Showing posts with label lapa uitgewers. Show all posts
Showing posts with label lapa uitgewers. Show all posts

Wednesday, August 16, 2017

VYF VRAE AAN JOHANN STRAUSS


1. Dis nogal ’n uitdaging om biografiese inligting oor jou op die internet op te spoor – waarskynlik omdat Google duisende bladsye oor jou naamgenote, die bekende komponiste, het! Vertel my ’n bietjie meer oor jouself.

Jy's reg, my naamgenote het nogal aansienlik meer as ek bereik ... dankie vir die herinnering, Jaco. Dankie.
My oorsprongstorie sluit ongelukkig nie iets interessants soos Krypton of ’n spinnekopbyt in nie, maar bloot ’n klein dorpie in die Vrystaat genaamd Virginia. Dis een van daardie dorpies waar die tannies in die straat nog bymekaargekom het om te skinder oor die tannies aan die ander kant van die straat en al wat hulle saambring, is om te kla oor die straatlig wat al vir meer as ’n week uit is. Dinge lyk vandag natuurlik baie anders as die dae toe ek daar grootgeword het, maar ek sal altyd lief bly vir die klein dorpie. As dit nie vir die groot hoeveelheid “niks” was wat gereeld daar gebeur het nie, sou ek nie vandag so tuis gevoel het in ’n beroep waar die grootste avonture in ons verbeelding plaasvind nie. (En in daardie verbeeldingswêreld is ek net so suksesvol as my naamgenote ... Weer eens: Dankie, Jaco. *Klap tong*)
Toe ek klaar was met hoërskool het my pa ’n Chomp by ons voordeur gelos, en toe ek uitgaan om dit op te tel, hoor ek die voordeur toeslaan en sluit agter my, en daar vind ek myself grafiese ontwerp swot by die techikon hier in Pretoria. ’n Dorpie waar ek tot vandag toe woon, want ek is lui en ry nie graag nie.


2. Het jy altyd ’n passie vir kinderboekillustrasies gehad, of hoe het jy in die bedryf beland?

Ek het eintlik ’n passie gehad om ’n space cowboy te word, maar ongelukkig beweeg die tyd nie met my verwagtinge nie. My passie vir illustrasie lê wel by baie dissiplines. Van konsepkuns tot ou tradisionele skilderye. Hoe ek in die kinderboekillustrasiebedryf beland het (’n woord wat ek nie graag tik nie, want my vingers kramp nou), was bloot per toeval. Terwyl ek grafiese ontwerp geswot het (*sien asseblief die traumatiese Chomp-voorval van vraag 1), is ek in my derde jaar deur ’n uitgewery, Fantasi, genader, en oom Frans wat daar werk, het my baie mooi gevra om vir hom te gaan prentjies teken nadat ek klaar geswot het. Ek hou mos van prentjies en kon nie wag nie en het toe sommer in die tweede helfte van my derde jaar al vir hulle begin illustreer. Toe my swottings klaar was, het ek voltyds by Fantasi begin werk as hoofillustreerder en deeltyds vir advertensie-agentskappe. Ja, sommer vir al twee in die begin. Ek slaap dus min en worry baie.
Vandag werk ek voltyds vir myself. Dis die boosaardigste baas wat ek nog teëgekom het. Sy asem stink soos sterk koffie en peanut butter-broodjies.

3. Vertel my ’n bietjie hoe jou kreatiewe proses werk wanneer jy ’n teks van ’n uitgewer ontvang om te illustreer.

Gewoonlik probeer ek die manuskrip lees soos wat (ek dink) die skrywer dit wou gehad het. In een sitting. Aan die einde van elke hoofstuk (sou die manuskrip so opgebreek word) sal ek vinnig die toneel teken wat meeste by my gebly het en dan onmiddellik verder lees. Dit lei gewoonlik daartoe dat ek óf klein detail uitlos, óf detail bysit soos wat ek die storie vir myself visueel vertel – en dit lei tot baie uitgewers wat ou partytjiewoorde uitgrou en na my kant toe gooi, want hulle dink ek gee nie aandag nie.
Nadat ek die manuskrip klaar gelees het, gaan ek terug en probeer sin maak van al die skrabbels, en herleef weer die storie soos wat ek weer alles in detail oorteken. Dit lei meestal tot meer detail wat uitgelos of bygesit word – en dan sal iemand soos Miemie van LAPA vir my vra hoekom die drie varkies nou op meganiese dinosourusse ry en AK’s in albei hande het.

