Showing posts with label dwelms. Show all posts
Showing posts with label dwelms. Show all posts

Tuesday, September 6, 2016

VYF VRAE AAN JAN VERMEULEN



 1. Jy was lank stil nadat jou veelbekroonde jeugroman Geraamtes dra nie klere nie in 2000 verskyn het – en toe kom jy laas jaar asof uit die bloute en wen LAPA se jeugromankompetisie met Asem. Waarom die lang skryfstilte?

In die tyd het ek nie ophou skryf nie. Ek het gereeld probeerslae vir jeugromanwedstryde en selfs vir die Groot Romanwedstryd ingestuur. Maar telkens die “jammer ons het nie goeie nuus vir jou nie”-briefie van die uitgewers gekry. In dieselfde tyd het ’n klomp omwentelinge in my lewe bygedra tot ’n skrywersbyl wat stomp geraak het. Maar die liefde het weer alles nuut geslyp. Kom ons glo die volgende boek sal nie ook vyftien jaar vat om op die rakke te staan nie.

2. Asem takel moeilike kwessies soos mishandeling en dwelmmisbruik kaalvuis. Was dit vir jou moeilik om hieroor te skryf?

In Asem skryf ek nie oor persoonlike aan-die-eie-lyf-ervaringe nie. In daardie sin was dit nie moeilik om daaroor te skryf nie. Ek het nooit soos my ouer broers met ’n beddegoed-belt pak gekry nie. Ek het dit net dikwels aanskou. My pa was my genadig, want ek was die baba in die huis en seker te klein vir die belt. Buitendien was die oorkoepelende atmosfeer in ons huis sorgsaam en liefdevol, selfs toe my kwaai pa nog geleef het. Maar nie alle “babas” in ons families en samelewing is so gelukkig nie. En om daaroor te skryf is nie altyd maklik nie.

3. Het jy die boek spesifiek vir die jeugromanwedstryd geskryf, of het jy reeds aan die idee gewerk toe jy van die kompetisie te hore kom?

Asem was basies klaar geskryf (met ’n ander naam). Maar toe my dogter my van LAPA se wedstryd vertel, begin die groot geskaaf. Nuwe navorsing. Karakters wat meer groei. Nuwe kinkels. Nuwe intriges. Nuwe motiewe. Lanklaas het ek so hard in ’n kort tyd gewerk om ’n boek genoeg woema te gee om dit vir ’n jeugromanwedstryd te kan inskryf.

4. Wat was vir jou die moeilikste deel van die skryfproses met Asem?

Soos met Asem, is die skryfproses self vir my altyd ’n groot lekkerte, navorsing en herskryf ingesluit. Dit is die spanningsvolle wag vanaf die oomblik wanneer ek die manuskrip oor die Poskantoor se toonbank stoot tot die klaar-boek in my hand rus (indien wel) wat erg is.

5. Wat is die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?

Gee nooit jou onvoltooide werk of ’n manuskrip wat afgekeur is sommer vir enige een om te lees nie. Enige negatiewe kritiek of selfs goedbedoelde opmerkings kan op daardie stadium verwar of vals hoop gee. Loop maar die alleenpad van skryf en herskryf (soms met die raad van keurders en kenners). Mens haal tog nie ’n ongebore baba uit die baarmoeder, wys hom vir vriende en familie en sit hom weer terug dat hy verder kan groei nie. Ná die suksesvolle geboorte kan almal die nuweling na hartelus geniet of uitmekaar beoordeel. Dit het Johann Jordaan my veertig jaar gelede geleer toe ek vroeg in die hoërskool sy korrespondensieskryfkursus, Kortpad na Knap Kortverhale, gedoen het.

Monday, September 30, 2013

10 vrae aan Eldridge Jason


Die Kaapse joernalis Eldridge Jason se debuut-jeugroman, Gerook, het pas by LAPA Uitgewers verskyn. Hierdie opwindende, spannende roman stel die leser bekend aan ’n skemerwêreld van dwelms en tienergevare waaroor daar nog baie min in Afrikaans geskryf is.

1. Vertel ons ’n bietjie meer oor jouself. Waar woon jy, wat doen jy vir ’n lewe, wat doen jy wanneer jy nie skryf nie?
Ek is oorspronklik van die Weskus (Paternoster) en werk die afgelope sewe jaar as ’n joernalis by ’n Kaapse dagblad. Ek, my vrou, Winnie, en ons driejarige seuntjie, Danté, woon in Kuilsrivier. En wanneer ek nie skryf of onderhoude voer nie, hou ek daarvan om ’n naweek weg te breek en iewers heen te gaan waar ek veral na die stilte van die platteland kan luister. Ek is nou eenmaal nie ’n fên van die grote, bose stad nie en geniet die tye wanneer ons na rustigheid kan wegbreek.

