik baie navorsing gekos om die stories op te spoor. Waar het jy die stories gaan soek?
Storie-soek is ’n wonderlike proses. Eers word jy heeltemal bewerig omdat jy nie ’n idee het waar in die wye wêreld jy alles gaan opspoor nie. Jy is nie eers lus om biblioteek toe te gaan of dit op die internet te waag nie, want daardie soektog lê vir jou en wag. Tot jy dit op ’n dag nie meer kan hou nie en daardie eerste boek oor die onderwerp optel. Dan pak ’n koors jou beet. Ek raak so opgewonde dat ek sommer ses snye peanutbutter-brood opeet. Daardie eerste storie bring jou op die spoor van ’n volgende een en daardie een bring jou weer op die spoor van nog een – ’n hele kettingreaksie. Al wat ek dan moet doen, is om op te hou om so hard te probeer soek en die spoor te volg. En dan is daar natuurlik biblioteek-engele ...

3. Watter een van die diere se stories in die boek het jou die meeste aangegryp?
Die varkie wat die aardbewing in China oorleef het deur steenkool te eet en reënwater te drink. Toe reddingswerkers haar ná weke kry, was sy so maer dat hulle nie kon sien sy is ’n vark nie. Ek het soveel hartseer nuusbulletins oor daardie aardbewing vertaal, maar hierdie het ’n glimlag op my gesig gesit. Ek lief goeie nuus.

4. Feitelike stories kan maklik saai en vervelig word – maar hierdie boek is ’n heerlike leeservaring. Hoe kry jy dit reg om die feite so aan te bied dat jou lesers nie belangstelling verloor nie?
Dis nie ek wat so knap is nie, dis die Goeie Vader wat die diere op so ’n wonderlike manier, met soveel persoonlikheid en humor, gemaak het.

5. Wie is Kersiepit en Petunia aan wie jy die boek opgedra het?
Hulle is twee baie spesiale werfganse wat my op meer as een manier leer vlieg het. Ongelukkig is Kersiepit verlede jaar oorlede. Petunia is nog springlewendig en vol geite en sy het ’n nuwe liefde. Sy naam is Lelieblom. Hy is pragtig en spierwit en hoog op sy pote. Petunia is vaalbruin en laag op die grond soos ’n 80’s Opel. Maar sy het klas – sy maak haar nes met laventeltakke. 

6. As jy enige dier kon wees, wat sou jy kies?
Op die oomblik, ’n swaeltjie. Volgende week dalk weer iets anders.

7. Hoe lyk ’n gemiddelde dag in jou lewe – spandeer jy baie tyd aan skryf?
Ek raak stadig wakker in die oggend. Gelukkig werk my storiekop ook as ek slaap – net nie altyd so mooi netjies en in volgorde soos ek graag sou wou hê nie. Ek maak koffie en gee die tuinvoëls kos en sit sommer net vir ’n rukkie om tot verhaal te kom. Dan is dit ek en die rekenaar of ek en die internet of ek en ’n stapel boeke om navorsing te doen. Omdat ek joernalis en kinderboekskrywer is en onlangs ook as boekredaktrise van ’n tydskrif aangestel is, is my dae gelukkig redelik onvoorspelbaar. Party dae moet ek met iemand ’n onderhoud gaan voer. Ander dae grawe ek ure lank in biblioteke se stoorkamers of tweedehandse boekwinkels of ek moet ’n praatjie lewer. Soms vat dit baie langer om ’n storie te soek as om hom te skryf. Ek is so dankbaar om iets te doen wat ek met my hele hart wil doen. 
 
Illustrasie: Johann Strauss (Wonderlike ware dierestories, LAPA Uitgewers)


8. Wat inspireer jou?
Sekere dinge gee my so ’n lekker kol op my maag, amper soos wanneer ’n mens kleintyd teen die glyplank afgegly het. As ek daardie gevoel kry, weet ek ek is besig met iets wat die moeite werd is. Om dae lank net te kan stap en stap en stap, laat my ook voel ek het vlerke. En om iewers in die veld met my oor teen die grond op te krul en aan die slaap te raak terwyl ek luister hoe die aarde se hart klop. En om soggens die eerste mossie te hoor wat die nagstilte met sy vrolike liedjie breek.  