4. Mense vra dikwels vir skrywers: “Wat inspireer jou?” Ek wou dieselfde vraag nog altyd vir ’n kinderboekillustreerder vra. So …?

Goeie stories van goeie skrywers, (#JacoJacobs) en mense wat baie meer suksesvol as ek is, soos die ander Johann Strauss ... van wie ek aanhoudend hoor. (#klaptong)
Dis eintlik verskillende dinge op verskillende tye. Ek sien dalk ’n vreemde klipformasie op vakansie en dit kan my verbeelding na ’n cool draak-konsepskets stuur wat ek net móét teken (al gooi ek dit weg sodra dit klaar is) of na meer obvious goed soos ’n nuwe styl wat ek raakgegoogle het. Klein goedjies kan lei tot ’n boek vol idees, hang net af in watter headspace ek is ... en daar is baie space in my head. Wag ... dit het nie reg uitgekom nie.

5. Wys vir my een illustrasie uit jou kinderboek-oeuvre waarop jy besonder trots is of wat vir jou uitstaan, en vertel my waarom jy daardie spesifieke een gekies het.


Die stuk wat dadelik by my opkom, is ’n dubbelblad van die eerste kinderboek waarin ek totale kreatiewe vryheid gehad het. Dit is ’n dubbelbladuitleg uit een van die eerste vier boeke in die Droombos-reeks (uitgegee deur Fantasi). Ek noem die eerste vier, want toe was daar nog redelik tyd om genoeg aandag aan alles te gee. Nog ’n rede hoekom ek van die stuk hou, is omdat dit alles met tradisionele mediums gemaak is. Vandag werk ek 90% digitaal – soos Arnold Schwarzenegger in Terminator. Net met ’n Afrikaanse aksent.

Thursday, November 10, 2016

Tuesday, November 1, 2016

MOENIE HIERDIE BOEK EET NIE!