2. Waar het die idee vir Gerook ontstaan?
Gerook het so sewe jaar gelede by my opgekom. Maar om die een of ander rede kon ek nooit in die verlede sover kom om die verhaal te voltooi nie. Dit het omtrent “tyd steel” gekos en sommer skryf op die trein op pad werk of huis toe, maar elke breukdeel “tyd steel” was die moeite werd.

3. Waarom juis ’n tienerboek? Wat het jou spesifiek in hierdie genre laat skryf?
Die jeug lê my na aan die hart en dit kwel my baie as ek op stories uitgaan en sien hoe ons jongmense agteruit boer, so asof hulle nie die visie of dryfkrag het om hul drome na te jaag nie. ’n Mens wil graag jongmense inspireer en aanmoedig om sukses in die lewe te behaal. En as die jeug op ’n vroeë ouderdom al in die rigting van hul drome bestuur kan word, kan mens net imagine watter kwaliteit- en passiegedrewe volwassene ’n mens help bou vir die toekoms.

4. Dwelmmisbruik is ’n moeilike tema om in ’n jeugboek aan te pak. Hoe het jy dit reggekry om nie prekerig te wees nie?
Ek wou seker maak dat Gerook nie soos ’n Sondag-preek oorkom nie. Baie jongmense is al moeg van die “Dwelms is bad vir jou, bly weg!”-boodskap. Ek wou deur ’n unieke storielyn dit by jong mense tuisbring wat verkeerd kan loop as jy dwelms toelaat om in jou lewe te kom. En natuurlik het ek persoonlike ervarings oor dwelmmisbruik gehad wat handig te pas gekom het, sodat veral die tienerleser kan sien hier is nie net iemand wat drug scenarios uit sy duim suig nie, maar actually self daar was.

5. Dink jy jou werk as joernalis het ’n invloed op jou skryfstyl?
In ’n mate, ja. Ek is byna elke dag in die veld en doen elke dag stories waarby daar dwelms betrokke is. Ek ervaar dus eerstehands die verwoestende effek en impak van dwelms op ons jeug, hul families en onmiddellike gemeenskap. Dit is sad om te sien hoe die jeug en hul potensiaal onder dwelms gebuk gaan en ek wou ’n boek skryf en veral tieners daaraan herinner dat dwelms niks anders as ’n dream killer is nie. Nêrens hoor jy van ’n suksesvolle sakemens wat die kruin van die golf ry én steeds dwelms gebruik nie. Dwelms vat jou net een plek toe: oor die afgrond.

6. Gerook is jou eerste boek. Hoe het jy die publikasieproses ervaar? Was dit harde werk? Was daar tye wat jy wou handdoek ingooi?
Dit was ’n uiters leersame proses. Ek was bevoorreg genoeg om met mense soos Jaco Jacobs en Miemie du Plessis (albei van LAPA Uitgewers) te werk – mense wat ken van en by wie ek verskriklik baie geleer het. En dis wat dit vir my was: ’n aangename leerproses wat my darem nie vir een oomblik dit laat oorweeg het om tou op te gooi nie. Gelukkig vir my het die karakters nooit in my kop opgehou praat nie.

7. Watter terugvoering het jy tot dusver van lesers gekry wat die boek onder oë gehad het?
Diegene met wie ek gepraat het, is verskriklik opgewonde en kan nie uitgepraat raak oor die realistiese storielyn en die egtheid van die karakters nie. Hulle voel dis ’n boek wat elke tiener behoort te lees en uit kan leer

8. Watter skrywers se werk lees jy graag?
Ek het grootgeraak met die verhale van Abraham H. de Vries en Fançois Bloemhof. En baie mag dit dalk as soetsappige snert beskryf, maar J.K. Rowling se Harry Potter-reeks was ’n absolute wenner vir my en my verbeelding.

9. Werk jy reeds aan ’n volgende boek?
Ek is tans aan’t skryf aan ’n verhaal waarby ek hoop tieners aanklank sal vind. As als goed afloop, behoort ek vroeg in volgende jaar klaar geskryf te wees.

10. Wat is die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?
“Skryf oor dit wat jy ken.” Dié raad het Abraham H. de Vries vir my as ’n tweedejaar-joernalistiekstudent gegee toe hy my Afrikaans-lektor was. En dit was raad wat ek glo die sluise van my skryfvermoëns oopgemaak het, en elke keer as ’n idee vir ’n storie by my opkom, weeg ek dit altyd eers op teen dit wat Braam gesê het.