9. Wat is die lekkerste terugvoering wat jy nog ooit van ’n leser gekry het?
’n Skoenmaker wat dekades lank in ’n agterplaas skoene reggemaak het, het nadat ek oor hom geskryf het vir my ’n boodskap gestuur: “Dis die beste dag van my lewe!”

10. Wat is jou gunsteling-aanhaling oor die skryfkuns?
Dit het nie noodwendig met die skryfkuns te make nie, maar kom uit die mond van een van ons groot digters. Adam Small se woorde: “Ek is altyd gespanne. Ek is ’n denkende mens,” dra ek al jare lank saam met my. Dis vir my oneindig kosbaar. Dit pryk saam met ’n foto van hom teen my studeerkamermuur.

Monday, September 30, 2013

10 vrae aan Eldridge Jason


Die Kaapse joernalis Eldridge Jason se debuut-jeugroman, Gerook, het pas by LAPA Uitgewers verskyn. Hierdie opwindende, spannende roman stel die leser bekend aan ’n skemerwêreld van dwelms en tienergevare waaroor daar nog baie min in Afrikaans geskryf is.

1. Vertel ons ’n bietjie meer oor jouself. Waar woon jy, wat doen jy vir ’n lewe, wat doen jy wanneer jy nie skryf nie?
Ek is oorspronklik van die Weskus (Paternoster) en werk die afgelope sewe jaar as ’n joernalis by ’n Kaapse dagblad. Ek, my vrou, Winnie, en ons driejarige seuntjie, Danté, woon in Kuilsrivier. En wanneer ek nie skryf of onderhoude voer nie, hou ek daarvan om ’n naweek weg te breek en iewers heen te gaan waar ek veral na die stilte van die platteland kan luister. Ek is nou eenmaal nie ’n fên van die grote, bose stad nie en geniet die tye wanneer ons na rustigheid kan wegbreek.

2. Waar het die idee vir Gerook ontstaan?
Gerook het so sewe jaar gelede by my opgekom. Maar om die een of ander rede kon ek nooit in die verlede sover kom om die verhaal te voltooi nie. Dit het omtrent “tyd steel” gekos en sommer skryf op die trein op pad werk of huis toe, maar elke breukdeel “tyd steel” was die moeite werd.

3. Waarom juis ’n tienerboek? Wat het jou spesifiek in hierdie genre laat skryf?
Die jeug lê my na aan die hart en dit kwel my baie as ek op stories uitgaan en sien hoe ons jongmense agteruit boer, so asof hulle nie die visie of dryfkrag het om hul drome na te jaag nie. ’n Mens wil graag jongmense inspireer en aanmoedig om sukses in die lewe te behaal. En as die jeug op ’n vroeë ouderdom al in die rigting van hul drome bestuur kan word, kan mens net imagine watter kwaliteit- en passiegedrewe volwassene ’n mens help bou vir die toekoms.

4. Dwelmmisbruik is ’n moeilike tema om in ’n jeugboek aan te pak. Hoe het jy dit reggekry om nie prekerig te wees nie?
Ek wou seker maak dat Gerook nie soos ’n Sondag-preek oorkom nie. Baie jongmense is al moeg van die “Dwelms is bad vir jou, bly weg!”-boodskap. Ek wou deur ’n unieke storielyn dit by jong mense tuisbring wat verkeerd kan loop as jy dwelms toelaat om in jou lewe te kom. En natuurlik het ek persoonlike ervarings oor dwelmmisbruik gehad wat handig te pas gekom het, sodat veral die tienerleser kan sien hier is nie net iemand wat drug scenarios uit sy duim suig nie, maar actually self daar was.