Ek is al van kleins af mal oor rympies. Tot vandag toe onthou ek nog die rympies waarmee my oupas en oumas ons kleintyd vermaak het.
My onnutsige oupa aan my pa se kant, wie se name ek dra, het graag vir ons rympies vol onhebbelike woorde geleer, wat ons dan in lekker moeilikheid laat beland het as ons dit later ewe niksvermoedend vir Ma en Pa voorgedra het.
My ouma aan my ma se kant is tot vandag toe ’n skatkis van ou kleuterrympies, en sy het dit kleintyd altyd graag met ons gedeel.
         Dit is dalk een van die redes waarom ek ’n paar jaar gelede begin kinderrympies skryf het. Ek is versot op die ritme en rym en lawwigheid wat uit ’n lekker kindervers borrel.
Oor die jare het ek ’n paar bundels die lig laat sien: Wurms met tamatiesous, Oempakadoempa, ’n Brulpadda in my tas, My boetie dink hy’s Batman, Holderstebolder, Kougom in my hare en Op die punt van my tong.
         Dit is deesdae vir my ’n reuse-lekkerte om vir my eie kinders rympies voor te lees - en te hoor hoe dit hulle inspireer om op hul beurt self te begin rympies opmaak! ’n Paar jaar gelede het ek gewonder: Sou dit moontlik wees om ’n boek te skryf met ’n rympie vir elke dag van die jaar?
         Dit sal ’n enorme uitdaging wees, dit het ek uit die staanspoor besef. Nie net omdat dit sou beteken ek moet met 365 splinternuwe rympies (en een vir ’n skrikkeljaar) vorendag kom nie, maar ook omdat so ’n boek nogal dik sou wees – en duur om te publiseer.
Ek het ’n jaar of wat met die idee rondgeloop voordat ek dit gewaag het om die voorstel aan my uitgewer te opper. Tot my verbasing was sy dadelik opgewonde oor die idee.
         En so het die groot werk begin.
         Hoe op dees aarde skryf ’n mens 366 kinderrympies?
         Een geluk was dat ek met hierdie uitdaging weggetrek het op ’n tydstip toe ek weer ernstig begin draf het. So, ek het dit elke oggend deel van my drafroetine gemaak: Gaan draf tien of vyftien kilometer en probeer met ten minste drie of vier idees vir nuwe rympies by die huis aankom.
         Die paar maande waarin ek aan daardie rympies gewerk het, was van die lekkerste en kreatiefste skryftye wat ek ooit beleef het. (En as bonus het ek heelwat fikser geword!) Op my drafroete rondom Naval Hill hier in Bloemfontein het ek oorgenoeg tyd gehad om met lawwe idees rond te speel ...
  • Wat gebeur met woorde wat niemand meer ken nie (hoort hulle nog in die woordeboek of is daar iewers ’n aftreeoord vir woorde)?
  • Hoekom is daar so min rympies oor erdvarke?
  • Wat sal gebeur as daar ’n haai in die skool se swembad beland – of as een van jou klasmaats op ’n dag op ’n grassnyer skool toe ry?
  • Hoe vang mens ’n haas?
  • Wat beteken die woord “boemtjakketjak”?
  • Kan jy ’n rympie lees terwyl jy op jou kop staan?
  • Wat sal gebeur as jou oupa ’n troetelkrokodil aanskaf?
  • Hoekom dra bere nie klere nie?
  • Wat kruip alles in jou oom se wilde, woeste baard (en in jou naeltjie!) weg?
  • Wat sal gebeur as ’n sebra weier om die sebraoorgang te gebruik?
         Daar was limerieke, haikoes, tongknopers, ’n touspringrympie, vormgedigte. Rympies oor Kersfees, Paasfees, die seisoene, skrikkeldag, Valentynsdag (en, les bes, erdvarke!).
Ek weet nie of ek al ooit tevore so lank of hard aan ’n projek gewerk het nie. Die eindresultaat was ’n manuskrip wat ’n hele dikke lêer volgelê het.
         My uitgewer het een van my gunsteling-illustreerders, Zinelda McDonald, oorreed om die illustrasies te doen – iets wat op sig self ’n enorme taak moes wees. 
         En die eindresultaat het pas verskyn: ’n stewige, kraakvars hardebandboek van 312 bladsye met die allermooiste omslag en illustrasies waarop ek eindeloos trots is.
Die titel is Moenie hierdie boek eet nie! ’n Rympie vir elke dag van die jaar. 
En ek beplan om volgende jaar dag vir dag weer saam met my kinders die pret te herleef wat ek met die skryf van hierdie rympieboek gehad het.



Monday, May 5, 2014

10 vrae aan Marisa Haasbroek


Marisa Haasbroek het bekendheid verwerf vir haar romantiese verhale vir volwasse lesers, onder die skuilnaam Rykie Roux. Haar eerste jeugboek Iewers vlieg daar fairy dust is ’n onvergeetlike leeservaring. 


1. Iewers vlieg daar fairy dust is nie net jou eerste jeugroman nie, dit is ook die eerste boek wat jy onder jou eie naam publiseer. Hoe voel dit om vir die eerste keer jou eie naam op die (baie mooi!) omslag van ’n boek te sien?
Ek het gister my outeurskopieë gekry en dis heerlik. Ek het vantevore wel kortverhale onder my eie naam gepubliseer. Op die internet swerf nou nog ’n kortverhaal van my, Erik se T-hemp, rond wat oorspronklik in Sarie verskyn het. Iemand in Kanada het selfs die moeite gedoen om dit in Engels te vertaal.

2. Wat was die vonk vir hierdie verhaal?
Ek loop al jare en wonder wat sou in Aspoestertjie se storie gebeur het as die koetsier op haar verlief geraak het, hy haar nie by die bal gaan aflaai het nie en saam met haar weggeloop het. Hoekom mag mense wat altyd tweede viool moet speel nie ook helde en heldinne wees nie?

