Wednesday, November 3, 2010

Selfoonstories


Ek het al dikwels in die koerante en op die internet gelees van selfoonromans – in Japan is dit glo groot (pun intended). Ek het egter nie ’n idee gehad dat daar in Suid-Afrika ook al ’n hele tyd lank met dié tegno-nuwigheid geëksperimenteer word nie.

’n Ruk gelede het ek en Fanie Viljoen egter danksy LAPA Uitgewers en die Shuttleworth-stigting se Yoza-projek kans gekry om die eerste Afrikaanse selfoonstories vir tieners te skryf. Nogal ’n uitdaging, want jy moet die storie in kort hoofstukke vertel, met soveel aksie as moontlik, en met korterige sinne. Dit word immers hoofsaaklik op selfone gelees.

Tot my skaamte is ek MXit-ongeletterd – ek het die program een verveelde Saterdag jare gelede op my foon afgelaai en met groot moeite daarin geslaag om met presies één vreemde mens en my suster te gesels. (My suster moes vir my verduidelik hoe om Moola te koop. Die vreemde mens het nie veel te sê gehad nie behalwe dat sy maar voor die TV sit en niksdoen. Dis wat sy die vorige dag ook gedoen het. En wat sy beplan het om die volgende dag te doen.) Ek het daarom moed opgegee en nog nooit weer geMXit nie. Maar as jy meer selfoongeletterd as ek is (en op soek is na iets anders om te doen as om verveeld voor die TV te sit), gaan loer na MXit en Yoza se selfoonstories. Dit het reeds duisende aanhangers. Hier’s die mediaverklaring:

  

EERSTE AFRIKAANSE SELFOONROMANS VIR TIENERS GEPUBLISEER

Danksy ’n samewerkingsooreenkoms tussen LAPA Uitgewers en die Shuttleworth-stigting word die eerste Afrikaanse selfoonromans vir tieners op 1 November gepubliseer op MXit, die gewilde sosiale netwerk vir selfone.

LAPA Uitgewers het die Shuttleworth-stigting genader om Afrikaanse inhoud vir sy innoverende m4Lit (Mobiles for Literacy)-projek te help genereer. As die uitgewery wat tans die grootste verskeidenheid kinder- en jeugboeke in Afrikaans publiseer, is dit vir LAPA belangrik om aan die voorpunt van ontwikkeling te bly. Daarom dat Fanie Viljoen en Jaco Jacobs, twee bekroonde en gewilde jeugboekskrywers, se verhale vanaf 1 November gratis as selfoonromans (of m-novels) gelees sal kan word. Lesers kan ook op dié interaktiewe stories kommentaar lewer.

Die twee skrywers se stories sal deel vorm van ’n selfoonbiblioteek wat Yoza genoem word. Steve Vosloo, stigter van Yoza, sê: “In die afsienbare toekoms sal die selfoon, nie die Kindle of iPad nie, die e-leser van Afrika wees. Yoza wil dit gebruik om tieners in Afrika aan die lees en skryf te kry.”

’n Toetsfase van die Yoza-projek het in September 2009 afgeskop. Sedertdien is die eerste twee selfoonstories meer as 34 000 keer op MXit gelees.

Viljoen se treffende storie, Uit, handel oor ’n tienerseun wat worstel met sy seksualiteit. Jacobs se Vakansieromanse is ’n liefdesverhaal oor ’n boekverslaafde meisie wat die ou van haar drome by die see ontmoet.

Selfoongebruikers met WAP-toegang kan Yoza kry op MXit (gaan na Tradepost > MXit Cares > mobiBooks) en by www.yoza.mobi, asook op Facebook (soek na Yoza Cellphone Stories).

 

No comments:

Post a Comment