Thursday, December 2, 2010

Die literêre avonture van Pippie



Pippie, die wêreld se slimste Jack Russell, is vernoem na een van my gunsteling-kinderboekheldinne. Dis daarom geen wonder nie dat Pippie al van jongs af aspirasies gehad het om haar beskeie merk op die literêre toneel te maak. Op bll. 7 en 18 van my boek Troeteldiere: ’n Gids vir beginners gebruik Pippie haar suiwer, onverdunde sjarme en natuurlik kleinhondjie-cutegeit om skaamteloos met die kamera te flirteer.

(Terwyl ek nou hier sit en skryf, het Pippie gou by my kantoor kom inloer om te kyk of ek nog nie klaar is met hierdie blog-inskrywing sodat ons in die parkie kan gaan stap of bal speel nie. Selfs honde met literêre aspirasies moet soms ’n bietjie oefening kry.)

Meer onlangs pryk haar foto ook in my titelverhaal in die kortverhaalbundel Sweef.

Intussen wag Pippie nog geduldig om haarself as karakter in ’n storie verewig te kry, soos Percy Fitzpatrick se dapper Jock of Elizabeth Wasserman se slim Speurhond Willem.

Maar ons onderhandel tans nog oor hoe om die outeursgeld te verdeel.

2 comments:

  1. Willem is mal oor die foto's van Pippie.
    Ek weet nie van outeursgeld nie, maar wat van 'n werpsel brakkies met bruin en swart kolletjies?
    ew

    ReplyDelete
  2. Elizabeth en Willem, ek is bevrees weens mediese (of dan veeartsenykundige) redes is so 'n werpsel brakkies buite die kwessie!

    ReplyDelete