3. Dis ’n Aspoestertjie-verhaal hierdie met ’n sterk romantiese streep en wat in die eerste plek heerlik lees. Maar tog is die uitbeelding van armoede en sosiale omstandighede in plakkerskampe onthutsend – en op die oog af baie lewensgetrou. Hoe het jy die fyn balans tussen die “liefdesverhaal” en die sosiaal-maatskaplike problematiek in die boek bewerkstellig?
Iewers vlieg daar fairy dust is ’n sprokie en is nie bedoel om ’n neerdrukkende boek te wees nie, maar ek hoop dat deur die heldin die soort omstandighede te laat oorkom waarvan die meeste tieners in hierdie land al gehoor het en baie van hulle dalk self beleef, die storie groter en meer werklik word. Om optimisties te bly het ’n mens twee dinge nodig: ’n droom en die hoop dat dit bewaarheid kan word. Die goeie feë in die lewe is die mense wat daardie hoop bly verskaf. Ek dink dis waaroor Iewers vlieg daar fairy dust gaan.

4. Voorin die boek bedank jy die mense van Kleinfontein se woonwapark, wat die storie geïnspireer het. Hoeveel (en watter soort) navorsing moes jy doen om die lewe in ’n plakkerskamp so oortuigend te kon uitbeeld?
Ek bly self in Kleinfontein, ’n Afrikanerkultuurnedersetting naby Pretoria. Een van die doelstellings van ons gemeenskap is om aan verarmde Afrikaners ’n heenkome te bied deur vir hulle werk te gee. Ek ken van hierdie mense persoonlik, ek weet hoe vernederend vind hulle dit om “deernisgevalle” genoem te word. Uit armoede kom mens eintlik eers ’n hele geslag later deur beter onderwys en dis hoekom die skool op Kleinfontein vir ons so belangrik is. In Iewers vlieg daar fairy dust salueer ek ook die maatskaplike werkers van die Christelike Maatskaplike Raad vir hul opheffingswerk in talle plakkerskampe, en wil ek ook dankie sê vir kerkgroepe wat byvoorbeeld songeisers installeer en voorafbetaalde krag vir arm mense reël, en vir organisasies soos Solidariteit Helpende Hand en hul beursfonds. Die meeste gebeure en karakters in die boek is egter fiktief. Regte mense en omstandighede kan vir ’n skrywer hoogstens ’n beginpunt wees.

5. Hoewel hierdie ’n volbloed-tienerverhaal is, vermoed ek volwasse lesers gaan dit ewe veel as tieners geniet. Wat het jou laat besluit om spesifiek ’n storie vir tieners te skryf?
Met twee tieners in my huis wat boonop ywerige lesers is, was dit ’n lekker uitdaging om te sien of hulle ma kon meeding met hulle gunsteling-skrywers, soos Suzanne Collins en Orson Scott Card. Ek het die eerste weergawe van die storie oor ’n Desembervakansie geskryf en elke aand vir Pa en die twee tieners die dag se skryfwerk voorgelees. Hulle was erg krities en het my gereeld die volgende dag maar weer laat oorskrywe. Omdat dit ’n meisie-boek is, het ek dit opgedra aan Annamaria, my vyftienjarige meisiekind. Johannes, my seun, word een van die dae sewentien; hy is meer van ’n wetenskapfiksieleser.

6. Een van die redigeerders wat aan die boek gewerk het, noem dit een van die beste jeugboeke wat hy ooit gelees het. Watter jeugboeke het jy die afgelope paar jaar gelees wat ’n groot indruk op jou gemaak het?
Soos die res van die wêreld ek die Twilight-reeks baie geniet. Op my dogter se aandrang het ek The Hunger Games gelees en alhoewel die storie vir my baie somber was, bly Katniss se selfopofferende instaan vir haar suster en haar eerbetoning aan die jong Rue, wat sy so met blomme bedek het, my bly. In Afrikaans is Liefde laat jou rice kripsies anders proe ’n gunsteling. Vir die mooi taal en onsterflike karakters sal Alba Bouwer se drieluik Stories van Rivierplaas altyd op my boekrak staan. Ek was twaalf toe ek dit die eerste keer ontdek het en lees en geniet dit elke nou en dan weer.