5. Dink jy jou werk as joernalis het ’n invloed op jou skryfstyl?
In ’n mate, ja. Ek is byna elke dag in die veld en doen elke dag stories waarby daar dwelms betrokke is. Ek ervaar dus eerstehands die verwoestende effek en impak van dwelms op ons jeug, hul families en onmiddellike gemeenskap. Dit is sad om te sien hoe die jeug en hul potensiaal onder dwelms gebuk gaan en ek wou ’n boek skryf en veral tieners daaraan herinner dat dwelms niks anders as ’n dream killer is nie. Nêrens hoor jy van ’n suksesvolle sakemens wat die kruin van die golf ry én steeds dwelms gebruik nie. Dwelms vat jou net een plek toe: oor die afgrond.

6. Gerook is jou eerste boek. Hoe het jy die publikasieproses ervaar? Was dit harde werk? Was daar tye wat jy wou handdoek ingooi?
Dit was ’n uiters leersame proses. Ek was bevoorreg genoeg om met mense soos Jaco Jacobs en Miemie du Plessis (albei van LAPA Uitgewers) te werk – mense wat ken van en by wie ek verskriklik baie geleer het. En dis wat dit vir my was: ’n aangename leerproses wat my darem nie vir een oomblik dit laat oorweeg het om tou op te gooi nie. Gelukkig vir my het die karakters nooit in my kop opgehou praat nie.

7. Watter terugvoering het jy tot dusver van lesers gekry wat die boek onder oë gehad het?
Diegene met wie ek gepraat het, is verskriklik opgewonde en kan nie uitgepraat raak oor die realistiese storielyn en die egtheid van die karakters nie. Hulle voel dis ’n boek wat elke tiener behoort te lees en uit kan leer

8. Watter skrywers se werk lees jy graag?
Ek het grootgeraak met die verhale van Abraham H. de Vries en Fançois Bloemhof. En baie mag dit dalk as soetsappige snert beskryf, maar J.K. Rowling se Harry Potter-reeks was ’n absolute wenner vir my en my verbeelding.

9. Werk jy reeds aan ’n volgende boek?
Ek is tans aan’t skryf aan ’n verhaal waarby ek hoop tieners aanklank sal vind. As als goed afloop, behoort ek vroeg in volgende jaar klaar geskryf te wees.

10. Wat is die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?
“Skryf oor dit wat jy ken.” Dié raad het Abraham H. de Vries vir my as ’n tweedejaar-joernalistiekstudent gegee toe hy my Afrikaans-lektor was. En dit was raad wat ek glo die sluise van my skryfvermoëns oopgemaak het, en elke keer as ’n idee vir ’n storie by my opkom, weeg ek dit altyd eers op teen dit wat Braam gesê het.

Sunday, July 21, 2013

Vyf dae, vyf verse: Dag 5


Broccoli
© Jaco Jacobs
Pa sê: “Eet al die broccoli op jou bord
as jy groot en sterk wil word!”
Jig! Dié goed moet in die tuin bly.
Ek dink ek sal liewer klein bly!

Vyf dae, vyf verse: Dag 4


Brood: Vier kwatryne
(c) Jaco Jacobs

Die honger en die dors,
o, die honger en die dors.
Daai meisiekind laat rys my hart
soos potbrood in my bors.

Die hart wat ruk en stotter,
die hart wat ruk en stotter.
Party meisies is konfyt en stroop,
maar jy’s my brood en botter.

Die vis het weggekom,
o, die vis het weggekom.
Die een se dood, die ander se brood –
jy kuier nou by hom.

*

Die trane en die spyt,
ja, die trane en die spyt.
Vir jou was ek brood en botter,
maar vir hom is ek stroop en konfyt.

Wednesday, July 17, 2013

Vyf dae, vyf verse: Dag 3


’n Groot kunswerk
© Jaco Jacobs
Ek is jammer oor die prent
teen die sitkamermuur.
Ek wou ’n olifant teken,
maar daar was te min papier.