7. Wat was vir jou die grootste uitdagings om vir die tienermark te skryf?
Ongetwyfeld die taalgebruik. Ek is van die generasie vir wie die gebruik van so baie Engelse woorde, wat ek ook by my eie kinders hoor, grief. Maar ek is in die eerste plek ’n skrywer en nie ’n aktivis nie en dan probeer mens getrou bly aan jou karakters, dus praat Elmien en Ruan in Iewers vlieg daar fairy dust soos ek dink tieners in hulle omstandighede sal praat.

8. Waaraan werk jy op die oomblik – is daar dalk nog ’n verhaal vir jongmense aan die broei?
Ek is altyd aan die skryf. Ons gesin staan aan die vooraand van ’n groot avontuur, want my man het ’n werksaanbod in Amerika gekry en ons gaan binnekort vir ’n paar jaar tussen die Yanks woon. Ek glo dié ondervinding sal die kreatiewe sappe weer laat vloei en voel klaar die roering van ’n idee vir ’n storie. Ek sal altyd ’n Afrikaanse skrywer bly.

9. Wat is die beste skryfraad wat jy ooit gekry het?
’n Skrywer is iemand wat skryf. Moet dus nie wag vir die groot inspirasie om te tref nie, skryf net elke dag.

10. Voltooi: As ek ’n dag lank ’n Goeie Fee kan wees, sal ek ...
Deur die land wou reis en vir elkeen wat voel of hy of sy in ’n onhoudbare situasie is, ’n bietjie fairy dust van hoop wou gee dat drome waar kan word, al gaan dit soms hoe moeilik.

Sluit gerus aan by Marisa se Facebook-groep: https://www.facebook.com/MarisaHaasbroekStories

Thursday, October 31, 2013

10 vrae aan Fanie Viljoen


Fanie Viljoen is een van die gewildste en mees bekroonde kinder- en jeugboekskrywers in Afrikaans. Hy is ook die samesteller van Galop, ’n bundel met perdestories wat pas by LAPA Uitgewers verskyn het.


1. Wat het jou die idee gegee om ’n bundel met perdeverhale saam te stel?
Ek het ’n Engelse bundel met perdestories gelees en was nie beïndruk nie. Ek het gedink ons sal beslis beter stories in Afrikaans kan skryf. Die uitgewer, Miemie du Plessis, was mal oor die idee.

2. Is jy self ’n perdeliefhebber?
Ek ry nie self perd nie – ’n perd het my eenkeer afgegooi en op my getrap toe ek en my nefie hom saam bloots probeer ry het. Ek het so te sê op die perd se boude gesit. Dit was nie slim nie. Ek het so rondgewip dat ek naderhand afgeval en onder die perd se pote beland het. My bene was vir lank baie blou en flippen seer. Naby my blyplek is daar egter perdestalle en ek gaan maak gereeld daar ’n draai om met die perde te gesels wanneer ek gaan stap. 

3. Voltooi: Ek dink perde is spesiale diere, want ...
 ... hulle is baie intuïtief – hulle kyk regdeur ’n mens. Hulle weet as jy siek is, as jy hartseer is, as jy hulle leed wil aandoen, as jy vir hulle lief is. Winston Churchill het nie verniet gesê daar is iets aan die buitekant van ’n perd wat goed is vir die binnekant van die mens nie.

4. Vertel ons ’n bietjie meer van die stories in Galop.
Daar is 13 heerlike stories in. Van ’n skynbaar befoeterde perd wat eintlik ’n sagte hart het, die verhaal van ’n spookperd, ’n spesiale perd wat ’n wens laat waar word, ’n hings wat baklei om weer die tropleier te word, ’n glansende perd, perde wat troos as ’n boetie sterf, en meer.

5.  Dit is die eerste keer dat jy ’n bundel met stories soos hierdie saamstel. Was dit vir jou moeiliker as om self ’n boek te skryf?
Dit was ’n lekker ervaring, want jy werk met skrywers se rou verhale. Ek is ’n bietjie van ’n control freak, so ek moes my inhou om nie my skryfstyl op stories af te druk nie. Ek sal beslis weer so iets aanpak. (Het jy vir my ’n storie, Jaco?)

6. Hoe lyk jou skryfroetine?
 Ek skryf soggens vir so twee ure lank, dan sal ek skilder, werk aan illustrasies of gaan gym of stap. Die skryftyd klink dalk min, maar die res van die dag is eintlik my dinktyd. Skrywers skryf ook as hulle dink!

7. Wat is vir jou die beste deel van skrywer wees?
 Ek kan my droom uitleef. Dis ook lekker om briefies of e-posse van lesers te kry.

8. En die slegste deel?
 As ’n manuskrip afgewys word ... Ja, dit gebeur nog. Dan moet jy vasbyt en bereid wees om weer te probeer en kyk of jy die storie kan red, of maar moet laat gaan.

9. Jy is nie net ’n fantastiese skrywer nie, maar ook ’n baie talentvolle illustreerder wat al van jou boeke self geïllustreer het. As jy enige kunstenaar (plaaslik of internasionaal) kan kies om jou volgende boek te illustreer, wie sou dit wees?
Ek hou baie van Piet Grobler se illustrasies. Hulle is so wonderlik verbeeldingryk. Een van hulle hang in die kantoor waar ek skryf.

10. Ek is seker aspirantskrywers kom klop gereeld by jou aan vir skryfraad. Wat dink jy is die grootste fout wat beginnerskrywers maak?
Jong skrywers lees nie genoeg nie. En met lees bedoel ek eintlik ook hulle kyk nie hoe stories “werk” nie. Stories volg ’n bepaalde patroon. Dit lyk baie maklik as jy ’n boek vir ontspanning lees, maar dit is nie. As ’n boek heerlik vir jou lees, moet jy weet die skrywer het baie tyd daaraan spandeer om dit so maklik te laat lyk!

Bestel die e-boekweergawe van Galop  hier: http://www.kalahari.com/Digital-Downloads/Galop-Perdestories-eBook_p_47889841?linkId=525696&affiliateId=10399&linkType=ORDER_REFERRAL


Sunday, October 6, 2013

10 vrae aan Wendy Maartens



’n Perd wat kan lees en tel; wêreldbekende hondehelde soos Just Nuisance en Jock van die Bosveld; Huberta die wandelende seekoei wat die land deurkruis het – die 31 stories in Wendy Maartens se Wonderlike ware dierestories sal jou met nuwe oë na ons geveerde en vierpotige vriende laat kyk. Wat is haar gunsteling-storie in die bundel, hoekom maak storie-soek haar bewerig, en wie is Kersiepit en Petunia aan wie die boek opgedra is?

1. Waar het die idee vir so ’n bundel met ware diereverhale ontstaan?
Ek het van kleins af ’n hart vir diere gehad. Ek het my verstand in my oupa Jan se reuse-voëlhokke gekry en het saam met hom na elke voël-, hoender- en landbouskou gegaan. Ander kinders het pop gespeel. Ek het tarentale en kwartels en konyne gehad wat ek in die kruiwa rondgestoot het en vir wie ek stories vertel het. Hulle het altyd na my gekyk met oë wat verstaan, anders as die grootmense se manier van kyk. Die bundel is op ’n sekere manier ’n brief aan elkeen van daardie diere.

2. Dit het sekerlik baie navorsing gekos om die stories op te spoor. Waar het jy die stories gaan soek?
Storie-soek is ’n wonderlike proses. Eers word jy heeltemal bewerig omdat jy nie ’n idee het waar in die wye wêreld jy alles gaan opspoor nie. Jy is nie eers lus om biblioteek toe te gaan of dit op die internet te waag nie, want daardie soektog lê vir jou en wag. Tot jy dit op ’n dag nie meer kan hou nie en daardie eerste boek oor die onderwerp optel. Dan pak ’n koors jou beet. Ek raak so opgewonde dat ek sommer ses snye peanutbutter-brood opeet. Daardie eerste storie bring jou op die spoor van ’n volgende een en daardie een bring jou weer op die spoor van nog een – ’n hele kettingreaksie. Al wat ek dan moet doen, is om op te hou om so hard te probeer soek en die spoor te volg. En dan is daar natuurlik biblioteek-engele ...

3. Watter een van die diere se stories in die boek het jou die meeste aangegryp?
Die varkie wat die aardbewing in China oorleef het deur steenkool te eet en reënwater te drink. Toe reddingswerkers haar ná weke kry, was sy so maer dat hulle nie kon sien sy is ’n vark nie. Ek het soveel hartseer nuusbulletins oor daardie aardbewing vertaal, maar hierdie het ’n glimlag op my gesig gesit. Ek lief goeie nuus.

4. Feitelike stories kan maklik saai en vervelig word – maar hierdie boek is ’n heerlike leeservaring. Hoe kry jy dit reg om die feite so aan te bied dat jou lesers nie belangstelling verloor nie?
Dis nie ek wat so knap is nie, dis die Goeie Vader wat die diere op so ’n wonderlike manier, met soveel persoonlikheid en humor, gemaak het.

5. Wie is Kersiepit en Petunia aan wie jy die boek opgedra het?
Hulle is twee baie spesiale werfganse wat my op meer as een manier leer vlieg het. Ongelukkig is Kersiepit verlede jaar oorlede. Petunia is nog springlewendig en vol geite en sy het ’n nuwe liefde. Sy naam is Lelieblom. Hy is pragtig en spierwit en hoog op sy pote. Petunia is vaalbruin en laag op die grond soos ’n 80’s Opel. Maar sy het klas – sy maak haar nes met laventeltakke. 

6. As jy enige dier kon wees, wat sou jy kies?
Op die oomblik, ’n swaeltjie. Volgende week dalk weer iets anders.

7. Hoe lyk ’n gemiddelde dag in jou lewe – spandeer jy baie tyd aan skryf?
Ek raak stadig wakker in die oggend. Gelukkig werk my storiekop ook as ek slaap – net nie altyd so mooi netjies en in volgorde soos ek graag sou wou hê nie. Ek maak koffie en gee die tuinvoëls kos en sit sommer net vir ’n rukkie om tot verhaal te kom. Dan is dit ek en die rekenaar of ek en die internet of ek en ’n stapel boeke om navorsing te doen. Omdat ek joernalis en kinderboekskrywer is en onlangs ook as boekredaktrise van ’n tydskrif aangestel is, is my dae gelukkig redelik onvoorspelbaar. Party dae moet ek met iemand ’n onderhoud gaan voer. Ander dae grawe ek ure lank in biblioteke se stoorkamers of tweedehandse boekwinkels of ek moet ’n praatjie lewer. Soms vat dit baie langer om ’n storie te soek as om hom te skryf. Ek is so dankbaar om iets te doen wat ek met my hele hart wil doen. 
 
Illustrasie: Johann Strauss (Wonderlike ware dierestories, LAPA Uitgewers)


8. Wat inspireer jou?
Sekere dinge gee my so ’n lekker kol op my maag, amper soos wanneer ’n mens kleintyd teen die glyplank afgegly het. As ek daardie gevoel kry, weet ek ek is besig met iets wat die moeite werd is. Om dae lank net te kan stap en stap en stap, laat my ook voel ek het vlerke. En om iewers in die veld met my oor teen die grond op te krul en aan die slaap te raak terwyl ek luister hoe die aarde se hart klop. En om soggens die eerste mossie te hoor wat die nagstilte met sy vrolike liedjie breek.  



9. Wat is die lekkerste terugvoering wat jy nog ooit van ’n leser gekry het?
’n Skoenmaker wat dekades lank in ’n agterplaas skoene reggemaak het, het nadat ek oor hom geskryf het vir my ’n boodskap gestuur: “Dis die beste dag van my lewe!”

10. Wat is jou gunsteling-aanhaling oor die skryfkuns?
Dit het nie noodwendig met die skryfkuns te make nie, maar kom uit die mond van een van ons groot digters. Adam Small se woorde: “Ek is altyd gespanne. Ek is ’n denkende mens,” dra ek al jare lank saam met my. Dis vir my oneindig kosbaar. Dit pryk saam met ’n foto van hom teen my studeerkamermuur.